Die nuwe Kerkorde – Pleidooi vir voorlopige aanvaarding

DIE NUWE KERKORDE
Nie haastig wees nie! Pleidooi vir voorlopige aanvaarding
Deur Dr. W. D. JONKER, Potchefstroom-Noord
Die Kerkbode, lxxxvii(5), 1 Februarie 1961, 145 – 147.

Hoe noodsaaklik snelheid en vaartbelyndheid vir die optrede van die kerk veral in ons tyd ook al mag wees, die wysheid eis van ons dat ons nie aan deeglikheid sal inboet wat ons aan tyd wen nie.  Dit geld veral by gewigtige momente op die weg van die kerk, soos wat ons onder andere sal belewe wanneer die nuwe kerkorde, D.V., aanvaar sal word en die daarmee saam hangende organiese eenwording van die vyf gefedereerde N.G. Kerke ’n werklikheid sal word.  Veral by so ’n “kruispunt” in die geskiedenis van die kerk in Suid-Afrika verwag die Here van die kerk seker van ons die grootste moontlike versigtigheid, openhartigheid, deeglikheid en visie.

’n Kerkorde word nie elke dag opgestel en ingevoer nie.  Selfs nie eers eenmaal in elke geslag of in elke een nie.  Kerkordes besit deurgaans die eienaardigste vermoë om te bly.  Die Dordtse Kerkorde van 1618/1619 is eers twee eeue later vervang deur die Reglement van 1816, waaronder die Nederlandse Hervormde Kerk vir 134 jaar lank gesug het totdat in 1950 ’n nuwe kerkorde ingevoer kon word.  Die Franse Kerk het eers in 1946 ’n omwerking van betekenis gegee van hulle Discipline Ecclésiastique waarvan die fondamente in 1559 gelê is, en ’n mens hoef maar aan die blywende karakter van die Skotse “Book of Discipline” te dink om die waarheid van hierdie stelling ten volle te besef.  Selfs die Gereformeerde Kerke in Nederland het meer as sestig jaar met die gewysigde Dordtse kerkorde gelewe voordat hulle ’n nuwe kerkorde aangepak het.  En lewe ons self nie tot vandag nog met die Wette en Bepalinge wat hulle geboorte minstens formeel in 1824 moet soek nie?  As die Kerk ’n nuwe kerkorde wil invoer, moet hy weet wat hy doen, want hy verrig ’n daad wat betekenis gaan hê vir geslagte tot in ’n moontlike verre toekoms. ’n Kerkorde stempel die Kerk vir eeue.

Met ’n kerkorde moet ’n mens dus veral nie haastig wees nie. Die meeste moontlike sorg moet aan so ’n stuk bestee word, sodat wanneer die finaal vasgestel word, dit die allerbeste moet verteenwoordig waartoe die kerk in sy geheel op daardie tydstip in staat is.

Voorbeeld van ander Kerke

Die ander kerke doen dit so.  Die Nederlandse Hervormde Kerk het aan hulle kerkorde bv. lank en volhardend gewerk, waarby nie alleen die arbeid van hulle allerbeste teologiese kragte te pas gekom het nie, maar waarby daar geleentheid gegee is aan die hele kerk om ’n positiewe bydrae te lewer.  ’n Lewendige diskussie oor al die moontlike aspekte van die saak is in die kerklike en teologiese tydskrifte en in pamflette gevoer, sodat selfs elke belangstellende lidmaat op die hoogte kon wees met die kerkordelike vrae en desgewens ’n bydrae kon lewer.  Veral is die nuwe kerkorde deur elke classis uitvoerig bestudeer, sodat talle waardevolle wenke aan die Sinode oor die aangeleentheid opgestuur kon word.  Dieselfde prosedure vind ons ook by die Gereformeerde Kerke in Nederland.  Veral tref dit dat albei hierdie kerkgemeenskappe kontak gesoek het met ander Kerke wat ’n presbiteriale kerkinrigting daarop nahou en hulle om advies gevra het.  So het die Hervormde Kerk gebruik gemaak van advies van die Gereformeerde Kerke, en die Gereformeerde Kerke het minstens op een punt die advies opgevolg wat afkomstig was vanuit die N.G. Kerk in Suid-Afrika.  Ook ander kerke werk jare lank aan ’n kerkorde voordat dit finaal vasgestel word.

Die sitting van die Sinode in Dordrecht, Nederland, 1618-1619

Dit sal nie verstandig wees as ons in die N.G. Kerk haastiger te werk wil gaan nie. Ons mag nie uitgaan van die standpunt dat ander kerke wel tyd nodig het vir deeglike werk, maar ons nie. So ’n gedagte sal dan ook nêrens by ons opkom nie.

Die nuwe kerkorde soos deur die Raad van die Kerke aanvaar in Mei 1959, is ’n mooi stuk werk en die opstellers daarvan mag gerus alle eer kry vir die feit dat hulle aan ons ’n stuk werk van sodanige gehalte geskenk het.  Die groot beginsels daarin is suiwer, talle formuleringe is uitstekend en die grootste meerderheid van die 70 artikels sal seker deur die kerk by ’n eventuele finale redaksie onveranderd gelaat kan word.  Maar by alle waardering wat daar vir die nuwe kerkorde moet wees, is daar nog steeds plek vir die vraag of daar nie aspekte is waarin so ’n kerkorde verbeter kan word nie.  Die opstellers van die kerkorde sal die laaste mense wees wat wil beweer dat hulle werk nie verbetering of aanvulling nodig het nie.  Maar wat meer as dit is: die kerk in sy geheel moet ook by ons die geleentheid kry om aan die nuwe kerkorde mee te werk.  Ons kan nooit by voorbaat sê dat dit nie positiewe vrug sal afwerp nie.  Terwyl die geleentheid hom nou voordoen om ’n nuwe kerkorde daar te stel, waarom sal ons nie die geleentheid aangryp om alle moontlike middele ter hand te neem wat die finale redaksie van die kerkorde meer sal laat wees as die resultaat van enkele deskundiges se moeitevolle arbeid nie?

Gevaar van Huidige Prosedure

Ek vrees dat die weg wat tans in vooruitsig gestel word, waarby die verskillende Sinodes slegs enkele wenke meegee aan hulle afgevaardigdes na die Algemene Sinode, wat dan in “konferensie” met die ander afgevaardigdes die kerkorde finaal sal formuleer, nie hieraan sal voldoen nie.  Ons Sinodes is te groot om oor elke afsonderlike punt in die kerkorde werklik indringend te beraadslaag.  Gevolglik staan dit by voorbaat vas dat die Sinodes se wenke tot die minimum beperk sal word.  En dan word die wenke – wat ook al dáárom min moet wees, dat dit die eenwording nie sal vertraag nie – deur ’n eweneens groot konferensie van afgevaardigdes hanteer.  Die gevolg sal net wees dat die kerkorde aanvaar sal word min of meer soos hy nou is.  Dus: sonder dat daar werklik indringend oor alle aspekte beraadslaag, geredeneer en gestudeer is.  Ook sonder dat die hele kerk die geleentheid gehad het om saam te werk.  Ons mag niks minder vra nie, as dat die kerkorde deur die meule heen moet gaan: die Ringe moet hom veral – liefs op ’n spesiale vergadering – noukeurig bestudeer, en dan met hulle wenke kom.  Juis ’n kerk wat soveel ekumeniese kontakte as die N.G. Kerk daarop nahou, behoort dan ook sy nuwe kerkorde aan ander kerke met ’n presbiteriale inrigting voor te lê vir kommentaar en wenke.  Waarom nie?

Moontlik Aangewese Weg

Is die aangewese weg nou nie dat die verskillende Sinodes die bestaande nuwe kerkorde voorlopig aanvaar as ’n basis vir die organiese eenwording, maar dat daarmee saam aan die nuwe Algemene Sinode die opdrag gegee word om dit as een van sy eerste take te sien om die nuwe kerkorde te finaliseer en sodanige wysiginge aan te bring as wat nodig mag blyk te wees nadat daar rekening gehou is met die wenke wat ingekom het van die verskillende Sinodes, die Ringe of selfs Kerkrade, en moontlik ook van ander gereformeerde kerke nie?  As enigste stipulasie behoort daarby gestel te word dat die kerkorde in finale redaksie niks moet bevat wat in stryd is met Gods Woord en die beginsels van die gereformeerde kerkregering soos dit veral in art. 30-32 van die Nederlandse Geloofsbelydenis tot uitdrukking kom nie.  Die Algemene Sinode vind dan sy “regsgrond” in die feit dat hy gekonstitueer is uit wettig afgevaardigde ampsdraers met ’n duidelike mandaat uit al die verskillende Sinodes, op basis van die voorlopig aanvaarde nuwe kerkorde.  Staande op hierdie basis, gaan hy aan die werk en benoem dadelik ’n breë kommissie (met verteenwoordigers uit die verskillende Sinodes en die professore in kerkreg) wat hom toelê op die bestudering van alle onderdele van die kerkorde en die finalisering en afwerking daarvan sowel as van huishoudelike reëlings en ander stukke wat noodsaaklik sal wees vir die orde en arbeid van die Algemene Sinode.  Die kommissie kan dan rekening hou met inkomende advies en aan die volgende Sinode ’n weloorwoë finale stuk voorlê vir behandeling.

Beantwoording van Besware

Die beswaar kan moontlik gemaak word dat die verskillende Sinodes op hierdie wyse dus tot organiese eenwording moet besluit sonder om definitief te weet hoe die finale redaksie van die kerkorde as “akte van vereniging” daar sal uitsien, wat dus beteken dat hulle op ’n min of meer “onsekere basis” tot die eenwording moet besluit.  Dit is egter ’n ongegronde beswaar.  Die vernaamste “akte van vereniging” is tog ons gemeenskaplike belydenis.  Daarby kom die voorlopig aanvaarde kerkorde wat die beginsels bevat waarop die vereniging berus, beginsels wat – in soverre as hulle in ooreenstemming met Skrif en belydenis is – nie verkrag mag word by die wysiging en/of uitbouing van die kerkorde nie, maar miskien net konsekwent toegepas moet word en verder uitgewerk moet word.  En in die derde plaas sal dit alles moet geskied deur ’n vergadering van ampsdraers wat die hele kerk verteenwoordig en volgens die belofte van Christus mag reken op die leiding van Sy Heilige Gees.  En in die vierde plaas sit daar van elke Sinode ’n eweredige aantal afgevaardigdes wat daarvoor sorg kan dra dat die Algemene Sinode nie die kerkorde sodanig wysig, dat dit in stryd kom met Gods Woord of dat dit die belange van ’n bepaalde provinsie aantas nie.

Meer waarborg as dit, meen ek, is tog seker nie nodig nie, en word in elk geval ook nie gebied deur die weg wat die Raad van Kerke in vooruitsig gestel het nie.  Die Sinodes moet daarvolgens immers die kerkorde aanvaar en hulle wenke aan hul afgevaardigdes meegee, wat in “konferensie” met ander afgevaardigdes oor die finale vorm van die kerkorde moet besluit.  Maar vereers: watter gesag het ’n konferensie?  En verder: watter “waarborg” het die Sinodes dat hulle wenke deur die konferensie aanvaar sal word of dat die konferensie nie ingrypende veranderinge in die kerkorde sal aanbring nie?  Is die onsekerheid nie tans groter, en dit sonder die waarborg dat die kerkorde oor en oor geherkou sal word voordat dit finaal vasgestel word nie?  Alles rus hier – tereg – op vertroue.  Daarom moet die Algemene Sinode ook vertrou word met die finalisering van die kerkorde – maar dan nadat die hele kerk hom rustig daaroor kon besin.  Dit gaan ook nie op om te sê dat die kerkorde eers vasgestel moet word, sodat die Sinode op grond daarvan kan konstitueer nie, want die voorlopig goedgekeurde kerkorde is dan mos daar, en die belydenis is daar en die Woord is daar.  Dáárop konstitueer die Sinode, en dan gaan hy die kerkorde finaal maak, soos dit ook was op die eerste Sinode van Emden, 1571.

Ons moet nie bang wees vir hierdie weg wat omslagtiger, maar deegliker is nie.  Waarom sal ons oorhaastig wees?  Kan ons enigiets verloor as die kerkorde drie jaar later eers finaal vasgestel word?  Nee, inteendeel, ons kan veel wen.  Dit sal die studie van die kerkreg stimuleer en belangstelling vir kerkordelike vrae opwek by talle ampsdraers en gemeentelede.  En dit skep die geleentheid om aan die kerk vir die lange toekoms die beste kerkorde mee te gee waartoe ons ganse kerk op die oomblik in staat is.