Wat daar gebeur as dit Pinkster word

PREEKBUNDEL: DIE VOLLE RAAD – BAND I
Botes, Dawid Hermanus, Die Volle Raad, Preekbundel vir ouderlinge, Bloemfontein, SACUM, 1960

WAT DAAR GEBEUR AS DIT PINKSTER WORD
Dr. W. D. Jonker.
Lees: Handelinge 2:1-8 en 2 Korinthiërs 3:12-18.
Sing: Ps. 118:1, 12; Ges. 151:1, 3; Ges. 84:1, 4, 7.
Teks: 2 Kor. 3:18. “En terwyl ons almal met ontsluierde gesig soos in ’n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.”

Wat verwag ons eintlik van ons Pinkstervierings? Dit is ’n vraag wat ’n mens nogal soms kan kwel. Ons spreek so graag oor “Pinkster-verwagtinge” en “Pinkster-seën”, en dit is nie altyd duidelik wat ons daarmee presies bedoel nie. Dis te vrese dat ’n Pinkster-seën vir baie van ons lidmate nie veel meer is as ’n blote saak van gemoedsbeweging en “stigting”, wat net so gou na Pinkstertyd weer verdwyn as wat dit gereeld elke jaar net in Pinkstertyd verskyn nie. Vir andere is ’n ware Pinksterseën miskien weer niks minder nie as geweldige gebeurtenisse van buitengewone aard, en hulle koester altyd die hoop dat daar in Pinkstertyd geweldige herlewings sal plaasvind, met al die vreemde elemente van emosionele hoogspanning, massabekerings en ander wonderlike dinge wat herinner aan die begeleidende verskynsels by die uitstorting van die Heilige Gees waarvan ons in Hand. 2 lees. Daarom is dit belangrik om ons besig te hou met die vraag wat ons eintlik moet beskou as ’n ware Pinksterseën, wat daar eintlik gebeur waar dit werklik Pinkster word.

Liewe gemeente, by die beantwoording van hierdie vraag kan ons geen beter Skrifwoord vind nie, as juis hierdie genoemde teks uit 2 Kor. 3. Hierdie hele hoofstuk is immers ’n egter “Pinkster-hoofstuk”, want dit is boordevol van heerlike openbaring aangaande die werk van die Heilige Gees. Daar is maar min plekke in die briewe van Paulus waar daar met soveel helderheid oor die werking van die Pinkstergees gespreek word as juis hier. In die besonder mag ons dit sê van vers 18 wat ons as teks gekies het.

Ontleed ons nou hierdie Skrifwoord, dan is dit duidelik dat Paulus daarin drieërlei seën noem wat deur die Gees in die lewe van die gelowiges uitgewerk word, en ons kan hierdie drie dinge wat in ons teks genoem word, beskou as die drie aspekte van. ’n ware Pinksterseën: (1) Dis die seën van ’n ontsluierde gesig; (2) dis die seën van ’n aanskouing van die heerlikheid van Christus; (3) dis die seën van verandering na dieselfde beeld.

Om nou te begin met die eerste, kan ons sê dat die eerste element van ’n Pinksterseën altyd sal wees dat die Gees aan ons ’n ontsluierde gesig meedeel. Paulus handel in hierdie hoofstuk oor die feit dat die Joodse volk die Woord van God nie in sy ware geestelike sin kan begryp nie. Dit is asof daar ’n sluier oor hulle harte lê, sodat hulle nie kan insien in die Skrifte wat van Christus getuig nie. Maar nou is dit die heerlike feit, dat oral waar die Gees van die Here werksaam word, daar vryheid kom (vs. 17), vryheid van hierdie sluier wat oor die harte lê, sodat die Woord van God verstaan kan word. Dit is die eerste groot seën van die Heilige Gees, dat Hy die sluier van mense se harte kan wegneem en hulle kan genees van hulle blindheid met betrekking tot die Woord van God. Waar hierdie seën deur die Heilige Gees aan mense meegedeel word, daar word dit Pinkster. Die Gees van die Here werk nooit buite die Woord om. nie. Oral waar Hy mense werklik wil laat deel in hemelse seëninge, daar open Hy vir hulle die Skrifte. So was dit op die eerste Pinksterdag in Jerusalem. Eenvoudige vissers ontvang meteens verligte oë van die verstand om bodemloos diep in te sien in die onnaspeurlike heerlikheid van Gods Woord. Dit was dan ook die blywende element van daardie eerste Pinksterseën: die rukwind en die vurige tonge was spoedig weg, netsoos die spreek in vreemde tale, maar die diepe insig in die Skrifte het vir die Kerk bewaar gebly tot op hierdie dag.

Dit is vandag nog so. As ’n Pinkstertyd werklik geseënd vir ons moet wees, dan moet dit ons agterlaat met ’n dieper insig in die Woord van God, met ’n ontsluierde gesig, sodat ons die wonders uit Gods wet kan leer ken (Ps. 119:18). Dit moet nie vir ons te gering, te “gewoon” wees nie. Ons loop altyd weer gevaar om ons so te verkyk aan die buitengewone, die spesiale, dat ons die eenvoudige opening van ons oë vir die dieptes van Gods Woord maklik te gewoon kan vind. En tog, is dit nie juis die kwaal waaraan die Kerk vandag mank gaan, dat ons nie meer met ontsluierde gesig kan instaar in die dieptes van Gods Woord nie, dat ons die eensame omgang met Gods Woord en die eenvoudige prediking van Gods Woord nie meer genoeg vind nie, omdat daar ’n sluier op ons harte lê, en nou hunker ons na spesiale predikers en buitengewone opwekkings wat dikwels so oppervlakkig is as wat hulle onskriftuurlik is? Nee, laat ons die seën van ’n ontsluierde gesig nie gering ag nie. Dis waaragtig nie iets “gewoons” dat die sluier van mense se gesig afgelig word nie. Dis ’n Godswonder. Dis die wonder van Pinkster!

Geliefdes in die Here, die tweede element van ’n ware Pinksterseën sal altyd wees dat die Gees ons Jesus Christus in sy heerlikheid helderder laat sien. Paulus sê: As ons gesigte ontsluier is, dan sien ons die heerlikheid van die Here soos in ’n spieël. Hierdie spieël waarvan Paulus praat, is die evangelie. In die evangelie is die heerlikheid van Christus vir ons geteken, sy oorwinning oor die magte van die dood en die hel, sy verlossingsmag, sy heerlikheid in die hemel. Wie nou deur die genade van die Heilige Gees vrygemaak is van die sluier oor sy hart, sien hoedat die evangelie soos ’n helder spieël die beeld van Christus weerkaats. En dit kan nie anders nie, of hy moet Christus daardeur leer ken in sy heerlikheid. Waar dit gebeur dat ’n mens Christus waarlik in die Skrif leer ken, daar word dit Pinkster.

Die Heilige Gees het gekom om Christus te verheerlik (Job. 16:14). Sy groot taak bestaan daarin om aan die gemeente van Christus duidelik te maak wie Christus is en wat Hy vir sy gemeente gedoen het. Pinksterfees is daarom ook nie in die eerste plek ’n fees van die Heilige Gees nie, maar ’n fees van Christus, omdat die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is om Christus te kom verkondig en die Kerk in alle waarheid te lei, sodat die Kerk werklik kan verstaan hoe heerlik Christus is (Joh. 16:13-15). As Pinkstertyd werklik geseënd vir ons moet wees, dan moet dit ons nie wegtrek van Christus af na ’n verlange na die gawes van die Gees nie, maar dan moet dit ons juis aan Christus verbind en ons bring by die allergrootste “Gawe” van die Heilige Gees, nl. Christus self. Dit word Pinkster dáár, waar mense deur die Gees van God gelei word om Christus te sien in sy heerlikheid as die Lam wat vir ons geslag is, wat ons met ’n duur prys gekoop het, maar wat deur God opgewek is en tans vir ons aan die regterhand van God is. Christus is die gawe van ’n ware Pinksterseën. Ook dit moet nie vir ons te “gewoon” wees nie. Ook dit is ’n Godswonder as mense se oë geopen word om Christus in sy heerlikheid te sien.

En nou ten slotte, die teks leer ons dat die derde element van ’n ware Pinksterseën sal altyd wees die verandering na die beeld van Christus. Waar die sluier werklik van die harte van mense opgelig word, sodat hulle Christus kan aanskou in die Skrifte, daar tree ook altyd ’n verandering in. Onderwyl hulle hulle met Christus en sy heerlikheid besig hou, verander hulleself na sy beeld. Ook daarvoor het die Heilige Gees gekom, om diegene wat vantevore verordineer was om gelykvormig te wees aan die beeld van die Seun, (Rom. 8:29), daadwerklik te vorm na Sy beeld. Die trekke in die beeld van Christus waarna die gelowiges gevorm moet word, is sy kruisiging en sy opstanding. Daarna strewe die Gees, om al meer die kruis van Christus in die lewe van Gods kinders te laat verskyn, en hulle al meer te laat opstaan in ’n nuwe lewe. Die vrug van die Gees waarvan Gal. 5:22 praat, is van voor tot agter ’n vrug gepluk aan die kruis van Jesus en by sy geopende graf, en dit kom alleen dáár te voorskyn, waar die vlees met sy begeerlikhede en hartstogte gekruisig is (Gal. 5:24) en waar die lewendmakende werking van die Gees ondervind is, sodat daar waarlik sprake kan wees van ’n opstanding in ’n nuwe lewe (Gal. 5:25). Die Gees werk die beeld van Christus in ons uit, wanneer Hy ons al meer tot selfverloëning, tot selfkruisiging en selfverguising lei en aan die anderkant Christus al meer in ons sigbaar laat word. Dit is maar ’n langsame proses. Dit gaan deur stryd heen en vorder gaandeweg van heerlikheid tot heerlikheid. Dit kom nie maar met ’n enkele “second blessing” tot volmaakte ooreenstemming met die beeld van Christus in ons lewe nie. Maar terwyl die proses aan die gang is in ons lewe, is dit tog Pinkster in ons harte. Dit is oral Pinkster, waar mense gewillig geword het om hulle deur die Gees te laat vorm na die beeld van die Seun.

Miskien lyk dit ook al weer te “gewoon”. Daar is so baie wat so graag wil hê dat die spreek in tale en die sogenaamde gawes van die Gees gereken moet word tot die wesenlike elemente van Pinkster. Maar die Skrif ken die dinge maar net as begeleidende verskynsels by die uitstorting van die Heilige Gees op die eerste Pinksterdag, nie as voorwaarde vir die ware Pinksterlewe nie. As Paulus aan die Galasiërs skrywe oor die vrug van die Gees, dan soek ons verniet na ’n enkele woord oor sulke buitengewone dinge. Hy noem dan maar net die gewone dinge soos liefde, vrede, blydskap – almal dinge wat ons sou kon saamvat onder die begrip: vorming na die beeld van Christus. En daar is so baie ander wat hierdie vorming na die beeld van Christus so graag wil voorstel as iets wat sommer op een keer deur ’n besondere salwing van die Gees oor die gelowige kom, sodat hy dan sou deel in ’n volmaaktheid wat as die ware Pinksterlewe voorgestel word. Maar dit leer die Skrif ons nie. Ook hier spreek die Skrif skynbaar so “gewoon”. Die Skrif sê dat die Gees van Pinkster ons maar langsaam verander na die beeld van die Seun en van gedaante tot gedaante met ons vorder. Dit moet egter nie vir ons te gewoon wees nie. Ook dit is ’n Godswonder, dat die Gees ons trae vlees kan oorwin en ons kan inlei in ’n steeds groter gelykenis op die Seun van God.

Laat ons die Vader bid om hierdie elemente van ’n ware Pinksterseën aan ons nie te onthou nie. Hy wil dit so graag gee aan wie dit wil ontvang, hierdie drievoudige seën van ’n ontsluierde gesig, van ’n heerliker insig in die beeld van Christus in die Skrif, en van ’n voortgaande verandering na die beeld van Sy Seun.

Amen.