BOEKBESKOUING
DIE SENDINGBEPALINGE VAN DIE NED. GEREF. KERK VAN TRANSVAAL,
deur Dr. W. D. Jonker; prys: 40c; pp. 59; uitgewers: Die Studiegroep oor “Kerk en Wêreld”.
Die Kerkbode, xc (14), 3 Oktober 1962, 473, 474.
Die skrywer is bekend as actuarius van die Transvaalse Sinode. Wat hy hier aanbied, lê dan ook op die terrein van die kerkreg en kerkregering, hoewel toegespits op die sendingbeleid van ons kerk in Transvaal. Dit is hom dan ook te doen om in die eerste plek die sendingbeleid van hierdie Sinode krities te ontleed (p. 6); ewenwel raak ook ons kerklike beleid in ander provinsies gou genoeg daarby betrokke (p. 7, 8).
In die betoog van dr. Jonker is daar gedagtes wat ons met waardering kan onderskryf; o.m. noem ons die volgende: (a) kritiek op oorheersing van Dogterkerke deur die Moederkerk op grond van geldelike bydraes (p. 18) en d.m.v. ’n buitestaande Plaaslike Sendingkommissie (p. 16-18); (b) die pleit vir groter selfstandigheid van Dogterkerke (p. 14, 15, 16); (c); nadruk op die noodsaaklike inheemswording van die Christendom (p. 31, 32); (d) met afwysing egter van die volkskerk (p. 55); (e) aandrang om groter erns met die eenheid van die kerk (p. 30, 32) en (f) meer daadwerklike samewerking tussen Moederkerk en Dogterkerke (p. 55; (g) daarby kom die nadruk op die Heilige Skrif as enigste norm vir die kerkregering (p. 5) en sy voorkeur vir gesonde gereformeerde kerkregtelike beginsels (p. 7).
Maar die skrywer laat dit nie hierby nie; sy hele betoog verraai sy kritiese houding nie net teenoor die sendingbeleid in Transvaal nie, maar teenoor die hele Ned. Geref. Kerk in S.A., vir wie hy hier “die regte koers” wil aanwys (p. 51). Hy dring dan ook aan op ’n “volledige en radikale” hersiening as die Kerk hom wil vrywaar teen die voor die hand liggende misverstande dat sy beleid voortspruit uit die “kleurgevoel van die blanke” (p. 9), “immorele en onchristelike kleur- en rassediskriminasie” (p. 10) en “meerderwaardigheid” (p. 11).
Dr. Jonker laai die eerste deel van sy brosjure egter so swaar teen die gewraakte “negatiewe” formuleringe van Transvaal dat dit nie minder as 18 bladsye dek nie! Dit is egter duidelik dat hy meer wil hê as net ’n “positiewe” formulering van beleid; hy pleit in werklikheid, met afwysing van ons kerk se tradisionele beleid, vir ’n ander beleid; self vat hy sy konklusie saam in die volgende: “dat dit nóg in die lig van die Skrif, nóg volgens die beginsels van die Gereformeerde kerkreg toelaatbaar is om verskillende Ned. Geref. Kerke (in die sin van afsonderlike kerkverbande vir die verskillende volkere) parallel naas mekaar te laat bestaan” (p. 52). In die praktyk vertaal, beteken dit eenvoudig net dit: ons Ned. Geref. Kerk, met sy afsonderlike Dogterkerke, soos ons dit nog altyd geken het, staan veroordeel deur die Heilige Skrif en die Gereformeerde kerkreg – ander konklusie laat bostaande woorde nie toe nie.
Wel erken dr. Jonker die noodsaaklikheid en nut van afsonderlike voorsiening vir Bantoe, Kleurlinge en Asiate (p. 32, 52), maar dan binne dieselfde kerkverband (p. 52). Die pluriformiteit van die kerk word afgewys (p. 28, 30, 32), aangesien die eenheid van die Chr. kerk êrens tog sigbaar moet wees (p. 52-53) en wel in een “organisatoriese openbaring” (p. 27), d.w.s. in één kerkverband, één instituut (p. 22, 23, n.10, 24, 33). Juis hier maak dr. Jonker sy tragiese sprong na die Roomse kerkbeskouing. Dit baat hom weinig om vooraf daarteen verskansing te soek (p. 25): sy verwantskap met die erkende Roomse opvatting dienaangaande blyk ondubbelsinnig uit die volgende: (a) Kerk en Kerkverband is vir hom sinonieme woorde (p. 33); (b) die kerkverband behoort s.i. tot die wese van die Chr. kerk en nie slegs tot sy welwese nie (p. 25); (c) die eienskappe van die kerk in sy onsigbare gestalte as voorwerp van ons geloof, word in totaal betrek op die kerk as sigbare instituut (p. 21); (d) die opvatting dat die eenheid van die kerk van Christus nie anders verstaan kan word as ’n sigbare institutêre eenheid en eenvormigheid nie (één kerkverband, één kerkorde, één algemene Sinode, vgl. p. 33), is deur-en-deur Rooms, sowel in sy konsepsie as in sy praktiese toepassing ’n ongelukkige geboorte uit die Romeinse staatsbeskouing, maar buite die Skrif om (vgl. L. Von Ranke: Geschichte der Päpste, p. 3, 6, 9;
473
L. Boettner: Roman Catholicism, p. 21). Wat Bouwman hieroor sê (Geref. Kerkrecht, I, p. 146) kom op dieselfde neer: die eenvormige kerklike instituut is geen wesenstrek van die vroeë Chr. kerk nie, maar ’n later deformasievrug van dwaling – die Chr. kerk van die eerste eeue het die teenoorgestelde weg opgegaan, soos ook oorvloedig bevestig deur bv. Latourette (vgl. History of the Expansion of Christianity, I, p. 81, 239, 276, 331-3, 335-358).
Die wyse waarop Dr. Jonker sy teenstanders aan die kant van die dyk sit, kan ook nie aanspraak maak op wetenskaplikheid nie; deurgaans volg sy betoog hierdie patroon: sy eie opvattinge en redederinge word uitvoerig uiteengesit, maar diegene van hom verskil, word by wyse van ’n heerlike voetnoot afgemaak. Dit gebeur met proff. A. B. du Preez en F. J. M. Potgieter (p. 32 n. 26), sonder om hul argumente te noem; so doen hy ook met my standpunt (p. 9, 32) sonder dat my betoog beantwoord word, en waar hy wel ’n kort sitaat gee (p. 53-4), laat hy die feite waarop dit berus, heeltemal onaangeroerd, en die publikasie van my hand: Kerk en Volk, waar hierdie saak breedvoerig behandel word, word stilswyend, sonder vermelding selfs verbygegaan. Dit gebeur ook met Kuyper, vir wie hy kortweg opsom as “kind van sy tyd … soms die slagoffer van ’n byna liberale siening” (ook weer klaar met voetnoot no. 19 op p. 29′).
Ook materieel is die beweringe oor Kuyper onhoudbaar. Want was daar ooit ’n teoloog wat hom in prinsipe en praktyk grondiger verset het juis teen die gees van sy tyd? Sy hele openbare loopbaan en omvangryke geskrifte lê daar as afdoende bewys (vgl. maar: Het Modernisme – een Fata Morgana op Christelijk Gebied). Ook hier gaan dr. Jonker stilswyend verby aan die belangrikste bydrae wat Kuyper gelewer het op die gebied van die sendingkunde – sy indringende stellinge op die “Zendingscongres” van die Gereformeerde (indertyd nog bekend as Nederduitsche Gereformeerde) Kerke in 1890 in Amsterdam. Hierdie stelling is uitgegee deur prof. J. H. Bavinck (vgl. Historisch Document, Utrecht, 1940) en aangewys om “de helderheid van het betoog … en zuiverheid van haar beginselen” (d.i. de beginselen van het Zendingswerk) en “een diepte van inzicht, die ons met verbazing vervult” (p. i en ii). Maar nou word Kuyper se standpunt, juis op sendingkundige gebied, afgewys, sonder om selfs te kyk na hierdie bydrae (hierdie verskynsel is ook by G. C. Oosthuizen en J. J. F. Durand se dissertasies, albei onder J. H. Bavinck as promotor, te betreur).
Ons kan dit ook nie aan die skrywer toegee nie dat die Transvaalse bepaling wat nie-blankes na afsonderlike kerkverbande verwys (val. art. 3, 9, 253), alleen op rekening van die Ned. Hervormde Kerk geplaas moet word nie (p. 12). In die Kaapse Sinode het hierdie beleid ’n lang voorgeskiedenis: op die Sinode van 1829 is dit al bespreek, sedert 1834 het ons Bantoegemeentes; in 1857 kom ook Kleurlinggemeentes, terwyl die grondwet van die, Republiek Natalia hierdie beginsel huldig – almal vóór die ontstaan van die Hervormde Kerk as afsonderlike organisasie in Transvaal. Ook wil ons dit hier in bedenking gee dat ons met die nie-blanke kerke in S.A. te doen het met nog onvolkome formasies van die kerk, wat deur onvermoë van die lidmate of andersins ’n tydelike orde-reëling volg, wat eventueel moet en sal eindig.
Om af te sluit – dr. Jonker moes aan sy lesers vertel het dat die pleit vir selfstandige Dogterkerke (ekskuus vir die woord!) al deur Voetius bepleit is (vgl. H. A. van Andel), dat dit op alle groot sendingkonferensies van die vorige eeu as “die regte koers” aangewys is vir alle lande en dat S.A. op hierdie spoor gevolg het met sy Sendingkerk in 1880 op voorstel van sy sendingleiers (vgl. die “schema”, onderteken deur P. J. G. de Vos, J. H. Neethling, William Murray en C. F. J. Muller!). En dan die naïewe stelling van dr. Jonker: “die herontdekking van die Bybelse en reformatoriese visie op die wese van die kerk is ’n gawe van God aan die kerk van die twintigste eeu” (p. 13) – hoe moet ons hieroor dink? Wat dan van Barth, wat voorkeur gee aan ’n kongregasionalistiese kerkregering, sonder enige sinodale kerkverband, waarop ons skrywer soveel nadruk lê as uitdrukking van die wesenseenheid van die Christelike kerk? Wat betref hierdie pretensieuse aanspraak, dat die 20ste eeu soveel nuwe lig ontdek het oor die kerk en sy wese, wil ons dit as oortuiging stel dat, anders as by Kuyper, juis hier die gees van die tyd en kinders van die tyd aan die woord is – en ook dr. Jonker gaan nie vry uit nie. Die hardnekkigheid waarmee hy die onderskeid tussen kerk en kerkverband afwys (vgl. p. 9, 54), sy eie degradering van ons Dogterkerke as “volkskerke” (p. 55) is alleen te begryp teen die agtergrond van die holistiese kerkbeskouing waarvoor hy voel, maar wat nóg in die Skrif nóg in die Gereformeerde kerkbeskouing gegrond is. – T. N. Hanekom.