Vergifnis en Liefde.
Die Kerkbode, lxxx(23), 4 Desember 1957, 1013/4
Deur dr. W. D. JONKER, Johannesburg-Wes
…. maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief. Lukas 7: 47.
DIE hele lewe van die gelowige moet één uiting van sy liefde vir die Here wees. Dit moet in altyd weer nuwe variasies ’n hoorbare, sigbare en tasbare bevestiging van Ps. 116 wees: “Ek het lief, want die Here hoor my stem, my smekinge …” As ons egter na ons lewe kyk, dan merk ons daarin eerder ’n diepe liefdeloosheid teenoor die Here op. Wat is dit immers anders as liefdeloosheid wat ons so lusteloos maak vir gebedsgemeenskap met God, wat dit vir ons so ’n groot opoffering laat voorkom om op te gaan na sy huis, wat ons enige verskoning laat aangryp om weg te bly van die nagmaalstafel? Wat is dit anders as liefdeloosheid teenoor Hom as ons ons tyd en geld en kragte net in ons eie diens bestee en daarvan alleen met groot leedwese ’n deeltjie aan Hom afstaan? As ons God werklik liefgehad het, sou ons anders daar uitgesien het. Ons sou gestraal het van die gloed van ons hart, ons sou ’n mond gehad het wat oorvloei van getuienis en jubel. Die koudheid van ons harte vorm egter ’n aanklag teen ons en stel ons hele geestelike lewe onder die vraagteken, want het Christus dan nie gesê: “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie?” Hoe kan ons dan, wat nie alleen vader en moeder, seun en dogter bo Hom liefhet nie, maar veral onsself so oneindig meer liefhet as vir Hom, ooit aan Hom “waardig” wees? En staan die oordeel nie ook oor ons lewe dat niks wat ons kan doen – selfs tot die oorgawe van ons liggaam om verbrand te word – God kan behaag, sonder die liefde van ons hart nie? (1 Kor. 13: 1-3).
Ons het die Here nie waaragtig lief nie. Daarin is ons soos Simon, die Fariseër, van wie ons in Luk. 7 lees. Simon weet nie wat dit is om die Here lief te hê nie. Hy wil wel nie graag heeltemal niks met Jesus te doen hê nie. Hy wil nie wees soos diegene wat Christus totaal uit hul lewe uitsluit of Hom selfs vervolg nie. Hy wil nie wees soos die ander Fariseër wat die raad van God aangaande hulle verwerp het nie (vs. 30). Hy wil Jesus in sy huis ontvang en hy nooi Hom uit na ’n maaltyd. Maar – en dit is ’n geweldige saak – hy doen dit nie omdat hy Jesus liefhet nie. Baie redes kon hom daartoe beweeg het om Christus uit te nooi, bv. die gedagte dat hy darem nie so hard van hart as die ander Fariseër wil wees nie, of die gedagte dat dit ’n verdienstelike daad is om aan ’n profeet wat op reis is, gasvryheid te bewys. Gestel dat daar werklik iets in Christus gesteek het, dan wou hy darem nie graag sy vyand wees nie. Maar wat dit ook al mag gewees het wat hom daartoe beweeg het om Jesus uit te nooi na sy huis, die één ding wat dit moes gewees het, nl. die liefde, was dit nie. En daarom vind ons dat hierdie man Christus wel uitnooi na sy huis, maar slordig is in sy optrede teenoor Jesus. Hy ag Hom nie eers die alledaagse eerbewyse waardig nie. Selfs die alledaagse ordentlikheid sou van hom verwag het om Christus met ’n soen te groet, om sy voete te laat was en sy hoof te salf. Daarmee bewys die Oosterse gasheer sy eer en liefde vir die besoeker. Maar Simon vind dit nie nodig nie. Miskien het hy dit vergeet. Hy het geen liefde vir Jesus nie, en ’n mens vergeet met jou hart nie met jou verstand nie. As hy Christus liefgehad het, sou hy dit nooit vergeet het nie. As daar liefde in die hart van Simon was, dan was dit slegs liefde vir homself.
Maar kyk daarteenoor na hierdie sondares wat gehoor het dat Jesus in die huis van Simon is, en gekom het om daar eer aan Hom te bewys. Haar hele optrede is die teenoorgestelde van die van Simon. Sy val aan die voete van Jesus neer en stort haar oorvol hart in trane uit. Sy het Christus lief, en die bewyse daarvan kan eenvoudig nie verberg word nie. Haar liefde vir Hom is só groot, dat sy nie meer dink aan haarself of aan wat die mense sal sê nie, as sy maar net die Heiland kan aanbid en by Hom kan wees!
Waarom verskil die optrede van die vrou en die van Simon so geweldig? Dit is duidelik: Simon kan nooit soos sy optree nie, want Simon weet nie alleen niks van ware liefde vir Jesus nie, maar hy weet ook niks van vergifnis nie. Die liefde van die sondares bloei op uit ’n hart wat ontslae is van die las van sonde. Omdat sy geweet het van haar sonde en in Christus die soetheid van vergifnis gesmaak het (vgl. Ps. 32!), dáárom het sy Christus, haar Verlosser, so innig lief. Maar Simon weet nie dat hy sonde het nie. In Gods oog is hy nie minder skuldig as die sondares nie, maar in sy eie oog het hy maar weinig skuld, en as daar iets is wat hom kwytgeskeld moet word, dan is dit na sy mening in elk geval uiters gering. Daarom sou sy liefde vir Jesus, gestel selfs dat hy dit die moeite werd geag het om vir sy (in eie oog) weinige oortredings vergifnis te vra, maar uiters gering wees. Hy het nog nooit die las van sy sonde gevoel nie. Gevolglik is die bevryding van die las vir hom geen gebeurtenis nie, en die Bevryder is vir hom geen voorwerp van liefde nie. Die donkerheid van sy eie hart ken hy nie, die soetheid van vergifnis het hy nooit gesmaak nie, en die vuur van ’n hart wat gloei van liefde vir die Verlosser is vir hom ’n dwaasheid. Is dit ’n wonder dat hy dan ook niks verstaan van ’n openbaring van liefde vir Christus met sy dade nie, en dat hy dit regkry om slordig teenoor Jesus te wees in sy eer- en liefdebewyse? En is dit ’n wonder dat dit met die vrou so ánders is, dat selfs die allerkosbaarste wat sy het, aan Hom gegee kan word?
Ons het gepraat van ons eie liefdeloosheid teenoor die Here. Is die rede daarvoor nie nou duidelik nie? Die liefde wat gloei en bruis ontbreek, omdat ons nie werklik weet wat sonde is nie, en omdat ons gevolglik nie werklik weet wat vergifnis is nie. ’n Eiegeregtige mens se hart is altyd hard en ongevoelig, is altyd liefdeloos. Hy kan soos Simon probeer om die indruk te wek dat hy nie afsydig teenoor Christus staan nie, ja selfs dat hy Hom eer en liefhet. Maar dit sal altyd weer blyk dat hy Jesus nie werklik liefhet nie, omdat hy slordig teenoor Christus sal wees. Die gebrek aan liefde in ons lewe is ’n vrug van ons eiewaan, van ’n gebrek aan die waaragtige mishaging van onsself. Dit moet ons gebed wees dat die Here ons die diepte van ons ellende moet laat sien, die vreugde van die vergifnis moet laat smaak, en die heerlikheid van spontane en ongeremde liefde vir Christus moet laat ken! — Amen.
Lees: Luk. 7 36-50.
Sing: Ps. 105 1, 2; Ges. 48: 5, 6 Ges. 12: 4, 5.