BRIEF AAN DIE KERKBLAD
Die Kerkblad Jaargang 61 Nr. 1514, 16 September 1959, 8.
Dr. W. D. Jonker, predikant van die N.G. Kerk Potchefstroom-Noord skrywe soos volg:
Met belangstelling het ek die opmerking van S.d.T. oor die nuwe kerkorde van die Nederduitse Gereformeerde Kerke in u uitgawe van 26 Augustus gelees. Vir almal wat die Kerk van Jesus Christus lief het en gebukkend gaan onder die verskeurdheid van Sy liggaam, is dit altyd ’n oorsaak van vreugde as daar wedersydse belangstelling van die kerke in mekaar is en as daar, soos in die onderhawige artikel, waardering getoon word vir wat in ander kerke verrig word. Ons is innig dankbaar om te kon verneem dat die nuwe kerkorde in die kringe van die Gereformeerde Kerk so hoog aangeslaan word.
Tog wil ek in alle beskeidenheid sê dat ek glo dat die skrywer van die artikel van ‘n verkeerde veronderstelling uitgaan en gevolglik insinuasies maak wat nie daarop bereken is om die goeie saak van ‘n beter verstandhouding tussen ons kerke te dien nie. Sy hele artikel gaan uit van die veronderstelling dat die kerkregering van die N.G. Kerk tot op vandag beheers word deur die gees en beginsels van die kerkorde van de Mist. Daarom spreek die skrywer ook van die aanvaarding van die nuwe kerkorde as ‘n “radikale omwenteling” in die stelsel van kerkregering van die N.G. Kerke. In sy rede tydens die fees op Rustenburg het prof. Du Toit, wat normaal-weg tog in die kringe van die N.G. Kerk as ‘n eerlike en simpatieke mens beskou word, hierdie selfde veronderstelling gemaak en oor die radio verkondig. In die onderhawige artikel word daar eintlik nog verder gegaan en word daar gesê dat die aanvaarding van die nuwe kerkorde die “eerste stappe” is wat die N.G. Kerk doen in verband met die reformasie van sy stelsel van kerkregering, terwyl daarby dan gesuggereer word dat die N.G. Kerk deur hierdie stap nou eintlik erken dat sy stelsel van kerkregering nog altyd nie gereformeerd was nie, waarmee die N.G. Kerk dan ook eintlik volgens die skrywer die reg sou verbeur om verder beswaar te kan maak teen die beskuldiginge wat in die eeufeesjaar van die Gereformeerde Kerk teen die kerkregeringstelsel van die N.G. Kerk gemaak is. En werklik, dan word daar nog boonop geïnsinueer dat die protes wat van die Raad van die Kerke uitgegaan het oor die onbillike kritiek teen die N.G. Kerk wat gedurig van die kant van die Gereformeerde Kerk kom, maar eintlik ‘n poging was om die Raad te vrywaar van alle verdenking van verdoppering van die N.G. Kerk deur die aanvaarding van so ‘n gereformeerde kerkorde in die plek van die deur-de-Mist-beheerde wette en bepalinge!
Werklik, ’n mens vra jouself af watter gesindheid daar in die hart van die skrywer gelewe het toe hy hierdie dinge neergeskrywe het! Is dit nou werklik waar dat hy nie weet dat die voorstelling van sake wat hy hier gee en die onvriendelike insinuasies wat hy daarmee saam die wêreld instuur, onredelik en onbillik is nie? Vir enige persoon wat enigsins ter sake kundig is, kan daar tog nie die minste twyfel oor bestaan dat daar, sover dit beginsels raak, geen wesenlike verskil tussen die nuwe kerkorde en die bestaande wette en bepalinge is nie. Het die geagte skrywer dan nog nooit kennis geneem van die wette en bepalinge nie? Of ken hy miskien nie die kerkorde van de Mist nie? Hoe is dit moontlik dat die skrywer die kerkorde nogal hoog kan waardeer, terwyl hy die wette en bepalinge, wat presies dieselfde “gees en hoofstrekking” het, knaend in verband bring met die kerkorde van de Mist? In gees en hoofstrekking is daar ook reeds in die wette en bepalinge met die kerkorde van de Mist afgereken, en dit reeds baie lankal. Die nuwe kerkorde is net eenvoudig ‘n nuwe vormgewing van wat ons al die jare in die wette en bepalinge gehad het, sodat dit in ons kerke geen verskil hoegenaamd gaan maak wanneer ons die nuwe kerkorde in die plek van die bestaande wette en bepalinge invoer nie. Van ‘n radikale breuk kan hier geen sprake hoegenaamd wees nie, en nog minder van ‘n verandering van die stelsel van ons kerkregering. Graag wil ons versoek dat die skrywer vir ons in ‘n volgende artikel met vers en kapittel moet bewys waar die radikale verskil tussen die nuwe kerkorde en die wette en bepalinge is, ‘n verskil wat volgens hom só radikaal sou wees, dat daar sprake kan wees van ‘n verandering van die stelsel van kerkregering van die N.G. Kerk. En miskien sal die skrywer dan ook sommer van die geleentheid gebruik wil maak om vir ons te verduidelik, waarom hy die nuwe kerkorde wel so hoog kan waardeer, maar die wette en bepalinge feitlik gelyk kan stel aan die kerkorde van de Mist.
Ek glo dat dit vir die skrywer ‘n moeilike opgawe sal wees, maar dit mag hom dalk daarvan oortuig dat die N.G. Kerk tog die reg sal hê om by ‘n eventuele gesprek tussen ons kerke beswaar te kan maak teen hierdie soort kritiek teen sy huidige stelsel van kerkregering, kritiek wat blykbaar meer uit venynigheid voortkom as uit ‘n kennis van feite.
Sal ons tog nie maar weer ‘n keer, terwille van Christus, probeer om mekaar eerlik te benader en opreg van mekaar kennis te neem nie? Die N.G. Kerk wil nie beweer dat daar nie by ons, ook wat ons kerkregering betref, baie is wat verbeter kan word nie, maar ons vra darem van ons broeders ten minste billikheid in hulle beoordeling van die gereformeerde karakter van ons kerk en sy stelsel van kerkregering, of ons nou ‘n kerkorde het of wette en bepalinge. Ons het mekaar nodig en ons kan mekaar alleen help as ons in wedersydse liefde en eerlikheid mekaar benader en vir mekaar bid.