Dra mekaar se laste

PREEKBUNDEL: DIE VOLLE RAAD – BAND II
Botes, Dawid Hermanus, Die Volle Raad, Preekbundel vir ouderlinge, Bloemfontein, SACUM, 1960

DRA MEKAAR SE LASTE
Dr. W. D. Jonker.
Lees: Galasiërs 6:1-10.
Sing: Ps. 42:1, 2; Ges. 67:1, 2; Ges. 62:3, 4.
Teks: Gal. 6:2. “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.”

Niemand kan die woorde van ons teks aandagtig lees nie, sonder om onder die indruk daarvan te kom dat Paulus as ervare apostel en Gees-vervulde leraar, die mens – en dan juis ook die gelowige Christenmens – deeglik geken en goed verstaan het nie. Hy het geen illusies oor die lewe van die gelowige gekoester nie. Hy was geen geesdrywer wat die Christen vir hom voorgestel het as ‘n mens wat reeds die volmaaktheid deelagtig geword het en nie meer ontsettende probleme met die luste van die vlees en die inwonende sonde het nie. Nee, deur die Gees van God verlig, het hy die gelowige nugter en eerlik gesien met al die nood vanweë die sonde wat daar altyd in hierdie bedeling duskant die graf vir hom oorbly. Hy het geweet dat die gelowiges mense is wat laste het om te dra.

Dit is die eerste waarheid wat ons in ons teks wil onderstreep, die waarheid nl. dat gelowiges mense is wat dikwels baie diep gebukkend kan gaan onder laste van sondes wat nog in hulle lewe oorgebly het. Die laste waarvan hier in Gal. 6:2 gepraat word, is immers nie maar laste in die algemeen, soos die laste van krankheid, broodsgebrek, geestelike en liggaamlike lyding ensovoorts nie. Die laste waarvan Paulus hier praat, is heel spesifiek die laste van die sondes wat daar nog in die gelowiges oorgebly het. Daarom het hy in die vorige vers juis die gelowiges daartoe opgeroep om, as iemand van hulle deur een of ander misdaad oorval word, so een reg te help in die gees van sagmoedigheid. Die gelowige is wel iemand van wie die sondelas eenmaal by die kruis van Golgota afgerol het, toe hy naamlik deur die geloof Christus omhels het en meteens uit die hand van God die kwytskelding van al sy sondes en die heerlike versekering van die ewige lewe ontvang het. Maar daarmee is nog nie gesê dat die gelowige nou in homself volkome heilig en sonder enige gebrek is nie. In Christus is hy geheilig, ja, volkome geregverdig én geheilig. Dit is sy heerlike status as kind van God. Maar in homself skuil daar nog baie onreinheid, en sy feitlike toestand openbaar dikwels nog afgronde van die sonde waarvoor hyself en andere verbysterd moet staan. Daar is nog maar slegs ‘n klein beginsel van die ware gehoorsaamheid aan God in sy lewe, terwyl die vlees nog steeds geweldig veel mag in sy lewe openbaar. Op die weg van heiligmaking word maar moeilik en langsaam gevorder, en die gevolg is dat talle van sondes nog daagliks in sy lewe sigbaar word. Dit is hierdie sondes wat die kind van God so in die noute kan bring, wat soos geweldige laste op hom kan lê. Karakterfoute, gebrek aan weerstand teen sekere luste van die vlees, gebrek aan kruisiging van die eie-ek, gebrek aan waaragtige liefde tot God en die naaste, hardheid van hart en verkleefdheid aan die wêreld lewer noodwendig hulle wrange vrugte in die lewe van Gods kind.

Broeders en susters, meermale word ons in skande gedompel deur die sondes wat nog in ons skuil, en voel ons om met Paulus uit te roep: Ek, ellendige mens, wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood! Dit is die laste wat die gelowige moet dra, die laste van hierdie sondes wat nog so ‘n groot rol in sy lewe speel. En die rol word soms so sterk, dat daar sprake kan wees van ‘n val in misdade deur die kind van God. Dit het Dawid pynlik ondervind. Ook Petrus en al Gods kinders deur die eeue het op punte gekom waar hulle in die afgrond van hulle eie sondigheid moes instaar en sien watter geweldige mag onreinheid, ontrou en selfliefde nog in hulle lewens besit. Maar dikwels is dit selfs met die kind van God so erg, dat hy nie eers hierdie inwonende sondelas as ‘n las aanvoel nie, maar daarmee lewe en dit vertroetel asof dit sy kosbaarste besitting is. Hy beswyk al byna onder die geweldige las van sy onreinheid, maar hy merk dit nog nie. Dit maak egter die las nie minder nie, maar eerder swaarder. Die nuwe mens in hom versink en verkwyn haas onder die tirannie van die sondelas, maar word deur ongehoorsaamheid só gevange gehou, dat daar geen sprake is van ‘n afwerp van die sware las van die sonde nie.

Dit alles weet Paulus baie goed. As hy dit nie geweet het nie, sou hy nooit die roerende sewende hoofstuk van sy brief aan die Romeine kon skrywe nie, en sou hy ook nie met soveel klem in die woorde van ons teks die gelowiges daaraan kon herinner het dat hulle ‘n verpligting teenoor mekaar het juis met betrekking tot hierdie laste van die sonde en swakhede nie.

En dit is dan ook die tweede waarheid wat hom vanuit ons teks aan ons opdring, dat die gelowiges verantwoordelikheid moet aanvaar vir mekaar se laste. Die gelowiges mag nie aan mekaar verby-lewe en toesien dat die broeder onder sy las van swakheid en sonde beswyk nie. Die gelowiges is daartoe geroepe om saam te staan in hulle stryd teen die sonde en die vlees, om mekaar se hande te vat en mekaar se laste te dra. Dit is die natuurlike neiging van die gevalle mens om net vir homself te lewe en liewer sy mede-mens uit sy pad uit te stoot as om hom te help. Geen wonder dat Paulus onder die vrug van die vlees in Gal. 5:20-21 soveel praat van vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap, afguns en selfs moord nie. Die gevalle mens gaan krank aan ‘n diepgewortelde haat teen sy naaste, ‘n haat wat hom seders die dae van Kaïn al openbaar in die gesindheid van: Is ek my broer se wagter ? – So het God die mens nie geskape nie. God het die mens na sy beeld geskep, d.w.s. in gemeenskap en vir gemeenskap, in ware liefde tot God en die naaste. God is liefde, en die mens wat na sy beeld geskape is, is ook geskape met die bedoeling dat hy in liefde en gemeenskap moet lewe. Dit vind alreeds uitdrukking in die feit dat die mense nie as los indiwidue in die wêreld kom en lewe nie, maar as man en vrou, as ouers en kinders, as gesinne en volkere waarin die een aan die ander verbonde en vir die ander verantwoordelik is. En toe die sondeval die mens losgeskeur het uit die gemeenskap en in plaas van liefde in sy hart die haat gaan saai het, het God opnuut sy wet aan die mens gegee om hom te beveel: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Uit homself kan die gevalle mens nooit hierdie wet van God hou nie, maar deur die verlossing wat daar in Christus is en deur die inwoning van die Heilige Gees word die liefde van God in ons harte uitgestort (Rom. 5:5). Dan verskyn ook die vrug van die Gees in ons lewe: liefde, vrede, vriendelikheid, getrouheid (Gal. 5:22). Dan verstaan die kinders van God ook wat dit beteken om mekaar se laste te dra. Dan word daar vir mekaar in liefde verantwoordelikheid geneem en word mekaar se belange behartig en bevorder.

As ons daaraan dink dat die laste waarvan Paulus hier praat, die geestelike laste is, die laste vanweë die inwonende sonde, dan sien ons hoedat Paulus in hierdie woorde die gelowiges daartoe opwek om vir mekaar se geestelike lewe verantwoordelikheid te aanvaar en om met mekaar saam die stryd te stry teen die sonde en die vlees. Ons is so geneig om oor mekaar se sondes heerlik tafel te dek en mekaar in die geheim te bespreek en te beskinder, maar daarin openbaar ons maar net hoe ver ons nog verwyder is van ware gehoorsaamheid aan die wet van Christus wat slegs dán vervul kan word, as ons in liefde verantwoordelikheid vir mekaar se swakhede en sondes aanvaar. Ware liefde vir die broeders sal daarin tot uitdrukking kom, dat ons mekaar se geestelike nood verstaan en daaroor bekommerd is. Christus wil hê dat ons sorg sal openbaar met betrekking tot die geestelike vordering en groei van ons medegelowiges. Ons mag nie skouer-ophalend aan mekaar verbygaan, asof die saak van die broeder nie ook die saak van Gods Koninkryk en dus ook die saak van elke gelowige is nie.

Ons wil afsluit, geliefdes in die Here, deur daarop te wys hoe hierdie laste van die broeders gedra moet word. Die liefde sal vanself sy eie weë vind waarop gemeenskap met die broeders in hulle stryd, mislukkings en val betoon kan word. Dit spreek vanself dat daar innige simpatie en diepe begrip aan mekaar betoon sal moet word as ons werklik mekaar se geestelike laste wil help dra. Hoe ontsaglik veel kan dit nie vir iemand wat aan drank verslaaf geraak het en as gelowige ‘n geweldige stryd daarteen moet voer, beteken as hy weet van ‘n simpatieke hart van ‘n broeder wat warm vir hom klop en innig belangstel in sy geestelike nood nie. Of hoeveel waarde het dit nie vir iemand wat in onsedelikheid geval het of een of ander ernstige en skandelike mistrap begaan het, om te weet dat die gemeente hom nie hard en liefdeloos veroordeel en beswadder nie, maar in droefheid gedompel is oor sy sonde en val begrip met hom saam die stryd daarteen wil aanknoop nie! Dit spreek ook vanself dat die gelowiges mekaar se laste sal dra deur hulle gebede vir mekaar. Kan ons ooit bereken wat dit sal beteken as ons almal as gelowiges volhardend in die gebed stry vir ons mede-broeders en susters se swakhede? Die eintlike saak waarop Paulus egter hier die oog het as middel waardeur verantwoordelikheid vir mekaar se geestelike taste aanvaar moet word, is die onderlinge tug. Daarom wek hy die gelowiges daartoe op om mekaar te vermaan in die gees van sagmoedigheid (vs. 1). Ook Christus het die onderlinge sorg van die gelowiges vir mekaar ten nouste verbind aan hulle vermaning vanmekaar (Matt. 18:15 vgl.), omdat juis daarin uitkom of hulle waaragtig in mekaar só belangstel, dat hulle die moeite wil doen en die risiko wil loop wat aan so ‘n vermaning van die broeder verbonde is. Dit gaan in hierdie vermaning van mekaar nie om ‘n was van mekaar se koppe nie, en dit gaan veral nie om ‘n vermaning wat alleen dan moet geskied, as die broeder my te na gekom het en my eertjie aangetas het nie, nee, dit gaan om ‘n nederige en liefdevolle, biddende pleitrede by die broeder om tog die skadelike weg van die sonde te verlaat en Christus alleen te volg, juis ook dán, wanneer sy sonde my origens nie aangaan nie en dit veel makliker sou gewees het om my liewer uit die saak uit te hou. Wanneer dit eers sover met ons gekom het, dat ons in diepe nederigheid en sagmoedigheid nie wegskram om terwille van die eer van God en die heil van ons broeder verantwoordelikheid te neem vir sy sonde ook in hierdie opsig nie, begin ons iets te verstaan van wat dit beteken om mekaar se taste te dra, netsoos ons ook moet reken daarop dat die ander broeders en susters ons geestelike laste sal help dra en ons om Christus ontwil sal reghelp as ons struikel.

Die Kerk van Christus het vandag meer as ooit tevore behoefte daaraan om hierdie woord uit die Skrif in sy volle, heerlike betekenis te verstaan en mekaar se geestelike laste te help dra terwille van die eer van God en die liefde vir die broeders.
Amen.