ONS TOEKOMS EN DIE SENDING
Deur dr. W. D. Jonker
[UIT: Sendingsketse 1961. Uitgegee deur DIE SINODALE SENDINGKOMMISSIES van die NED. GEREF. KERK VAN TRANSVAAL. Handleiding vir die Maandelikse Sendingbidstonde en vergaderinge van die T.V.S.V., M.S.B., M.S.A., Kindersendingkrans en Sendingvriende. Verkrygbaar by: DIE SENDINGSEKRETARISSE, Posbus 433, Pretoria en De Kortestraat 119, Braamfontein, Johannesburg. Prys: 1/6 posvry]
Handelinge 20: 24 — “Maar ek bekommer my glad nie en ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie, sodat ek met blydskap my loopbaan kan volbring en die bediening wat ek van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God.”
Wanneer ons hier praat van “ons toekoms en die Sending”, dan spreek dit vanself dat ons daarmee bedoel: die toekoms, die voortbestaan van ons as blanke Afrikanervolk in hierdie land, waarby vir baie nog die klank sal bykom van: voortbestaan onder dieselfde omstandighede wat ons nou ken, met dieselfde lewenspatroon wat pa en oupa reeds geken het, en wat onsself ken en wat ons begeer dat ons kinders sal ken, nl. die Afrikaner as die bevoorregte, as die regerende groep, as die besitter en die ontwikkelde te midde van ’n see van ander wat minder bevoorreg is. Dit is wat “ons toekoms” vir verreweg die meeste van ons mense alles beteken.
Oor hierdie toekoms is daar vir ons in hierdie tyd nogal rede tot bekommernis. Van alle kante word Suid-Afrika met sy tradisionele lewenspatroon veroordeel en verdoem, en wêreldwyse politici voorspel met groot stelligheid dat daar nog maar ’n jaar of twee-drie is voordat katastrofale uitbarstings sal kom en alles in Suid-Afrika sal verbrokkel. Ekonomiese sanksies teen Suid-Afrika het reeds begin en sal waarskynlik in die toekoms veel drastieser toegepas word. Die opkoms van die swart state van Afrika en die magtige invloed van kommunistiese en barbaarse elemente val nie te bereken nie. Nêrens in die wêreld is daar vir ons diepgaande simpatie nie. Die groot moondhede sal hulle nie veel bekommer oor die ondergang van die handjievol blankes aan die Suidpunt van Afrika nie, as hulle maar net die versekering kan hê dat hulle effens meer simpatie kan opwek by die swart onafhanklike state wat ontstaan, en moontlik die wedloop in die koue oorlog kan wen. Inderdaad, as dit van die mens afhang en van die huidige wêreld-opinie en magsinstansies, dan het ons geen toekoms nie. In elk geval geen toekoms in die sin waarin ons dit hierbo omskrywe het nie. En vir talle onder ons staan dit vas dat as ons geen toekoms in daardie sin het nie, ons geen toekoms hoegenaamd het nie.
Intussen is dit goed dat ons as gelowiges ’n keer daaroor nadink of die aksent wat onder ons maar alte dikwels op toekoms in die sin waarin dit hierbo omskrywe is, gelê word Bybels verantwoord is en of voortbestaan vir ons die hoogste waarde in die lewe en die vernaamste doel van ons strewe as volk mag wees. Voortbestaan as sodanig kan tog nooit vir ’n volk se hoogste doel wees nie, en om krampagtig vas te hou aan die gedagte dat alles moet bly soos ons dit ken, en dat as ons tradisionele lewenspatroon verander sou moet word, dit vir ons die totale verlies sou beteken van alles wat ons het en van alles wat die moeite werd is om voor te lewe, is ’n gelowige ten enemale onwaardig.
Die vernaamste vir ons as gelowiges is nie die voortbestaan of die rooskleurige toekoms van die Afrikanervolk met talle voorregte nie, maar die Godsryk en sy voortgang. En as ons ondergang mag dienstig wees aan die voortgang van Gods Ryk, dan moet ons soos Paulus sê in die bovermelde teks: ek ag ook my lewe vir myself nie dierbaar nie. Vir ons as gelowiges staan Gods saak bó alles. Dit is belangriker as die saak van die Afrikanervolk. Miskien behoort ons dit ook nog anders te stel. Wanneer ons van ons toekoms bloot praat in die bovermelde sin, dan mag dit nie vir ons die een-en-al wees nie. Belangriker is ons Toekoms (met hoofletter) in die sin van ons geestelike toekoms, ons verskyning voor God en sy regterstoel. Voor Gods regterstoel kan nooit die blote voortbestaan van ’n volk tel nie, maar die vraag of daardie volk in geregtigheid gewandel het en die wet van God geken het en die verlossing in Christus gevind het en die gegewe taak in gehoorsaamheid volbring het. Wat ’n volk groot maak, is nie sy blote voortbestaan nie, maar sy geregtigheid, sy gehoorsaamheid, sy onselfsugtige diens aan God, sy oorgawe daaraan om die God-gegewe taak te vervul.
Maar ons tema is: ons toekoms en die Sending. Wat het die Sending nou met dit alles te doen? Geweldig veel, omdat daar al vir jare lank in ons midde gepraat word oor die Sending as een van die belangrikste middele waardeur ons vir onsself ’n goeie en rooskleurige toekoms kan verseker. Herhaaldelik is al daarop gewys dat sendingwerk ’n noodsaaklike middel is tot selfbehoud.
Nou moet ons onthou dat dit meestal gesê word met die allerbeste bedoelings en met die reinste gewete, en dat daar beslis in die meeste gevalle geen kwaad mee bedoel word nie. Tog is dit ’n gevaarlike ding om sê. Waarom? Om verskillende redes.
Ten eerste : Wie dit wil aanneem dat ons, as ons maar getrou sendingwerk doen, as volk nie sal ondergaan nie, sê dit in elk geval sonder Skrif outoriteit. Nêrens in die Bybel vind ons enige belofte dat God sy getuies ’n rooskleurige aardse toekoms verseker nie. Wie het kragtiger getuig as Jeremia? En hy is nie deur God bewaar van ’n marteldood in Egipte nie. Wie was duideliker in sy boodskap as Johannes die Doper? En God het nie die swaard geweer toe hy op die gril van ’n roekelose vrou onthoof is nie. Wie is ooit soos Petrus die rots genoem waarop Christus sy gemeente sal bou? En tog is Petrus nie gered van ’n uiteindelike marteldood nie. Daar was wel ’n moment waarop hy selfs deur geslote deure heen uit die gevangenis verlos is, maar toe sy taak vervul was, het God toegelaat dat hy ten onder gaan. So was dit met Jakobus, so was dit met Stefanus, so was dit met Paulus. Gods Woord bied geen waarborg dat diegene wat die boodskap verkondig, bewaar sal bly van allerlei onaangenaamheid of selfs die dood nie.
Ten tweede: Wie miskien ’n dergelike stelling maak, omdat by meen dat ons deur ons sendingwerk ’n dusdanige groot invloed op die nie-blankes sal kan uitoefen, dat hulle as gevolg daarvan in vrede en liefde met ons sal lewe en toestande sal laat soos dit vandag is, werk met illusies. Drie eeue se sendingwerk het dan nog maar so min effek, en ons het beslis nie ’n verdere drie eeue tot ens beskikking nie. Selfs al sou ons alles ingooi en ons sendingaksie vertiendubbel, dan is dit nog waar dat die geloof nie die deel van alle mense is nie, en dat ons in hierdie land daarvan verseker kan wees dat die haat teen die blanke en die innerlike verset teen die evangelie wat die blankes verkondig, sulke gewigtige faktore is, dat ons geen kans het om die meerderheid te beïnvloed soos ons sou begeer nie. Buitendien is die invloed van die evangelie geen waarborg dat hulle nie nogtans ons volk sy toekoms in die bovermelde sin sal ontneem nie. Die wêreld se oorloë-register is gevul met oorloë tussen Christenvolke en die hemeltergende gruwels wat volke gepleeg het wat reeds eeue lank onder die invloed van die evangelie lewe. So min as wat die gelowige Afrikaner die Engelse in politieke opsig alles wil toelaat, sal die gelowige naturel blywend tevrede wees om hom deur die Afrikaner te laat regeer.
Dit is beter dat ons nugter sal word en sal besef dat dit nie vanselfsprekend waar is om te sê dat as ons maar sendingwerk doen, ons volk nie sal ondergaan nie.
Wat dan? Sal ons dan maar die Sending los? Moet ons dan maar na ander, meer doeltreffende middels gryp om wél ons voortbestaan te verseker? Baie redeneer so. Maar die gelowige mag nie so redeneer nie. Want wie só redeneer, stel die aardse voortbestaan van ons volk bo sy geestelike toekoms en selfs bó alles, óók bó die Godsryk.
Ons moet net andersom redeneer. Ons moet nie twyfel aan die Sending nie, ons moet ons eie toekoms helderder sien en op sy juiste waarde skat. Nie die voortbestaan van ons volk is die belangrikste nie, maar die vraag of ons gehoorsame getuies van God was, of ons ons roeping vervul het, of ons, soos Paulus sê, die bediening volbring wat ons van die Here Jesus ontvang het, om kragtig te getuig vir die evangelie van die genade van God. Daarin lê ons Toekoms (met ’n hoofletter). Al gaan ons volk dan onder, solank hy maar met die evangelie op sy lippe ondergaan.
As ons maar soos Johannes die Doper, soos Stefanus, soos Paulus met ’n kragtige getuienis die dood ingeslinger word!
Maar daar is nog meer. Paulus is gegryp deur sy taak. Alles kom op gehoorsaamheid aan. Die Gees getuig egter van boeie en verdrukking. Tog sê hy: Ek bekommer my glad nie. Hoekom? Omdat Paulus weet dat sy toekoms in die hand van God is. God het sy tyd, ook vir hom. Herhaaldelik is Paulus gered uit die bek van die leeu, onder die géselslae uit, uit die skipbreuk, by geleentheid van ’n byt deur ’n giftige adder. God het hom gespaar totdat sy taak klaar was. Waarom sou hy hom dan bekommer? By God is hy veilig.
God sal ons wel bewaar solank Hy vir ons ’n taak het. Maar Hy weet wanneer die taak voltooi is. Ons gaan intussen voort. Ons bekommer ons nie. Ons ag nie ons lewe vir onsself dierbaar, asof alles daaraan geleë is nie. Ons ag die Godsryk bo alles en ons vertrou God, in die ernstige begeerte dat Hy ons die geleentheid sal gee om terwille van sy saak (en nie terwille van ons eie voortbestaan of gerief nie) die bediening te voltooi wat ons van Jesus Christus ontvang het, nl. die kerstening van die donker heidendom van Afrika!