DIE BEVOEGDHEID VAN DIE STREEKSINODES VOLGENS ART 35 VAN DIE NUWE KONSEP–KERKORDE
Dr WD Jonker
Ned Geref Teologiese Tydskrif, deel i (2), Maart 1960, 33 – 37
Veral twee oorweginge het die goedkeuring van die konsep–kerkorde deur die Raad van die Kerke in Mei 1959 vir ons almal ’n saak van groot vreugde gemaak: ten eerste die feit dat daardeur die organiese vereniging van die vyf gefedereerde Kerke moontlik gemaak word, en ten tweede dat ons Kerke daarmee tog nou eindelik terugkeer na ’n kerkorde en sal wegdoen met die lywige en steeds lywiger wordende stelle wette en bepalinge wat van nature die neiging vertoon om die hele kerklike lewe in te knel in ’n netwerk van minusieuse reglementering.
By nader bestudering van die nuwe konsep–kerkorde kan daar egter ’n mate van twyfel by ’n mens ontstaan juis in verband met hierdie twee sake. Die vraag ontstaan naamlik wat die verhouding gaan wees tussen die algemene sinode en die verskillende streeksinodes of provinsiale sinodes. Indien die bevoegdheid wat volgens art. 35 van die nuwe kerkorde aan die streeksinodes toegeken word, verstaan moet word in die sin dat die verskillende streeksinodes elkeen afsonderlik nog die sg. “wetgewende bevoegdheid” besit en dus die reg om sy eie stel wette en bepalinge náás en behalwe die kerkorde daarop na te hou, kom albei die bogenoemde aspekte onmiddellik in baie groot mate in die gedrang.
Artikel 35 lees immers: “Tot die taak en bevoegdheid van die Sinode behoort: (a) Die opstel en wysiging van bepalinge en reglemente vir die werksaamhede aan hom toevertrou, mits dit nie met die kerkorde in stryd is nie.” Wat beteken dit? Indien ons dit mag verstaan as bloot die feit dat elke streeksinode die bevoegdheid het om ’n eie huishoudelike reëling daarop na te hou en enkele reglemente op te stel wat spesifiek betrekking het op ’n buitengewone arbeid wat deur dié streeksinode in onderskeiding van die ander streeksinodes verrig word, is dit seker in orde, maar indien ons dit moet verstaan as die bevoegdheid om weer ’n eie stel wette en bepalinge en reglemente daarop na te hou om die normale arbeid van die kerke tot in die fynste detail te reël, dan is dit ’n ernstige vraag of ons kerkregtelik met hierdie nuwe stap veel gevorder het.
Indien dit immers die geval sou wees, ontstaan onmiddellik die vraag na die gesag van die algemene sinode. Volgens art. 20 (b) het die algemene sinode dieselfde gesag oor die verskillende provinsiale sinodes wat die sinodes oor die ringe het en die ringe oor die kerkrade. Dit is volkome in ooreenstemming met art. 34 van die Dordtse Kerkorde. Dit sou ’n mens laat dink dat die verskillende streeksinodes ekwivalent is aan die partikuliere sinodes van die Dordtse Kerkorde. Dit is seker tog ook die bedoeling van art. 20 (b) dat ons dit só moet verstaan. Indien dit egter so is, dan is dit nie duidelik waarom die streeksinodes nog die bevoegdheid om eie wette en bepalinge te maak, teenoor die algemene sinode moet behou nie. In art. 35 van die nuwe kerkorde word daar onder punt (d) neergelê dat die streeksinodes werksaamhede soos die sending, die diens van barmhartigheid, evangelisasie, ens., sal behartig, ooreenkomstig die bepalinge van die Algemene Sinode”. Hierby kom nog dat in art. 43 (f) staan dat die algemene sinode die beleid sal bepaal wat gevolg moet word in verband met die werksaamhede wat deur die verskillende streeksinodes behartig word. In die lig hiervan is dit net eenvoudig nie duidelik waarom die streeksinodes dan nog verdere bepalinge en reglemente sou moet maak in verband met die normale arbeid van die Kerk in hulle afsonderlike ressorte nie. Maar indien dit so sou wees dat die bevoegdheid wat in art. 35 (a) aan die streeksinodes toegesê word, daarop sou neerkom dat elke streeksinode nou tog nog weer ’n eie stel wette en bepalinge kan opstel, dan moet dit duidelik wees dat die status van die streeksinodes nie meer dieselfde is as dié van partikuliere sinodes in die Dordtse Kerkorde nie, en dat gevolglik ook die algemene sinode nie dieselfde gesag dra as die nasionale sinode in die Dordtse Kerkorde (art. 50) nie. Immers, dan is die algemene sinode eintlik alleen maar ’n soort koördinerende vergadering wat as bowe–struktuur die vyf (of meer) selfstandige provinsiale sinodes saamsnoer en slegs sake van algemene gemeenskaplike belang behartig, soos die belydenis, liturgie, opleiding van evangeliedienaars en ekumeniese sake. Dan is die algemene sinode weinig meer as die huidige Raad van Kerke op uitgebreider skaal en toegerus met die bevoegdheid om met gesag oor die genoemde gemeenskaplike belange te besluit, sonder om, soos die Raad van die Kerke, bloot daaroor te adviseer en die beslissing by die verskillende sinodes te laat berus. Die swaartepunt bly dan nog by die verskillende streek– of provinsiale sinodes. Dit sal dan met die algemene sinode presies wees soos dit tans met die algemene sinode in die Transvaalse Kerk is, wat onmiddellik op die agtergrond getree het toe die drie (selfstandige) streeksinodes ontstaan het. In die Wette en Bepalinge van die Transvaalse Kerk (1957) staan dit immers uitdruklik in art. 56 dat die streeksinodes ook “wetgewende bevoegdheid besit in verband met alle sake binne hulle jurisdiksie in soverre as wat dit nie in stryd is met die Wette en Bepalinge van die Algemene Sinode nie”, terwyl art. 58 (2) lui : “Die Streeksinodes het die bevoegdheid om ná hulle konstituering daardie wetgewing wat nie deel vorm van die Wette en Bepalinge van die Algemene Sinode nie te wysig, aan te vul en te verwerp of te suspendeer na bevind van sake.” Waar dit die geval is, het die algemene sinode onteenseglik veel aan gesag en belang ingeboet, en die verhouding tussen die streeksinodes en die algemene sinode is nie dieselfde as dié van die partikuliere sinode tot die nasionale sinode in die Dordtse Kerkorde nie. Daarby is dit egter duidelik dat die eenheid wat langs hierdie weg sal ontstaan, die gewenste kan wees nie. Die eenheid is dan nog maar kunsmatig, en die feit dat elke streeksinode sy eie wette en bepalinge daarop kan nahou, kan nie anders nie as meebring dat die verskillende streeksinodes tog maar op die lang duur ingrypende verskille gaan vertoon. Dit is wel wenslik dat hulle min of meer dieselfde bepalinge sal maak oor dieselfde dinge, maar wie belet hulle om, binne die kader van die algemene riglyne van die kerkorde, sterk afwykende bepalinge daar te stel?
Buitendien is daar nog geen einde gemaak aan die eindelose reglementering van die kerklike lewe nie. Die kerkorde word dan vanuit die staanspoor nie beskou as voldoende reëling van die kerklike lewe nie, maar bloot as ’n algemene basis van kerkvereniging waarop die verskillende streeksinodes na hartelus nuwe mure van reglementering van die kerklike lewe binne hulle ressorte kan opbou. Die vryheid wat ons soek, is dan nog nie gevonde nie, want aan die aantal bundels wette en bepalinge maak die aanvaarding van die kerkorde dan niks! Dan is dit weer soos in die Transvaalse Kerk waar die verdeling in streeksinodes ten gevolg gehad het dat daar, in plaas van die vroeëre één bundel met wette en bepalinge, nou vier bestaan – vir elke streeksinode minstens twee, want hy moet ook rekening hou met die wette en bepalinge van die algemene sinode náás sy eie! Dan is dit egter nie duidelik waarom ons ’n kerkorde hoef te aanvaar as basis vir die organiese eenwording nie, want dan kon ons ewe goed net ’n reglement van ooreenkoms en vereniging opgestel het, waarin daar maar net enkele regte verskans en verseker word vir die provinsiale sinodes, byvoorbeeld die reg om hulle eie wette en bepalinge te mag maak! Maar ’n kerkorde is tog iets anders. ’n Kerkorde beoog tog om die hele kerklike lewe te orden en te reël deur enkele groot lyne te trek waarin die kerke in vryheid en verantwoordelikheid met die Bybel in die hand mag beweeg. So dien die nuwe kerkorde homself ook aan. Anders is dit tog geheel van sin ontbloot dat die nuwe kerkorde bepalinge bevat oor die ampspligte van leraar, ouderling en diaken, oor die kerkraadsvergadering, oor die afgevaardigdes na die ringsvergaderinge en die streeksinodes, ens. Waarom staan die artikels oor die tug dan in die kerkorde? Dan kon dit mos ewe goed net as ’n algemene beginsel aanvaar geword het dát daar in die kerk tug sal wees, maar dat die verskillende streeksinodes in besonderhede moet bepaal hoe dit moet toegepas word?
Dit is noodsaaklik dat ons oor hierdie dinge helderheid sal verkry. Organiese kerkvereniging mag nie in aller haas tot stand gebring word, sonder dat dit volkome duidelik is wat dit alles impliseer nie. Naas die voorregte en seëninge wat organiese kerkvereniging sal meebring, staan daar ook die offers wat gebring sal moet word, en ons sal bereid moet wees om die offers te bring en afstand doen van regte en bevoegdhede wat in die verlede bestaan het, ter wille daarvan om die geheel meer gesond te laat ontwikkel. Soos die kerkraad gewilliglik sy regte en bevoegdhede inkort wanneer hy tot die kerkverband toetree, so moet ook die verskillende selfstandige sinodes gewillig wees om sekere bevoegdhede vrywillig prys te gee ter wille van die bestendiging van die kerkverband in sy groter omvang. Dit is duidelik dat ons in hierdie stadium sal moet verstaan dat die enigste weg vorentoe vir ons die weg kan wees wat aangegee is in die kosbare erfenis van die Dordtse Kerkorde.
Die algemene sinode moet waarlik ’n algemene sinode in die volle sin van die woord wees, en die provinsiale sinodes moet niks meer wees as partikuliere sinodes in die sin van die Dordtse Kerkorde nie. Die Kerkorde moet vir ons voldoende wees as reëling van die kerklike lewe, en daar moet nie nuwe wette en bepalinge aan toegevoeg word om weer die kerklike lewe in elke moontlike voorkomende geval te dek met die wet nie. Soveel vryheid as moontlik moet gelaat word aan kerkrade, ringe en streeksinodes, en laasgenoemdes moet hulle arbeid met al die moontlike vryheid en gesag wat hulle toekom, verrig, maar hulle behoort nie nuwe wette en bepalinge te maak wat die normale lewe van die kerk verder reglementeer as wat in die kerkorde geskied nie. Natuurlik is hulle besluite bindend vir hulle ressorte, net soos dié van die ringe. En natuurlik kan hulle ’n register van hulle besluite opstel, waardeur die kerklike lewe vanselfsprekend in vaster vorme gereël word as wat in die kerkorde geskied. Maar sulke besluite moet tog nie die geaardheid hê van wette en bepalinge náás die kerkorde nie, aangesien die kerkorde die beginsels vir die kerkregering bevat, die besluite slegs die toepassing van die beginsels in bepaalde gevalle behels en dus nooit tot wette verhef mag word nie. Dit is ’n vraag of dit ooit vir ’n streeksinode nodig sal wees om reglemente van enige aard op te stel, behalwe miskien ’n huishoudelike reëling, as die algemene sinode volledig gaan funksioneer. Trouens, al reserveer art. 36 die eiendomme en besondere werksaamhede van die verskillende provinsies vir die tans bestaande selfstandige kerke van daardie provinsies, wat dus dergelike reglemente nodig mag maak, is dit die vraag of die stap nie maar so gou as moontlik geneem moet word om al dergelike eiendomme, inrigtings, ens., wat nie aan plaaslike gemeentes behoort nie, te sien as behorende aan al die Ned. Geref. gemeentes in Suid-Afrika gesamentlik, sodat die uiteindelike beheer en toesig daaroor by die algemene sinode sal tuis hoort nie. Natuurlik begryp ’n mens dat artikels 36 en 37 noodsaaklik mag wees as oorgangsmaatreëls, maar dan moet dit tog ons intensie wees om so gou as moontlik verby te kom by die stadium waarin dergelike bepalinge nog nodig is. Eers dan is ons werklik in by die organiese eenheid wat so sterk begeer word.
In die lig van wat ons hierbo aangehaal het uit art. 20 (b), 35 (d) en 43 (f) van die nuwe kerkorde, glo ons dat dit ook seker die bedoeling van die opstellers van die kerkorde was dat die verhouding tussen die provinsiale sinodes en die algemene sinode sal wees soos ons dit graag wil sien, anders sou daar minstens sprake wees van teenstrydigheid in die kerkorde tussen hierdie artikels en art. 35 (a). Ons vertrou dat die verskillende sinodes by hulle oorweging van die nuwe kerkorde aan hierdie saak die nodige aandag sal gee en die nodige lig daarop sal laat val.