DIE ROEPING VAN DIE KJV IN DIE JEUGKRISIS
Die Voorligter, vol xxi(11), September 1958, 24
Deur dr. W. D. Jonker.
DIE onderwerp wat ons aandag vra, spreek van twee dinge: van die jeugkrisis en van die roeping van die Kerkjeugvereniging met betrekking tot die jeugkrisis. Daar word eenvoudig uitgegaan van die gedagte dat daar ’n sogenaamde jeugkrisis bestaan. As ons werklik sinvol moet dink oor ons onderwerp dan sal ons eers meer helderheid moet kry in verband met wat hier bedoel word met jeugkrisis, en eers daarna sal ons in staat wees om te kan bepaal wat die roeping van die Kerkjeugvereniging in die krisis kan wees.
Wat word bedoel met die jeugkrisis van ons dag?
Almal praat vandag van die afval van die jongmense, van roekeloosheid en onverantwoordelikheid van die jeug. Die gevolg is dat ’n mens baie maklik dink dat jy heeltemal goed weet wat bedoel word as daar gepraat word van die jeugkrisis. En tog kan ’n mens die saak miskien veels te oppervlakkig sien en die eintlike wese van die jeugkrisis miskyk. Waarin bestaan die jeugkrisis eintlik? Nie net in die toename van jeugmisdaad en die roekeloosheid van jongmense en hulle oppervlakkigheid nie. Dit alles is maar simptome van ’n veel dieper ellende. Die jeugkrisis kan moontlik bestaan daarin dat God ons jeug oorgee en prysgee aan hulleself.
Wat bedoel ons daarmee. Slegs die Bybelse waarheid, wat vir ons oor en oor in die geskiedenis van die volk Israel geteken word, nl. dat God ’n verbond met Sy volk het, wat onder andere ook hierdie heerlike belofte van God bevat, dat Hy Hom wil ontferm oor die kinders van sy kinders, oor die jong geslag van Sy volk, ja dat Hy die kinders van Sy volk in Sy verbond insluit, hulle vir Hom toeëien van kleins af. Omdat Abraham Gods kind is, word Abraham se kind deur God geneem en versorg en gelei tot die ewige lewe. Dit is die gedagte wat ons vandag nog in die heilige doop ook het. God eien die kinders van gelowiges vir Hom toe en Hy verbind Homself om vir hulle ’n God te wees en hulle te bewaar.
Maar die Bybel leer ons nou ook baie duidelik dat hierdie heerlike waarheid dat God die kinders van Sy kinders toeëien, ’n vreeslike teenkant het, nl. dat as die ouers op een of ander tyd die skakel van die verbond verbreek, nl. deurdat daar ’n geslag opstaan wat nie meer die Here soek nie en nie meer na Sy Naam vra nie, alhoewel hulle hulle kindertjies miskien nog laat besny het – dat dan die Here ook sê: dan aanvaar Ek ook nie meer die verantwoordelikheid vir My deel van die verbond nie, dan sal Ek my ook nie meer oor jou kinders ontferm en hulle vir My toeëien nie. God wil in die geslagte Sy genade bewys, maar as één bepaalde geslag die skakel breek, dan beteken dit dat hulle kinders deur God prysgegee word, dat God hulle kinders nie meer wil toeëien nie, omdat hulle nie kinders van Sy kinders is nie, omdat hulle dus nie meer kinders is wat binne die verbond gebore is nie. Dit lees ons in Hosea 2 : 3: “En oor jou kinders sal Ek My nie meer ontferm nie, want dit is kinders uit hoerery gebore,” d.w.s. kinders gebore uit mense wat nie meer die verbond van die Here onderhou het nie, maar vreemde minnaars, afgode nageloop het. En die gevolg is dat daardie kinders deur die Here prysgegee word en aan hulle lot oorgelaat word, aan die versoekings ten prooi gegee word. God trek as’t ware Sy hand van hulle terug.
As daar ’n jeugkrisis is, dan is die vraag of dit nie miskien die jeugkrisis van ons dag is nie. Daar het in Suid-Afrika ’n geslag van ouers opgestaan wat God nog net in naam ken. Die vreeslike dinge wat ons vandag van ’n deel van ons jeug belewe, is die resultaat van godsdienslose ouers. ’n Ondersoek na jeugmisdaad in Johannesburg het getoon dat nie een enkele geval van werklike jeugmisdadigers gevind kon word waar daar nog maar ’n greintjie godsdiens in die huis van die ouers was nie! God laat die jeug los, omdat die ouers Hom losgelaat het.
Wat is nou die Roeping van die Kerkjeugvereniging in hierdie Jeugnood?
Dit lyk my asof ons hier van drie aspekte van ons roeping moet praat: (a) ten opsigte van onsself; (b) ten opsigte van ander kerklike jongmense; (c) ten opsigte van die wat buite is.
(a) Ten opsigte van onsself is die roeping van die K. J. V. baie duidelik: die Kerkjeugvereniging moet ’n haard wees waar goeie kerkmense, d.w.s. getroue kinders van God gekweek word, mense wat die verbond van God eer en vir die geslagte sal bewaar, mense met ’n roeping om die vuur brandende te hou.
(b) Maar dit is nie genoeg nie. Die K. J. V. moet aansteeklik werk in die kerk, moet ander jongmense wat miskien nie soos ons die Here Jesus gevind het nie, maar wat tog aan die gemeente behoort, probeer inskakel en hulle die heerlikheid van die genade van die Here laat sien. ’n K. J. V. wat die krisis waarin die jeug is, reg verstaan, sal hom beywer om sy geledere te versterk teen die magte van die Satan.
(c) En dan die belangrikste: teenoor die wat skynbaar losgelaat is, wat afgedwaal is, moet ons die roepstem laat uitgaan: Nog is daar genade ook vir jou. Ons is soos saadkorrels deur die Here uitgestrooi in hierdie bose wêreld, en ons kan oral deur die Here gebruik word om ons deel te doen, om te ontkiem en vrug te dra. Dit is die waarheid van Mat. 13 :37: “Die goeie saad – dit is die kinders van die Koninkryk.” Die goeie saad wat in die wêreld uitgestrooi word, is mense, geredde mense wat ’n boodskap het en wat ontkiem om veel vrug te dra: as hulle maar bereid is om hulleself volkome oor te gee en volkome te sterwe aan hulleself soos die saadkorrel, sodat die Here aan hulle veel vrug kan gee! Ons sien die voorbeeld daarvan in die eerste Christelike gemeente wat deur die vervolging verstrooi is (soos saad) en oral waar hulle gegaan het, vrug gedra het. Dink maar aan die ontstaan van die gemeente in Antiochië as vrug van die verstrooiing van die eerste Christene. Ons K. J. V.-lede werk ook oral tussen ander jongmense, en as ons maar daar ons getuienis wil gee, dan kan daar geweldige dinge gebeur. Mense is honger na die ware evangelie, ons kan hulle dit gee deur Gods genade. Durf ons swyg?