Die nuwe Kerkorde – II

DIE NUWE KERKORDE – II
Die Kerkbode, lxxxiv(21), 25 November 1959, 835 – 7.
Deur dr. W. D. JONKER, Potchefstroom-Noord

Skriftuurlike Beginsels en ons Kerkregering

In ons vorige artikeltjie het ons belowe om te wys op enkele punte waarin die nuwe kerkorde na ons mening gewysig behoort te word. Trouens, ons neem dit as ons uitgangspunt dat die actuarii by die opstel van hierdie nuwe kerkorde kennelik die bedoeling gehad het om so na as moontlik by die ou Dordtse Kerkorde aan te sluit, iets wat ons van ganser harte toejuig. Maar juis daarom sou ons graag op enkele punte sekere beginsels wat in die Dordtse Kerkorde ’n baie prominente plek inneem en deur ons Kerke algemeen aanvaar word as die juiste Bybelse beginsels wat ons kerkregering behoort te beheers, duideliker uitgewerk wil sien.

CHRISTUS IS KONING

Die één groot beginsel waardeur die gereformeerde stelsel van kerkregering beheers word is: Jesus Christus is die enigste Koning en Hoof van sy Kerk. Hoe innig dankbaar is ons dat hierdie beginsel baie duidelik in art. 3 van die kerkorde neergelê word. Want al is dit ook duisend maal waar dat ons almal dit weet en aanvaar is dit tog goed dat ’n mens dit ook in soveel woorde in die kerkorde neerlê as die basis waarop ons hele kerkregering gebou word. Die teenpool van die Christus-Heerskappy in die Kerk is en bly natuurlik mense-heerskappy, wat altyd die vorm van hiërargie aanneem. En daarom is dit dat met die neerlê van hierdie grondbeginsel in art. 3 ook duidelik gesê word: “By die uitoefening  van hul roeping sal geen ampsdraer oor ander ampsdraers heerskappy voer nie.”  Met hierdie uitspraak het die kerkorde dit eens en vir altyd duidelik gestel dat ons in die kerk van Jesus Christus géén hiërargiese mens-heerskappy wil en mag duld nie!

Hierdie grondbeginsel sou ons nou graag in die nuwe kerkorde beter uitgewerk wou sien as wat, na ons beskeie mening, wel die geval is – en dit wel in verband met die sg. moderamen of moderatuur. Hieroor word daar gehandel in art 25 en art 39-40. Soos die nuwe kerkorde dit formuleer, is dit presies soos ons dit tot nog toe gehad het.

En nou kan ’n mens natuurlik innig dankbaar wees dat alles in ons Kerke met soveel seën geskied het en dat die kostelike leiding wat ons nog steeds van ons moderature ontvang het, nóg in die teken van hiërargie gestaan het, nóg ook daarop bereken was om die alleenheerskappy van Christus in sy kerk teen te staan, maar ’n mens sal daarby tog moet bedink dat dit miskien moontlik is om die artikels in verband met die moderatuur sodanig te wysig, dat daar miskien vir ons kerke nog groter seën uit kan voortvloei en dat die gevaar van hiërargie nog minder word. Dit gaan hier immers om ’n beginsel, nie om die vraag hoe ons bepalinge in hierdie verband tot op vandag gewerk het nie. Dit gaan om ’n beginsel, nie om die vraag of die manne wat tot dusver in daardie posisies gestel was, met die grootste nederigheid en wars van alle heerskappy hul dienswerk verrig het nie. En dan is dit tog duidelik dat ons by die invoer van ons nuwe kerkorde beslis moet probeer om die dinge so suiwer as moontlik te reël na die groot beginsel dat geen mens ’n posisie van mag in die kerk mag beklee nie, aangesien enige menslike magsposisie in die kerk ’n bedreiging sal vorm vir die alleenheerskappy van Jesus Christus.

PERMANENTE MODERATOR?

Daarom sou ons graag sien dat daar in verband met die genoemde artikels ’n wysiging aangebring sal word wat daarop neerkom dat uitdruklik bepaal word dat die taak van die praeses van Ringsvergaderinge en die moderator van die gebied- en algemene Sinode, ná afloop van die betrokke vergaderinge, afgehandel is en dat so ’n persoon geen offisiële hoedanigheid in die kerk sal beklee vanweë die feit dat hy voorsitter van so ’n vergadering was nie.

Sodra die moderator gekies word vir ’n termyn en nie net vir die duur van die vergadering nie, kom daar tog onteenseglik mag in die hande van so ’n persoon, en die feit dat die moderator ’n soort van offisiële posisie in die kerk na geheel verkry, versterk daardie mag. Die gevolg is dat die moderator naderhand, of hy wil of nie, gesien word as ’n soort hoof van die kerk, wat die bevoegdheid besit om namens die kerk in sy geheel te kan praat. Die moderator moet by elke geleentheid toesprake hou en die kerk verteenwoordig. Hy moet teenoor buitelandse besoekers en ander persone die standpunt van die Kerk in sy geheel stel. Onwillekeurig voel die gewone lidmaat aangaande hom dat hy die hoof van die Kerk is. En hierdie posisie word natuurlik versleg wanneer dieselfde persoon maar telkens weer as moderator gekies word. Langsamerhand word dit so amper ’n lewenstaak vir enkele besondere figure. Al is dit ook nie kerkregtelik so nie, moreel het hierdie broeders dan meer mag in hul hande as wat enige mens in die Kerk van die Here behoort te hê. Goddank dat hulle dit nie misbruik nie, maar die moontlikheid dat dit kan gebeur is tog nie net denkbeeldig nie. Daarom is dit so noodsaaklik dat die moderator geen offisiële posisie in die Kerk as geheel moet beklee nie en dat sy funksie slegs die van voorsitter van ’n bepaalde vergadering sal wees.

En om die posisie nog te verbeter, behoort daar definitief neergelê te word dat die normale orde van sake is dat geen persoon meer as een keer voorsitter van so ’n vergadering behoort te wees, of miskien hoogstens in uitsonderlike gevalle twee keer voorsitter kan wees, voordat daar weer iemand anders vir dié taak gekies word nie. Dit sal nie alleen alle moontlikheid van te veel mag in die hande van enkele persone uitskakel nie, maar ook meer geleentheid bied vir die groot rykdom van talent, waaroor die Kerk beskik, om tot ontplooiing te kom. Dit is tog nie waar dat daar in ‘n ganse groot kerk net enkele persone sou wees wat die bekwaamheid het om gewigtige vergaderinge te lei nie.

Buitendien sal dit verligting bring in die onhoudbare posisie dat die moderator só in beslag geneem word deur allerlei kerklike verpligtinge – en dit vir ’n onbepaalde tydperk – dat sy gemeente noodwendig daaronder moet ly, of sy gesondheid ingeboet moet word.

In die verband beroep ek my graag op wat deur dr. J. H. Eybers al in 1934 in sy boek: Die Kerkinrigting van die Nederduits-Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (p. 124 – 129, 187) geskrywe is. Dit sal goed wees as ons deeglik kennis wil neem van die helder uiteensetting wat hy van hierdie sake gegee het.

DIE MODERATUUR NET TYDENS DIE SITTING

En nou wat die moderatuur in sy geheel betref, waarvan ons in art. 40 lees dat, in die geval van die algemene Sinode, die moderatuur ná afloop van die vergadering as ’n permanente kommissie van die Sinode bly voortbestaan om o.a. ook “namens die Algemene Sinode op te tree in sake van spoedeisende aard en algemene belang”.  Ek neem aan dat dieselfde beginsel ook sal geld by die Gebiedsinodes.

Maar ook hier is dit seker nie baie gesond om dit so te laat bly nie. Al is die formulering in die kerkorde baie noukeurig gekies, sodat dit duidelik is dat die moderatuur in die reses nie ’n soort permanente bestuur vorm nie, maar net ’n permanente kommissie wat as’t ware opnuut weer ná die Sinode konstitueer, is die vraag tog waarom daar so ’n kommissie nodig is náás die sinodale kommissie, en dan nogal met ’n baie groot bevoegdheid, nl. om in spoedeisende gevalle namens die Sinode op te tree. Hoe kan ons so ’n groot verantwoordelikheid lê in die hande van enkele persone? Immers, as die Sinode verdaag het, bestaan hy nie meer nie en kan daar ook nie meer namens hom opgetree en gepraat word deur enkele mense nie.

Hoe weet hulle wat die Sinode sou besluit het oor sekere sake? Behoort ons nie ook hier, ten einde selfs maar die skyn van die kwaad te vermy, uitdruklik te bepaal dat ook die taak van die hele moderatuur, na afloop van die sitting, afgehandel is nie, afgesien natuurlik van enkele verpligtinge i.v.m. die afhandeling van die werk van die Sinode wat aan een of ander lid opgedra mag wees, bv. die uitgee van die acta? En sou dit nie veel beter wees indien ons dan vaslê dat vóór die sluiting van die Sinode daar ’n sinodale kommissie gekies word, waarvan die lede van die moderatuur nie vanselfsprekend lede sal wees nie, en wat dan self konstitueer en hul eie voorsitter en skriba kies, waarby dit eintlik behoort te geld dat dit nie die voorsitter en skriba van die afgelope vergadering sal wees nie? Hierdie sinodale kommissie kan al die funksies vervul wat die moderatuur moontlik volgens reg sou kon vervul en geen enkele saak behoort as só spoedeisend beskou te word, dat slegs enkele mense daarin namens die Sinode kan optree, sonder raadpleging met die hele sinodale kommissie nie. Met die oog daarop dat ons land groot is, kan dit natuurlik gereël word dat die sinodale kommissie van die algemene Sinode nie uit soveel persone bestaan dat ’n vergadering daarvan ’n jong sinodetjie word nie. Maar op een of ander wyse moet ons tog sorgdra dat ons die verantwoordelikhede nie in die hande van een of twee, of selfs vier, mense lê nie.

SCRIBA EN ACTUARIUS?

Gewoonlik word teen hierdie gedagtes die beswaar ingebring dat die Kerk dan geen adres sou hê nie. Maar dié beswaar is nie van veel gewig nie, aangesien die adres van die skriba van die sinodale kommissie ook die adres van die Kerk kan wees vir daardie bepaalde termyn. Alle korrespondensie, ens., kan langs die weg onder die aandag van die Kerk kom. Buitendien is dit miskien raadsaam dat die Kerk behoort te dink daaraan om ’n voltydse besoldigde scriba aan te stel, wat scriba van die algemene Sinode en die sinodale kommissie kan wees, maar wat géén lid van die Sinode of sinodale kommissie is nie, soos ons dit nou dikwels by die kerkraad het, en wat dus ook geen status of kerklike mag besit nie. Dit sal die las van werksaamhede wat nou dikwels op die scriba afkom, terwyl hy ’n predikant is wat in ’n gemeente staan, en wat hom noop om sy gemeente te verwaarloos, aansienlik verlig. En dit sal verhoed dat die scriba op die lang duur ook te veel seggenskap in hande kry.

Maar wat nou van die actuarius? As die funksie van die moderatuur ná afloop van die vergadering afgeloop is, wat dan van die actuarius wat in ons Kerk ’n permanente funksie vervul, ook tussen die sittings van die sinode? Persoonlik is ek van oortuiging dat daar vir die algemene Sinode glad nie ’n actuarius nodig sal wees nie. Miskien was dit nodig dat ons ’n actuarius moes gehad het toe ons gewerk het met uitgebreide wette en bepalinge, waar dit soms nodig kan wees vir onervare persone om advies van die actuarius in te win oor bepaalde wetspunte. Maar as ons werk met ’n beknopte kerkorde wat so helder soos glas is, het ons dit nie meer nodig nie. Buitendien, die advies wat die actuarius kan gee, het tog geen regsgeldigheid nie, en niemand sal hom bv. in ’n tugsaak of voor die hof daarop kan beroep nie. Dit verteenwoordig niks meer as die actuarius se persoonlike beskouing nie. Gevolglik is dit ook nie, onontbeerlik nie. As daar iemand moet wees wat raad moet gee, kan dit goedskiks ook die professor in kerkreg of iemand anders wees. Buitendien sal ons in die moeilikheid kom met al die baie actuarii. As elke Streeksinode ’n actuarius het en die algemene Sinode het ook een, is hy dan die hoof-actuarius? Waaroor moet hy dan advies gee? Of is hy dan net daar vir dinge soos die aantekening van diegene wat gelegitimeer en georden en bevestig word? Maar is daarvoor ’n bepaalde amp nodig? Kan die scriba van die regskommissie van die Sinode dit nie ook doen nie?

Dit wil lyk of daar geen absolute noodsaaklikheid bestaan vir enige lid van die moderatuur om ’n langer dienstermyn te hê as die duur van die vergadering waarvoor hulle gekies word nie.

Wie oor al hierdie dinge ernstig besin, sal al gou besef dat dit ter wille van die begeerde eenheid van die huidige vyf gefedereerde Kerke noodsaaklik is dat ons hierdie beginsels noukeurig sal toepas, dat geen enkele leraar in die Kerk meer gesag behoort te dra as ’n ander nie, anders gaan ons praktiese moeilikhede op die hals haal en kan ons insinuasies verwag van imperialisme uit hierdie of daardie provinsie, wie se ampsdraers altyd vir lede van die moderatuur gekies word, ens. Met ’n Bybelse beginsel kom ’n mens nooit in die knoop nie! Daarom moet ons beslis in hierdie aangeduide rigting dink.