DIE NUWE KERKORDE – I
Deur dr. W. D. JONKER, Potchefstroom-Noord
’n Voorwaartse Stap op Dordtse Grondslag
Die Kerkbode, lxxxiv(20), 18 November 1959, 795/6, 800.
Vir elkeen wat die Kerk van Jesus Christus liefhet, behoort dit ’n oorsaak van groot vreugde te wees dat dit nou eindelik in die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerke sover gekom het dat daar in ons kringe weer sprake is van die aanvaarding van ’n kerkorde, wat onmiskenbaar bedoel is om geskoei te wees op die lees van die ou Dordtse Kerkorde. Die ses-en-twintigste vergadering van die Raad van die Kerke in Bloemfontein gedurende Mei 1959 sal in die annale van ons Kerke beslis aangeteken staan as een van die belangrikste vergaderinge. By daardie geleentheid is daar, immers, naas ander belangrike dinge, die gewigtige stap gedoen om eenparig ’n konsep-kerkorde vir die regering van die Nederduitse Gereformeerde Kerke goed te keur, ’n kerkorde wat nie alleen moet dien as basis vir die organiese eenwording van die huidige vyf selfstandige gefedereerde N. G. Kerke nie, maar wat ook ongetwyfeld sal dien om die Gereformeerde karakter van ons Kerke te bestendig en te bevestig. Ons kan maar net met die diepste dankbaarheid hierin die hand van die Here sien, en ons kan nie anders as om daarin ’n blyk te sien van die feit dat Christus, die Hoof van die Kerk, nog met ons besig is en veral in hierdie afgelope jare ons Kerke geseën het met ‘n nuwe bloei en ’n nuwe liefde vir alles wat Bybels-verantwoord is. Wonderlik is die weë van die Here! Hoe het Hy al ons gebede beantwoord, al ons gebede om die herstel van die Kerk, en hoe is Hy nog daagliks besig om dit te doen! In die aanvaarding van hierdie konsep-kerkorde deur die Raad van die Kerke kan ons maar net weer Sy liefdevolle bewaring van sy Kerk opmerk, en met brandende en bewoë harte sien ons die dag tegemoet dat ons dierbare Nederduitse Gereformeerde Kerk weer organies één sal wees van die Kaap tot aan die Zambezi, en dit nie alleen in die uiterlike, organisatoriese sin nie, maar veral in die geestelike sin van die feit dat ons deur dieselfde Skrif ten volle regeer word in al ons organisasie, in al ons denke en aksie – dié Skrif wat ook die nuwe kerkorde beheers! Juis daarom sien ons hierdie nuwe ontwikkeling as van soveel belang, omdat dit nie slegs daadwerklik organiese kerkvereniging so tasbaar en grypbaar gemaak het as wat dit nog nooit sedert 1853 was nie, maar omdat dit ook kerkregtelik vir ons Kerke as ’n belangrike vordering gesien moet word. Veral wat die laaste aspek betref, wil ons hier graag een en ander opmerk.
KERKORDE TE VERKIES BO BEPALINGE
Kerkregtelik is die vordering wat met die aanvaarding van hierdie kerkorde gemaak kan word, veral tweërlei:
Die blote feit dat ons hier te doen het met ’n kerkorde in teenstelling met die tot nog toe gebruikte “wette en bepalinge”, is ’n onberekenbare groot vordering. Vereers al is dit duidelik dat die begrip “kerkwet” ’n minder aangename klank het en die indruk kan wek dat die kerkregering geskied, nie volgens die algemene riglyne wat die Woord van God aan ons gee vir die regering en orde van die Kerk nie, maar volgens “wette” wat deur die Kerk self vir sy regering gemaak word. Dit wek so half die indruk asof die Kerk maar na willekeur allerlei wette en bepalinge in die lewe kan roep op grond van eie insig en eie wysheid en, solank dit net vir die “bestuur” van die Kerk in die praktyk nuttig en bruikbaar kan wees, dit met meerderheidstem kan bekragtig en dit met krag van wet aan alle lidmate van die Kerk kan voorhou as onverbreekbare “wette”. Goddank dat dit nooit in ons Kerke so gesien is nie, en dat ons onder die gebruiklike benaming van “wette en bepalinge” tog ook maar gesoek het daarna om in die regering van die Kerk te bly binne die Woord van God. Maar dit is tog duidelik dat dit baie beter is om liewer ’n bepaalde kerkorde te hê, waarin die hoofriglyne wat die Woord van God vir die regering van die Kerk bied, saamgevat is, en wat nie as ’n wet aangebied word nie, en ook nie as die resultaat van wat met meerderheidstem op die Sinode aanvaar is as bepalinge vir die orde in die Kerk nie, maar wat die duidelike beginsels bevat wat in ooreenstemming met die Skrif en die belydenis van ons Kerk is en dáárom aanspraak kan maak op aanvaarding van ons kant.
Buitendien is dit maar altyd die neiging van die “wette en bepalinge” om omvangryker en omvangryker te word. Oor alles en nog wat word dan naderhand wette gemaak. As die weg van “wette-maak” eenmaal ingeslaan is, kan dit nie anders nie, of die versoeking bly bestaan om die hele kerklike lewe so te reglementeer, dat die verantwoordelikheid van die kerkrade en gemeentelede vernietig word deurdat daar vir elke situasie ’n wet van die Sinode is. Wie ter sake kundig is, sal weet hoeveel kosbare tyd op elke Sinode bestee word aan eindelose “wetswysiginge”, soms oor onbenullige dinge. Kerkrade dring eenvoudig aan op die maak van wette vir talle dinge wat hulle self in die lig van die beginsel moes uitgemaak het, omdat hulle verleer het om self verantwoordelik voor God te staan. Hulle kan so maklik verleer om die Kerkraad as outonoom te sien en gewoond daaraan word om die Kerkraad maar net te sien as ‘n soort takbestuur van ‘n groot vereniging, waarvan die hoofbestuur eenvoudig beslis wat reg en wat verkeerd is, sodat die takbestuur eenvoudig verplig is om, sonder die toets van Gods Woord in volle verantwoordelikheid in elke situasie aan te lê, te gehoorsaam aan wat die hoofbestuur sê. So ’n toestand sou vir die Kerk eenvoudig dodelik wees. Dit kan egter in ‘n baie groot mate verhoed word wanneer ons ‘n beknopte kerkorde het waarin slegs die hooflyne van die Skriftuurlike eise vir die regering van die kerk gegee word, terwyl die Streeksinode, Ring en Kerkraad daartoe geroep word om selfstandig bepalinge te maak, wat ondergeskikte punte mag raak. Dit sal baie daartoe bydra om die Kerkraad weer te laat besef dat hulle ’n eie verantwoordelikheid het wat nooit afgeskuiwe mag word op die Sinode nie, en dit sal vanself ons hele siening van die Kerk en die kerkverband op vaster beginselgronde plaas.
OP DIE VOETSPORE VAN DIE DORDTSE KERKORDE
Maar die tweede punt wat vir ons van belang is in verband met die kerkregtelike vordering wat die nuwe kerkorde vir ons sal meebring, is die feit dat die kommissie van actuarii, wat hierdie konsep-kerkorde opgestel het, onmiskenbaar duidelik van die gedagte uitgegaan het om daarmee so nou as moontlik by die ou Dordtse Kerkorde aan te sluit. Ja, die konsep-kerkorde volg wat sy indeling, en dikwels selfs wat sy bewoording betref, nougeset in die spoor van die Dordtse Kerkorde – enkele sake, waarop ons later graag die aandag wil vestig, uitgeslote. Dit is, op sy beurt, ook al weer iets waaroor ons ons nie genoeg kan verbly nie. Die Dordtse Kerkorde is immers sonder enige twyfel die beste en suiwerste historiese formulering en samevatting van die Skriftuurlike beginsels waarop die Gereformeerde kerkregering rus, en ten spyte van enkele artikels wat met die oog op die verandering van die tye deur ons anders geformuleer sal moet word, is die Dordtse Kerkorde nog onaangetas in sy prestige as ’n deur-en-deur Bybels-Gereformeerde kerkorde.
Ek is nie in staat om te sê hoe enige Kerk wat werklik gereformeerd wil wees, by die opstel van ’n nuwe kerkorde aan die beginsels en selfs die formuleringe van die Dordtse Kerkorde verby sou kon gaan nie. Daarom is ons innig dankbaar teenoor ons actuarii dat hulle by die verrigting van hierdie groot en moeilike taak hulle so nou aan, gesluit het by hierdie kosbare ou dokument uit die skat van ons gereformeerde erfenis. Daarmee het hulle aan ons Kerk ‘n diens bewys wat nie maklik na waarde geskat kan word nie. Met die ou Dordtse Kerkorde is ons Kerk aan die Kaap uit Nederland oorgeplant, en dit is ons ontneem in ‘n bewoë tyd van staatsoorheersing oor die Kerk, van algemene verflouing in die waardering van dit wat eg Bybels-gereformeerd kan heet, en in ‘n tyd toe ander opvattinge oor die wese en regering van die Kerk die lug deurwaai het. Wat mag ons dankbaar wees dat ons nou weer ’n kerkorde het wat so nou daarby aansluit!
UITBOUING VAN ONS HISTORIESE GRONDSLAG
Hierby moet ons nou egter dadelik opmerk dat ons Kerke, met die verlies van die Dordtse Kerkorde as dokument, deur die genade van die Here in hoofsaak tog nooit die gees en hoofbeginsels van die Dordtse Kerkorde verloor het nie. In ons “wette en bepalinge” het ons, ten spyte van die verskil in vorm, nog steeds in die gees die Bybels – gereformeerde kerkreg gebly. Daarom kon ons ook nooit vrede daarmee hê dat dit vanuit die kringe van die Gereformeerde Kerk eenvoudig aangeneem en gesê word dat die stelsel van kerkregering van die Ned. Geref. Kerke nog altyd die gees van die kerkorde van De Mist vertoon nie. Indien die teoloë van die Gereformeerde Kerk wat tydig en ontydig hierdie soort van aantyging teen die Ned. Geref. Kerk maak, net ’n keer die moeite wou doen om eerlik kennis te neem van die gees en strekking van ons Kerk se “wette en bepalinge”, sou hul gewete hulle dit nie toelaat om verder op so ‘n onbillike wyse die gereformeerde karakter van ons kerkregering te ontken nie.
[Vgl. bv. die artikel van S .d. T, in Die Kerkblad van 26 Augustus 1959: Belangrike nuwe Ontwikkeling in die N.G. Kerk. Die skrywer veronderstel eenvoudig dat die kerkregingstelsel van die Ned. Geref. Kerk tot op vandag in die gees van De Mist gebly bet, en noen daarom die nuwe kerkorde ‘n radikale omwenteling in die stelsel van kerkregering van die Ned. Geref. Kerk. Hy waardeer dan ook die nuwe kerkorde baie hoog! Ons vertrou maar dat die geagte skrywer eendag van die “wette en bepalinge” ook kennis sal neem en dat by dan daarvan gevrywaar sal word om dergelike stellinge te maak wat tog seker nie die toets van billikheid kan deurstaan nie!]
Dit is juis merkwaardig dat ons nuwe konsep-kerkorde so min verskil van wat ons reeds in die “wette en bepalinge” het. Die Kerk in sy geheel gaan dit eintlik nie eers agterkom as die nuwe kerkorde ingevoer word nie, omdat die stelsel van ons kerkregering in die geheel nie daardeur verander word nie. Inteendeel, die kerkorde klee wel die dinge in ’n ander vorm, maar die gees en hoof-strekking is presies dieselfde as dié van die “wette en bepalinge”. Wanneer ons dus die aanvaarding van die nuwe kerkorde ’n historiese gebeurtenis van gewig noem, dan is dit geensins met dieselfde bedoeling as wat die Gereformeerde Kerk se teoloë dit doen nie, nl. asof die nuwe kerkorde nou die eerste stappe op die weg tot ’n gereformeerde stelsel van kerkregering sou wees nie! Nee, dit is wel ’n voorwaartse stap, maar dit is ’n stap op ’n weg waarop die Ned. Geref. Kerk nog altyd was!
Intussen is dit tog ook weer nie só, dat ons, by al ons vreugde oor die nuwe kerkorde, volkome tevrede is met alles wat daarin staan en alles wat daaruit weggelaat is nie. Trouens, dit is ons oortuiging dat die invoering van hierdie nuwe kerkorde so ’n gewigtige geleentheid is, dat dit vir ons die moeite werd sal wees om deeglik te beraadslaag oor alles wat daarin staan of behoort te staan. Dit is met die bedoeling om ’n beskeie bydrae te probeer lewer tot hierdie openlike beraadslaging, dat ons dit waag om hierdie saak ter sprake te bring. Daarom wil ons graag in ’n volgende artikel op enkele dinge wys waarin die nuwe kerkorde na ons mening te min verskil van die bestaande “wette en bepalinge”.