Oordenking vir Goeie Vrydag

ONS TREFFENDE OORDENKING VIR GOEIE VRYDAG
Die Kerkbode, lxxxv(15), 13 April 1960, 555, 556.
Deur dr. W. D. JONKER, Potchefstroom -Noord

Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word – want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang – sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus – Galasiërs 3: 13 – 14.

WIE die mens ook al mag gewees het wat eerste op die gedagte gekom het om dié vreeslike Vrydag waarop Christus aan die kruis gesterwe het, “Goeie Vrydag” te noem, dit moet iemand gewees het wat iets begryp het van die geweldige dinge wat om en oor en onder daardie kruis van Christus plaasgevind het, iets van die ewigheidsdimensies wat daar sigbaar word.

Dit was maar ’n gewone, ruwe, wrede kruis êrens op ’n heuwel, ongeveer in die dertiger jare van die eerste eeu van ons jaartelling, op ’n gewone Vrydag soos daar al duisende sedert die skepping was en miskien nog duisende sal wees. En Een Mens het daar gesterwe in die stilte van die grou middagure. Wie die geheimenis van dié gebeurtenis nie ken nie, wie dié dimensies van die kruis nie begryp nie, sou met ’n skouerophaal daaraan verby kon gaan.

Maar as Paulus die kruishout gadeslaan, hy wat geleer het dat dit die Hemelkoning is wat daaraan hang, dan sien hy om en oor en onder die kruis meteens geweldige dieptes oopgaan en dan verstaan hy die Skrifte wat die ruimtes om en oor en onder die kruis vul met die heerlikste werklikhede van die evangelie. Ja, dan gaan Deut. 21: 31 voor hom oop en hy roep uit: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang! Dan dring die volle werklikheid van wat daar gebeur, tot hom deur, naamlik dat

CHRISTUS TOT ’n VLOEK GEWORD HET

Christus ’n vloek! Niks minder as dit sê die kruis nie. So lyk ’n mens oor wie die vloek van God heengaan. Uiterlik is daar so min te sien, maar innerlik woed alles geweldig. Aanskou Sy angs in Getsémané, waar Hy in die stof wentel en waar Sy bloed vanweë Sy sware benoudheid en stryd word soos druppels bloed. Dit is nie vir die owerpriesters en hulle gehuurde soldate, selfs nie vir die dood dat Hy só bevrees is nie. Dit is die vloek van God wat daar reeds oor Hom begin kom, waardeur Hy so neergewerp word. Aanskou Hom met Sy doringkroon, met Sy bloed wat stroom uit duisend wonde van die géselslae. En tog is Sy eerste pyn nie die pyn van Sy wonde nie, maar die pyn daarvan dat God Sy aangesig vir Hom verberg en Sy vloek oor Hom laat gaan. En as Hy ure lank aan die kruis moet hang, is dit nie die knaende honger en die wrede dors, die skande van die naaktheid, die striemende spot of die skeur van die vlees aan hande en voete waar die spykers deurgenael is, wat Sy hoogste lyding is nie. Dit alles is maar simptome – kyk daar, aanskou die mens! – van die vloek van God wat oor Hom heen breek. Tussen hemel en aarde moet Hy hang: ongewens op die aarde, vervloek in die hemel. God het Sy aangesig vir Hom verberg, en daar daal drie uur van duisternis waarin al die duiwels op Hom mag toeslaan. Hy ken die angs en versmaadheid van die hel. Hy drink die beker van Gods vervloeking en Hy hyg: My God, my God, waarom het U My verlaat! So lyk ’n mens wat aan die hout moet hang, die hout waaroor Gods toorn en Gods vloek heenwoed.

Maar waarom dan oor Hom?

DIE VLOEK IS TOG DIE VLOEK VAN DIE WET?

Die vloek van die wet is tog alleen daar vir diegene wat nie bly by alles wat geskrywe is in die boek van die wet om dit te doen nie (v. 10). Die vloek van die wet is tog die toorn van God wat openbaar word oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense (Rom. 2 : 18). Dit is bedoel vir wetsverbrekers. Dit is die dood as loon van die sonde (Rom. 6: 23). Hoe kan dit dan Christus tref? Hy was die enigste wat kon sê: Wie oortuig My van sonde? (Joh. 8 : 46). Hy alleen kán tog nie onder die vloek van die wet kom nie, want die reël van God geld tot in alle ewigheid: Die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe (v. 12). En het Hy nie al die dinge van die wet gedoen nie? Hy het die ganse wet vervul. Hy alleen het aan God gegee wat Hom toekom. En daarom het Hy rég op die lewe en mag die dood, die vloekdood, nie oor Hom kom nie. Niemand mag Sy dood eis nie. Die Satan nie en … God ook nie. Hy het immers volmaak die lewe verdien, die heerlikheid en die vrede. Daarom kon Hy ook sê dat niemand Sy lewe van Hom afneem nie (Joh. 10 : 18). Die vloek kón nie, durf Hom nie tref nie.

Tensy – tensy Hy self die vloek kies!

En ja, dit het Hy gedoen! Niemand neem Sy lewe van Hom af nie, maar kyk, Hy lê Sy lewe gewillig en vrywillig af!

Luister na die evangelie: Christus kies die vloek,

SODAT DIE SEËN NA ONS MAG KOM!

Hoor u goed? Dit is ons vloek, daardie vloek van die wet. Ons het nie gebly in alles wat geskrywe is in die boek van die wet nie. Ons het in onsself in alle ewigheid nooit die reg om aan die vloek te ontkom nie. Kyk na die Christus aan die kruis en sien wat u beskore deel is vanweë u vergryp teen Gods wet. Merk Sy sweet en angs in Gétsemane en sê vir uself : dit is wat ek verdien! Hoor hoe Hy aan die kruis in duisternis die angs van die hel bely met Sy roep van verlatenheid, en prewel in u hart: my God, U het reg daarop om dit aan my te doen, want ek verdien die vloek van die wet!

En hoor dan die evangelie tot u kom vandag: dié vloek, dié vloek van die wet, sal oor u nooit meer kom nie …

U ontvang die seën van Abraham, die seën wat eeue tevore deur God belowe is, die seën van vergiffenis, van die ewige lewe, die seën wat bedoel is vir elkeen wat glo! Want Hy het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word. Hy het ons vervloeking op Hom gelaai om ons met sy seëninge te vervul.

Dit alles het gebeur daar by die kruis, daar op dié Vrydag.

O, as u u eie sonde ken, sal u nou die man verstaan wat u daardie Vrydag nie onvernoemd verby kon laat gaan nie. O, as u deur die geloof Christus omhels het, as u die vergiffenis van u sonde gesmaak het, as u die vloek sien wyk het, sal u verstaan. En u sal saam met almal wat Hom liefhet, sê:

Daardie Vrydag was dit … Goeie Vrydag!
Amen !
Lees: Matt. 27: 38-50; Gal. 3: 1-14.
Sing: Ps. 118: 13; Ges. 125: 1, 2; Ges. 128: 3, 6.