Wat is ’n Sinode?

Wat is ’n Sinode?
Die Kerkbode, lxxxvii(12), 21 Maart 1961, 398/9.
Deur W. D. J.

Nee, dit is nie my bedoeling om kerkregtelik ’n akkurate definisie te gee van wat ’n sinode is nie, hoewel ek glo dat wat hier gesê word, ook in die kerkreg allesbeslissend is.  Dit gaan maar om ’n paar opmerkinge na aanleiding van ’n uiters belangrike artikel oor die wese van ’n sinode wat deserdae onder my oë gekom het.  Daarin word die aandag gevestig op ’n uitspraak van Hollaz, ’n oud-Lutherse teoloog, wat min of meer soos volg lui: “Die onsigbare voorsitter van ’n sinode is die Heilige Gees (Hand. 15 : 28) wat deur middel van die Woord wat in die Heilige Skrif vervat is, spreek en leer en die gedagtes van die lede van die sinode verlig en lei.”

Daarmee is meteens die wesens-verskil tussen ’n sinode en enige ander menslike vergadering aangeraak.  ’n Sinode mag nooit gelykgestel word met die hoofbestuur van ’n vereniging wat per meerderheidsbesluit “die wil van die lede van die vereniging” tot uitdrukking moet laat kom nie.  Allermins is ’n sinode vergelykbaar met ’n soort parlementêre byeenkoms waar op “demokratiese” vlak die wil van die volk deur middel van hulle afgevaardigdes tot gelding gebring moet word.  Nee, want dit mag op ’n sinode juis nooit gaan om “die wil van die lede” nie, maar uitsluitend om één ding: die wil van God. Daarom moet ’n sinode steeds “oop” wees, oop na Bo.  Hy moet onbelemmerd en eerlik soek na die leiding van die Heilige Gees wat teenwoordig is en beslis deur Gods Woord die sinodelede sal lei, as hulle daartoe gewillig is.  Maar ’n sinode hou op om “sinode” te wees en word sommer ’n gewone, menslike vergadering, as nie die Woord van God nie, maar die wil van die lede daar die deurslag gee.  (Waarmee nie gesê is dat die wil van die lede in bepaalde gevalle nie sodanig geheilig kan wees, dat dit saamval met wat gehoorsaamheid aan Gods Woord is nie.  Dit moet die sinode egter biddend toets.)

’n Sinode is dus ’n samestroming van die ampte om onder die leiding van die Heilige Gees te soek na Gods wil vir Sy kerk, en ’n egte sinodale besluit moet nie lui: “Met meerderheidstem is besluit…” nie, maar moet sy gesag daaraan ontleen dat dit kan lui: “Die Heilige Gees en ons het besluit…” (Handelinge 15: 28).  Die kenmerk van ’n goeie sinodale besluit is dat die sinode dit onbevrees aan die gemeentes aanbied met die uitnodiging om self ook maar in die lig van die Skrif die saak te oorweeg en – as dit nodig is – vanuit die Skrif die besluit te kritiseer.  Die sinodelede moet dus met hulle beraadslaginge begin in die gewilligheid om nederig gehoor te gee aan wat die Gees vir die gemeentes wil sê.

Geen sinodelid moet, uit watter oorweging ook al, uitgaan van die standpunt dat sy saak moet seëvier nie.  Oor wie?  ’n Sinode moet veral versigtig wees om nie oor die Heilige Gees te seëvier nie.  Met die woorde van Hollaz in gedagte, besef ’n mens met hoeveel biddende huiwering ’n sinodale saal betree moet word, kinderlik gewillig om God meer gehoorsaam te wees as alle mense tesame, om onsself te kruisig en die Heilige Gees te eer deur Hom toe te laat om Sy Saak te laat seëvier.  Dan is dit werklik “sinode”.