Korrespondensie: verweer teen resensie
Die Kerkbode, xci (8), 20 Februarie 1963, 271/2
Dr. W. D Jonker, Johannesburg (22/10/62)
Dit spyt my dat ek moet reageer op die resensie van prof. T. N. Hanekom oor my brosjure Die Sendingbepalinge van die Ned. Geref. Kerk van Transvaal in u uitgawe van 3 Oktober 1962, maar aangesien Die Kerkbode geen ope korrespondensie oor ’n resensie toelaat nie, en ek dus die enigste is wat iets oor die saak kan sê, is ek verplig om dit te doen, sodat moontlike wanindrukke verwyder kan word. Dit spreek vanself dat ’n antwoord in die vorm van ’n brief soos hierdie baie onbevredigend is, en ek sal liewer op die belangrike sake waaroor prof. Hanekom van my verskil, op ’n ander manier wil ingaan. Ek wil hier slegs enkele dinge noem om aan te toon dat prof. Hanekom my verkeerd interpreteer en afleidinge uit my brosjure maak wat nie juis is nie. Miskien het ek my nie altyd duidelik genoeg uitgedruk nie, maar die dinge wat prof. Hanekom my op sommige punte laat sê, is nie alleen in stryd met wat ek wou sê nie, maar ook met wat al die ander resensente van my brosjure daarin gelees het. Sonder om op alles in te gaan, wil ek net die volgende noem:
(a) Die resensent beweer dat ek die sendingbeleid van die N.G. Kerk as sodanig afwys en ’n volledige en radikale hersiening daarvan bepleit. Dit is egter nie juis nie. Ek bepleit wel ’n algehele hersiening van die konkrete bepalinge van die Transvaal wat m.i. verskeie on-Bybelse elemente bevat en buitendien die “indruk wek dat hulle in die loop van die jare uit die praktyk opgekom het” en dus die noodsaaklike “prinsipiële lyn” mis (bl. 7). Prof. Hanekom toon dat hy die dinge wat ek daaroor te sê het, nogal kan waardeer (par. 2 van die resensie). Dat ek nie die N.G. sendingbeleid as sodanig verwerp nie, blyk daaruit dat ek dit ’n positiewe beleid kan noem (b1. 10 e.v.), dit verdedig vanuit die enigste geregverdigde grond waarop dit kan rus (vgl. p. 30 e.v.) en dus ook beklemtoon dat ons “uit beginsel daaraan moet vashou dat die natuurlike verskeidenheid van die volkere in die kerk van Jesus Christus eerbiedig sal word” (bl. 32). In ooreenstemming met dié beleid pleit ek vir die inheemswording van die kerk by die verskillende bevolkingsgroepe en vir die bestaan van afsonderlike gemeentes, Ringe en Sinodes vir elke bevolkingsgroep (bl. 52 e.v.). Die volgende uitspraak is dan ook ernstig bedoel: “Dit moet tog absoluut duidelik wees dat ons op ’n positiewe manier presies dieselfde sendingbeleid wat in die verlede as gesond en vrugbaar geblyk het, kan formuleer” (bl. 12). Oor die feit dat ek vierkantig agter die sendingbeleid van die Ned. Geref. Kerk staan, kan daar dus geen twyfel wees nie. Ek bepleit alleen dat ons in ons formulering van ons bepalinge prinsipieel korrek en positief sal wees. Dit bring enersyds mee dat ek daarvoor pleit dat die Transvaalse Kerk sekere negatiewe bepalinge (wat ook nie in die Kaapse kerkwet voorkom nie) moet verander, sodat alle moontlike misverstande in verband met die positiewe sin van ons sendingbeleid verwyder kan word. Die feit dat die Kaapse Kerk, wat presies dieselfde sendingbeleid as die Transvaal daarop nahou, nie daardie bepalinge het nie, en dat ek daarvoor voel dat die Transvaal sy bepalinge, in ooreenstemming met die Kaapse bepalinge moet bring, kan dien as bewys van die feit dat ek niks ongeoorloofs vra nie. — Dat ek pleit vir ’n prinsipieel suiwere formulering van ons sendingbepalinge, bring egter ook mee dat ek vra dat ons in die kerkregtelike uitwerking van ons sendingbeleid nie moet praat van afsonderlike kerke nie, want daar is maar één kerk van Jesus Christus, en by alle erkenning van die verskeidenheid tussen die volkere en die eerbiediging van daardie verskeidenheid in ons kerklike inrigting, moet ons daardie eenheid nie uit die oog verloor nie, maar dit sover moontlik tot uitdrukking laat kom. Ek kan nie begryp dat prof. Hanekom hieroor beswaard voel nie, want hy self het herhaaldelik beklemtoon dat daar maar een Ned. Geref. Kerk is en dat die nie-blankes nie aan ’n ander kerk as ons behoort nie. Veral in die lig van die feit dat ek alleen maar pleit vir ’n organisatoriese uitdrukking van die eenheid tussen moeder- en dogterkerke op die “hoogste” sinodale vlak, kan ek sy beswaar heeltemal nie verstaan nie, en ook nie sy interpretasie van my gedagtegang as sou ek die hele Ned. Geref. sendingbeleid verwerp nie. Dit kan tog nie prof. Hanekom se opvatting wees dat die eintlike punt van ons sendingbeleid sou wees dat ons sou pleit vir ’n kerkregtelike vormgewing waardeur moeder- en dogterkerke in geen omstandighede hul innerlike eenheid op die “hoogste” vlak ook organisatories tot openbaring mag bring nie? Ek het ons sendingbeleid nog steeds so verstaan, dat ons pleit vir die erkenning van die Godgegewe verskeidenheid óók in die kerk en sy arbeid, sonder om die Godgegewe éénheid te wil negeer.
(b) Met die voorafgaande hang dit nou saam dat die resensent my daarvan beskuldig dat ek Rooms is. Daarvoor voer hy o.a. aan dat ek sou sê dat die kerkverband tot die wese van die kerk behoort en nie tot die welwese nie. Ek het weer die bladsy waarna hy verwys, gaan oorlees, maar dit staan nie daar nie, en ook nêrens anders in die brosjure nie. Net so maak die resensent veel daarvan dat ek kerk en kerkverband vereenselwig. My duidelike uiteensetting oor wat die kerk is, sal die leser egter daarvan oortuig dat ek nooit in alle gevalle kerk en kerkverband kan vereenselwig nie (vgl. bl. 19 e.v.; 36-37). Maar daar is ’n sin waarin ons in ons Ned. Geref. kerkregtelike spraakgebruik kerk en kerkverband afwisselend gebruik. Daarvoor verwys ek na die artikel in die Transvaalse kerkwet waaroor dit gaan: “Alleen blanke persone sal tot lidmaatskap van die Ned. Geref. Kerk toegelaat word.” Prof. Hanekom sê ook dat ek die pluriformiteit van die kerk afwys, maar die leser sal sien dat ek ’n bepaalde opvatting oor die pluriformiteit van die hand wys as strydig met die Skrif. Daarvoor kan ek my op die beste Nederlandse Geref. teoloë van ons dag beroep, maar die ruimte ontbreek om dit hier te doen. Ek weet ook nie waarom dit nodig was om dit voor te stel asof ek sou voel vir die Roomse opvatting van die eenheid van die kerk wat ’n “ongelukkige geboorte uit die Romeinse staatsbeskouing” was nie, terwyl die resensent my veeleer in verband kon bring met wat ander gereformeerde teoloë oor die eenheid van die kerk te sê het. So sê C. Smeenk bv.: “De verschillende plaatselijke Kerken, die een zijn in belijdenis, hebben de roeping om de gemeenschap met elkander te zoeken. Het ligt voor de hand … dat zij die gemeenschap in de eerste plaats onderhouden met de Kerken in hetzelfde land. Toch moet principieel de gedachte van de Schrift, de gedachte der wereldkerk worden vastgehouden.” Hy wys dan daarop dat dit die ondubbelsinnige leer van die Ned. Geloofsbelydenis art. 27 en die Heidelbergse Kategismus vraag 54 is, sowel as die standpunt van die Dordtse Sinode van 1618, en dat die ontwikkeling van “nasionale kerke” ’n afbuiging van die regte lyn was (Christelijke Sociale Beginselen, 1, 201 e.v.). Die resensent kon my ook in verband gebring het met Calvyn self, van wie dit bekend is dat hy die ideaal gehad het van “de ene, ongedeelde evangelische wereldkerk” en by wie daar in elk geval geen grond te vinde is vir Kuyper se opvatting van ’n legitieme pluriformiteit van kerke nie (vgl. H. Volten, Rondom het belijden der Kerk, 195-198; W. Nijenhuis, Calvinus Oecumenicus; A. Kuyper, De Gemene Gratie 111, 229). Die rapport Oecumeniciteit en “Pluriformiteit” van die Geref. Kerke in Nederland, waaraan van hul knapste teoloë gewerk het, verklaar: “De eenheid der kerk als het mystieke lichaam van Christus is een van God geschonken werkelijkheid. Daaraan moet de eenheid in het zichtbare, uitwendige organisatorische leven der kerk beantwoorden. Dit wordt als een goddelijke eis en opdracht (deur die Reformatore) aanvaard, maar tegelijk wordt met schaamte en belijdenis van schuld erkend, dat deze midden in het uiterst gecompliceerde werkelijkheid niet volbracht is”. Dit word gesê by die uitleg van art. 27-28 van die Ned. Geloofsbelydenis. As ek Rooms is, is Calvyn dit ook. Dan is ons belydenisskrifte dit ook. Dan is die Dordtse Sinode dit ook. Dan. is die gereformeerde teoloë in Nederland dit ook. Dan is die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika, wat op presies dieselfde beginsels hulle sendinginrigting baseer, dit ook.
Daar is verskillende ander dinge waaroor ek graag kommentaar wou maak, bv. dat prof. Hanekom suggereer dat ek 18 bladsye aan die bespreking van die “negatiewe bepalinge” wy, terwyl dit presies 6 is; dat die resensent dit onjuis noem as ek die herkoms van die Transvaalse negatiewe artikels by die Hervormde Kerk soek, terwyl dit tog ’n historiese feit is dat geen ander bundel kerklike bepalinge daardie artikels bevat het vóór die kerk vereniging van 1885 nie; dat hy praat van my “teenstanders” waar ek my nie van teenstanders bewus is nie, en selfs met instemming dieselfde persone aanhaal wat hy my teenstanders noem, al verskil ek wetenskaplik op een bepaalde punt van hulle; dat hy beswaard voel as ek Kuyper ’n “kind van sy tyd” noem – op ’n bepaalde punt – en dit interpreteer asof ek sou sê dat Kuyper in alle opsigte deur die gees van die negentiende eeu beheers is, ens. Ek laat dit egter daar. My beste antwoord op die resensie is die versoek dat die lesers tog maar die moeite sal doen om die brosjure self te lees, en nie by die resensie te bly staan nie.
Waar ek prof. Hanekom as wetenskaplike en vriend so hoog waardeer en bewus is van die diepgaande ooreenstemming tussen ons op haas alle punte, spyt dit my werklik dat hy my hierdie keer blykbaar verkeerd verstaan het. Ek hoop die gesprek oor hierdie belangrike sake kan verder voortgesit word in die gesindheid van Christus, want dit is belangrik dat ons daaroor sal deurpraat. Dit veral ook in die lig van ’n opmerking van prof. Hanekom waaroor hy darem seker ’n verduideliking aan ons almal verskuldig is, nl.: “Ook wil ons hier in bedenking gee dat ons met die nie-blanke kerke in S.A. te doen het met nog onvolkome formasies van die kerk, wat deur onvermoë van die lidmate of andersins ’n tydelike ordereëling volg, wat eventueel moet en sal eindig” (kurs. van my). Waarheen moet dit dan? Na wat deur my voorgestel word? Waarom dit dan veroordeel? Veral waar hy hierdie opmerking maak in ’n paragraaf wat handel oor die lidmaatskap van nie-blankes aan die plaaslike blanke gemeentes, sou ’n mens vermoed dat hy veel radikaler gedagtes daarop nahou as wat ooit by my opgekom het. Ek dink dit is nie heeltemal duidelik nie.