’n Brief aan Doopouers
WD Jonker,
Kaapstad, NG Kerk-Uitgewers, 1963
Liewe Doopouers
Dit is vir ons ‘n voorreg om met u te mag deel in die vreugde dat u kindjie gedoop mag word. Laat ons toe om u met u kindjie ons innigste seënwense vir die toekoms mee te gee !
Die doop wat (D. V.) aan u kindjie bedien gaan word, is so vol heerlike betekenis en so ‘n duidelike blyk van Gods ondeurgrondelike liefde, dat dit vir elke gelowige ouer tot groot seën behoort te wees om sy kindjie ten doop te bring. Daarom wil ons graag enkele aspekte van die ryke betekenis van die doop saam met u oorpeins met die ernstige Bede dat die Here dit mag gebruik om u hart te vul met dankbare aanbidding teenoor Hom vir hierdie groot gawe.
Wat gebeur daar as ‘n mens gedoop word? Daar gebeur niks minder nie as dat die Here God self daardie persoon by sy naam roep en aan hom sê soos aan Israel van ouds: „Ek het jou by jou naam geroep; jy is myne!” (Jes. 43: 1). Die doop is die sigbare bewys wat deur die Here aan ‘n mens gegee word dat Hy hom persoonlik toegeëien het. Om Bybels te praat: die doop is as ‘t ware ‘n verklaring wat deur God afgelê word dat Hy vir hierdie persoon ‘n God sal wees en dat hierdie gedoopte persoon vir Hom ‘n kind moet wees. Hy gee aan die dopeling die versekering: So waar as dit is dat jy gedoop is, so waar is dit dat Ek jou God is en jy My seun of dogter.
Dieselfde waarheid kan ons ook uitdruk deur te sê dat die doop ‘n teken en seël is van die verbond wat die Here met daardie gedoopte opgerig het. ‘n Verbond is ‘n ooreenkoms wat deur twee persone gemaak word, waarby elkeen van die twee homself verbind (vandaar die woord „verbond”) om aan die ander iets te gee of vir hom iets te doen. ‘n Huwelik is bv. ‘n verbond tussen ‘n man en ‘n vrou wat hulleself verbind om wedersyds liefde en trou teenoor mekaar te bewys. En soos twee mense met mekaar ‘n verbond kan sluit, so wil die Here ook in Sy genade met die mens ’n verbond sluit. Die verbond wat Hy met die mens maak, kom dan daarop neer dat Hy Homself verbind om vir hierdie mens ‘n God te wees, terwyl Hy hierdie mens daardeur verbind om vir Hom ‘n kind te wees. Van hierdie verbondsluiting is die doop die teken en waarmerk. Soos ‘n troupand vir ‘n vrou die sigbare bewys is van die verbondsluiting tussen haar en haar man by hulle huwelik, so is die doop die sigbare bewys vir elke gedoopte mens dat God hom tot Sy kind aangeneem het en vir hom ‘n God wil wees.
Wat beteken dit nou as God vir ‘n mens belowe om vir hom ‘n God te wees? Dit beteken dat die Here vir daardie mens alles wil wees, alles wil gee en alles wil doen wat God in Christus vir ‘n mens wil wees, gee en doen. God is vir so ‘n persoon ‘n Vader wat hom aanneem en versorg. God gee aan daardie persoon alles waarvoor Christus gesterwe het, ál die skatte van die hemel. God onderneem om in die hart van daardie mens te woon deur Sy Heilige Gees en alles tot Sy eiendom te maak wat Hy in Christus aan hom geskenk het. Daarom word ‘n mens ook gedoop in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, omdat God daardeur aan die dopeling wil betuig: Ek is jou Vader; jy is My kind! Christus is jou Verlosser; jy is gewas in Sy bloed! Jy het die Heilige Gees ontvang wat in jou sal woon en werk; Hy sal die volle verlossing en hemelse heerlikheid jou deel maak! God wil nie, ja, kán nie ‘n God wees vir ‘n mens wie se sonde nie versoen is nie. Hy wil alleen gemeenskap hou met diegene wie se sonde van hulle verwyder is. Daarom is dit dat God elke mens vir wie Hy ‘n God wil wees, eers moet reinig, eers moet was in die bloed van die Lam. As God dus in die doop aan die mens die sigbare bewys wil gee dat Hy vir hom ‘n God wil wees, dan gebruik Hy daarvoor ‘n teken wat reiniging aandui: water. Die bedoeling is dat die mens wat met water gedoop is, mag weet en daaraan vashou, dat net so seker as wat hy deur die water uitwendig gewas is, hy ook innerlik deur die bloed van Christus gewas is van al sy sonde en dat die Gees van God in hom woon om sorg te dra dat ook elke smet van die sonde wat nog in hom oorgebly het, verwyder sal word. As die Here aan ‘n mens die belofte doen om sy God te wees, dan beteken dit dus dat Hy belowe om daardie mens te reinig en te heilig en hom die volle heerlikheid van gemeenskap met God en die ewige lewe te gee. Van dit alles verseker God ons in die doop. Daarom is dit dat die formuliergebed ná die bediening van die doop so vol blydskap kan jubel: ,Almagtige, barmhartige God en Vader, ons dank en loof U dat U ons en ons kinders, deur die bloed van U liewe Seun Jesus Christus, al ons sondes vergeef het en ons deur U Heilige Gees tot lidmate van U eniggebore Seun, en daardeur tot U kinders aangeneem het; en dat U dit aan ons met die heilige doop verseël en bekragtig!”
Uit die voorafgaande is dit duidelik dat die doop die sigbare bewys vir elke gedoopte is dat God hom aangeneem het tot Sy kind, aan hom die vergiffenis van sy sonde geskenk het en die Heilige Gees aan hom gegee het. Dit is dus ‘n sigbare bewys dat niks minder nie as die volle saligheid aan die gedoopte persoon deur God toegesê is. Ons wil egter nou onmiddellik daarvan toevoeg dat die doopshandeling self nie hierdie dinge aan die dopeling skenk nie. Die doop kan geen mens se sonde vergewe nie; dit kan God alleen doen. Die doop kan van geen mens ‘n kind van God maak nie; dit kan die Heilige Gees alleen doen. Die doop kan niemand red nie; dit kan slegs Christus Jesus doen. Die doop is alleen die sigbare pand en bewys dat die persoon wat gedoop word, se sondes reeds vergewe is, die kwitansie dat sy skuld deur Christus reeds betaal is. Die doop skep nie eers ‘n verhouding tussen God en hierdie mens wat gedoop word nie, maar verklaar alleen dat hierdie persoon reeds Gods eiendom is.
Indien dit egter só gesteld is met die doop, dan sal dit vir elkeen duidelik wees dat enige persoon nie maar gedoop mag word nie. Slegs diegene mag gedoop word van wie die kerk in die lig van Gods Woord mag glo dat God vir hulle ‘n God is en dat hulle vir Hom kinders is; slegs diegene van wie die kerk mag glo dat hulle mense is met wie die Here Sy verbond opgerig het. Slegs diegene wat volgens Gods Woord lede van die verbond is, mag die teken van die verbond ontvang.
Wie is nou, volgens die Bybel, hierdie mense wat die teken van die verbond mag ontvang op grond van die feit dat God Sy verbond met hulle gesluit het? Daar is twee groepe: (a) die gelowiges en (b) die kinders van die gelowiges. Dat die gelowiges lede van Gods verbond is, is baie duidelik, aangesien geen mens ‘n gelowige kán wees nie, tensy God in Sy genade hom aangesien het, vir hom ‘n God geword het, hom gereinig het en aan hom die gawe van die geloof gegee het. Deur die geloof ontvang so ‘n persoon alles wat God aan hom wil skenk, die vergiffenis en die ewige lewe, en die doop is vir hom ‘n sigbare bewys daarvan dat dit alles sy deel geword het. Alle gelowiges is dus lede van die verbond wat reg het op die teken van die verbond. Dat egter ook die kinders van die gelowiges deel het in Gods verbond en dus reg het op die teken van die verbond, is iets wat nie vanself duidelik is nie, en as die Woord van God ons dit nie uitdruklik geleer het nie, sou ons dit nooit durf waag het om so iets te beweer nie. Die Bybel is egter baie duidelik op hierdie punt.
Die Heilige Skrif leer ons naamlik dat God van die begin van die geskiedenis van die mensdom die kinders laat deel het in die verhouding waarin die ouers tot Hom staan. Toe Adam gesondig het, het die hele mensheid (almal sy kinders) met hom in sonde geval (Rom. 5: 12, 17-19). Die kinders van Noag en Lot deel in die verlossing van hulle ouers (Gen. 6: 18; 19: 12). Toe God later Sy verbond met Abraham gesluit het, het Hy uitdruklik daarby verklaar dat Hy nie vir Abraham alleen ‘n God wil wees nie, maar ook vir sy nageslag (Gen. 17: 7). Daarom het God aan Abraham (ook) beveel om reeds op die agste dag al sy manlike nasate te laat besny, as bewys (daarvan) dat God vir hulle ‘n God wil wees soos Hy vir hulle wader ‘n God is, dat Hy hulle dus vir Hom toegeëien het, hulle die vergewing van hulle sondes geskenk het en deur Sy Gees die volle aanvaarding van Sy genade in hulle sal uitwerk.
Onder die Nuwe Verbond het dit nie verander nie. Met groot vrymoedigheid leer Paulus dat die kinders van gelowige ouers in Christus geheilig is (1 Kor. 7: 14). Op Pinksterdag roep Petrus uit dat die belofte van die Heilige Gees eweseer die deel is van die kinders van die gelowiges as van die gelowiges self (Hand. 2:38, 39). Vir die eerste Christene was die doop van die kinders van die gelowiges iets so vanselfsprekends dat daar nêrens uitdruklik oor gehandel is nie, en die doop van vyf hele huisgesinne word alleen maar vermeld (Hand. 10 : 24, 48; 16 : 15; 16 : 31-33; 18 : 8; 1 Kor. 1: 16). Daaruit kan met alle stelligheid afgelei word dat in die Nuwe Verbond, soos in die oue, die kinders van gelowiges ook ingesluit is. Dit is ‘n heerlike waarheid waaraan gelowige ouers mag vashou: dat die Here in Sy ondeurgrondelike liefde nie alleen vir ons ‘n God wil wees nie, maar ook vir die wat die naaste aan ons staan, nl. ons kindertjies. Daarin gee God ‘n geweldige bewys van Sy barmhartigheid wat altyd groter is as wat ons sou kon verwag of vermoed. Ons kindertjies kom uit ons voort en het deel aan die besmetting met die sonde wat aan ons eie is. En nou kom God en gee hulle in Sy tere ontferming ook deel aan die genade wat ons in Christus Jesus deelagtig geword het. Ja, soos hulle van die oomblik van hulle ontvangenis besmet is met sonde (Ps. 51 : 7; Job 14 : 4), so is hulle ook van daardie oomblik toegedek onder die bloed van die Lam, omdat God hulle vir Hom van daardie oomblik af toeëien! As God in Sy Woord ons dit alles leer, hoe sou ons dan kan huiwer om aan ons kindertjies die doop te laat bedien as die onderpand en waarmerk van hierdie heerlike genade van God?
Dat die kindjie op daardie oomblik as hy gedoop word, nog nie weet wat met hom gebeur nie, is geen argument om die doop van hom terug te hou nie, want dit verander immers niks aan die feit dat God reeds Sy genade aan hom toegesê het nie. Daar is baie dinge wat die kindjie op daardie tydstip nog nie weet nie, maar wat sy hele lewe gaan bepaal. Hy weet nie dat hy ‘n sondaar is nie – en tog is hy van nature ‘n kind van die toorn (Ef. 2: 3) en besmet met alle moontlike kieme van die sonde. Hy weet op daardie oomblik ook nog nie wat sy naam, sy stand, sy rykdom of armoede is nie, maar niemand twyfel daaraan nie dat al hierdie dinge werklikhede in sy lewe is op grond van sy geboorte uit sy spesifieke ouers. Net so deel hy ook buite sy wete in Gods verbond en Sy genade. Al kan hy op daardie oomblik van sy doop nog nie bewus glo in Christus nie, God het tog belowe om aan hom die Heilige Gees te gee wat die geloof in hom sal werk, en al glo hy eers baie jare later, neem dit niks weg nie van die feit dat van die kant van God al die seëninge van die verlossing reeds sy deel was vanaf die oomblik van sy ontvangenis. Hoe heerlik is dit om ons deur Gods Woord te laat leer dat God ook aan die kindertjies van die gelowiges die kwitansie wil gee dat hulle skulde deur Christus betaal is en dat hulle erfgename van die ewige lewe is, lank voor hulle nog kan besef wat dit alles beteken!
Miskien kom die vraag nou by u op, of die feit dat ‘n kindjie gedoop is, dan ook die bewys is dat hy gered is en nie meer verlore kan gaan nie? As die doop dan die sigbare bewys is dat iemand se sonde net so seker afgewas is in die bloed van die Lam as wat die gedoopte persoon uitwendig met water gewas is in die doop, beteken dit dan nie dat hy nou nie meer verlore kan gaan nie?
As antwoord op hierdie vraag wil ons u daarop wys dat die doop nie outomaties werk nie. Dit is wel ‘n sigbare en tasbare bewys dat God Sy genade aan ‘n bepaalde mens toesê, maar daardie genade van God moet tog deur die mens in die geloof aangeneem word. Ons kan niks wat God ons skenk, deelagtig word anders as deur die geloof nie. Wie die beloftes van God glo, ontvang alles wat God beloof het, maar wie die beloftes van God nie gelowig wil aanneem nie, kan nie deel in wat God aan hom wil gee nie, omdat hy dit nie wil hê nie.
Net so is dit ook met die doop. Vir ‘n mens wat glo, is die doop die seël en bewys van die vergiffenis van sy sonde. Vir die mens wat nie glo nie, is die doop waardeloos, omdat hy dit verag en nie wil ontvang wat in die doop aan hom toegesê word nie. Dit is deel van die ontsettende geheimenis van die kwaad dat dit moontlik is dat ‘n mens wat gedoop is, nogtans kan weier om te glo in die Woord en beloftes van God wat in die doop aan hom bevestig is – en dan verlore gaan. So is dit moontlik dat ‘n kindjie gedoop kan wees en die sigbare bewys van Gods vergewende genade ontvang het, en tóg nie later tot die geloof kom nie, maar teen alles in die genade van God van die hand wys. So ‘n mens vertrap Gods genade en verswaar daardeur sy skuld, omdat sy doop as ‘n ewige aanklag teen hom getuig dat God Sy hande na hom uitgebrei het, maar dat hy daardie hande van God opsetlik weggestoot het. Hy is soos die dienskneg uit Mattheüs 18, vir wie die koning ‘n geweldige bedrag skuld kwytgeskeld het, maar wat deur sy optrede direk daarna bewys dat hy die kwytskelding glad nie verstaan of ter harte geneem het nie. Die Here Jesus vertel dan dat die koning die kwytskelding van die skuld van daardie dienskneg weer ongedaan gemaak het, omdat dit geblyk het dat hy dit nie aangeneem het nie.
Van elke gedoopte kindjie mag ons glo dat hy in die verlossing deur Christus deel. As die kindjie egter opgroei en kan verstaan waarom dit gaan, moet hy van sy kant die genade wat hom toegesê is, in die geloof aanvaar. Hy moet lewe soos ‘n verbondskind behoort te lewe. Sy kant van die verbond is dat hy die goedheid van God dankbaar moet aanvaar en dat hy hom daardeur moet laat verander. Doen hy dit nie, dan gaan hy vir ewig verlore, selfs al is hy gedoop. Wanneer hy geleer het wat die doop vir hom beteken, behoort die feit dat hy gedoop is, vir hom die kragtigste oproep te wees om hom tot God te bekeer.
Ten slotte wil ons nog ‘n paar woorde sê oor die vraag hoe u as ouers geraak word deur die doop van u kindjie. Dit is duidelik dat die doop van u kindjie nie buite u as ouers omgaan nie. Dit gaan as ‘t ware deur u eie hart. Daar is minstens twee opsigte waarin u eie geestelike lewe direk betrokke is by die doop van u kind:
(a) In die eerste plek het dit uit die bostaande geblyk dat die doop slegs aan die kindertjies van gelowige ouers bedien mag word. Deur die blote feit dat u die doop vir u kindjie aanvra, bely u dus dat u gelowige mense en kinders van God is. Dit is ‘n herbevestiging van die openbare belydenis wat u eenmaal afgelê het. Die feit dat die kerkraad voordat die doop aan u kindjie bedien word, kontroleer of u bewys van lidmaatskap by die gemeente ingedien is, toon dat die kerk erns maak met daardie openbare belydenis van u. Bowendien word daar by geleentheid van die doop van u kindjie ook aan u die vraag gestel of u self glo in die evangelie van Gods genade wat in die Bybel aan ons verkondig word. U persoonlike geloof open dus die weg vir u kindjie tot die sakrament wat aan hom bedien sal word.
Natuurlik moet ons dit nie so verstaan dat die geldigheid van die doop van u kind afhang van die egtheid van u geloof nie. Die doop bly in homself altyd geldig as dit in die kerk van Christus bedien word. Dit is dus nie só dat ouers wat eers ná die doop van ‘n kindjie tot die ontdekking kom dat hulle nog nooit werklik die Here geken het nie en Hom dan met ‘n ware geloof aanneem, hoef te vrees dat die doop van hulle kindjie wat vóór hulle bekering plaasgevind het, ongeldig sou wees en weer herhaal moet word nie. Wat wel waar is, is dat sulke ouers sondig gehandel het, die kerk mislei het en dus meegewerk het daaraan dat die doop op ‘n verkeerde manier bedien is. Daarvan moet hulle belydenis doen. Die geldigheid van die doop is egter nie daardeur in die gedrang gebring nie, omdat dit as handeling van die kerk namens God ‘n objektiewe betekenis het. Dit bly staan as wekroep van die kant van God óók daar waar dit te goeder trou deur die kerk verkeerd bedien is. Wat in so ‘n geval moet gebeur, is nie dat ‘n kind wat op die manier gedoop is, oorgedoop moet word nie, maar dat hy moet glo indie toesegging wat God in elk geval in die doop aan hom gedoen het – teen alle sigbare dinge in, selfs teen die verkeerde bediening van die doop in.
Omdat dit egter duidelik die bedoeling van die kinderdoop is dat alleen die kinders van gelowiges gedoop moet word, mag u uself nie troos met die gedagte dat die doop in homself betekenis het, sodat dit geen saak maak nie of u as ouers gelowiges is of nie. Dit is vreeslik om met die heilige dinge van God op ‘n verkeerde en onverantwoordelike manier om te gaan. Moet tog nie u kindjie na die doop bring as u nie in u hart die sekerheid het dat u dit werklik mag doen omdat u self kinders van God is nie !
(b) In die tweede plek is dit uit die bostaande ook duidelik dat ons kindertjies by hulle doop nog nie verstaan waster heerlike toesegging van Gods genade aan hulle in die doop gemaak word nie, maar dat hulle later, as hulle opgegroei het, dit moet leer verstaan en in die geloof moet aanvaar. In die doop word ook die gawe van die Heilige Gees aan die kindertjies toegesê. Die Gees wil die kindertjies tot die geloof lei, sodat hulle kan aanneem wat God in die doop aan hulle belowe het. Hy maak daarby egter in eerste instansie gebruik van die ouers van die kindjie as die instrumente waardeur Hy die Woord van God aan die kind wil laat verkondig. Die ouers moet die kind van kleins af leer verstaan wat hy in Christus besit. Dit gebeur nie net deur hulle woorde nie, maar ook deur hulle gebede, hulle voorbeeld, die atmosfeer wat in hulle huis heers en die manier waarop hulle self hulle geloof uitleef. Die ouers moet aan die kind sy eerste gebedjie leer, moet hom sy eerste liedjies tot die eer van God leer sing en moet hom inlei in die waarheid van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is. ‘n Ouer behoort jaloers daarop te wees om die eerste te wees wat sy eie kind met Jesus in aanraking bring. – Dit raak egter al weer u eie geestelike lewe. Hoe kan u dit vir u kindjie doen, as u self onseker is van u verhouding tot God?
Liewe Ouers, namens die kerkraad wil ons u verseker van ons voorbidding by hierdie geleentheid wat in u lewe en veral in die lewe van u kindjie van soveel betekenis is. Mag die Here dit aan u gee om in opregtheid op die doopvrae te antwoord en die doopbelofte af te lê. Meer nog: mag Hy u die genade gee om dit in die toekoms ook nougeset na te kom!
Die uwe in Christus
Leraar:
OPGESTEL DEUR PROF. DR. W. D. JONKER