Die ander kant van die saak – III

Derde Aflewering: Teenoor Prof. S. du Toit se standpunt stel Dr. W. D. Jonker, Potchefstroom-Noord Die Ander Kant van die Saak – III
Die Kerkbode, lxxxvi(4), 27 Julie 1960, 107 – 111, 119.

PROF. DU TOIT STEL DIE GESAG VAN DIE SINODE VERKEERD VOOR

Vir prof. Du Toit is dit ’n groot dwaling dat daar gesê word dat by die sinode die hoogste gesag in die regering van die kerk berus. As daarmee bedoel sou word dat die sinode se gesag hoër is as dié van Christus of die Woord van God, sou dit iets verskrikliks gewees het! Maar te duidelik word die Koningskap van Christus en die gesag van die Woord in die Inleiding op die Wette en Bepa­linge en in artt. 16 en 25 aanvaar om ooit so iets te kan bedoel. Daar word tog kennelik niks anders mee bedoel as om in die gees van art. 36 Dordtse Kerkorde te sê dat by die sinode die meeste gesag binne die kerklike instituut berus nie, aangesien al die gemeentes daarop verteenwoordig is. Ek gee toe dat die term “hoogste” ongelukkig is. Maar ’n mens moet dit verstaan in die lig van die hele Wette en Bepalinge, waarin nooit anders gespreek word nie as van meerdere vergaderinge. Intussen is dit bekend dat ons ou gerefor­meerde vaders die woord hoër (en selfs hoogste) meermale gebruik het (vgl. M. Bouwman, aangehaalde werk, p. 97 ex. wat na Calvyn, Voetius en ander oud-gereformeerdes verwys en konkludeer: „Naar gereformeerde opvatting zijn echter de meerdere vergaderinge wel hoogere vergaderingen en bekleed met hoogere macht…). Vir die bevoegdheid van die sinode verwys ek verder na die rapporte oor hierdie aangeleentheid wat gedien het voor die generale sinodes van die Gereformeerde Kerke in Nederland in 1926, 1946, 1949, 1952 en 1955. Vgl. in hierdie verband die reeds aangehaalde rapport van prof. Dijk. Prof. Du Toit sou Voetius bepaald kollegialisties gevind het waar Voetius leer dat die sinodale besluite bindend en finaal is, dat meerdere vergaderinge mag ingryp as minderes hulle skuldig maak aan wanbestuur of nie doen wat hulle moes gedoen het nie en selfs met sensuur mag ingryp as hulle besluite nie uitgevoer word nie.

In die N. G. Kerke is die sinode tog nie ’n tiran wat oor die gemeentes heers nie: dis ’n vergadering van die gemeentes wat gesamentlik vergader, wat uit ampsdraers bestaan, met gesag deur Christus beklee is en die belange van die gemeente behartig in Sy Naam.

PROF. DU TOIT HET ’N VERKEERDE VOORSTELLING VAN DIE KOMMISSIES

Na my beste wete voldoen die kommissies van die N. G. Kerk aan die vereistes wat prof. Du Toit self vir deputate stel. Hulle word almal deur die betrokke kerklike vergaderinge benoem en moet die werk wat aan hulle opgedra is, afhandel met volledige verslag aan die volgende vergadering. Vgl. art. 45 Alg. Sinode oor die Sinodale Kommissie. Dieselfde geld van die ringskommissie. Blykbaar is prof. Du Toit onder die indruk dat die kommissies regerende bevoegdhede besit, maar dit is tog kennelik nie die geval nie. Geen kommissie het regerende bevoegdheid nie, selfs nie die sinodale kommissie of die ringskommissie nie. Alles wat hulle doen buite hulle stiptelike opdragte, kan hoogstens provisioneel wees, terwyl die meerdere vergaderinge oor alles beslis en dit goed of afkeur. Is die Wette en Bepalinge dan nie duidelik genoeg op hierdie punt nie? Selfs die geval wat prof. Du Toit noem, nl. dat die ringskommissie grenslyne vasstel, is tog nie so vreemd nie, want vereers kry die hele ring eers insae in die stukke in verband met ’n afstigting (waarin ook die grense voorlopig aangegee is) en gee dan aan die ringskommissie opdrag om met die saak voort te gaan. Die Ringskommissie kan nie handel sonder advies van die kerkraad en opdrag van die Ring nie (vgl. artt. 89, 94, 95 en 96 Suidstreek). Geen kommissie van ’n meerdere vergadering kan werksaamhede in ’n plaaslike gemeente verrig sonder daartoe uitgenooi te wees of onder buitengewone omstandighede wanneer die meerdere vergadering bv. vir die uitoefening van sy tugmag ’n kommissie van ondersoek na ’n klag of gerug of iets soortgelyks ’n dergelike opdrag gee nie. Dat die ringskommissie vir evangelisasie bv. “in samewerking met die kerkrade” sekere take te vervul het, beteken nie dat hulle op die terrein van die kerkraad mag tree nie, maar beteken juis dat hulle die selfstandigheid van die plaaslike kerkrade in alles moet eerbiedig. Die uitdrukking “permanente kommissie” waarteen prof. Du Toit beswaar maak, het niks met ’n bestuur te doen nie, maar word slegs gebruik om ’n kommissie wat deur ’n meerdere vergadering aangestel is om verslag te doen aan ’n volgende meerdere vergadering, te onderskei van een wat by dieselfde vergadering nog verslag moet doen, nl. ’n tydelike kommissie. En wat die moderatuur betref, dié het tog nie bestuursmag nie! Dit is bekend dat ek self nie die noodsaaklikheid van die moderatuur náás die sinodale kommissie kan insien nie, maar ek het in my argumente in verband daarmee nooit gesê dat die moderatuur in die Wette en Bepalinge as iets anders voorgestel word as ’n kommissie of deputaatskap nie. Ook die moderatuur moet haarfyn verslag doen aan die sinode van alles wat hy gedoen het, maar let tog daarop dat aan die moderatuur géén regeermag hoegenaamd opge­dra word nie! (Art. 38 Wette en Bepalinge). Sal die “mite” tog nie in hierdie verband oorheers kan word deur die feite nie?

Merkwaardig is dit dat die nuwe kerkorde van die Geref. Kerke in Nederland ook die moderamen laat voortbestaan ná afloop van die sinode as deputate “die de kerken vertegenwoordigen of doen vertegenwoordigen in alle gevallen, waarvoor geen andere deputaten aangewezen zijn, en waarin zij dit wenschelijk achten …” (art. 65). Vergelyk ons hierby nog wat in die huishoudelike reëling aan die moderamen opgedra word, dan is dit duidelik dat die posisie nie veel verskil van wat ons in die N. G. Kerke het nie, behalwe dat dáár aan die moderamen sekere take opgedra word wat die Wette en Bepalinge aan die breëre sinodale kommissie alleen laat toekom. Ook in die Geref. Kerk in Suid-Afrika funksioneer die deputaatskappe tog maar as volledig gekonstitueerde kommissies met dagbesture, ens. Die deputaatskap vir Die Kerkblad is glad die eienaars van die blad wat homself met niks minder gesag aanbied nie as: die offisiële orgaan van die Geref. Kerk. Die kuratore van die Teologiese Skool het selfs besonder veel mag vir ’n deputaatskap, waar hulle direk opsig mag uitoefen oor proponente en reg het om met verbygaan van classis en kerkraad verantwoording oor die prediking te eis! Ook wat die ander deputate betref, is daar nie soveel verskil nie. Hoekom sal ons mekaar soveel ten lasts lê?

Prof. Du Toit maak onnodig beswaar teen die verkiesing (beroeping) van ampsdraers

Prof, Du Toit sê dat die lidmate van die N. G. Kerke nooit meewerk by die kiesing of beroeping van ampsdraers nie. Maar die Wette en Bepalinge lê duidelik neer dat lidmate hulle ampsdraers met opsteking van die hande kies in nuwe gemeentes (art. 103 en 104 Suidstreek), en die procedure van die kiesing van ampsdraers soos gebruiklik . in die N. G. Kerke (die kerkraad kies en lees die name ter approbasie af) stam van die Konvent van Wezel 1568 en die Sinode van Emden 1571 af en is in die Dordtse Kerkorde opgeneem as een van die twee maniere waarop ouderlinge gekies kan word. Waar­om dit nou as so ’n vreeslike ongereformeerdheid gaan voorstel? Die idee van die gekombineerde kerkraad, self baie oud met wortels tot in die tyd van die reformasie, is net nog ’n verdere toegewing aan die beginsel om die gemeente direk te laat deel in die kiesing van ampsdraers, en wel deur mense wat voorheen kerkraadslede was en dus beskou mag word as verantwoordelike en vrome manne.

Prof. Du Toit maak onnodig beswaar teen die beroeping, van leraars deur meerdere vergaderinge

Dit is nie nodig om oor hierdie saak uit te wy nie. Volgens M. Bouwman se interpretasie van Voetius is hierdie praktyk van die N. G. Kerk tog volkome in ooreenstemming met wat deur oud-gereformeerde kerkregtelikes ge­dink is, voordat die tyd van die reaksionêre beklemtonings in die doleantie gekom het. Intussen het die Geref. Kerke in Nederland dieselfde rigting opgegaan. Die nuwe kerkorde van die Geref. Kerke in Nederland maak in art. 21 voorsiening vir dieselfde saak waaroor prof. Du Toit so beswaar maak in die “kollegialistiese” Wette en Bepalinge! Vgl. verder M. Bouwman, a.w. 275.

In meer as een opsig interpreteer prof. Du Toit die Wette en Bepalinge onnodig in malem partem

Prof. Du Toit skrywe graag die swakste moontlike betekenis aan bepaalde uitdrukkinge in die bepalinge toe. Enkele voorbeelde hiervan is die volgende:

(a) Wanneer prof. Du Toit praat oor die belydenis van geloof, dan neem hy dit so op dat die openbare belydenis by die N. G. Kerke nie in die erediens plaasvind nie. Maar die teendeel is waar. Die openbare belydenis vind altyd in die erediens plaas. Wat voor ’n kommissie van die kerkraad plaasvind, is die toelating tot die openbare belydenis, ook genoem die “afneem van die belydenis”, omdat dit saamhang met die katkisasie en die onderrig. So moet art. 206 Suidstreek geïnterpreteer word wanneer hy sê: “Die wat toegelaat is tot aflê van belydenis, sal in teenwoordigheid van die gemeente volgens die voorgeskrewe formulier as belydende lidmate bevestig word.” Dat die Wette en Bepalinge origens soms die daad van belydenis te veel sien as die moment waarop die “volle lidmaatskap” eintlik begin (vandaar terme soos “kandidate tot lidmaatskap”), is wel nie heeltemal suiwer nie, maar stam in ’n groot mate tog ook van Voetius af. Aanvanklik het prof. Rutgers self nog gemeen dat ’n dooplidmaat eintlik onvolledig lidmaat is en dat van volle lidmaatskap net gespreek kin word na die vrywillige aanvaarding van die lidmaatskap by die openbare belydenis (vgl. sy rapport uit 1893). Die Wette en Bepalinge is veel ouer as 1909 toe prof. Rutgers horn eers in hierdie saak van Voetius begin onderskei het en die saak van die dooplidmaatskap suiwer geformuleer het. Ons moet dus nie maar weer so maklik aan kollegialisme dink nie. Buitendien sal prof. Du Toit ook wel opgemerk het dat die Wette en Bepalinge ook spreek van “dooplede”, “registers vir gedoopte en belydende lidmate”, ens.

(b) Wanneer prof. Du Toit spreek oor die gevaar van predikanteheerskappy, dan haal hy artikels aan waarin gespreek word van die predikant wat eers die gevoele van die kerkraad moet inwin by bepaalde gevalle van doopsbediening, waaruit hy dan konkludeer dat die predikant wel die kerkraad se advies vra, maar self oor die saak beslis. Dis tog dwaasheid. Enige leser sal begryp dat die kerkraad beslis oor doopgevalle, maar dat in normale gevalle die leraar nie eers die hele kerkraad hoef te raadpleeg vir ’n doopgeval nie, maar self die doopname sal opneem, verkieslik in teenwoordigheid van een of twee ouderlinge. In ander kerke word dit tog nie anders gedoen nie. In die Geref. Kerk in Nederland het skrywer hiervan ’n doopnaam van ’n kindjie gaan opgee by ’n kerklike buro sonder meer. Is dit dan weer gevaar van “buro-heerskappy”?

(c) By die bespreking van die magte van  Ring konkludeer die geagte hoogleraar sommer dat die kerkraad van ’n gemeente nie in die prentjie kom as ’n leraar langer as ’n jaar uit sy gemeente vertrek nie, ens. ’n Mens is hieroor verbaas. Wie reël normaalweg die verlof van die leraar? Tog die kerkraad. Wie hou toesig oor sy leer, lewe en wandel? Tog die kerkraad (art. 22, 4, ens.). Natuurlik kom die kerkraad oral in die prentjie, maar daar is bepaalde gevalle waarin die kerkverband die beste belange van ’n gemeente moet help beskerm, en daarop sien die gewraakte bepalinge. Geen regskape kerkraad sal hom hierin in sy eie magte beknot voel nie, maar dankbaar wees vir die kontrole en sorg van die kerkverband!

(d) Wat gesê word oor hulpdienste en veral oor hulppredikers wek die indruk dat prof. Du Toit telkens maar net die kwade wil raaksien. Hulpdienste laat hom sommer net dink aan die “poste” van 1816, terwyl hy tog ook sal weet dat reeds Voetius hieroor heelwat te sê gehad het (vgl. Joh. Jansen, Korte Verklaring van de Kerkorde, 15). Ook 1 Kor. 12 : 28 praat van “helpers”. En hulppredikers was tog vroeër nie ’n ongewone verskynsel in die Geref. Kerke in Nederland nie, en ek kan my nie voorstel waarom daar gemaak moet word asof die N. G. Kerke in hierdie saak so anders gehandel het as wat die gebruik vroeër in die Geref. Kerke deurgaans was nie. Al verskil is miskien dat die reg aan iemand wat ’n “predikant” is, d.w.s. ’n leraar wat tydelik sonder werkkring is, en dan aangestel word as hulpprediker, verleen word om die sakramente te bedien onder die toesig en opsig van die kerkraad. Dit is hierdie omstandigheid wat prof. Du Toit oor die hoof sien as hy praat van ’n semi-amptelike amp.

(e) Wat gesê word oor die kerk wat as instituut bepalinge neerlê vir die vereniginge, wek ook weer ’n verkeerde indruk. Dat die reglemente van sekere vereniginge opgeneem is in die bundel Wette en Bepalinge as los byvoeginge agteraan, is nie omdat die kerk daardie reglemente vir sy rekening neem of opstel nie, maar is bloot ter wille van die gerief van lidmate wat dan alle stukke bymekaar het in een band.

(f) Ook die reëling van sertifikate van lidmaatskap en attestate en “lidmaat-wees van die kerk in die algemeen” word so eienaardig as moontlik voorgestel. Art. 45 en 43 Suidstreek bepaal tog duidelik dat ’n lidmaat wat uit ’n gemeente vertrek, se lidmaatsregte daar verval en dat hy geen lidmaatsregte in ’n volgende gemeente het voordat sy attestaat weer daar ingedien is nie. Dat so ’n lidmaat intussen onder “toesig” van die nuwe kerkraad staan, beteken slegs dat die kerkverband nie sommer maar lidmate van plaaslike gemeentes binne die kerkverband loslaat nie – wat slegs natuurlik is. “Toesig” is egter iets anders as “opsig” (tug).

(g) Prof. Du Toit sien al weer net kollegialisme raak as Natal met ’n foutiewe formulering daarvan praat dat een leraar  “in naam van die sinode” ’n ander leraar bevestig. Maar in die gees van die Wette en Bepalinge is dit tog duidelik dat daarmee bedoel word: as verteenwoordigende die kerkverband. Waar bevestig die sinode nou ooit predikante in plaaslike gemeentes? Die kerkraad beroep, hou opsig oor die leraar en gee weer demissie as hy vertrek. Dit duidelik. Maar die kerkverband seel volgens gereformeerde opvatting tog ’n bepaalde rol by die bevestiging en vertrek van leraars. En dit is al wat Natal wil sê met hierdie ongelukkige formulering en al.

Ons sluit af. Daar sou nog meer te sê wees, maar die leser sal en hierdie tyd wel begryp dat ons ook hier te doen het met ’n saak, wat twee kante het. Dit is die rede waarom ons geskrywe het. Dit gaan ons nie om ’n verdediging van die Wette en Bepalinge asof alles vir ons daaraan geleë is nie. Ons hoop van harte dat die N.G. Kerk binne afsienbare tyd die Wette en Bepalinge agter die rug sal hê en met sy nuwe kerkorde sal werk. Maar dit gaan ons om ’n diens aan die waarheid. Dit gaan ons ook daarom dat elke vorm van hersiening van bestaande dokumente en praktyke deur die N. G. Kerk nie maar gesien moet word as ’n belydenis dat hy tot dusver nog altyd die gereformeerde spoor kwyt was nie. So interpreteer ds. L. S. Kruger in sy genoemde boek die gedagte van een van ons hoogleraars dat die gesange hersien moet word. So interpreteer prof. Du Toit nou ook weer die nuwe kerkorde. Maar wie dergelike interpretasies maak, soek kennelik na argumente om staande te kan hou dat die Geref. Kerk nog altyd “reg was”, en stuur af op ’n standpunt van stagnasie waarin die kerk niks meer in hersiening kan neem as dit nie ’n belydenis inhou van vroeëre dwaling nie.

Blykbaar is die tyd nog nie ryp vir ’n werklike objektiewe gesprek tussen ons kerke nie. Prof. Du Toit beweer dat as die N. G. Kerk maar ’n beter kerkorde het, daar ’n beter verstandhouding tussen ons moontlik sal wees. Dit is egter te betwyfel. Dit lê alles veel dieper. Dit lê in die gesindheid van die harte wat maar altyd net die splinter in die oog van die broeder kan opmerk.

Mag God self op Sy tyd en wyse ons harte tot die sterk begeerde eenheid rig, dat die verskeuring van die liggaam van Christus geheel mag word!