Tweede Aflewering: Teenoor prof. S. du Toit se standpunt stel Dr. W. D. Jonker, Potchefstroom-Noord Die Ander Kant van die Saak – II
Die Kerkbode, lxxxvi (3), 20 Julie 1960, 74 – 77
PROF. DU TOIT NEEM ’N ONREDELIKE STANDPUNT IN TEENOOR DIE WETTE EN BEPALINGE
Dat prof. Du Toit bevooroordeeld is teenoor die Wette en Bepalinge, en dus telkens vanuit die argument van die “pedigree” van die Wette en Bepalinge moet aanvul wat aan konkrete argumente oor die onsuiwerheid van die bepalinge ontbreek, is onmiddellik duidelik vir wie die artikels lees. Vereers wil dit voorkom asof hy ten opsigte van die Wette en Bepalinge soos volg redeneer: As daar ook nog maar die minste spoor van ongereformeerde elemente te vinde is, dan is alles voor die voet maar kollegialisties, dan het ons hier te doen met ’n ander stelsel! Die kind word met die badwater uitgegooi. Daarom hoor ons eintlik geen positiewe klanke by prof. Du Toit se beoordeling van die Wette en Bepalinge nie, terwyl die beenderestelsel daarvan in die kerkorde deur hom gereformeerd gevind word! Daarom meen prof. Du Toit dat as hy skrywers uit die N. G. Kerk kan aanhaal wat punte van kritiek op die Wette en Bepalinge het, hy dan bewys het dat hulle die hele stelsel van kerkregering van die N. G. Kerk ongereformeerd beskou. Immers. as dr. Eybers in 1931 verklaar dat daar nog spore van kollegialistiese invloed in die Wette en Bepalinge opgemerk kan word, maar hy skrywe sy hele boek om aan te toon dat die kerkregering van die N. G. Kerke basies gereformeerd is, dan is dit ten minste onwetenskaplik om hom aan te haal as bewys dat die N. G. teoloë self sê dat hulle kerkregering as sodanig kollegialisties is! Dieselfde geld van dr. Hanekom en al die ander. Dit is ’n ou metode om die selfkritiek van die N. G. Kerk aan te haal en dan dergelike gevolgtrekkings te maak (vgl. die boek wat in die Geref. Kerk so uiters gewild is en baie dikwels by die openbare belydenis van geloof aan jong lidmate gegee word: Waarom is u lid van die Geref. Kerk? van ds. L. S. Kruger). Maar dié metode is onwetenskaplik. Alle aanhalings behoort die ware strekking van die stuk waarin hulle staan, getrou te weerspieël. Die teenoormekaarstel van twee groepe N. G. teoloë is ’n konstruksie op hierdie bepaalde punt.
Dit val in dieselfde kader as prof. Du Toit, wat belowe het om so objektief menslik moontlik te wees, tog by sy historiese uiteensetting die allerbelangrikste dinge weglaat. ’n Basiese verskilpunt tussen die Wette en Bepalinge en die Reglement van 1816 is juis dat die Wette en Bepalinge sover moontlik die gewraakte hiërargiese tendense van die Reglement probeer bestry het. In die Reglement van 1816 word die regering van die kerk gesien as afdalende van bo na benede, terwyl die Wette en Bepalinge van die begin af neergelê het dat die regering gesien moet word as uitgaande van benede na bo. Die kerkraad word in die volgorde kerkraad – ring sinode as die fundamentele kerklike vergadering gesien aan wie die sleutelmag in eerste instansie toevertrou is. Die meerdere vergaderinge, ring en sinode, was nooit in die N. G. Kerke, soos in die Reglement, besture wat hiërargies opklim, totdat die sinode uiteindelik ’n klein groepie persone is wat sonder enige verband met die gemeentes heerskappy oor die hele kerk uitoefen nie. Nee, van die begin af was die meerdere vergaderinge werklike vergaderinge van die gemeentes wat deur afvaardiging direk en gelyklik verteenwoordig was. Die regering wat dergelike vergaderinge uitoefen, kan tog nooit gelyk gestel word met die regering deur besture soos in die Reglement nie. Vergelyk tog wat in hierdie verband geskrywe is deur prof. K. Dijk in Bijlagen bij de Acta van de Generale Synode van de Geref. Kerken in Nederland, 1957-1958, p. 306-307! Wat die Herv. Kerk in Nederland eers in 1950 bereik het, toe hy kragtens sy nuwe kerkorde vir die eerste keer ’n egte sinode kon hou, was nog altyd die posisie in die ’n .G. Kerk. Selfs nou nog het die Nedl. Herv. Kerk met sy nuwe kerkorde en al op basiese punte nog nie eens sover gekom as wat die N. G. Kerk al sedert die vorige eeu is nie (dink met name aan die tug, die belydenis, ens.). Tog is prof. Du Toit selfs teenoor die Nedl. Herv. Kerk milder as teenoor die N. G. Kerk en verklaar hy herhaaldelik dat die Nedl. Herv. Kerk (in teenstelling tot die N. G. Kerk) die sinodale juk afgewerp het! Die probleem is dat steeds maar weer vanuit die Geref. Kerk op ’n wyse oor die posisie in die N. G. Kerk gepraat word asof dit dieselfde is as die Nedl. Herv. Kerk, en dan word kritiek uit Nederlandse boeke maar klakkeloos oorgeskrywe. Die posisie in die N. G. Kerk is egter totaal anders, en ondanks die „pedigree” van die Wette en Bepalinge het daar basiese verskilpunte ingekom wat darem met meer respek gehanteer behoort te word.
PROF. DU TOIT HAAL DINGE BY WAT NIE TER SAKE IS NIE
’n Hele aantal van die dinge wat uit die Wette en Bepalinge aangehaal word om die “kollegialisme” mee te bewys, is dinge wat met die stelsel van kerkregering as sodanig niks te make het nie, en blykbaar net bygebring word om die falanks van argumente indrukwekkender te maak. Dink maar aan: ampsdrag, kategismusprediking, huwelike op Sondae, spesiale Sondae, ondertekeningsformulier van die O. V. S., Natalse artikel oor kerkraadslede, bemoeienis van die kerk met die openbare onderwys (wat, tussen hakies, in die Geref. Kerk tog maar net so erg of erger is as in die N. G. Kerk!). Dergelike dinge mag almal op die ry af aanvegbaar wees, maar dan is dit tog nog baie duidelik dat dit alles ook moontlik is binne die kader van die gereformeerde stelsel van kerkregering. In meer as een geval raak wat prof. Du Toit aanhaal, slegs Natal, soos bv. die ondertekeningsformulier vir predikante (wat deur prof. Du Toit voorgestel word as rakende die hele N. G. Kerk — Natal tel egter maar 40 gemeentes teenoor die 775 van die ander drie kerke!), of die formulering dat die kerkwet goddelike gesag het. Wat die laaste betref, daaruit kan hoogstens gekonkludeer word dat die broeders ’n dom formulering gemaak het, maar nie dat hulle die gereformeerde stelsel van kerkregering vir ’n ander een ingeruil het nie, want hul hele uiteensetting gee juis die grondbeginsels van die gereformeerde kerkregering weer. Aan watter stelsel van kerkregering moet so ’n uitspraak buitendien toegeskrywe word? Tog seker nie aan die kollegialistiese nie, want volgens die stelsel is die kerkwet juis ’n bloot-menslike organisatoriese reeling. En Natal wil juis Bybels wees en redeneer gevolglik vanuit die noodsaaklikheid dat die kerkregering Skriftuurlik moet wees en die Koningskap van Christus moet erken, tot die gesag van die kerkorde.
Merkwaardig is dit in elk geval dat prof. Du Toit in sy uiteensettinge feitlik deurgaans op Natal konsentreer, veral waar hy vooraf sê dat Natal se bepalinge vir hom die mins aanvaarbare is. Is dit dan so objektief menslik moontlik om ’n beoordeling van die kerkregtelike posisie van die N. G. Kerke te baseer op wat na ’n mens se eie oordeel die N. G. Kerk op sy swakste is, of hoort dit mede tot die Christelike objektiwiteit om aan jou naaste die meeste moontlike krediet te gee?
So word ook sonder provokasie die voorsitter van die Raad van die Kerke se rede aangehaal en ’n bepaalde opmerking oor die navolging van die voorgegane groot figure in die N. G. Kerk word op die brood van die hele N. G. Kerk gesmeer as sy “standpunt”. So word die “kollegialistiese opvatting” van lidmaatskap aan die kerk nie uit die Wette en Bepalinge aangetoon nie, maar uit ’n verouderde werkie van ds. H. J. Pienaar! Die aanhaling wat by ds. Pienaar oorgeneem word, kom intussen nêrens in enige sinodale besluit van die N. G. Kerke voor nie en selfs nie eens in die akte van vereniging van 1911 nie, maar in ’n los pamflet wat nooit enige amptelike sanksie gekry het nie. Daarmee word deur prof. Du Toit egter die kollegialisme van die N. G. Kerk bewys.
PROF. DU TOIT SE VOORSTELLING VAN DIE KERKVERBAND IS REAKSIONÊR
Volgens prof. Du Toit is dit die gronddwaling van die Wette en Bepalinge dat dit sê dat die gemeentes aan die kerk behoort. Uit sy aanhaling van H. Bouwman en veral sy onderstreping blyk dit dat hy homself nog altyd stel op die reaksionêre en oorwonne standpunt van die doleantie-kerkreg wat gemeen het dat die gemeentes wat saam in kerkverband verenig is, nie saam ’n eenheid in institutêre sin vorm nie. Maar nou is dit tog sedert die dae van H. H. Kuyper, maar veral sedert die publikasies van M. Bouwman (wie se proefskrif bv. voorgeskrewe handboek is vir die studie van die kerkreg aan die Vrije Universiteit), ’n erkende feit dat dié opvatting hom nie kan beroep op die ou-gereformeerde kerkreg nie, en in elk geval nie op Voetius nie. Voetius leer bv. dat “het geheel der synodaal verbonden kerken ecclesia intituta is; dat dus gesproken kan worden van een nationale, provinciale en classicale kerk als instituut, waarvan de plaatselijke geïnstitueerde kerken deelen of afdeelingen zijn; en voorts ook de gezamenlijke ambtsdragers van dit instituut een corpus, een corporatieve eenheid vormen” (M. Bouwman, Voetius over het Gezag der Synoden, p. 74). Voetius noem die kerk wat dus uit die afsonderlike gemeentes bestaan, ’n totem cujus partes similares sent omnes particulares ecclesiae. Bouwman praat selfs van die verskillende gemeentes as “compartimenten” van die een kerk. In die Geref. Kerk in Nederland val die aksent dan ook deesdae veel meer op die eenheid as in die tyd van die doleantie. In die reeds aangehaalde stuk van prof. Dijk kan ’n mens daar meer as genoeg bewys voor vind. Onder andere sê hy: “De kerk is ook één. Het enkelvoudige woord ekklesia wordt in Hand. 9 : 31 voor tal van gemeentes gebruikt … Het zgn. autonomie en vrijheid zijn (en de praktijk wijst dit uit) funest voor het leven der kerken en berokkenen haar eenheid grote schade” (p. 304). Dat die verskillende gemeentes saam een kerk vorm, is in ooreenstemming met al die ou-gereformeerde skrywers en met die Nedl. Geloofsbelydenis art. 32. Buitendien erken die Geref. Kerk in Suid-Afrika dit self in sy kerknaam en op sy kerkseël. Dit is dus nie duidelik wat prof. Du Toit presies wil hê nie. Die Wette en Bepalinge sien juis nie die kerk as ’n groot genootskap waarvan die samestellende dele die afsonderlike lidmate is nie, maar verstaan die kerk as ’n assosiasie van afsonderlike gemeentes. Maar hierdie gemeentes wat saam verbonde is, vorm dan ook ’n eenheid in institutêre sin en heet eenvoudig kerk in die enkelvoud. As dit die gronddwaling van die N. G. Kerk is, dan kan hy horn daarvoor op Voetius beroep, en dan sit die Geref. Kerk in Suid-Afrika saam met hom in dieselfde bootjie!
In die lig van hierdie siening op die kerkverband verval die krag van prof. Du Toit se besware ook op ander punte. As die gesamentlike ampsdraers van die kerk ’n korporatiewe eenheid vorm, is die posisie van die N. G. Kerk met betrekking tot die samestelling van meerdere vergaderinge en geloofsbriewe ten minste enigsins begryplik, al sou ek self daarin graag een en ander gewysig wou sien. As die kerk ’n eenheid is, juis ook op grond van die gemeenskaplike belydenis, dan vra ’n mens jouself af wat die sin is van ’n telkens herhaalde verklaring dat afgevaardigdes met ’n vergadering sal meewerk indien dié vergadering hom by die belydenis hou. Dit is tog veronderstel, óók in die N. G. Kerk (vgl. art. 1, Wette en Bepalinge). Dat al die leraars wat aan plaaslike gemeentes verbonde is, sitting het op die meerdere vergaderinge, hoef tog nie as kollegialisties voorgestel te word nie, aangesien reeds die Dordtse Kerkorde bepaal het: “Daer in een plaetse meer Predikanten zijn als een, zullen die al t’samen in de Classe moghen verschijnen ende keurstem hebben …” By die N. G. Kerk is, nog meer as in die Dordtse Kerkorde, teen ’n oorheersing van predikante op die meerdere vergaderinge gewaak deur te bepaal dat daar vir elke leraar telkens ook ’n ouderling afgevaardig word. Waarom altyd alles probeer sien as kollegialisme, terwyl die feite tog bekend is?
’n Mens vra jouself dan ook af waarom dit so vreeslik verkeerd is om iemand wat lidmaat van ’n plaaslike gemeente binne die kerk(verband) is, te sien as behorende tot die geheel op grond daarvan dat hy aan die plaaslike gemeente behoort. Skryf prof. N. H. Ridderbos nie tereg dat ons van “die gemeente” mag praat as die plaaslike gemeente, maar ook as “die gemeente in Potchefstroom” wat al die plaaslike gemeentes met hulle lidmate alhier omvat, en as “die gemeente in Transvaal” nie? Is daar dan geen oog meer vir die eenheid van die liggaam van Christus nie? As iemand lid is van die nuwe volk van God en die kerk (ook in sy sigbare gestalte) is die volk van God, waarom dan so skamper spreek daaroor as lidmate van ’n plaaslike gemeente ook lidmate genoem word van die kerk waarby die plaaslike gemeente as samestellende deel ingesluit is? So is die posisie immers in die N. G. Kerke (vgl. artt. 3-4 Wette en Bepalinge).
Ek vestig net die aandag daarop dat die N. G. Kerke graag die selfstandigheid van die plaaslike gemeentes (kerke) wil erken. Duidelik spreek die inleiding op die Wette en Bepalinge die “geheel selfstandig en outonoom” uit. In die omskrywing van die kerkverband word hierdie sienswyse gehandhaaf (vgl. artt. 7 en 11 Alg. Sinode en art. 3 Suidstreek). Ten spyte van wat ook al deur prof. Du Toit beweer word oor die onselfstandigheid van die plaaslike gemeentes van die N. G. Kerk, wil ek tog daarop wys dat die kerkverband volgens die Wette en Bepalinge nie maar in die plaaslike gemeentes kan ingryp nie. Die eredienste, die prediking van die Woord in die eredienste, die kategese, die pastorale sorg, die tug en die regeringe, die diens van barmhartigheid gaan van dag tot dag in die gemeentes voort, sonder dat die meerdere vergaderinge of welke kommissie dan ook, sonder daartoe versoek te wees, in die aktiwiteite van die plaaslike gemeentes ingryp. Die Wette en Bepalinge het immers nie ten doel om die ampsdraers in hulle ampsverpligtinge te belemmer of te stuit nie en neem hulle verantwoordelikheid nêrens van hulle skouers af nie. Geen enkele deel van die mag van die plaaslike gemeentes word immers van hulle weggeneem wanneer die kerkverband hulp verleen by moeilike sake, by tug oor ampsdraers, by voortgaande sensuur, by die handhawing van die belydenis, by die afstigting van nuwe gemeentes, ens. nie. Nee wat, ’n mens moenie te gou spreek van kollegialisme en hiërargie waar dit nog gewoonweg gaan om die regeermag wat die kerk deur middel van sy meerdere vergaderinge op ’n egte gereformeerde manier uitoefen nie! Die selfstandigheid van die plaaslike gemeentes word nie daardeur opgehef nie.