Korrespondensie: Die Ander Kant Van Die Saak – IV
Die Kerkbode, lxxvi(11), 14 September 1960, 375
Dr. W. D. Jonker, Potchefstroom:
Graag maak ek die volgende paar slotopmerkinge in verband met die diskussie tussen my en prof. Du Toit (Vgl. laasgenoemde se brief in Die Kerkbode, 24 Aug. 1.1.). Dit spyt my innig as daar in my artikels – teen my opregte begeerte en eerlike bedoelinge in – iets mag voorhou waarin ek prof. Du Toit te na gekom het. Ek is my nie van so iets bewus nie, en allermins natuurlik daarvan dat ek hom dinge in die mond gelê het wat hy nie gesê het nie. As my aandag daarop gevestig word, sal ek graag enigiets wil herstel waarin ek hom onreg aangedoen het.
Die bedoeling van my artikels was nie om oor prof. Du Toit as persoon enigiets te sê nie – dit het die lesers wel begryp. Ek twyfel nie aan prof. Du Toit se goeie trou of eerlikheid nie. Die doel van my artikels was egter wel om aan te toon dat prof. Du Toit, hoe eerlik hy ook al daarin mag wees dat hy die dinge net só en nie anders kan sien nie, die dinge verkeerd sien. ’n Mens kan blykbaar volkome eerlik wees, maar vanuit ’n vooropgesette idee en instelling jou stof benader en dan bepaalde beklemtonings maak wat alles skeef trek en jou tot foutiewe gevolgtrekkinge bring, omdat jy sake net van een kant af sien.
Noudat ek prof. Du Toit se reaksie op my artikels gelees het en daarin maar weer dieselfde groepie uitgesoekte sitate sien staan en dieselfde argument hoor besig dat as dié mense sulke dinge kan sê, die Wette en Bepalinge nooit die kenmerke van die gereformeerde stelsel van kerkregering kan vertoon nie, beset ek maar net dat prof. Du Tait blykbaar een ding nie kan begryp nie: dat ’n mens besware teen die Wette en Bepalinge kan hê, dat jy kritiek teen die N.G. Kerk kan lewer, dat jy min waardering vir die ordonnansie van 1843 kan openbaar en dat jy kan begeer dat die N.G. Kerk spoedig met ’n beknopte nuwe kerkorde kan werk – en dat jy met dit alles tog nog weier om die kind met die badwater uit te gooi en te verklaar dat die Wette en Bepalinge die kollegialistiese stelsel van kerkregering verteenwoordig. Tog is dit eienaardig dat waar prof. Du Toit die ruim geleentheid gehad het om uit die Wette en Bepalinge sonder teenspraak aan te toon dat hulle deur en deur kollegialisties is, hy dit nou ook nie juis oortuigend kon doen nie! Sy arguments gaan om ’n aantal dingetjies wat soms maar baie ver weg is van die eintlike dinge wat in die kerkregering deurslag gee ten opsigte van die vraag watter stelsel ons voor ons het. En dan gaan hy nog so ver om die kerkorde, wat dieselfde elements bevat, “in die gees van Dordt” te noem! Dit alles bly maar onverklaarbaar, tensy ’n mens aanneem dat die skrywer, soos ek probeer aantoon het, bevooroordeeld met sy stof te werk gaan. Intussen sien ons uit na die beloofde pamflet. Moontlik Sal Prof, Du Toit dan beter as tot op datum die groot verskille tussen Wette en Bepalinge en kerkorde (wat volgens hom bestaan) kan aantoon. Ons hoop dat prof. Du Toit dan ook deur selfstandige studie die bewyskrag van sy aanhalings wetenskaplik sal aantoon, en nie byvoorbeeld vir Royaards sonder meer as die groot outoriteit op die Wette en Bepalinge sal aanvaar of ds. Mentz se negatiewe uitlatinge as besonder goeie “bewysstukke” sal sien nie.
Mag ek afsluit deur die versekering te gee dat wat ook al die indruk mag wees wat deur ons diskussie gewek mag wees, ek ’n beter verstandhouding tussen ons kerke, van harte begeer en daarom alles sal verwelkom waardeur ons nader aan mekaar kan kom en saam kan groei, soos ons inderdaad saam hoort, omdat ons saam die gereformeerde waarheid liefhet.