Die Beroepbaarheid van Sendelinge in Moederkerk

Die Beroepbaarheid van Sendelinge in Moederkerk.
MENING UIT TRANSVAAL
Deur Dr. W. D. JONKER, Actuarius, Tvl.
Die Kerkbode, lxxxix(12), 1962-03-21, 396/7.

Die besluit van die Kaapse Sinode om alle diensdoende sendelinge sowel as die sending-kandidate wat in 1961 en 1962 aan die Wellingtonse Sending-instituut afstudeer, ook vir moedergemeentes beroepbaar te verklaar,  het die vraag laat ontstaan of broeders sendelinge tans ook beroepbaar is in die Transvaalse moedergemeentes, en of die sendelinge wat tans in die Transvaalse Kerk diens doen ook beroepbaar is in moedergemeentes.  Ten einde duidelikheid ten opsigte van die posisie te bring, moet ons daaraan herinner dat die besluit van die Kaapse Sinode slegs betrekking kan hê op diensdoende sendelinge wat tans verbonde is aan die sendingwerk van die Kaapse Kerk.  Hoewel die Transvaalse Algemene Sinode in beginsel besluit het dat alle sendelinge na ’n colloquium doctum vir moedergemeentes beroepbaar gestel behoort te word, het die Transvaalse Sinode nog nie sover as die Kaapse Sinode gegaan om dit ook in die praktyk deur te voer nie, maar het die hele aangeleentheid na die komende Algemene (Nasionale) Sinode verwys wat. D.V. in Oktober vanjaar sal vergader.  Eers wanneer op die komende Algemene Sinode ’n algemene beleid in hierdie verband geformuleer is, sal die verskillende Streeksinodes van die huidige Transvaalse Kerk finale besluite kan neem wat die saak in die reine kan bring.  Tot tyd en wyl dit gebeur het, is die sendelinge wat binne die ressort van die Transvaalse Algemene Sinode diens doen en aan die Transvaalse Sendingkerk verbonde is, of wat deur die Transvaalse Algemene Sinode gelegitimeer is maar nog sonder ’n vaste werkkring is, nie beroepbaar in moedergemeentes nie.

Kragtens die ooreenkoms tussen die verskillende Sinodes om mekaar se legitimasie te erken, is dit juridies ’n feit dat die sendelinge wat deur die Kaapse Sinode tans in moedergemeentes beroepbaar verklaar is, ook beroepbaar is in die moedergemeentes van die Transvaalse Kerk.  Ons is egter daarvan oortuig dat die Kaapse Sinode nie bedoel het om so ’n onreëlmatige posisie te skep dat hulle sendelinge, nl. in die Transvaalse moedergemeentes beroepbaar sou wees, terwyl die Transvaalse Kerk se eie sendelinge dit nie is nie.  Dit word bewys deur die feit dat hulle die hele aangeleentheid van hulle kant ook na die komende Algemene Sinode verwys het, met die oog daarop dat daar ’n eenvormige beleid vasgelê kan word.  Buitendien is die onderlinge ooreenkoms om mekaar se legitimasie te erken, gebaseer op bepaalde veronderstellinge wat nie sonder meer van toepassing is op die broeders sendelinge nie, en daarom is dit wenslik dat geen Transvaalse moedergemeente die kerk in ’n verleentheid plaas deur ’n broeder sendeling uit die Kaapse Kerk te beroep voordat die Transvaalse Sinodes volle geleentheid gehad het om finaal oor die saak te besluit nie.  Met die oog op die oneweredige posisie wat tans geskep is deur die besluit van die Kaapse Sinode – ’n posisie wat, D.V. binne ’n jaar moontlik volledig reggestel kan word – sal dit verstandig wees vir moedergemeentes van die Transvaalse Kerk om geduld te gebruik en met die beroeping van sendelinge na moedergemeentes te wag tot tyd en wyl die Transvaalse Kerk dit bekragtig het. Dit geld nog te meer, aangesien die huidige posisie in verband met die pensioene van die sendelinge dergelike beroepende gemeentes in groot verleentheid kan bring.

Die feit dat ons hierdie noodsaaklike reserwes stel ten einde die goeie orde in die kerk te bewaar, neem egter niks weg van die feit dat ons die saak waarom dit in die besluit van die Kaapse Sinode gaan ten volle steun nie, en ons is daarvan oortuig dat, hoewel die Kaapse besluit die Transvaalse Kerk enigsins in ’n verleentheid plaas, omdat dit die Transvaal voor ’n voldonge feit gestel het, daardie besluit nogtans die gevoelens van die Transvaalse Algemene Sinode in ’n groot mate vertolk.