Die Geduld van God

Die Geduld van God.
Die Kerkbode, lxxx(19), 7 November 1957, 823.
WD Jonker, Johannesburg-Wes
7 November 1957

Maar hy antwoord en sê vir hom: Meneer, laat hom nog hierdie jaar staan totdat ek om hom gespit en mis gegooi het. As hy dan vrugte dra, goed; maar so nie, dan kan u hom anderjaar uitkap. – Lukas 13: 8-9.

In die gelykenis van die onvrugbare vyeboom, en met name in die gedeelte daarvan wat ons tot teks geneem het, sien ons die geduld van God met ’n ongehoorsame, onvrugbare mens na vore tree.  Ons moet dit nie so opneem asof hier wel sprake sou wees van die geduld van Christus – die tuinier wat pleit vir nog ’n jaar – maar nie ook van die geduld van God, die Vader nie, asof die Vader minder geduldig met die mens sou wees as die Seun nie.  Nee, Vader en Seun is tog één.  Wat ons hier het, is ’n uitdrukking in gelykenisvorm van die geduld van God Drieënig, met die ongehoorsame mens, ’n geduld wat hom daarin openbaar dat daar beraadslaging tussen die Vader en die Seun gehou word oor die gee van nog ‘n kans aan die sondaar – ’n beraadslaging wat boordevol is van Gods geduld, want nie alleen pleit God, die Seun, vir nog ’n kans nie, maar God die Vader laat Homself oorreed tot die gee van nog ’n kans.  So spreek hierdie gedeelte tot ons oor die geduld van God as ‘n geduld wat die volgende kenmerke vertoon:

  1. Dis ’n Geduld vol Onverdiende Ontferming – Ons besef die onverdiendheid van hierdie ontferming en geduld eers as ons sien wat hierdie vyeboom is. Dis ’n vyeboom geplant deur die eienaar in sy wingerd. Dis nie ’n willekeurige vyeboom wat in eie krag êrens in die wildernis opgeskiet het nie.  Hy staan geplant, deur die sorg van die eienaar, daar waar die grond sag en vrugbaar is, daar waar spesiale sorg aan hom bestee is, in ’n begunstigde posisie.  Met reg kan die eienaar van hom vrug verwag.

Wie is hierdie vyeboom?  Dis die mens wat deur God bevoorreg is om aan Sy verbond te behoort, die mens deur God gestel op die akker van die Kerk, waar die Woord van God gehoor word en waar die geleentheid is om in al die voorregte van Gods gemeenskap te deel.  Christus dink by die uitspreek van die gelykenis aan Israel, die volk van Gods guns, wat die wet en die profete het, wat die beloftes het, wat die tempel en die offers het, wat die paaslam het – en boonop Christus self in Sy menswording aanskou.  Van sulke mense kan daar met reg vrug verwag word, die vrug van geloof, van oorgawe aan God.  Die vrug wat God soek, is nie in die eerste plek ons poginge tot goeie werke nie, dis ook nie ons geld nie: dit is ons harte wat aan Hom gegee is in geloof en gehoorsaamheid, ons harte wat bereid geword het dat God ons maar mag liefhê en besit.

Die vrug verwag God van elke kerkmens, van elke gedoopte mens wat deur Gods genade gebore is op die akker van die Kerk en deel in Gods verbond.  Maar helaas, die vyeboom wat hier geskets word, is beeld van die kerkmens wat ten spyte van al die voorregte tog onvrugbaar bly.  Ten spyte van al die sorg van die Here aan Israel soek Hy oor ‘n lang periode (drie jaar) tevergeefs na vrugte van bekering by sy volk.  So soek God ook tevergeefs na vrugte in die lewe van meer as een gedoopte mens, wat onwillig is om sy doop te verstaan en hom tot God te bekeer.  Daar was soveel geleenthede: ’n godvrugtige ouerhuis, ’n hele loopbaan in die Sondagskool en die Katkisasieklas, die erns van die openbare belydenis, talle boodskappe van die kansel wat hard gespreek het, die swygsame Bybel op die rak en meer as een beproewing of ander gebeurtenis wat luid geroep het: Gee jou tog oor, verset jou nie langer teen God nie, dra tog vrug!  Maar daar is geen vrug nie!  Inteendeel, in plaas van vrug te dra, maak elke onvrugbare vyeboom die grond onvrugbaar waar hy staan (vs. 7).  Elke kerkmens wat nie 1ééf uit die verbond nie, maak dit vir ander moeiliker om Christus te vind.  Hy verlaag die geestelike temperatuur in die Kerk, hy smoor die getuienis van die Kerk na buite en hy trek ander eerder weg van Jesus af as wat hy vir hulle iets beteken.

Só is die toestand van die vyeboom.  Is dit te veel as ons sê dat ’n tuinier wat besluit om so ’n boom nog ’n jaar te spaar, geweldig veel onverdiende ontferming teenoor hom bewys?  Hy kon hom al veel eerder uitgekap het, maar hy doen dit vir drie jaar nie, en selfs dan spaar hy hom nog ’n jaar. Wat is God tog geduldig met ons mense wat so traag is om Sy liefde te aanvaar en vrug te dra!

  1. Dis ’n Geduld wat vol Werksame Liefde is. – Dat die tuinier besluit om nog ’n jaar aan hierdie boom tyd te gee om vrug te dra, openbaar aan ons nie alleen die geduld van God wat ook aan die sondaar nog ’n laaste kans gee nie, maar dit laat ons ook sien dat God die sondaar, aan wie hy ’n kans gee, nooit aan homself oorlaat nie. Die tuinier laat nl. die vyeboom nie aan sy eie lot oor om self vrugbaar te word nie: hy bewerk die boom opnuut en wel met groot noukeurigheid en sorg. Hy gaan in die jaar om die boom spit en hom bemesting gee (vs. 8).  Sy geduld met die boom is vol werksaamheid.  So is Gods geduld met die ongehoorsame kerkmens ook altyd vol werksame liefde.  Hy gee sy ongehoorsame verbondskind nog ’n kans, maar ’n kans waarin daar aan hom gearbei word.

Sterker as tevore kom God in die laaste kans wat Hy aan die ongehoorsame mens gee, by hom aandring op bekering.  Hy spreek met hom ’n duideliker taal as tevore.  Verre daarvandaan dat hy die ongehoorsame kerkmens aan homself sou oorlaat – dit sou geen geduld wees nie, maar juis ongeduld met die ongehoorsame persoon om hom aan homself prys te gee – kom God hom met die sondaar bemoei soos nog nooit tevore nie.  Hy laat ’n ramp oor hom kom of hy laat hom deur sy sonde agterhaal; hy gryp hom aan deur ’n preek van die kansel of Hy stort hom in die skande; Hy praat met hom deur die stem van die kerklike tug of deur die stem van sy eie gewete.  In al hierdie dinge is God besig om die ongehoorsame mens te bearbei.  Die kans word hom nogeens gegee om vrug te dra.

  1. Dis ’n Geduld wat ‘n Grens het. – Die tuinier kan die vyeboom egter nie vir altyd in sy tuin duld as hy onvrugbaar bly nie. As van die laaste kans nie gebruik gemaak word nie, sal die boom uitgekap word. Die werksaamheid van Gods liefde, die pleitstem tot bekering hou ook eenmaal op.  As dit nie so was nie, sou dit swakheid aan Gods kant wees, en sou sy Woord wat dreig met ondergang vir elke onbekeerde, onwaar wees.

Ná die laaste kans hou die genadetyd op.  Miskien bring ’n skielike dood ’n einde aan die geleentheid tot bekering; miskien gee God ’n persoon oor aan verharding en ongevoeligheid, sodat die evangelie hom net nie meer aanspreek nie.  Sy geleentheid is verby.  Hy word uitgekap uit Gods tuin.

Wie weet wanneer dit sy laaste kans is om Gods genade aan te gryp!  Het u, liewe leser, dit al heelhartig. aangegryp? — Amen.

Lees: Luk. 13 : 6-13.

Sing: Ps. 25 : 3, 5; Ges. 40 : 1, 3, 5; Ges. 66 : 1, 5.