Die ander kant van die saak – I

Is ons ná al die jare nou eers besig om goeie “Gereformeerdes” te word? Die Kerkblad wou nie ’n antwoord op ’n artikelreeks plaas nie. Daarom stel Dr. W. D. JONKER, Potchefstroom-Noord DIE ANDER KANT VAN DIE SAAK!
Die Kerkbode, lxxxvi(2), 13 Julie 1960, 41-44 .
(Enkele gedagtes na aanleiding van prof. S. du Toit se artikels oor Die Kerkregtelike Ontwikkeling in Suid-Afrika, soos gepubliseer in “Die Kerkblad”, Nov. 1959-Mei 1960)

Op 26 Augustus 1959 het prof. S. du Toit, rektor van die Teologiese Skool van die Geref. Kerk op Potchefstroom, in Die Kerkblad na aanleiding van die aanvaarding van die nuwe kerkorde van die N.G. Kerk deur die Raad van die Kerke geskrywe dat dit “die eerste stappe (is wat die N.G. Kerk doen) om ’n radikale omwenteling in sy stelsel van kerkregering aan te bring”. Daardeur het die skrywer by sy lesers die indruk gewek dat die stelsel van kerkregering van die N.G. Kerk tot op datum nog steeds ongereformeerd was, beheers deur die gees en beginsels van die kollegialistiese Reglement van die Hervormde Kerk van Nederland uit 1816. Die nuwe kerkorde, wat deur hom later beskrywe is as “in die gees van Dordt”, is na sy mening ’n dusdanige breuk met die kerkregeringstelsel wat in die Wette en Bepalinge tot uitdrukking kom, dat hy eintlik die vrees uitspreek dat dit nie deur die N.G. Kerke aanvaar sou word nie, omdat daarin ’n “verdoppering” van die N.G. Kerk gesien kan word.

Prof. Du Toit suggereer dan ook dat die N.G. Kerke deur die feit van die aanvaarding van so ’n gereformeerde kerkorde eintlik erken dat sy stelsel van kerkregering nog altyd ongereformeerd was, en daarmee ook die reg verbeur om verder beswaar te maak teen al die beskuldiginge van ongereformeerdheid in kerkregering wat van die kant van die Geref. Kerk voortdurend, maar veral in die eeufeesjaar van die Geref. Kerk, teen die N.G. Kerk gehoor word.

In ’n brief aan Die Kerkblad (16 Sept. 1959) het skrywer hiervan ernstig beswaar gemaak teen hierdie voorstelling en die aandag daarop gevestig dat daar hoegenaamd geen verskil ten opsigte van die beginsels van kerkregering tussen die Wette en Bepalinge en die nuwe kerkorde is nie. “Die nuwe kerkorde is net eenvoudig ’n nuwe vormgewing van wat ons al die jare in die wette en bepalinge gehad het, sodat dit in ons kerke geen verskil gaan maak wanneer ons die nuwe kerkorde in die plek van die bestaande wette en bepalinge invoer nie. Van ’n radikale breuk kan hier geen sprake wees nie, en nog minder van ’n verandering van die stelsel van ons kerk­regering.” Ook in die Wette en Bepalinge, het ons beweer, is daar gebreek met die beginsels van die kollegialistiese stelsel van kerkregering. Ook die Wette en Bepalinge verteenwoordig die gereformeerde stelsel van kerkregering.

Aangesien prof. Du Toit egter beweer het dat daar so ’n radikale omwenteling in die stelsel van kerkregering by die N.G. Kerke is, het ons hom versoek om tog met vers en kapittel aan te teen wáár die radikale verskil tussen die nuwe kerkorde en die Wette en Bepalinge is.

Prof. Du Toit het hierdie uitdaging aanvaar. Gevolglik het hy ’n hele reeks artikels in Die Kerkblad geskrywe. Hierin het hy eers ’n geskiedkundige oorsig gegee om aan te toon dat die Wette en Bepalinge afstam van die Reglement van 1816, en alhoewel hy erken dat daar van die begin af spore van ’n Calvinistiese gees in die N.G. Kerk se hantering van die kerkregtelike aangeleenthede sigbaar geword het, oordeel hy tog dat die Wette en Bepalinge kollegialisties is net soos die Reglement van 1816. Daarná haal hy ’n hele groep skrywers uit die N.G. Kerk aan om aan te toon dat sommige van hulle die standpunt huldig dat die Wette en Bepalinge gereformeerd is, terwyl ander in meerdere of mindere mate kritiek uitoefen op bepaalde punte daarin, waaruit prof. Du Toit konkludeer dat die N.G. Kerk met homself in stryd is oor hierdie saak. Vervolgens gaan hy dan in op die Wette en Bepalinge soos dit vandag bestaan en meen hiërargies-kollegialistiese elemente te ontdek in die voorstelling wat die Wette en Bepalinge gee van die kerkverband, die gesag van die sinode, die praktyk in verband met geloofsbriewe en die samestelling van meerdere vergaderinge, die kommissiestelsel, die praktyk om leraars te bevestig in diens van die sinode, die magte van die ring, die gevaar van predikanteheerskappy en die reëling van alles tot in die finesses. Ander ongereformeerde elemente wat hy meen te kan aantoon, staan in verband met die aflegging van geloofsbelydenis, die feit dat gesê word dat ’n lidmaat aan die kerk behoort, die gekombineerde kerkraadsvergadering, hulpdienste, sake op die terrein van die staat of die maatskappy wat deur die kerk gereël word, huwelike op Sondae, tug soos ’n strafprosedure, kategismusprediking, spesiale Sondae, die kerk stig vereniginge, vreemde gedagtes oor die erediens. Die konklusie waartoe prof. Du Toit uiteindelik geraak, is dan dat die Wette en Bepalinge “in gees en strekking” nog steeds ondubbelsinnig hulle kollegialistiese oorsprong verraai, dat die amp van die gelowige nie tot sy reg kom nie en die amp van ouderling en diaken gekortwiek word. Daarnaas meen hy dat die kerkorde in die gees van Dordt is, en dat die oorgang van die Wette en Bepalinge ongetwyfeld ’n verandering van stelsel beteken. Hy herhaal weer eens dat hy dit nie teen die aantal bepalinge het nie, maar teen die gees van die wette en bepalinge. Die nuwe kerkorde beteken volgens hom niks minder nie as dat die hele gebou van 1842, met fondament en al, afgebreek is en dat daar ’n nuwe begin is in die gees van die Dordtse Kerkorde.

Nadat prof. Du Toit sy reeks artikels voltooi het, het skrywer hiervan ’n uiters beknopte antwoord daaroor opgestel. Nadat hierdie stuk enkele weke in besit van die redaksie van Die Kerkblad was, is dit teruggestuur aan die skrywer met ’n kort begeleidende brief dat die redaksie besluit het dat daar nie verder ruimte vir hierdie polemiek afgestaan mag word nie. Oor die redes vir hierdie weiering om die saak van albei kante te laat stel, kan ’n mens net gis, maar die punt is dat die lesers daarmee ’n eensydige voorstelling ontvang het wat nou nie deur middel van Die Kerkblad reggestel kan word nie. Daarom is dit dat skrywer hiervan op aandrang van verskillende leraars en talle lidmate van ons kerk besluit het om die hoofsaak van sy argumente in antwoord op prof. Du Toit se voorstelling van sake kortliks hier weer te gee. Ons doen dit in die vorm van enkele stellinge wat ons baie beknop sal toelig met die oog op die besparing van ruimte.

PROF. DIT TOIT HET SY STELLING NIE BEWYS NIE

Prof. Du Toit moes tog minstens, as hy sy stelling wou bewys dat ons in die kerkorde en die Wette en Bepalinge met twee verskillende stelsels van kerkregering te doen het, die kerkorde en die Wette en Bepalinge met mekaar vergelyk het en aangetoon het waarin die groot beginselverskille tussen die twee dokumente dan bestaan. Hy ontleed egter die orde nêrens nie, en die enkele plekke waarop hy net na die kerkorde verwys, het ten doel om aan te toon dat die kerkorde dieselfde “foute” as die Wette en Bepalinge bevat. Ons sou egter graag van die verskille meer wou weet, want dié behoort tog seker talryk en opvallend te wees as daar sprake kan wees van twee radikaal verskillende stelsels!

’n Vergelyking bring egter juis die groot ooreenkoms tussen die twee dokumente aan die lig. Vyf-en-veertig uit die sewentig artikels van die nuwe kerkorde kom woordeliks of feitlik woordeliks ooreen met artikels in die Wette en Bepalinge van Transvaal (Algemene Sinode en Suidstreek), of is ’n samevatting in een artikel van wat dáár in meer artikels gedek word, of stel in uitdruklike woorde ’n beginsel waarop ook die artikels in die Wette en Bepalinge gebaseer is. Daarby kom dan 6 artikels wat hoofsaaklik ooreenstem met artikels in die Wette en Bepalinge, maar kleiner wysiginge bevat met die oog op die organiese eenwording van die gefedereerde kerke, terwyl daar vyf nuwe artikels is wat noodsaaklik was met die oog op die eenwording, sonder om nuwe kerkregtelike beginsels te bevat. Voeg daarby nog ses nuwe artikels wat onder die opskrif Betrekkinge van die Kerk na Buite net algemene opvattinge in die N.G. Kerke sistematies formuleer, en dit bied ’n totaal van 62 uit die 70 artikels waarin daar tevergeefs na nuwe kerkregtelike beginsels gesoek sal word. As daar van ’n radikale omwenteling sprake moet wees, dan moet dit in die orige 8 artikels voorkom.

‘n Ontleding van hierdie 8 artikels bring aan die lig dat één (art. 1), wat die inleiding vorm, in beginsel reeds in die Inleiding op die Wette en Bepalinge vervat is. Vyf ander is gedeeltelik of hoofsaaklik dieselfde as artikels in die Wette en Bepalinge, maar bevat kleiner toevoegings (3, 54, 60, 61, 64). Die toevoeging van art. 3 (gelykheid van die ampte) was in beginsel tog nooit in die Wette en Bepalinge in die gedrang nie, al mag daar in die praktyk van alle kerke hiervoor gevaar bestaan, terwyl art. 54 (groter plek aan diakonieë) net ’n beginsel uitdruk wat al geruime tyd veel in die N.G. Kerke bespreek is en waaroor sinodes lank reeds gewigtige besluite geneem het. Die toevoeging van art. 60 (tug oor dooplede) is reeds opgeneem in art. 24 Suidstreek, staan eksplisiteit in die Kaapse Wette en Bepalinge, was ook nooit uitdruklik in die Dordtse Kerkorde opgeneem nie en betref ’n saak waaroor die Geref. Kerk in Nederland eers in 1939-’40 bevredigende besluite geneem het. Die toevoeging van art. 61 (onderlinge vermaning) is ’n algemene beginsel van kerklike tug en die Wette en Bepalinge bevat niks wat daarmee in stryd is nie. En die toevoeging van art. 60 (opheffing van tug oor lidmate) is wel vir Transvaal ’n toevoeging, omdat die Wette en Bepalinge van Transvaal (glo dit as u wil!) vir hierdie normale gebruik nie ’n eksplisiete artikel bevat nie, hoewel dit wet in die bepalinge van die ander gefedereerde kerke voorkom (vgl. Natal F 38).

Daar bly dus net twee werklik nuwe artikels oor (20 en 21). Maar 20, wat oor die gesag van die meerdere vergaderinge handel, stel tog net die beginsel wat in art. 12 en 95 van die Wette en Bepalinge en in die Inleiding tot uitdrukking kom, en art. 21 stel die algemene beginsel dat kerklike vergaderinge alleen kerklike sake behandel en wet op kerklike wyse – iets wat in geen enkele opsig tog ’n beginsel bevat wat strydig is met die Wette en Bepalinge nie!

Wie hierdie vergelyking voor hom het, kan net nie begryp hoe prof. Du Toit aan sy standpunt kom nie. Waarom het prof. Du Toit nie self hierdie vergelyking gemaak nie? Dit gaan immers mos juis daarom! Hy het dan juis belowe om met vers en kapittel die beginselverskille tussen die twee dokumente aan te toon. Hy plaas so graag die Wette en Bepalinge van 1824 en 1842 langs die Reglement van 1816 om selfs afdelings en artikels te tel: ’n mens sou verwag het dat hy ook hierdie twee dokumente wat hy moes vergelyk het, ’n keer langs mekaar sou geplaas het! Dan sou dit egter geblyk het dat die nuwe kerkorde bestaan uit artikels wat feitlik net die beenderestelsel van die bestaande Wette en Bepalinge vorm.

Maar nog meer: prof. Du Toit het blykbaar ook nie daarop gelet dat die meeste van die dinge waarteen hy in die Wette en Bepalinge beswaar meen te moet maak, ook nog weer in die kerkorde staan nie: die gesag van die sinode, geloofsbriewe, kommissies, moderatuur, die hele kwessie van die tugoefening, die wyse waarop kerkraadslede gekies word, gekombineerde kerkraadsvergadering, kerk en onderwys, leraars in diens van die sinode, kategimusprediking en soveel ander dinge meer. En hy bring verder nie in rekening dat die kerkorde oor verskeie dinge swyg waaroor hy beswaar meen te moet maak, wat egter nie beteken dat daardie dinge nie êrens weer gereël sal moet word óók as die nuwe kerkorde in gebruik kom nie.

Dit is in elk geval duidelik: prof. Du Toit het sy stelling nie bewys nie.

PROF. DU TOIT SE REDENASIE IS NIE LOGIES NIE

In die lig van die bestaande vergelyking van die twee dokumente is dit ook duidelik dat prof. Du Toit se redenasie nie logies is nie. Hoe is dit tog moontlik om die nuwe kerkorde in die gees van Dordt te vind, maar die Wette en Bepalinge, waarvan die artikels van die kerkorde net die beenderestelsel vorm, kollegialisties, veral waar dieselfde dinge op grond waarvan die Wette en Bepalinge kollegialisties gevind word, in die kerkorde nie verander is nie? Kerkregtelike beginsels is in die nuwe kerkorde nie verander nie, net die vorm is verander. Dit sou dus logies kon gewees het as prof. Du Toit tot die slotsom sou gekom het dat, hoewel hy meen te moet oordeel dat die Wette en Bepalinge sekere ongereformeerde elemente bevat, die hoofbeginsels van die gereformeerde stelsel van kerkregering daarin verteenwoordig is, sodat daar geen radikale breuk tussen die twee betrokke dokumente bestaan nie. Of as hy op grond van dergelike elemente die Wette en Bepalinge tot ’n ander stelsel van kerkregering wou laat behoort, moes hy ook die nuwe kerkorde die reg ontsê het om gereformeerd genoem te word.

In die lig van die bestaande verhouding tussen ons kerke, en op grond van die feit dat prof. Du Toit die “saak” van die Geref. Kerk so nou aan die bestaan van die Wette en Bepalinge verbind het, glo ek dat hy liewer die tweede weg sou wou gaan. Maar dit was nie moontlik nie. Vereers omdat dit dwaasheid sou wees om die nuwe kerkorde ongereformeerd te noem, en verder omdat prof. Du Toit self daarvan uitgaan dat as die grondbeginsels van die gereformeerde stelsel van kerkregering in die kerkorde aanwesig is, hy nie die kerkorde aan ’n ander stelsel van kerkregering kan laat behoort net omdat hy op ondergeskikte punte sekere besware daarteen gevoel nie. Calvyn se kerkorde van 1541 het uitgesproke “hiërargiese” elemente bevat en die Dordtse kerkorde self herberg meer as een bedenklike element. Tog word hulle nie op grond daarvan ongereformeerd genoem nie. Daarom vind prof. Du Toit ook die nuwe kerkorde in die gees van Dordt, hoewel hy sommige besware daarteen het.

Waarom dan nie dieselfde billikheid teenoor die Wette en Bepalinge ook betrag nie? Waarom dan nie maar aan die lesers erken dat die Wette en Bepalinge prinsipieel die hoofbeginsels van die gereformeerde stelsel van kerkregering (selfstandigheid van die plaaslike gemeentes, drievoudige amp, noodsaaklikheid van die kerkverband, vryheid van die staat) aanvaar en ken nie? Ek het in ’n sekere stadium in ’n brief in Die Kerkblad aan prof. Du Toit gevra om tog konkreet te wees en om te bewys dat sekere beginsels nie in die Wette en Bepalinge erkenning vind nie. Die dinge wat ek opgeneem het, was maar net die hoofbeginsels van die gereformeerde stelsel van kerkregering. Maar hy het daarop geantwoord dat die meeste van die dinge wat ek vra dat hy moet bewys, nie tersake is nie! Ook dit is onbegryplik.

’n Mens sou nog kon verstaan as prof. Du Toit se standpunt was dat die “stelsel van kerkregering” bepaal word deur die baie of min artikels wat in die kerkorde of die Wette en Bepalinge staan. So het ons hom by geleentheid hoor sê dat die nuwe kerkorde van die Geref. Kerke in Nederland maar net soos die Wette en Bepalinge is, aangesien dit ook baie artikels bevat! Maar nou verklaar prof. Du Toit uitdruklik dat hy dit nie soseer teen die aantal artikels het nie, dus nie soseer teen die uitwerking van die gemeenskaplike beginsels wat die kerkorde en die Wette en Bepalinge het nie! Ek meen dat hierdie opmerking van prof. Du Toit ’n kentering beteken in sy bekende standpunt en daarmee ook ’n kentering ten opsigte van die kritiek van die kant van die Geref. Kerk teen die kerkregtelike posisie van die N.G. Kerk in die algemeen. Daarmee word immers toegegee dat die kerkregering van die N.G. Kerke nie noodwendig ongereformeerd is omdat ons nie die historiese Dordtse kerkorde nie, maar ’n eie stel bepalinge daarop nahou vir die reëling van die orde in die kerk. En daarmee word ek meteens ook onthef van die noodsaaklikheid om te moet aantoon dat die neiging van die Wette en Bepalinge om te veel te wil reglementeer (waarteen ek self, soos bekend, besware het) tog nie die Wette en Bepalinge noodwendig ongereformeerd maak en ’n ander stelsel van kerkregering laat verteenwoordig as die kerkorde met veel minder bepalinge nie. Maar daarmee val ook vir prof. Du Toit die moontlikheid om te kan meen dat die Wette en Bepalinge ’n ander stelsel van kerkregering verteenwoordig omdat dit soms tot in die fynste besonderhede bepaal hoe bepaalde kerkregtelike beginsels in die praktyk uitgewerk moet word. En daarmee is die onlogiese van sy redenasie nog meer aan die lig gestel.