Het dit sin om van Evangelisasie te spreek?
vra dr. W. D. Jonker
Die Voorligter, vol xxi(13), November 1958
Daar was seker nog nooit in die geskiedenis van die Ned. Ger. Kerk ’n tyd waarin daar so ernstig geworstel is met allerlei prinsipiële vraagstukke in verband met die wese en die werksaamhede van die Kerk as in ons tyd nie. In ’n heel besondere sin is dit ook die geval dat oor die werksaamhede van die Kerk wat as “evangelisasie” bekend staan, in ons tyd op so ’n intensiewe wyse nagedink word in ons Kerk, dat baie dinge wat in die verlede deur ons almal, of deur die meerderheid van ons, aanvaar kon word as die juiste weg waarop ons moet gaan as ons die werk van die Meester die doeltreffendste wil doen, vandag al meer onder die vraagteken kom. Wanneer hierdie vraagtekens geplaas word by enige aspek van die werksaamheid van die Kerk, dan spreek dit vanself dat daar verskil van opinie sal ontstaan en dat meer as een mag voel dat dit darem uiters onbillik is om die werk waaraan hulle hulle hele lewe, tyd en kragte wy, deur ander bevraagteken kan word, maar dan moet ons tog altyd weer voorop stel dat die kerk in sy besinning oor sy werk nooit bang mag wees om vrae te stel wat soms hierdie of daardie persoon ongemaklik kan laat voel nie, want dit gaan in die kerk uiteindelik nie daaroor dat ons almal mekaar lekker laat voel nie, maar dat ons een en almal saam moet begin oor die juiste prinsipiële weg waarop ons moet gaan om die werk van die Here die beste te doen. Dit is dan ook nie ons bedoeling om in hierdie artikeltjie die werk van enige predikant hoegenaamd te verkleineer of gering te skat nie, en dit gaan ons veral nie daarom om die goeie bedoelinge en pragtige motiewe van ons hoog gewaardeerde broeders wat op die voorposte van die “evangelisasie”-aksie van ons kerk staan, in die minste onder verdenking te bring nie, maar dit gaan ons daarom, dat ons in die vloed van besinning oor hierdie netelige en tegelyk lewensbelangrike vrae, ’n beskeie bydrae wil probeer lewer.
Die vraag wat ons dan wil stel in alle beskeidenheid, is die vraag: Het dit sin om van “evangelisasie” te spreek in verband met die werk wat deur die N.G. Kerk gedoen word onder die benaming? As woorde tog enige sin het, dan mag ons nie maar woorde gebruik wat ’n onbepaalde begrip aandui om heeltemal wesensverskillende dinge daarmee aan te dui nie – dit werk net verwarring. Nou wel, die term “evangelisasie” het tog ’n baie duidelike betekenis wat aan ons almal terdeë bekend is, nl. geestelike arbeid onder mense wat nie aan die kerk behoort nie, onder diegene wat van die kerk verval het. Kyk ons nou egter na die werksaamhede van die N.G. Kerk wat onder die benaming “evangelisasie” aangedui word, dan is die vraag vanself onontwykbaar: is dit nou werklik “evangelisasie”?
Neem maar die werk van die sekretaris vir evangelisasie. Dat daar deur die geagte broeder ’n kosbare en kostelike werk gedoen word, kan deur niemand wat enigsins met die feite vertroud is, betwyfel word nie. Net al: dit is nie evangelisasie nie. Dit raak die buitekerklike eintlik maar in ’n baie klein opsig. Neem byvoorbeeld die feit dat die sekretaris voortdurend gevra word om sg. “evangelisasie” dienste in verskillende gemeentes te hou. By daardie dienste is dit lidmate van die kerk wat teenwoordig is en wat dus maar net ontvang wat hulle vroeër ontvang het toe ons nog gepraat het van “spesiale dienste”. Miskien is daar een of twee werklike buitekerklikes teenwoordig (wie sal dit se?), maar dit is in elk geval feitlik nooit die bedoeling van die kerkraad wat hom uitnooi, dat hy vir buitekerklikes moet kom preek nie, en sy prediking sal, tensy dat hy werklikheidsvreemd sou wees, ook nie ’n prediking vir buitekerklikes kan wees nie, maar sal deurgaans ’n prediking vir lidmate van die kerk wees. Dus: dit gaan in hierdie aspek van sy werk nie om evangelisasie nie. Verder, die sekretaris van evangelisasie is ook voortdurend besig met die loflike werk om die ampsdraers op te skerp om hulle werk meer effektief te kan doen. Hy moet konferensies reël, kursusse hou ens. Niemand kan die waarde van hierdie werk oorskat nie. Net al: dit is nie evangelisasie nie. Dit is tog niks anders nie as opskerping van die ampsdraers van die kerk om hulle ampswerk beter te doen, maar met arbeid onder buitekerklikes het dit alleen in die verste moontlike afgeleide betekenis iets te doen, en ’n mens sou met ewe goeie reg dan ook jou gemeentebiduur ’n evangelisasiebiduur kan noem, as wat jy sulke byeenkomste evangelisasiebyeenkomste kan noem. En les bes: die sekretaris vir evangelisasie se kosbare tyd en kragte gaan vir die grootste gedeelte daarin om allerhande administratiewe werk te doen. Daarvoor, sal iemand opmerk, is hy dan ook ’n “sekretaris”. Maar is dié sekretariële werk vir hom nou werk wat iets te doen het met evangelisasie? Slegs in baie geringe mate. Vir die grootste gedeelte is dit werk wat te doen het met die normale ampsbediening in die gevestigde gemeentes. Dit gaan vir die grootste gedeelte oor vrae en gegewens wat die Rings behoort af te handel in hulle behandeling van die Kerkvisitasie-verslag. Evangelisasie is dus ook nie, hoe noodsaaklik dit ook geag moet word dat die kerk homself deeglik rekenskap sal gee van al hierdie dinge.
Maar om van die sekretaris vir evangelisasie af te stap en ons te wend na die ander aspekte van die kerk wat onder die naam “evangelisasie” groot prominensie geniet, kan ons maar net wys op die spoorwegbearbeiding, die bearbeiding van die polisie en tronkbewaarders, die bearbeiding van pasiënte in die hospitale, die bearbeiding van verpleegsters en die verspreiding van Christelike literatuur. Soos die arbeid vandag verrig word, het dit met evangelisasie in elk geval slegs by wyse van hoë uitsondering te make, en daar bestaan baie min rede om hierdie werk onder die naam evangelisasie in te sluit. In die spoorwegarbeid gaan dit tog immers so goed as uitsluitlik om die bearbeiding van lidmate van die kerk. Vroeër toe die werk begin is, was die oog veral gerig op die talle spoorwegwerkers wat op afgeleë stasietjies sit, waar daar selde of ooit ’n leraar van die kerk kon kom. Dit is te betwyfel of die Spoorwegarbeid vandag nog veel aandag aan hierdie aspek hoef te skenk. Sonder om egter verder in te gaan op die meriete van die Spoorwegarbeid, wil ons met die meeste moontlike klem sê: dit is in elk geval nie evangelisasie nie. Dit is die bearbeiding van die lidmate van bestaande gemeentes by hulle werk. Hoeveel die mobilisering van hierdie mense vir eventuele evangelisasiewerk ookal mag beteken in die toekoms, ons sal in elk geval goed doen om te besef dat dit vandag nog nie evangelisasiewerk kan heet nie. Wat hier gesê is van die spoorwegarbeid, geld ook onverkort vir die bearbeiding van die polisie. Dit is geen buitekerklikes wat opgespoor word nie, dit is gemeentelede wat maar net nog ’n keer weer van ’n ander kant af bearbei word en, omdat die arbeidsveld sulke ontsaglike afmetings aanneem, moet die bearbeiding boonop uiters sporadies van aard wees en dit kan dus tog nooit die intensiewe arbeid van die plaaslike leraar vervang nie. En in elk geval is dit nie evangelisasie nie, want ware evangelisasiearbeid sal veel meer intensief gedoen moet word as wat die huidige apparaat toelaat. Van ons kerk se kolportasiewerk hoef ons nie eers te praat nie, want die verspreiding van Christelike boeke onder lidmate van die kerk kan net so min op die naam van evangelisasie aanspraak maak, as wat enige ander aspek van die kerk se noodsaaklike arbeid aan sy lidmate daarop aanspraak kan maak. En wat die bearbeiding van verpleegsters betref, kan dit ook nie evangelisasiewerk heet nie, omdat dit tog die uitgesproke bedoeling van dié werk is om ons eie kerk se lidmate onder die verpleegsters op te soek en geestelik te versorg, en dit is slegs by wyse van uitsondering dat hier van ware evangelisasiewerk, as die geestelike arbeid onder die mense wat sonder enige kerk is, sprake sal kan wees. Vir elkeen sal dit ten slotte dan ook duidelik wees dat hospitaalbearbeiding waaronder vir 99.9% verstaan moet word die geestelike vertroosting en bearbeiding van ons kerk se lidmate wat in die hospitale beland, tog nie evangelisasie is nie. Dit is normale pastorale werk en staan vermeld in elke leraar se beroepsbrief.
Met dit alles in gedagte, is dit slegs vanselfsprekend dat die vraag gestel sal word waarom ons dan nog bly praat van “evangelisasie”. Die benaming verwar net ons uitsig. Dit stel ons gerus met die gedagte dat ons ons ontsettend besig hou met evangelisasie, maar intussen doen ons eintlik nog nie ware evangelisasiewerk nie. Ons is nog altyd besig om mekaar te oorvleuel in ons bearbeiding van lidmate van die kerk, terwyl die ware voorwerp van evangelisasie, die buitekerklike, waarvan daar reeds genoeg in ons groot stede is, slegs (by wyse van spreke) “toevallig” deur ons arbeid geraak word. In Johannesburg is ons deurentyd besig met “evangelisasie” waarin sommige lidmate van die kerk miskien oorvoed word, maar ons raak die eendesterte en die kerkloosmense van Hillbrow en Jeppe en Fordsburg en al die ander voorstede feitlik met geen vinger aan nie. Ons stel ons gewete tevrede, want ons is mos besig met “evangelisasie”!
Ons maak gebruik van allerlei evangelisasie-metodes, maar ons pas die metodes toe op mense wat nie buitekerklikes is nie, maar lidmate van die Kerk. Dieselfde medisyne wat egter goed is vir ’n persoon wat gif gedrink het, is nie geskik vir iemand anders wat per ongeluk sy arm gebreek het nie. En wat is die gevolg daarvan dat ons in ons bearbeiding van kerklidmate (al is dit ook dooie kerklidmate) van evangelisasiemetodes gebruik maak? Ons kan maar net verwag dat die gevolg sal wees dat die mense in elk geval nie gesonde kerklidmate sal word nie.
Laat ons by wyse van afsluiting net daarop wys dat ons met hierdie aantal opmerkings in die geheel nie bedoel om te sê dat al hierdie arbeid aan byvoorbeeld verpleegsters of pasiënte in die hospitale gestaak moet word nie. Dit sou dwaas wees. Maar laat ons dit tog net nie „evangelisasie” noem nie. En dit is werklik nie maar net ’n geval van: “What’s in a name?” nie, want as ons die naam “evangelisasie” gebruik vir dinge wat nie evangelisasie is nie, dan lei dit ons daarvan af om werklik evangelisasiewerk te doen.
Sou dit dan ook nie veel beter wees indien ons Sinode náás die Kommissie vir evangelisasie, wat uitsluitlik verantwoordelik behoort te wees vir die bearbeiding van buitekerklikes, nog ’n kommissie in die lewe roep, wat desnoods Kommissie vir Evangeliebediening, of Kommissie vir Ampsbediening kan heet nie, wat hom kan besighou met al die vrae van die Kerkvisitasievorm, met die hulpdienste in verband met die bearbeiding van beroepsgroepe wat lidmate van die kerk is, ensovoorts nie? Dan kom die hande van die sekretaris vir evangelisasie vanself los om sy eintlike werk te kan doen, en dan sal dit ook nie meer nodig wees dat hy sy tyd moet gebruik vir allerlei dinge wat met sy eintlike taak maar weinig te doen het nie, maar wat die kerk hom nou tog oplê nie. En dan sal dit ook vir ons nie nodig wees om nog meer sekretarisse vir evangelisasie aan te stel om daardie werk te doen nie. Vandag moet die sekretaris vir evangelisasie homself onnodig uitput en meer dra as sy deel, omdat die kerk van hom dinge verwag wat nie evangelisasie is nie, soos onder andere die organisasie van dinge soos kolportasie en hospitaalarbeid. Eers as ons hierdie posisie reggestel het, sal ons uitvind dat ons behoefte nie aan addisionele sekretarisse is nie, maar aan ’n hele aantal evangelisasiepredikante, d.w.s. predikante wat die uiters moeilike taak op hulle skouers het om werklik die buitekerklike te ontmoet en hom na Christus te probeer lei. Die taak is natuurlik aansienlik moeiliker as wat ons vandag nog kan voorsien. Maar toestande ontwikkel tans so vinnig, dat ons nie langer kan wag om hierdie dinge onder die oë te sien en reg te stel nie.