WAT IS EVANGELISASIE?
Dit Gaan nie maar om ’n woord nie!
Die Kerkbode, lxxxiv(13), 30 September 1959, 514/5, 517.
Deur dr. W. D. JONKER, Potchefstroom-Noord
Die Sinode van die Suidstreek van Transvaal het op sy vergadering van April 1959 besluit om dit as sy aanvaarde standpunt te stel dat slegs persone, wat buite enige kerkverband staan, voorwerpe van evangelisasie is, terwyl persone wat lidmate van die Kerk is, hoe kerklos en kerkvervreemd hulle ook mag wees, voorwerpe van herderlike sorg is. Daarmee het die Sinode te kenne gegee dat hy voortaan evangelisasie in ’n bepaalde omlynde betekenis wil verstaan, as die arbeid van die Kerk onder buitekerklikes en kerkloses, en dat hy dus ’n einde wil maak aan die groot verwarring wat daar met betrekking tot die begrip evangelisasie bestaan.
In die spraakgebruik van ons Kerk het die woord evangelisasie in die loop van die tyd ’n baie vae betekenis begin verkry, en dit het al half moontlik geword om enige “goeie” ding eenvoudig evangelisasie te gaan noem. Dat daar groot verwarring met betrekking tot die begrip evangelisasie onder ons bestaan, sal haas niemand wat ter sake kundig is, betwyfel nie.
ONGELUKKIGE VERWARRING
Vir sommige is enige reeks dienste net presies evangelisasie, of daardie dienste nou gehou word vir getroue en gevestigde gemeentelede, of dit gehou word vir buitekerklikes en of dit gehou word vir heidene, wat nog nooit van Christus gehoor het nie. Daarom noem sommige ons Pinksterbidure al ’n evangelisasiegeleentheid, en ’n reeks spesiale dienste in ’n gemeente, waarby meestal net lidmate van die Kerk teenwoordig is, word evangelisasiedienste genoem. Daarnaas het dit egter in die Transvaal gebeur dat die Sendingkerk tente aangekoop het met die doel om reekse dienste in rou heidense gebiede te hou, en omdat hulle reekse dienste wou hou, en dit nogal in tente, is toe van hierdie aksie as evangelisasie gepraat, en die broeder sendeling wat by sulke dienste moes optree, het vanself, sonder dat die broeder waarskynlik ’n pen meer hanteer as enige ander sendeling, die naam van evangelisasiesekretaris op die lyf geloop!
Vir andere het evangelisasie so min of meer die betekenis van “vurige prediking” of “konferensie” of “geestelike verdieping”. As hulle maar net ’n konferensie kan reël, waarby ’n hele aantal meelewende lidmate uit ander gemeentes saamgebring kan word om na die opwekkingsprediking van ’n paar geestelike broeders te luister, dan roem hulle dit as ’n groot “evangelisasiegeleentheid”.
Vir andere weer is enigiets wat saamhang met die spesiale weer evangelisasie. As daar ’n “spesiale” predikant is wat spoorwegmense op die stasies besoek (al is die spoorwegmense soms ook ouderlinge en diakens van bestaande gemeentes), dan doen hy aan evangelisasie. As iemand afgesonder word om verpleegsters te bearbei, dan doen sy evangelisasie. Selfs as ’n besondere werkkrag nodig is vir besoekwerk onder arme siek lidmate van die Kerk in die hospitale van die groot stede, dan is hy ’n evangelisasie-arbeider.
En les bes, vir sommige is sommer enigiets wat na “Christelikheid” lyk, al evangelisasie, want sommige mense praat al daarvan dat ’n leraar evangelisasiewerk doen as hy op huisbesoek met sy lidmate praat oor die welstand van hul geestelike lewe!
DIE WESE VAN DIE SAAK
Die verwarring is dus só groot, dat daar net nie meer aan verbygegaan kon word nie, en die Kerk is eenvoudig geroepe om uit te maak of enige aksie van die Kerk, waarby die stem verhef word of waarby oor die hart gepraat word, of waarby van ’n reeks sprake is of waarby van iets spesiaals sprake is, evangelisasie is of nie, en of die wese van evangelisasie nie dalk in iets anders gesoek moet word nie.
En daarom het die Suidstreek van Transvaal maar daartoe oorgegaan om nou eens vir altyd te sê dat die wese van wat evangelisasie is, nie gesoek moet word in dergelike dinge nie, maar slegs hierin, dat evangelisasie onder ons verstaan moet word as die aksie van die Kerk, waarby die Woord verkondig word aan diegene wat eenmaal binne die verbondskring gelewe het, maar van Christus en sy Kerk verval het, met die doel om hulle weer terug te win vir Christus en sy Kerk.
Dit is aan ons almal bekend dat die Nuwe Testament die woord “evangeliseer” gebruik in die wye sin van “die evangelie verkondig”, sonder dat daar-by sprake is van ’n onderskeiding met betrekking tot die vraag aan wie die evangelie verkondig word. Dit was ook nie noodsaaklik om in die geboorteuur en die wordingstyd van die Kerk allerlei fynere onderskeidinge in die verband te maak nie, onder andere ook al omdat van evangelisasie in die tegniese sin daar toe nog nie veel sprake kon weer nie. Maar vir die Kerk in sy gevestigde bestaan is dit hoogs belangrik om daarop te let dat die Woord van God aan verskillende kategorieë van mense verkondig word, en dat elke kategorie sy eie besondere behoeftes het en op ’n besondere wyse benader moet word. Dit is dieselfde Woord wat aan almal verkondig word, en dit is dieselfde aksie van verkondiging, maar die verkondiging klee homself telkens in ’n ander gedaante en verg telkens ander organisasie, om voorsiening te maak vir die besondere behoeftes wat by die voorwerp van die bearbeiding bestaan.
En daarom het dit in die Kerk gebruiklik geword om te onderskei tussen die bediening van die Woord in die gevestigde gemeente, die bediening van die Woord aan die heiden wat nog nooit van Christus gehoor het nie, en die bediening van die Woord aan diegene wat eenmaal tot die kring van die verbond behoort het, maar hulleself daarbuite gestel het en nou nie meer tot ’n gevestigde gemeente behoort nie. Alleen vir die bearbeiding van hierdie laaste kategorie word die benaming evangelisasie in Gereformeerde kringe gebruik, en die besluit van die Sinode van die Suidstreek van Transvaal sê maar net: Ons sluit ons aan by die algemeen-erkende Gereformeerde spraakgebruik!
MAAR NET ’n WOORD?
Nou moet dit tog net nie by iemand opkom om te dink: Ag ja, dit is maar ’n kwessie van ’n woord, en die Kerk het tog belangriker dinge om te doen as om oor ’n woord te stry! Nee, want die woord hang saam met ’n bepaalde benaderingswyse en ’n bepaalde metode. In die loop van die tyd het die woord evangelisasie tog min of meer die konnotasie gekry van die besondere benadering van afgedwaaldes met besondere metodes. Of ons wil of nie, maar die konnotasie kleef nou eenmaal aan dié woord. Nou is dit egter volkome duidelik dat as ons die woord evangelisasie reg gebruik, nl. om die besondere aksie van die Kerk met die doel om buite-kerklikes terug te win, aan te dui, dan is dié konnotasie ten volle te verwelkom. Ons het dan inderdaad te doen met mense wat vanweë hulle besondere nood op ’n besondere wyse benader moet word. Hierdie mense is miskien nog gedoop; hulle weet miskien selfs nog heelwat van die Bybel en die Kerk af; hulle besit miskien nog heelwat Christelike reste, maar hulle het geen belydenis waarop hulle aangespreek kan word nie.
Dit is duidelik dat hulle anders as die heiden benader kan en moet word, want hulle behoefte is heeltemal anders as die van ’n persoon wat nog nooit van Jesus Christus gehoor het nie. Daarom is die aksie wat tot hulle uitgaan, nie “Sending” nie. Maar dit is ook duidelik dat hulle anders benader moet en kan word as die belydende lidmaat van die Kerk, want laasgenoemde het tog eenmaal Jesus Christus openlik bely, hy het sy doop aanvaar en hy het nog nooit verklaar dat hy daarop wil teruggaan nie, al lewe hy ook hoe kerklos en kerkvervreemd. Die Kerk het die reg om sulke lidmate op hul belydenis aan te spreek en hul belydenis ernstig op te neem. Die Woord sal dus tot hulle anders gebring moet word as tot die buitekerklike, want aan hulle kan deur die verkondiging van die Woord gesê word: Wat het julle gemaak met jul belydenis dat julle hartlike voorneme is om die Here julle God lief te hê en Hom te dien ooreenkomstig sy Woord? Wat het julle gemaak met julle belofte om die wêreld te versaak, julle ou natuur te kruisig en in ’n nuwe godsalige lewe te wandel? Onthou julle nog dat julle in jul belydenisakte die Kerk gevra het om julle deur die kerklike tug te vermaan as julle afdwaal van Christus?
Maar hierdie dinge kan nie aan die buitekerklike gesê word nie. Daarom moet hy spesiaal benader word en eers weer van voor af gewin word vir Christus. Daarom mag spesiale metodes nodig word om sy aandag te trek: pamflette, luidsprekers, straatdienste, veldtogte ens. Hierdie aksie wat uitgaan tot buitekerklikes, met al die besondere wat dit aankleef – dit is in die ware sin van die woord evangelisasie!
SLIMMER AS DIE BYBEL?
Maar as ’n mens nou van evangelisasie gaan praat, ook wanneer dit lidmate van die Kerk raak, dan word dié konnotasie lastig. Dan beteken dit immers dat ’n mens die belydende lidmate van die Kerk ook met spesiale metodes wil gaan bearbei, en wel met dieselfde metodes wat gebruik word vir buitekerklikes. Maar dit bring dan ook mee dat koue lidmate van die Kerk behandel word asof hulle nie lidmate is nie, asof hulle nie belydenis gedoen het nie. Die Kerk skeld sulke mense dan hul belydenis as’t ware kwyt en gaan hulle op presies dieselfde wyse behandel as diegene wat nie hul woord openlik aan Christus gegee het nie. Die Kerk sê daarmee openlik: Ek beskou die belydenis van geloof voor die kansel as ’n klug of hoogstens as ’n blote formaliteit, wat nie in aanmerking geneem behoort te word by die bearbeiding van persone wat ver van Christus af lewe nie. Dit mag wees dat sulke persone in werklikheid net so ver van Christus af lewe s die buitekerklike, omdat hy ook maar nie die verlossing in Christus deelagtig is nie. Maar dit neem niks weg nie: hy behoort tot ’n ander kategorie as die buitekerklike, en alle gelykskakeling moet verwarring in die hand werk. Want as die koue kerklidmaat met dieselfde metodes as die buitekerklike behandel word, dan word die metodes van behandeling wat Christus vir sulke mense verorden het, met name die kerklike tug, verwerp en verwaarloos. Dan word die Kerk al weer slimmer as die Bybel. Dan praat ons verskriklik vroom oor die win van siele, maar ons wil nie die weg volg wat Christus vir ons aangedui het nie, want ons gee dan te kenne dat ons beter as Hy weet hoe ’n mens in die omstandighede van die Ned. Geref. Kerk en in die twintigste eeu moet optree.
Maar meer nog: indien ons die arbeid onder lidmate van die Kerk evangelisasie noem, dan maak ons onsself natuurlik vreeslik druk met ’n evangelisasie, wat in werklikheid nie evangelisasie is nie, maar gewone ampswerk. En dan is ons so besig met wat ons evangelisasie noem, dat ons die ware evangelisasie, die bearbeiding van die buitekerklike, nooit aanraak nie. Maar ons sus ons gewete met die gedagte dat ons baie aan evangelisasie doen.
Dit gaan nie maar om ’n woord nie. Nee, dit aan ten diepste hier om die kerkbegrip wat ons voorstaan. Die volkskerk kan so maak, dat hy maar almal toelaat om sy lidmate te wees, maar dat lidmaatskap eintlik niks meer beteken nie, as net dat dit ’n geleentheid aan die Kerk bied om nou agterna sy eie lidmate te gaan “evangeliseer” en te probeer “beïnvloed”. Maar die Kerk, waarvan die Nuwe Testament praat, die Kerk as die liggaam van Christus, die Kerk as die bruid van Christus, kan nie so praat nie!