Die Transvaalse Sinode en die status van sendelinge

DIE TRANSVAALSE SINODE EN DIE STATUS VAN SENDELINGE
Die Kerkbode, lxxxvii(26), 28 Junie1961, 866 – 869.
Deur Dr. W. D. JONKER, Potchefstroom-Noord

Daar kom in die lewe van die kerk bepaalde momente waarop die situasie ryp is vir ’n progressiewe voorwaartse stap.  Wysheid dan dat daar nie met so ’n stap getalm sal word nie, omdat die geleentheid om sodanige stap met vrug te doen, verby kan gaan.

Alles dui tans daarop dat die tyd ryp geword het om die onhoudbare situasie wat in die Ned. Geref. Kerke met betrekking tot die status van die sendelinge ontwikkel het, met ’n enkele korrekte stap tot oplossing te bring.  Dit kan gebeur as daar sonder enige voorbehoud besluit word om aan alle sendelinge wat hulle opleiding op Wellington geniet het, die “status” van predikante van die moederkerk toe te ken en hulle vir die gemeentes van die moederkerk beroepbaar te verklaar.

Sonder vrees vir teenspraak kan daar verklaar word dat die Transvaalse kerk vir hierdie stap volkome ryp is.  Toe die aangeleentheid op die jongsgehoue Transvaalse Algemene Sinode bespreek is, het dit geblyk dat daar geen genoeë geneem kon word met die aanbevelinge van die Raad van Kerke oor hierdie aangeleentheid nie.  Ook die Raad van die Kerke beveel aan dat die statuskwessie opgelos word, maar die weg wat daarvoor geopen word, is vir die gevoel van die Transvaalse broeders nog te omslagtig en in ’n sekere sin ook onprakties.  Die Raad van die Kerke het, naamlik, besluit dat sendelinge wat ’n vierjarige kursus deurloop het, of in besit is van ’n teologiese graad of diploma, geleentheid gegee moet word vir legitimasie in die moederkerk ná ’n colloquium doctum terwyl sendelinge wat ’n driejarige teologiese kursus gevolg het, eers nog ’n verdere jaar moet gaan studeer aan die Kweekskool op Stellenbosch of die Teologiese Fakulteit in Pretoria voordat dieselfde moontlikheid vir hulle oop sal wees.  Juis teen hierdie weg wat geopen is vir die opheffing van die statuskwessie, het daar op die Transvaalse Sinode bedenkinge opgekom.

Nie Verskuif of Verskerp nie

Immers, as die statuskwessie opgelos moet word, dan moet dit opgelos en nie verskuiwe of verskerp word nie.  En is dit nie presies wat gaan gebeur as daar ’n dergelike verskil gemaak gaan word tussen broeders met ’n drie- en ander met ’n vierjarige kursus nie?  Hulle is almal bedienaars van die Woord, deur die kerk toegelaat om op dieselfde terrein presies dieselfde arbeid te verrig, maar nou word hulle skielik in twee kategorieë verdeel op grond van ’n faktor wat eintlik nie hulle skuld is nie, maar teruggaan op ’n reëling van die kerk self.  Immers, die kerk het op ’n bepaalde stadium geoordeel dat ’n driejarige opleiding voldoende is; nou kom hy en diskrimineer teen die manne wat daardie opleiding geniet het wat deur hom aangebied en voldoende beskou is.  Dit tref meestal net die ouere broeders wat in die hitte van die stryd gestaan het en onskatbare dienste gelewer het.  Vir hoeveel van hulle sal dit in hierdie stadium moontlik wees om terug te gaan vir ’n jaar verdere opleiding?  Kan die kerk dit bekostig om ’n groot aantal sendelinge in hierdie stadium uit die veld te neem?  ’n Mens kan nou al voorspel dat daar maar min van ons broeders sendelinge sal wees wat van hierdie weg gebruik sal maak.  En hoewel dit nie so bedoel is nie, kan dit maklik opgeneem word as ’n soort taktiek wat toegepas word; die deur word skynbaar geopen, maar bly in werklikheid op slot.

Buitendien hinder dit ’n mens dat die saak waarom dit gaan, langs hierdie weg nie opgelos word nie, maar eintlik net verskerp word, deurdat dit in die Sendingkerk noodwendig die indruk moet maak dat hulle leraars minderwaardig is, nie goed genoeg vir die blankes nie en half-geleerd.  Kan die kerk dit in hierdie stadium bekostig om so ’n refleksie te werp op ons sendelinge?  Ek is oortuig daarvan dat dit nie mag nie.  Wat meer is, die posisie dat sommige sendelinge wél en ander nie in die moederkerk beroepbaar is nie, bring ’n dusdanige kunsmatige skeidslyn tussen manne wat in dieselfde amp staan dat dit die toestand waarmee ons tans te doen het, net verskerp.  En as die jaar opleiding wat gevra word, onontbeerlik was, dan was dit alles niks.  Maar is dit nie waar dat manne wat reeds jare lank diens doen, miskien deurgaans meer praktiese en teologiese kennis besit as wat op jonger leeftyd in ’n enkele studiejaar opgedoen sou kon word nie?  Niemand twyfel daaraan dat ’n studiejaar vir enige bedienaar van die Woord vrugbaarder sal wees nie, maar dan moet dit nie net skielik vir ons duidelik word wanneer ons oor die sendelinge gaan praat nie.  Dan moet ons almal liewer ’n jaar gaan studeer.  Wanneer ’n mens dus enigsins oor die saak nadink, begryp jy waarom die Transvaalse Sinode nie veel gevoel het vir die weg wat deur die Raad van die Kerke aangedui is nie.  Gevolglik het die Transvaalse Sinode die beginsel aanvaar dat aan alle sendelinge sonder onderskeid die status van predikante van die moederkerk toegeken moet word ná ’n colloquium doctum sonder meer, en dat by die te worde gekonstitueerde Algemene Sinode aangedring sal word om hierdie beginsel vir die hele kerk te aanvaar.  In die Transvaalse Sinode het daar geen enkele stem opgegaan om die teendeel te bepleit nie en ’n mens het die indruk dat daar oor hierdie saak ’n groot mate van ooreenstemming bestaan.

Maar nou is daar tog ook in die Transvaalse besluit iets wat ’n mens by kalmer oorleg noodwendig moet hinder.  Die saak is aan die einde enigsins oorhaastig afgehandel en die voorstel wat uiteindelik aanvaar is, is geformuleer sonder dat dit eers in al sy konsekwensies deurdink is.  Gevolglik voel ’n mens nou agterna dat daar in die besluit ’n element opgeneem is wat liewer agterweë moes gebly het.  Ek bedoel die kwessie van die colloquium doctum.  Dit is in die sluit opgeneem na aanleiding van die aanbeveling van die Raad van die Kerke.  Tog is dit duidelik dat hierteen sommige van dieselfde besware ingebring kan word wat hierbo genoem is.  Daarby kan in nog ’n ander groot beswaar, nl. dat ’n colloquium doctum tog impliseer dat hier ondersoek gedoen gaan word na “die sedelike gedrag … asook omtrent die gehegtheid aan die leer van ons kerk” (Wette en Bepalinge 1957, bl. 71).

As dit egter moet impliseer dat die sendelinge getoets moet word ten opsigte van hul regsinnigheid, hul getrouheid aan die leer van die kerk, watter refleksie werp die kerk dan op die sendelinge én ook op homself?  As dit nie geïmpliseer word nie, kan die colloquium doctum in elk geval maar agterweë gelaat word, want dan is dit ’n niksseggende formaliteit.  As dit wel geïmpliseer word, vra ’n mens jou af of die kerk homself nie meer vertrou nie, want daardie manne is tog deur die kerk self toegelaat tot die bediening van die Woord nadat hulle hul gehegtheid aan die leer onmisverstaanbaar duidelik moes betuig, en sedertdien staan hulle tog onafgebroke onder die opsig van die kerk.  En bedien hulle nie sedert jaar en dag by talle geleenthede die Woord van die kansels van die moederkerk nie?  Van waar nou skielik die noodsaaklikheid om sulke manne te gaan “toets”?

Is dit Billik?

Daar is egter nog ’n ander gewigtige beswaar teen die gedagte van die colloquium doctum.  Dit is die beswaar dat ’n colloquium doctum aangevra moet word deur die persoon wat beroepbaar verklaar wil word.  Met ander woorde: dit lê die inisiatief by die broeders sendelinge.  Diegene van hulle wat in die moederkerk beroepbaar wil wees, moet daarvoor aansoek doen.  Dus: nie die kerk oordeel dat alle bedienaars van die Woord in alle opsigte gelyk moet wees en dieselfde regte en verpligtinge moet besit nie, maar die individuele sendeling moet daaroor besluit of hy in die moederkerk beroepbaar wil wees of nie.  Dit gaan dan om wat die sendeling wil, nie wat die kerk wil nie.  Hoogstens laat die kerk dit dan aan sendelinge wat ’n sodanige wil daarop nahou, toe om hulle wil te bevredig.

Maar is dit billik?  Sal talle sendelinge dan nie voel om maar by die status quo te bly, aangesien sy aansoek om beroepbaarstelling in die moederkerk die indruk kan wek dat hy nou skielik nie meer tevrede is om maar net ’n sendeling te wees nie?  Dit is tog duidelik dat hierdie saak alleen bevredigend opgelos kan word indien die kerk die inisiatief neem en alles regstel wat ook maar die skyn kan verwek dat daar twee soorte van evangeliedienaars is wat nie gelyk is nie.  Die kerk het alle belang daarby om die saak reg te stel; nie net die sendelinge het daarby belang nie.  En die aangewese weg is om sonder meer alle sendelinge beroepbaar te verklaar vir alle gemeentes van die moeder- en dogterkerke en die dubbele aanspreekvorm (wat wel nie ’n prinsipiële saak is nie, maar tog ’n saak met praktiese implikasies) ten ene male te laat vaar.

Swak Argumente

Daar is enkele argumente wat altyd weer terugkeer om hierdie progressiewe stap te bestry, maar hulle is van bedenklike aard, want een en almal van hulle werp ’n refleksie op die kerk self en behoort dus eintlik daartoe te dien om ons juis aan te spoor om ’n pynlike saak reg te stel.  Op die argument van die opleiding gaan ons hier nie verder in nie; daaroor is hierbo reeds genoeg gesê.  Ek noem net die kwessie van die geldelike implikasies wat aan hierdie stap verbonde sal wees.  Dit is ’n argument wat liewer agterweë gelaat moet word, want dit openbaar ’n geweldige wondplek: dat ons sendelinge wat in die vuurlinie staan, dikwels moet arbei sonder om werklik sorgvry gestel te word wat die geldelike aspek betref.  Dikwels kan hulle nie ordentlik voorsiening maak in hulle gesinne se behoeftes nie.  Nou gebruik ons die feit dat hulle gelukkig minder lewensonderhoud as ’n predikant van die moederkerk ontvang, as ’n argument om die statuskwessie mee te beslis!  Veral is die saak nog pynliker as ons let op die pensioene.  Dit moet tog moontlik wees om ’n praktiese weg te kan vind en nie hierdie swakste van alle argumente deurslaggewend te laat wees nie.  Die Transvaalse Sinode het ’n praktiese uitweg uit ’n moontlike geldelike probleem probeer vind deur te aanvaar dat ook predikante in die vervolg sal kan deel in die huidige pensioenskema van die sendelinge.  Die broeders sendelinge is seker tevrede om selfs hierdie vreemde reëling te aanvaar, want dit gaan hulle werklik nie om grater salarisse of breër pensioene nie!

Op die argument dat te veel sendelinge beroepe na die moederkerk sal aanneem, hoef ons nie eers in te gaan nie.  Wie kan ook maar vir ’n enkele oomblik beweer dat ons sendelinge soos voëls op ’n tak sit en net kyk wanneer hulle kan wegkom van die roeping wat hulle van God ontvang het, nl. om die evangelie aan die heidene te verkondig?  Buitendien sal dit vreemd wees as die gemeentes van die moederkerk nou skielik ’n voorliefde ontwikkel vir sendelinge.  Moontlik ontwikkel ons sendingmeentes dan weer ’n voorliefde vir meer as een swaarwigtige broeder predikant!  Ons kan dit alles rustig in Gods hand laat.  Dit sal ons almal goed doen om dit ’n keer te probeer.  Ons lewe buitendien in ’n oorgangstydperk wat hierdie dinge betref en moontlike probleme wat mag ontwikkel, sal hulleself oplos, aangesien die opleiding van die sendelinge op Wellington tog tot ’n stilstand gaan kom.  Laat ons daarom nie te swaarmoedig na dinge kyk nie: wie die regte ding doen, hoef nooit te vrees nie.