REPLIEK van prof. T. N. Hanekom op Dr. W. D Jonker se verweer teen prof. Hanekom se resensie van Dr Jonker se brosjure Die Sendingbepalinge van die Ned. Geref. Kerk van Transvaal
Die Kerkbode, xci (8), 20 Februarie 1963, 272/3
By ontvangs van dr. Jonker se skrywe was ons reeds vasgevang in die eksamendrukte en ander verantwoordelikhede. met die somervakansie wat daarop volg, sodat dit onmoontlik was om dadelik te reageer, soos ons baie graag sou wou doen – daarvoor my verskoning aan dr. Jonker en die leser.
Vergun my dan nou ’n paar opmerkinge. Al is dit nou nie juis goeie beleid om korrespondensie oor resensies toe te laat nie, is ek tog bly dat die redaksie die geleentheid tot nader verklaring aan dr. Jonker toegestaan het. Dit is te meer nodig, daar ook by ander lesers, onder wie vakkundige teoloë wat by dr. Jonker sonder voorbehoud as onverdagte en onbevooroordeelde kritici sal deurgaan, ernstige vrae en bedenkinge bestaan oor die brosjure onder bespreking. Wat my eie opmerkinge daaroor betref, wil ek net graag die lesers verseker dat hier geen sprake is van enige persoonlike verskille of geskille nie, al moet ek nog eens my teleurstelling uitspreek oor die metode wat die geagte jonge broeder hier gevolg het en waarmee hy die beleid van die Transvaalse Sinode en daarmee die van ons hele kerk m.i. ten onregte met sulke swaar kritiek oorlaai het, terwyl hy die stand van ontwikkeling by die sendingbeleid en sendingkerke ignoreer. Dit is dan ook nie waar dat dr. Jonker hierdie beleid as “positiewe beleid” bestempel, soos hy beweer nie. Wel praat hy van ’n “positiewe saak” (p. 10) waaroor dit gaan, maar dit is tog iets anders, soos o.m. duidelik blyk uit al die kritiek teen die werklike of vermeende “negatiewe” bepalinge (p. 2, 11). Dit sou o.i. voldoende gewees het om, sê by wyse van ’n artikel in die kerklike tydskrifte of, nog beter, by revisie van die kerklike bepalinge minder gelukkige formuleringe uit die weg te ruim, soos met ander sake elke dag in ons kerk gebeur – maar die skrywer verkies die meer opspraakwekkende brosjure-pad om sy saak aan die groot klok te hang, sonder dat die fenomenale ontwikkeling van ons kerk se sendingbeleid voldoende begroot word. En dr. J. se kritiek is inderdaad nie beperk tot 6 bladsye nie, maar beslaan sy hele eerste paragraaf (pp. 5-18) en gaan in die tweede en derde voort, tot vreugde van sy resensent, in Pro Veritate, waar die brosjure met akklamasie aangekondig is.
Die waardering van die skrywer, soos ook hierbo weer blyk, vir ’n sinode as uitdrukking van die eenheid vain die kerk “op die hoogste vlak” (sic!), die fundamentele betekenis wat hy heg aan die amp as grondslag vir die kerk, met al die nadruk op die “organisatoriese”, “institutêre” eenheidsverband as behorende tot die wese van die kerk – dit alles, en nog meer, mag mooi klink, maar beweeg onmiskenbaar voort in die dampkring van gedagtes wat in ons tyd byna ’n teken des tyds geword het. Om nou Calvyn en die Dordtse Sinode te debiteer met hierdie eenheidsgedagtes, is darem tog seker onverantwoord.
Calvyn tog het kerklike gemeenskap beoefen met die Lutherse Protestante wat in totaal anderse, byna vreemde kerkverband gestaan het en het selfs die Augsburgse Konfessie onderteken, soos hy ook met biskoplike Engelse Protestante in kerklike gemeenskap getree het. En die Sinode van Dordt het hierdie einste mense as broeders in die geloof ter sinode verwelkom, sonder om te rep eens dat hul anderse kerkverband die eenheid en gemeenskap in Christus, soos die H. Skrif dit stel, in gevaar stel. Dit is in ooreenstemming met die leer van die H. Skrif t.o.v. die kerkverband en met die opvatting van die kerkvaders, soos bv. Augustinus (vgl. sy merkwaardige uitspraak oor die verskeidenheid van die volkere in De Civitate Dei, par. XVIII, 17).
In die verband moet ek tog daarop wys dat ons jonge broeder heel sterk die kerkbeskouing van die 19de eeu afwys, meer bepaald ook die implikasies van die standpunt van Kuyper en later Venn vir die sendingbeleid, egter sonder om hom deeglik te verantwoord t.o.v. Kuyper se standpunt in sy voordragte en uitsprake juis op hierdie punt. Maar waar hy soveel voorkeur openbaar vir die opvattinge van die 20ste eeu (vgl. p. 13), wil ek daarop wys dat hierdie nuwere gedagterigting oor die kerk sterk ooreenkoms toon met ’n ander gedagtestroom juis van die 19de eeu, nl. die van Pusey en Newman, wat uitgeloop het op die pro-Roomse beweging wat duisende proseliete vir die Roomse Kerk gewin het – juis soos hierdie manne praat sommige van ons moderne yweraars vir kerklike eenvormigheid. Andermaal staan Rome in die lig van ’n nuwe glorie – lees maar Reis naar Rome uit die pen van die Protestant G. Puchinger! Onder al die warrelende meninge en uitsprake van ons dag oor die kerk is daar één tendens wat telkens weer opval, en dit is die vergoelikende houding teenoor Rome en sy kerklike beleid van eenheid.
Dr. Jonker verwys o.m. na die rapport uit Gereformeerde kring oor Oecumeniciteit en Pluriformiteit. Nou, as hy hier nuwe lig op die vraag onder bespreking kry, laat dit so wees. Vir my is dit egter een van die mees verwarde en verwarrende dokumente wat ek in die afgelope jare onder oë gehad het. Waarheen wil dit? Werk vir my ’n sisteem van kerkregering, laat staan ’n sendingbeleid, vir ons Afrikaanse vasteland uit op daardie grondslag. Dit sou iets moois word in die praktyk! En dan glo ek dat my resensie geen nader verklaring nodig het, soos dr. Jonker aan die einde van sy skrywe te kenne gee nie. Wat ek met die onderhawige opmerking bedoel, staan alleen in verband met ordebepalinge, soos bv. die seggenskap van ’n P.S.K., ’n Kommissie vir die Sending, ens., wat uit die aard van die saak tydelik is en noodwendig sal en moet wegval – niks meer nie. Sover my kennis strek, het geen kerkman of sendingleier uit ons geledere ooit gepleit daarvoor dat sulke bepalinge permanent moet wees nie. – T. N. Hanekom, 31/1/63.