Die nuwe Kerkorde – III

DIE NUWE KERKORDE – III
Die Kerkbode, lxxxiv(22), 2 Desember 1959, 870/1, 883.
Deur dr. W. D. JONKER, Potchefstroom-Noord

Die grondbeginsel van die gereformeerde kerkreg is dat Jesus Christus alleen die Koning en Hoof van sy Kerk is.  En dat Hy self in die Kerk regeer, sodat alle reëlings wat ons in verband met die order in die Kerk maak, steeds daarop bereken moet wees om hierdie Christus-heerskappy te eer. Daarom, het ons in die vorige artikel gesê, mag daar geen mense-heerskappy in die Kerk geduld word nie. En daarom – dit wil ons nou graag daaraan toevoeg – is dit van soveel belang om die selfstandigheid van die plaaslike gemeente onaangetas te handhaaf.

DIE PLAASLIKE GEMEENTE

Die plaaslike gemeente is immers die openbaring van die liggaam van Jesus Christus op ’n bepaalde plek en as sodanig is dit, soos die inleiding op die Transvaalse wette en bepalinge dit uitdruk “geheel selfstandig en outonoom”. Daar in die plaaslike gemeente kan die leiding en regering van Christus die duidelikste tot openbaring kom. Die gemeente is Sy liggaam en Hy is die Hoof. Deur Sy Woord en Gees regeer Hy oor elke lid van Sy liggaam, direk en persoonlik. Ter wille van die bediening van die Woord waardeur Christus Sy regering uitoefen, is daar bepaalde ampsdraers nodig om die Woord te bedien en ter wille van die handhawing van die heerskappy van die Woord in die gemeente is daar ander nodig om die orde en die tug te handhaaf, nl. die ouderlinge. Deur middel van die diens van hierdie besondere ampte regeer Christus deur Sy Woord en Gees oor sy gemeente. Maar dit is tog nie só dat dit net hierdie bepaalde ampsdraers is wat iets met die regering van die Kerk te make het nie: elke gemeentelid het ook, kragtens sy salwing met die Heilige Gees, ’n koningsamp wat hy moet beoefen. En hy doen dit deur sy medewerking in die regering van die Kerk: deur sy medewerking  by die kiesing van die ampsdraers, deur sy reg van beswaar teen die ampsdraers in die vervulling van hul ampspligte, deur sy reg om ongereeldhede onder die aandag van die Kerkraad te bring en mee te werk in die handhawing van die tug deur sy persoonlike vermaning, ens.

Daarom is dit só dat in die plaaslike gemeente ons die liggaam van Christus die beste sien funksioneer; niemand is daar hoof nie, behalwe Christus alleen. Al die ander is diensknegte wat alleen sy eie funksies het om te vervul as lid van die liggaam. Alles is oop, sodat Christus deur Sy Woord en Gees oor al die lede kan regeer en elkeen sy deel kan bydra tot die orde van die geheel. Elke menslike regeringstelsel is altyd “geslote”, omdat dit die regeermag kanaliseer en dit net in die hande van enkele persone lê, wat dan so maklik oor die ander kan heerskappy voer. Maar die gereformeerde stelsel van kerkregering, wat uitgaan van die heerskappy van Christus en daaruit die selfstandigheid van die plaaslike gemeente en die mondigheid van elke lid van die gemeente aflei, is wars van alle klerikalisme of predikante-heerskappy, is ook wars van alle heerskappy van die Sinode of die Ring oor die plaaslike gemeente.

Oor hierdie beginsels bestaan daar onder ons geen verskil nie. En in ons wette en bepalinge is daar ook reeds, net soos in die nuwe kerkorde, van hierdie beginsels uitgegaan. Tog is dit ’n vraag of ons hierdie beginsels nie vollediger behoort uit te werk en toe te pas in die nuwe kerkorde nie. Daar is enkele punte wat ’n mens in hierdie verband graag sal wil noem:

PREDIKANTE EN HUL BEVOEGDHEDE

Is dit nie nodig dat ons, ten einde die mondigheid van die lidmaat en sy ampsroeping duideliker aan hom voor te hou, dit sal oorweeg om aan die lidmate ’n meer aktiewe aandeel te gee by die kiesing van kerkraadslede (nie net die eerste kerkraadslede

van die gemeente nie) en die beroeping van leraars nie? Sal die Christus-heerskappy nie duideliker tot uitdrukking gebring word, waar ’n hele gemeente biddend hierdie dinge hanteer as net by die Kerkraad alleen nie?

Die vraag ontstaan of ons, ten spyte van die mooi beginsels wat ons aanvaar, tog nie die selfstandigheid van die plaaslike gemeente in gedrang bring en ’n skewe kyk op die kerkverband aanmoedig, as ons, soos in die nuwe kerkorde (art. 30 en 33) dit as ’n vanselfsprekendheid neerlê dat alle predikante wat aan gemeentes verbonde is, op die vergaderings van die Ring en die Sinode sitting het. Vanwaar ontleen die predikant die reg om op die Sinode en die Ring te sit? Is dit nie daarvandaan, dat hy deur die plaaslike gemeente afgevaardig word nie? Of is predikante kragtens hul amp vanselfsprekend lede van meerdere vergaderinge? Dit kan tog nie wees nie, want so ’n gedagte sou openbaar dat ons verkeerd dink oor die amp van die leraars, dat ons die weg van klerikalisme opgaan en dat ons ook nie die idee van die kerkverband goed begryp nie.

Opmerklik is dit dat ons in die nuwe kerkorde tevergeefs soek na ’n bepaling oor geloofsbriewe. Dit is tog noodsaaklik dat ons sal neerlê dat elke afgevaardigde na ’n meerdere vergadering, of hy nou ’n predikant is of ’n ouderling, voorsien sal wees van ’n deugdelike geloofsbrief, onderteken deur die Kerkraad wat hom afvaardig. Daarin sal tot uitdrukking kom dat ons die Kerkraad sien as die fundamentele kerklike vergadering, wat reg het om sy eie afvaardiging te kies en selfs aan die afvaardiging instruksies mee te gee na die meerdere vergaderinge. Daarin sal ook tot uitdrukking kom dat ons die meerdere vergaderinge verstaan, nie as hoëre vergaderinge of hoëre besture van permanente aard nie, maar as meerdere vergadering in die ware sin van die woord, d.w.s. vergaderinge wat gevorm word uit die afvaardiginge van meerdere plaaslike gemeentes as uitdrukking van die kerkverband (art. 29). Die meerdere vergaderinge het hul bestaan slegs te danke aan die feit dat ’n aantal plaaslike gemeentes vrywilliglik hul afgevaardigdes daarheen stuur om oor sake van algemene belang te beraadslaag. Daarom is dit logies dat die leraar nie vanselfsprekend op die meerdere vergadering sitting sal hê nie; hy moet daarheen afgevaardig word deur sy Kerkraad en daarom moet hy ’n geloofsbrief daarvoor hê. Skuil daar nie in die gedagte dat die predikante vanselfsprekend sitting op die meerdere vergaderinge het, iets van die gedagte dat die predikante nie kragtens hul verbondenheid aan plaaslike gemeentes nie, maar kragtens hul amp op die meerdere vergaderinge moet kom en is die nie minstens ’n heenwysing na klerikalisme en na ’n verkeerde begrip van wat ’n meerdere vergadering is nie? Die meerdere vergadering ontleen tog immers nie, soos Rome sê, hul gesag aan die amptelike gesag van diegene wat daarop sitting het nie, maar aan die plaaslike gemeentes wat elkeen ’n afvaardiging daarheen stuur en aan die positiewe goddelike reg van die meerdere vergaderinge, soos dit uit die Woord van God afgelei kan word (aldus Voetius!).

DIE OUDERLINGE OP DIE MEERDER VERGADERING

Maar nou ’n verdere punt: art. 30 en 33 bepaal albei dat wel al die predikante van die verskillende gemeentes, maar slegs één ouderling uit elke gemeente sitting sal hê op Ring en Sinode. Dit is blykbaar ’n poging om die vergaderinge van Ring en Sinode so klein moontlik te hou, sonder om dáár reeds die beginsel van verkleining toe te pas.  Sonder enige teenspraak is dit egter ’n verkragting van die presbiteriale karakter van ons kerkregering. Predikante-heerskappy dreig. Die klerikale oorwig op die meerdere vergaderinge tregter dan al weer die kerkregering en verban die oopheid wat die gereformeerde stelsel kenmerk. Nee, dan moet ons liewer, as ons te bang is vir groot vergaderinge, óf reeds die beginsel van verkleining ook vir die Gebiedsinodes aanvaar, óf bepaal dat elke gemeente die reg sal hê om één ouderling af te vaardig na meerdere vergaderinge en indien ’n gemeente dan meer as een predikant het, sal hulle in rotasie die meerdere vergadering as stemgeregtigde afgevaardigdes bywoon, maar anders bloot in adviserende hoedanigheid.

Dit sal ook verhinder dat gemeentes met drie of vier predikantsposte op die Ring bv. ’n baie sterker stem het as ander gemeentes en dus weer meer mag kry as ander gemeentes. Immers, in die Kerk werk dit mos nie soos in die geval van die demokratiese stelsel van wêreldlike regering, dat aan elke bepaalde aantal kiesers ’n bepaalde verteenwoordiging in die regeringsliggaam toegestaan word nie! ’n Meerdere vergadering is ’n vergadering van ’n aantal selfstandige gemeentes, waarby elke gemeente, of hy min of baie lede het, presies eweveel te sê het.  Dit is die regte beginsel. Dan word dit uitgeskakel dat een gemeente oor ander gemeentes heerskappy kan voer, dan word ook predikante-heerskappy bekamp. Eintlik behoort ons dan ook te bepaal dat as ’n gemeente vakant is, hy die reg sal hê om twee ouderlinge af te vaardig.

Dit is seker ook noodsaaklik dat daar in art. 23 bygevoeg sal word dat besluite van meerdere vergaderinge bindend is tensy dat hulle in stryd is met die Woord van God. Ons moet alles in ons vermoë doen om die indruk te verwyder dat die Sinode of die Ring kan heers oor die plaaslike gemeentes en besluite kan neem wat onvoorwaardelik gehoorsaam moet word. In art. 23 word daar wel ruimte gelaat vir hoër beroep, maar dit is nie genoeg nie. Immers, indien iemand by homself oortuig is voor God dat ’n bepaalde besluit van ’n kerklike vergadering in stryd is met die Woord van God, dan is hy nie geroepe om daardie besluit te gehoorsaam nie, ook al sou hy by hoëre beroep in die ongelyk gestel word. Dit is tog immers in ooreenstemming met art 7 van die Nederlandse Geloofsbelydenis! As dit ’n “swakheid” van die gereformeerde stelsel is, dan is dit een van dié soort swakhede wat mense, wat die Skrif alleen as die enige bron van gesag oor ons lewe erken, altyd sal vertoon.

OPVALLENDE GEBREKE

’n Mens mis in die nuwe kerkorde ’n duidelike artikel oor die begrensing van die bevoegdhede van die kommissies van die meerdere vergadering. Art. 46 behoort darem werklik meer te sê, nl. dat aan die kommissies van die Sinode (ook aan die sinodale kommissie) géén gesag oorgedra word nie en dat hulle opdragte in die reël so beskeie as maar enigsins moontlik is, gehou sal word, veral met die oog daarop dat aan géén kommissie iets opgedra sal word wat deur die plaaslike Kerkrade self gedoen behoort te word nie.

’n Mens mis verder ’n duidelike bepaling in verband met die ondertekening van die formuliere. Die opstellers van die nuwe kerkorde was ongetwyfeld daarvan oortuig dat so ’n eksplisiete verklaring nie nodig is nie, aangesien dit tog vanselfsprekend en implisiet in die kerkorde vervat is. Maar hierdie punt is te gewigtig om ’n duidelike bepaling daaroor na te laat. In art 5 of 6 behoort bepaal te word dat alle kandidate vir die bediening van die Woord die formuliere sonder enige reserwe moet onderteken en dit behoort herhaal te word in art 8. ’n Predikant behoort telkens by sy bevestiging in ’n nuwe gemeente die formuliere opnuut te onderteken. Dit kan geen kwaad doen nie, want hy antwoord telkens tog ook weer op die bevestigingsvrae. Hy onderteken immers die formuliere ook nie as predikant van die Kerk as geheel nie, maar as ampsdraer van ’n bepaalde konkrete gemeente. Behoort ons nie ook ons ouderlinge en diakens by hul bevestiging die formuliere te laat onderteken nie? Langs dié weg verseker die Kerk dat daar erns gemaak word met sy belydenisskrifte. En dit is die moeite werd.

’n Mens mis verder ’n artikel oor die attestate. Dit is jammer. Dit is tog nie ’n saak vir die Gebiedsinodes of die Ring alleen om te reël nie en daarom moet dit in die kerkorde staan. Rondom die kwessie van attestate staan eintlik die hele kerkbegrip weer op die spel, sowel as die visie op die plaaslike gemeente en die erns met die tug. Ons hoop hierdie saak word reggestel.

Daar is nog ander dingetjies wat ’n mens graag sou wil noem. So kon die artikels, wat oor die tug handel, bv. beter geformuleer gewees het. Maar ons besef dat dit makliker is om te kritiseer as om self foutloos te werk. Ons waardeer oor die algemeen tog die nuwe kerkorde se suiwerheid en sy groot beginsels. Ons weet ook dat alles nie daarin kan staan nie, want dan word dit weer te lank. Tog sou ons graag sien dat enkele van hierdie dinge reggestel word, voordat al die sinodes dit aanvaar, omdat dit daarná baie moeilik gewysig sal kan word (vgl. art 44b).