Teologiese Verskuiwinge by Rome in die Jongste Tyd
Dat daar gedurende die afgelope veertig jaar heelwat verskuiwinge in die Rooms-Katolieke teologie plaasgevind het, is seker geen onbekende saak nie. Dit is vir ons as Protestante van die grootste belang om van hierdie verskuiwinge deeglik kennis te neem, anders kan dit lig gebeur dat ons gesprek met Rome nie meer ter sake is nie, en dat ons polemiek voer met verouderde argumente en op stellings vuur wat al lankal verlaat is, terwyl ons die nuwe strategiese punte wat beset is, nie eens ken nie. Vandaar dat ons wil probeer om binne die bestek van enkele paragrawe ‘n vlugtige oorsig te gee van enkele van die nuutste ontwikkelinge in die Rooms-Katolieke teologie, in die hoop dat dit ons lesers mag inspireer om selfs deegliker kennis te maak met hierdie uiters interessante verskynsel, nl. die sogenaamde vernuwing van die Rooms-Katolieke Kerk en teologie.
Daar is baie onder ons vir wie dit by voorbaat reeds vasstaan dat daar van werklike vernuwinge in die Rooms-Katolisisme nie ernstige sprake kan wees nie.
Immers, Roma semper eadem est. Die dogma van die onfeilbaarheid van die kerk en van die pous wat deur Rome as een van sy kosbaarste geloofskatte getroetel word, moet tog eintlik elke werklike vernuwing uitskakel, met name elke vernuwing ten opsigte van die leer van die kerk. Natuurlik kan die leer van die kerk ontwikkel en kan die lig altyd weer op nuwe aspekte van die “geopenbaarde waarheid” val, sodat daar van tyd tot tyd nuwe uitsprake ex cathedra gemaak kan word, maar dergelike ontwikkelinge en nuwe uitsprake moet tog in ooreenstemming wees met die bestaande onfeilbare geloofsbesit van die Katolieke Kerk. Dit kan tog nie iets repudieer wat vantevore in onfeilbaarheid uitgespreek is nie. Dit kan tog nie afbuig van die lyn van ontwikkeling wat deur die eeue gevolg is nie. Geen nuwe kontoere kan sigbaar word nie. Ontwikkeling kan slegs beteken ‘n voortbeweeg op die eenmaal ingeslane weg. Dit beteken: watter ontwikkeling daar ook mag wees, dit kan nooit beteken dat Rome weer uitkom by die evangelie van die genade van God, by die sola scriptura, die sola gratia en die sola fide nie. Dit kan nooit beteken dat Rome die boodskap van die Reformasie werklik sal verstaan én aanvaar nie. En daarom, so redeneer ons dan per konsekwensie, kan alle vernuwinge by Rome hoogstens skyn wees, ook al sal dit pretendeer om werklike vernuwinge te wees.
Hierdie standpunt is verklaarbaar en logies. Dit bevat ook ‘n onomstootlike element van waarheid. Dit is soos die saak vir ons as Protestants lyk. En tog, in weerwil daarvan, dwing die nuwe ontwikkelinge op die terrein van die Rooms-Katolieke teologie ons om kennis te neem van ‘n nuwe klank wat insluip teen alle verwagtinge in, teen al ons redenasie van die onmoontlikheid daarvan. Die werklikheid is altyd weer anders as ons redenasie oor hoe dit moet wees, want die lewe is nie logies nie. In die praktyk gebeur baie dinge wat teoreties as uitgeslote beskou moet word. En so val daar in die Rooms-Katolieke teologie klanke te beluister wat nie anders kan as weldadig aandoen nie, ook al moet sê: Hoe hierdie teoloë soveel van die waarheid kan raaksien, en nogtans geen botsing met die offisiële standpunt van die Rooms-Katolieke Kerk aanvoel nie, is ‘n raaisel. En wat meer is, ons moet dikwels toevoeg: Hoe hierdie teoloë dergelike uitsprake kan doen, en nogtans deur die Roomse Kerk offisieel geduld en as teologiese professore gehandhaaf word, en boeke kan publiseer wat die imprimatur van die Roomse Kerk dra, is haas onbegryplik. Iets is dus besig om te gebeur. Dit pas ons om daarvan kennis te neem en af te wag wat daarvan gaan word.
Dit sou vreemd gewees het as die Rooms-Katolieke teologie nie in een of onder opsig die invloed van ons eeu sou ondergaan het nie. Ons eeu is die eeu van die relativering van alle dinge. Die hoë sekerhede van die negentiende eeu is weg. Die prikkelende gedagtes van Okke Jager in sy Interview met den Tijdgeest is hier allesins ter sake. Die mens van die twintigste eeu plaas vraagtekens agter alles. Hy soek na nuwe weë. En nou is dit die kenmerkende van hierdie soektog van die moderne mens, dat hy agter die geykte formuleringe van die waarheid wil teruggaan: die lewe en die werklikheid is meer en groter as formules. Dit is selfs die vraag of die werklikheid ooit benader kan word met ons formules, want ons formules is altyd rasioneel, en die werklikheid is per slot van rekening irrasioneel. Die mens van ons eeu gryp na die lewe self, die werklikheid agter die formule. Geen wonder dat die eksistensialisme ‘n produk van ons eeu is nie. En in die teologie laat die irrasionalisme onmiskenbaar sy spoor na. Die waarheid, ook die geopenbaarde waarheid, kan nie vir eens en altyd raakgevat word onder geykte formules nie. Die waarheid is tussen ja en nee, die waarheid is slegs benaderbaar in die lewe self: “die Wahrheit als Begegnung.” Selfs onmiskenbaar suiwere gereformeerde teoloë is nie vry van hierdie invloed van ons eeu nie. Die leerstukke van die uitverkiesing, die onfeilbaarheid van die Skrif, en talle ander meer, word van voor af deurgedink, en telkens is die begeerte om lug, vars lug in die denke in te bring: daar moet ‘n openheid kom, die starheid van die formule moet getoets word aan die lewende woord van die Skrif.
En terwyl so gesoek word na die lewe, is dit ook nie vreemd dat ons eeu meer as enige ander eeu weer gaan soek na gemeenskap nie. Geen eeu het soveel vernietiging van die lewe aanskou as ons eeu nie, en. miskien is dit net sielkundig dat ons eeu voortdurend bly honger na gemeenskap en kweking van die lewe. Dit is nie vreemd dat ons eeu die eeu geword het van die ekumene nie. Die gees van ons eeu is die gees van die bereidheid tot ontmoeting met die ander, die aanhoor van die ander, die gesprek met die ander. Die ontmoeting is meer werd as die handhawing van formules, want die waarheid is groter as formules. So hang al die verskillende invloede van ons tyd innerlik met mekaar saam. Dit is ‘n gevaarvolle tyd, maar ‘n tyd met heerlike moontlikhede.
Dit sou vreemd wees, sê ek, as die Rooms-Katolieke teologie volkome aan hierdie invloede van ons eeu sou ontkom het. Die feit wil egter dat Rome nie aan hierdie invloede ontkom het nie. Al is die kloostermure nog so hoog, en al is die teologiese seminaries nog so beskut, die gees van die tyd sypel ook deur die kleinste voeë heen. Ons glo dat dit een van die diepste redes is waarom daar in die Rooms-Katolieke teologie van verskuiwinge sprake kan wees.
Die vernaamste opsig waarin die nuwe gees en denke in die Rooms- Katolieke teologie tot openbaring kom, is die uitgesproke begeerte om weer meer terug te keer na die Bybel. Rome was natuurlik nooit sonder die Bybel nie, en ook die Rooms-Katolieke teologie wou nooit sonder die Bybel wees nie. Maar die Bybel is dikwels maar meer gebruik om die dogmas van die kerk te “bewys”. Die Bybel het agterna daarby gekom. Die Bybel was eintlik uitgeskakel in sover dit kon ingryp in die eenmaal ingeslane denkrigting. Alles het maar binne die vooraf ingenome struktuur beweeg. Ons almal ken die ondervinding dat ons met ‘n Rooms-Katolieke priester ‘n gesprek probeer voer, maar dat ons al gou vind dat hy nie met ons wil praat oor die Skrif en die boodskap van die Skrif op ‘n bepaalde punt nie; hy slaan gou om en begin redeneer met wysgerige stellinge, meestal aan Thomas ontleen. Die helder weg van die skolastieke teologie is verkies bo die moeilike en rusverstorende weg van die Skrifinterpretasie.
Op hierdie punt het daar in die jongste jare beslis ‘n kentering gekom. Die begeerte ontstaan weer in die Rooms-Katolieke teologie om meer los van die skolastiek selfstandig na die Skrif te gaan. Natuurlik word daarmee nie bedoel om die kerkleer of selfs die invloed van die skolastiek uit te skakel nie, maar die neiging is tog om weer met die begrippemateriaal van die Skrif te gaan werk. Dit bring mee dat sommige begrippe nuut gevul word, met ‘n Bybelse inhoud. Op die ou end val ‘n studie oor ‘n bepaalde onderwerp, waarin die Skrifgegewens nagegaan word, wel goed-Rooms uit, maar daar het in die loop van die studie tog ‘n Bybelse aksent bygekom wat nie verontagsaam moet word nie. Die waarde van Bybelondersoek het in die Rooms-Katolieke teologie gestyg. Daaroor kan ons alleen maar dankbaar wees.
‘n Mens dink in hierdie verband aan die nuwe denke oor die kerk. Dit is bekend dat Rome geen offisieel-geformuleerde leer aangaande die kerk besit nie. Die Vatikaanse Konsilie sou in 1870 ook die leerstuk aangaande die kerk behandel het, maar is uiteen sonder dat daaraan aandag gegee kon word. Gevolglik leef die Rooms-Katolieke teologie in baie groot mate nog by die apologetiese visie op die kerk wat tydens die tyd van die kerkhervorming ontstaan het, toe Rome in sy afweer teen die Reformasie klem moes lê op die uitwendige en sigbare kenmerke van die kerk. Die kerk is, volgens Bellarminus en ander apologete uit die sestiende eeu, die vergadering van mense wat dieselfde Christelike geloof bely en aan dieselfde Christelike sakramente deel het, en onderworpe is aan die wettige plaasvervanger van Christus op aarde, die pous van Rome. Oor die innerlike lewe van die kerk word daar in hierdie soort van definisie eenvoudig geswyg. Daarmee kan die nuwe kerklike denke in die Rooms-Katolieke teologie egter nie genoeë neem nie. Veral ná die Eerste Wêreldoorlog word die neiging baie sterk om oor die kerk meer op ‘n geestelike manier te praat. Die kerk word weer gesien as die liggaam van Christus. Oorweldigende belangstelling ontstaan vir die manier waarop die Nuwe Testament oor die kerk praat. ‘n Mens dink aan die geskrifte van Mersch, Wikenhauser, Cerfaux, Congar, Feckes en talle ander, wat vanuit die Skrif self soek na die waarheid oor die kerk. Hulle spreek anders oor die kerk as die apologete van die sestiende eeu. Vir hulle is die kerk weer die gemeenskap van die heiliges, die vergadering van verlostes, die liggaam en bruid van Christus wat deurstroom word met Sy lewenskrag. Die begrippe van die skolastiek tree op die agtergrond, kom soms onherkenbaar ver weg te staan van die nuwe polsende taal van hierdie geslag. Alles wentel om ‘n nuwe begrip van die eenheid van die kerk met Christus, en vandaar: die eenheid van die gelowiges met mekaar. Dit is simptomaties dat daar in hierdie tyd soveel belangstelling kom vir Möhler, en dan veral vir Möhler se werkie Die Einheit in der Kirche. Vir ‘n eeu was hierdie werkie vergete, maar ná die Eerste Wêreldoorlog verskyn daarvan herdrukke en vertalings. Die warme, egte, dikwels Bybelse toon daarvan gaan weer spreek tot die gemoedere. Net soos Möhler, wil die nuwe geslag die kerk verstaan vanuit sy innerlike lewe, nie vanuit sy uiterlike organisasie nie. Hand aan hand hiermee gaan die nuwe belangstelling vir die Oosters-ortodokse siening van die kerk. ‘n Teoloog soos Chomjakov, ‘n geesverwant van Möhler, boei die jongere geslag. Die aksent word verlê. Die nuwere geslag wil nie in eerste instansie ‘n pouskerk hê nie, maar wil die kerk verstaan as “lebendiger Organismus von innen her”. Dikwels word organisme en organisasie teenoor mekaar gestel, altyd ten koste van die organisasie. Die kerk moet ‘n liefdesgemeenskap wees, nie ‘n regs-gemeenskap nie. Die kerk moet ‘n “Gemeinschaft” wees, nie ‘n “Gesellschaft” nie.
Natuurlik, die nuwe visie op die kerk is van verskillende kante deur ander Rooms-Katolieke teoloë bestry, en die pous self het in sy ensikliek Mystici Corporis Christi (1943) op ‘n taktvolle wyse probeer om paal en perk te stel aan hierdie nuwe denke waarin moontlik te kort gedoen kan word aan die kerk as ‘n hiërargiese grootheid. Dit neem egter die feit nie weg nie, dat die nuwe visie op die kerk ‘n veel wyer invloed het as wat oppervlakkig vermoed sou kon word. Dit het in werklikheid ‘n vernuwing in die standpunt van die Rooms-Katolieke Kerk op verskillende terreine moontlik gemaak, en die gevolge daarvan is op die oomblik nog nie te oorsien nie.
Die nuwe visie op die kerk het veral ten gevolg gehad dat daar ‘n nuwe aksent gelê kon word op die lede van die kerk. Die liturgiese beweging is ‘n komplekse verskynsel wat op verskillende plekke homself verskillend openbaar, maar in die Rooms-Katolieke teologie het dit veral ook invloed uitgeoefen op die mondigwording van die leke, en dan veral in dié sin, dat aan die leke ‘n groter aandeel in die erediens gegee moet word. Die eucharistie is en bly die middelpunt van die Rooms-Katolieke erediens, en die liturgiese beweging stel hom dit ten doel om die betekenis en inhoud van die eucharistie op die voorgrond te stel en die besef van die betekenis daarvan steeds dieper te laat posvat. Nou word daar egter al meer in Rooms-Katolieke kringe besef dat die eucharistie in die verlede te sterk benader is vanuit die gesigspunt dat dit ‘n offer is, en te min vanuit die gesigspunt dat dit ‘n maaltyd is. Die gemeenskapskarakter moet meer op die voorgrond tree daarin, en daarom dring verskillende teoloë aan op ‘n liturgiese hervorming, sodat die lidmate ook aan die kerk mag deel en die volkstaal gebruik kan word om die gewone volk in staat te stel om mee te lewe met die verrigtinge. ‘n Mens hoor oer-motiewe van die Reformasie hierin deurklink.
Maar dit is nie slegs in die liturgie dat daar meer aandag gevra word vir die leek nie. Die Rooms-Katolieke Kerk het in die afgelope tientalle jare onder invloed van die corpus Christi-gedagte baie aandag geskenk aan die mobilisasie van die leke en die aktivering van die gewone lidmate op baie terreine deur die stigting van arbeidsklubs en ander leke-organisasies. Daar word selfs met vrymoedigheid erken dat die “priesterskap van alle gelowiges” deur die Protestantisme na waarheid beklemtoon is en dat dit in die Katolieke Kerk meer tot sy reg moet kom.
Dit spreek daarby vanself dat ook die besondere ampte in ‘n nuwe lig te staan moet kom. Die gedagte van die heerskappy van die besondere ampte tree terug voor die nuwe klem wat gelê word op die amp as diens. As ‘n mens lees wat ‘n teoloog soos Küng te sê het oor die Nieu-Testamentiese leer aangaande die wese van die amp, dan vra ‘n mens jouself af of hy by Luther en Calvyn in die leer was. Die huidige pous, Johannes XXIII, doen dan ook alles in sy vermoë om af te kom tot die gewone volk. Hy wil in eerste instansie die biskop van Rome wees, die vader van die gelowiges, en op ‘n merkwaardige wyse doen hy afstand van die prag en praal wat die pous nog steeds omring het. Daar word in die teologie ook weer ‘n nuwe klem gelê op die betekenis van die plaaslike biskop-amp, en ‘n mens hoor spreek van die feit dat die plaaslike kerk werklik kerk in die volle sin van die woord is, sodat aan die verskillende bisdomme ‘n groot mate van selfstandigheid gelaat moet word. Al hierdie aksente vloei direk voort uit ‘n kennismaking met Bybelse gegewens oor die kerk en sy dienaars, en ‘n mens vermoed dat die talryke studies van Protestantse kant hier ‘n bevrugtende invloed uitgeoefen het. Waar daar tans ook van Protestantse kant heelwat geskrywe word oor die biskop-amp, en selfs Gereformeerde kerke nie onsimpatiek staan teenoor die idee van die instelling van die biskop-amp nie, sien Rooms-Katolieke teoloë groot moontlikhede in die gesprek rondom die leer van die Skrif aangaande die ampte.
Die nuwe visie op die kerk het egter ook in ‘n ander opsig groot invloed uitgeoefen: die houding van Rome teenoor die ekumene. Verskillende Rooms-Katolieke teoloë is van opvatting dat die begrip “mistieke liggaam” wyer is as die begrip kerk, en as ons hulle redenasie noukeurig beluister, dan moet ons sê dat hulle daaronder verstaan wat in die Protestantse teologie bekend is as die Una Sancta, die één algemene Christelike kerk, wat wyer is as een spesifieke denominasie. Hierdie opvatting is egter lynreg in stryd met die Rooms-Katolieke siening dat die Rooms-Katolieke Kerk alleen kerk is, en dat al die ander “kerke” sektes en skeurgroepe is. Die opvatting word dan ook afgewys in die pouslike ensikliek Mystici Corporis, en die mistieke liggaam van Christus en die Rooms-Katolieke Kerk word as twee sinonieme beskou. Nogtans is dit so dat die houding teenoor die Protestante en teenoor die ander Christelike groepe in die algemeen aansienlik gewysig is. Meer as ooit tevore word daarop gewys dat daar ook buite die Rooms-Katolieke Kerk gelowige lede van Christus is, en die neiging word al meer om die uitdrukking extra ecclesiam nulla salus nie eksklusief te verstaan nie, maar inklusief. Die ander groepe word nie slegs as “mede-Christene” benader nie, maar in die huidige gesprek word daar gespreek van die ander “kerke” wat naas die Katolieke Kerk bestaan. Daar was seker geen tyd waarin die Rooms-Katolieke teoloog meer moeite gedoen het om die standpunt van die ander Christene reg te verstaan en te interpreteer as in ons tyd nie. ‘n Mens kry die indruk dat daar baie Rooms-Katolieke teoloë is wat afgesien het van die standpunt dat die Roomse Kerk alleen alle waarheid in pag het, en dat die ander alleen maar onwaarhede en leuens vertroetel. Dié standpunt het natuurlik die polemiek oneindig vergemaklik, maar dit het die waarheid ten onder gehou. Dit is ‘n standpunt wat dikwels meer deur vrees geïnspireer word as deur werklike meerderwaardigheid. Dit is ‘n ontwikkeling van buitengewoon veel belang dat die Rooms-Katolieke teologie tans in alle erns na die Protestantse teoloë begin luister om die standpunt van die Protestant eg en eerlik te leer ken.
Ons moet in hierdie verband in die besonder daarop wys dat daar in die afgelope aantal jare ‘n sterk gewysigde opvatting oor die kerkhervormers in die Rooms-Katolieke teologie na vore gekom het. As ‘n mens daaraan dink dat Luther deur Eck, Cochlaeus en Bellarminus, en in navolging van hulle deur honderde en miskien duisende Rooms-Katolieke teoloë beoordeel is as ‘n misdadiger, ‘n rewolusionêr, ‘n psigopaat, ‘n mens sonder waaragtige godsdienssin, ‘n trotsaard met ‘n godslasterlike teologie (vgl. nog tot die groot monografieë oor Luther deur Denifle en Grisar), dan is dit merkwaardig om in ons tyd Luther te hoor beoordeel as ‘n diep religieuse persoon, as ‘n reformator en dergelike meer. Skrywers soos Lortz en Jedin verwerp in ons tyd die karikatuurbeelde van Luther wat so populêr in die Rooms-Katolieke geskiedskrywing is, en gee toe dat Luther nie begryp is deur die Rooms-Katolieke Kerk van sy dae nie, ja, dat selfs die Konsilie van Trente nie werklik begryp het waarom dit ten diepste om Luther gegaan het nie. Die Reformasie word beoordeel as ‘n religieuse beweging van groot betekenis, en hoewel daar altyd maar weer herhaal word dat dit darem ‘n rewolusionêre daad was om van die kerk weg te breek, word daar openlik gespreek van ‘n relatiewe noodsaaklikheid van die kerkhervorming en van die breuk met die Rooms-Katolieke Kerk. Die vraag word gestel of dit Luther se skuld alleen was dat hy buite die kerk beland het, en dit word dan beantwoord deur te wys op die onwil van die kant van Rome om werklik die religieuse bedoelinge van Luther te aanvaar en te benut, op die toestand van die pousdom in daardie tyd, op die feit dat daar maar net geen konsilie gehou is om die aangeleenthede deur te praat nie. Geen wonder dat daar dan tot die gevolgtrekking gekom word dat Rome ‘n medepligtigheid het aan die breuk wat ontstaan het, en ‘n medeskuldigheid tesame met die Kerkhervormers.
Hiermee hang saam die verskynsel dat daar in die jongste tyd ook ernstig in die Rooms-Katolieke teologie gespreek word oor die skuld en sonde van die kerk. Ons weet dat Rome die heiligheid van die kerk interpreteer in die sin, dat die kerk self geen sonde kan hê nie. Die lidmate van die kerk kan wel sondig, maar die kerk as sodanig, die kerk as die liggaam van Christus, kan nie sondig en dwaal nie. Gevolglik is dit uitgeslote om te praat van die sonde van die kerk. Hoogstens sou daar sprake kan wees van sonde in die kerk. In die jongste tyd word hierdie saak egter weer druk bespreek. ‘n Teoloog soos Rahner spreek van “die Kirche der Sünder”, en gaan vandaar voort om te praat oor die kerk as ‘n sondige kerk, waarin allerlei wantoestande kan voorkom, waarin deformasie kan intree en waarin reformasie voortdurend nodig is. Hierdie geluide word herhaal deur Hans Küng wat dit moontlik ag om te praat van die sonde van die kerk, mits ‘n mens dit reg interpreteer, en die oer-gereformeerde slagspreuk opneem: Ecclesia semper reformanda!
Van hier uit word dit moontlik vir Rooms-Katolieke teoloë om in ons tyd te praat oor die feit dat daar eenheid gesoek moet word met die ander Christene, en wel langs die weg van innerlike vernuwing van die Katolieke Kerk. Hierdie innerlike vernuwing sal dan, volgens Küng, ook onder andere moet insluit dat die geregverdigde punte van kritiek van die kant van die Protestantisme in aanmerking geneem moet word, en dat die Protestantse doelstellinge in die Katolieke Kerk verwesenlik moet word. Dit sal nie help om voort te gaan om slegs aan die ander te sê dat hulle moet terugkom tot die Katolieke Kerk, asof dit hulle alleen is wat rede het om hulle te bekeer nie. Die Katolieke Kerk moet besef dat daar in hom self reformasie tot stand moet kom as hy die eenheid van alle Christene werklik soek. Merkwaardig is dit dat pous Johannes XXIII dergelike klanke laat hoor in sy oproep tot die beplande ekumeniese konsilie waaraan al die Rooms-Katolieke biskoppe deel sal hê, en waarvoor daar reeds geruime tyd ernstige voorbereidings getref word. Daarin meld hy dat die hoofdoel van die konsilie sal wees “ut ad Catholicae Fidei incrementum et ad rectam christiani populi morum renovationem deveniatur, utque ecclesiastica disciplina ad nostrorum temporum necessitates rationesque aptius accommodetur”. Dit gaan dus om drie dinge: die bevordering van die groei van die katolieke geloof, die vernuwing van die sedes en die aanpassing van die orde van die kerk aan die eise van die tyd. Die pous verwag van hierdie konsilie en die maatreëls wat daar getref kan word, blykbaar veel, want hy meen dat dit ‘n stap daartoe is om die Katolieke Kerk so te vernuwe dat dit op sigself ‘n uitnodiging aan alle geskeide broeders sal wees om te kom tot die eenheid van die ware kerk.
‘n Mens kan nie oor die verskuiwinge in die Rooms-Katolieke teologie spreek, sonder om aandag te gee aan die sg. “théologie nouvelle” nie, die nuwe teologie wat hoofsaaklik uit Frankryk geboortig is, maar wat tog sy talle aanhangers ver buite die grense van Frankryk tel. Saam met die teoloë van die “théologie nouvelle” stry die manne van die sg. Verkündigungstheologie in Duitsland ‘n moedige stryd om ‘n meer Bybelse aksent in die teologie van die Katolieke Kerk te bring. Hierdie teologiese skole gaan veral uit van die standpunt dat die teologiese belangstelling sowel as die kerklike uitsprake van elke tyd beperk van aard is, tydgebonde is en die spore dra van die tydsomstandighede, teëstellinge en dwalinge van daardie betrokke tyd. Die teologie van elke tyd staan onder die invloed van heersende wysgerige strominge in daardie tyd en reageer teen bepaalde dwaalleringe wat opkom terwyl daar dikwels gewerk word met ‘n beperkte insig in bepaalde aspekte van die openbaring van God. Dit kan dan nie anders nie, as dat die teologie van elke tyd bepaalde eensydighede sal vertoon, en hierdie eensydighede en beperkthede dring deur in die kerklike leeruitsprake. Om nou die werklike onfeilbare waarheidskern te vind in die leeruitsprake van die kerk, moet hulle bestudeer word teen die agtergrond van al die beperkende faktore en in die lig van die eintlike strydpunt waarom dit gegaan het. Slegs die waarheid is blywend; die teologiese uitdrukkingsvorm is relatief en verganklik. Daarom mag die kerk ook nie bly staan by die Aristoteliese wysbegeerte waarmee die skolastiek gewerk het, asof dit die enigste wyse is waarop die kerk homself verstaanbaar kan uitdruk, as hy van die begrippemateriaal van Aristoteles gebruik maak nie. Die kerk is in elke eeu geroep om te spreek in die taal van die dag en met gebruikmaking van die wysgerige begrippemateriaal wat op daardie tydstip begryplik is. Daarom sal dit nodig wees om die kerklike leeruitsprake telkens weer te “vertaal” in die begrippe van elke tyd. Vanuit hierdie skool is daar ‘n sterk reaksie teen die skolastieke teologie van Thomas, en daar word ‘n lansie gebreek vir die gebruik van die egte Bybelse terme, vir ‘n studie van die Griekse patres, en selfs vir ‘n hantering van die begrippe van die eksistensiefilosofie.
Dit spreek vanself dat hierdie opvattinge die deur open vir ‘n relativering van baie uitdrukkinge uit die verlede, en ‘n mens vra jouself af, wat sal word van die onfeilbaarheid van die uitsprake van die Roomse Kerk as hierdie denkbeelde konsekwent toegepas kan word, en leeruitsprake na hartelus vertaal kan word in die begrippemateriaal van die dag. Vir die teoloë van hierdie bepaalde skool beteken dit dat hulle meer Bybels wil gaan praat, en dat hulle heel dikwels in hulle formuleringe die Protestantse opvattinge en formuleringe benader, en dit steeds met die bedoeling om maar net die waarheid in die bestaande kerklike leeruitsprake na vore te haal, of om die eensydighede van bepaalde leeruitsprake aan te vul met wat nie daarin staan nie. Ons dink hier aan teoloë soos Von Balthasar en Küng wat bv. op sommige punte geen wesenlike verskille tussen die teologie van Barth en die leeruitsprake van die Rooms-Katolieke Kerk kan ontdek nie!
In die boek van Hans Küng oor “Die Rechtfertigung” word onder andere betoog dat die sola gratia, sola fide en soli Deo gloria oer-egte eiendom van die Rooms-Katolieke geloof is. Dat dit nie altyd duidelik genoeg uitkom in die uitsprake van die Konsilie van Trente nie, word dan daaruit verklaar dat dié konsilie enersyds nie die egte bedoeling van die Protestantse verkondiging begryp het nie, en andersyds eensydige uitsprake moes maak uit reaksie teen die valse beklemtoning van die “vreemde geregtigheid” deur die Protestantisme, asof dit geen verskil aan die mens maak as God hom in genade aansien nie! (‘n Mens vra jouself of hoe Küng hierdie verklaring kan gee in die lig van die duidelikheid van die Protestantse belydenisskrifte juis op hierdie punt!) “Die Definitionen und Dekrete wollen also nicht einfach alles sagen, was über die betreffende Wahrheid zu sagen ist.” (Konzil und Wiedervereinigung, bl. 143.) Vanuit hierdie stelling vind Küng dit moontlik om talle eg Bybelse uitsprake te doen wat die weg baan tot die konklusie dat alles wat die Protestantisme met reg as evangeliewaarheid wil bely, die eeue-oue besit van die Katolieke Kerk is, al is dit nie altyd ewe duidelik beklemtoon nie. So kom daar nuwe perspektiewe vir die aanduiding van ‘n groot mate van eenheid in die leer tussen Katoliek en Protestant!
Maar genoeg. Ons sou nog op verskillende ander punte kan wys waar daar sprake kan wees van verskuiwinge in die Katolieke teologie. Die vraag is hoe ons dit alles moet beoordeel. Die Christelike liefde en die Christelike hoop eis van ons dat ons dit nie alles maar net negatief moet beoordeel as voorwendsels om die Protestante te vang en die eintlike verskilpunt sodanig te verdof dat dit nie meer duidelik is waarom dit eintlik gaan nie. Ons moet die moed hê om hierdie verskuiwinge in meer as een opsig te verwelkom as die verhoring van talle gebede om ‘n werklike verandering in die Rooms-Katolieke Kerk. Tog mag ons nie onrealisties wees nie. Die verskuiwinge wat ons by Rome kan opmerk, is meestal nog slegs teologiese verskuiwinge, en dan nog maar by ‘n klein minderheid van die teoloë, hoewel hulle nie sonder invloed is nie. Van ‘n werklike, hartgrondige terugkeer na die eenvoud van die Bybel sonder meer, kan daar by Rome nog geen sprake wees nie. Die sola scriptura staan nog te duidelik tussen ons. Ook die ganse religieuse praktyk van die Rooms-Katolieke Kerk staan tussen ons. Ons weet dat die nuwe teologiese denkbeelde op die lang duur nie sonder invloed in die Rooms-Katolieke Kerk kan bly nie. Hulle kan nie blywend afgewys word nie. Die pouslike ensikliek Humani Generis (1950) bevat bv. talle uitsprake wat nie anders geïnterpreteer kan word nie, as dat die “théologie nouvelle” afgewys en veroordeel word. En tog, die “théologie nouvelle” gaan voort, en die teoloë uit dié kring is van die vrugbaarste en van mees gelese skrywers in die Rooms-Katolieke Kerk op die oomblik. Op die lang duur moet dit ‘n invloed uitoefen wat nie gekeer sal kan word nie. Iets moet verander. Maar of daar genoeg sal verander om die Protestantisme te bevredig, is meer as ‘n vraag. Selfs die mees radikale voorstanders van die gedagtes van die “théologie nouvelle” dink nie daaraan om minder Katoliek te word of ontrou te word aan die pretensies van die Roomse Kerk nie. Daarom: daar mag veranderinge in die Rooms-Katolieke Kerk intree, selfs belangrike veranderinge, maar sal dit nie maar weer gaan soos met die sg. kontra-reformasie nie, toe Rome onder die druk van die Reformasie talle verbeteringe hier en daar aangebring het, en talle eksesse en uitspattighede afgesny het, sonder egter dat die reformasie tot die kern van die saak deurgedring het? Wie nog geloof het, en wie die Christelike hoop en die Christelike liefde nie verloën het nie, sal met belangstelling die ontwikkelinge gadeslaan en daarvoor bid dat die Woord van God, wat skerper is as enige tweesnydende swaard, by die Rooms-Katolieke Kerk – èn by ons – tot sy volle heerskappy sal kom.
Beknopte Literatuurlys
1. Balthasar, H. Urs von, Karl Barth, Darstellung und Deutung seiner Theologie, Olten, 1951.
2. Berkouwer, G. C., Verdienste of Genade?, Kampen, 1958; Recent Developments in R. C. Thought, Grand Rapids, 1958; Een nieuwe Stroming in het Rooms-Katholicisme, Geref. Weekblad, Jan.-Feb. 1961; Verschuivingen in de R.K. Schriftbeschouwing, Geref. Weekblad, Nov.-Des. 1961.
3. Cerfaux, L., La théologie de l’Église suivant saint Paul2, Paris, 1948.
4. Congar, M. J., Vraie et fausse réforme dans l’Église, Paris, 1950.
5. Feckes, C., Die Kirche als Herrenleib, Kö1n, 1949.
6. Kan het Concilie mislukken?, Rubriek Geest en Godsdienst, De Linie, 24 Nov. 1961, bl. 5.
7. Koster, M. D., Ekklesiologie im Werden, Paderborn, 1940.
8. Küng, H., Rechtfertigung, Die Lehre Karl Berths und sine katholische Besinnung, Freiburg-Basel, 1957; Konzil und Wiedervereinigung Freiburg-Basel, derde druk, 1961.
9. Lubac, H. de, Méditation sus l’Église, Paris, 1953.
10. Magrath, O., An introduction to the theology of the D. R. Churches in South Africa (gesjabloneerde uitgawe).
11. Mersch, E., Le Corps Mystique du Christ, 2 vol., Bruxelles-Paris, 1951.
12. Meuleman, G. E., De Ontwikkeling van het Dogma in de R.K. Theologie, Kampen, 1951.
13. Mitterer, A., Geheimnisvoller Leib Christi, .Wien, 1950.
14. Rahner, K., Kirche der Sünder, Freiburg i. Br., 1948.
15. Strömungen im modernen Katholizismus und die Evangelische Stellungnahme, Versamelband, uitgegee deur die Switserse Protestantse Bond, Zollikon-Zürich, 1953.
16. Valk, J. M. M. de, Het Katholicisme in Beweging, Wending, April 1960.
17. Die skrywer van hierdie artikel het blykbaar vergeet om sy eie skitterende proefskrif in hierdie literatuurlys te vermeld, nl. Mistieke liggaam en kerk in die nuwe Rooms-Katolieke Teologie, Kampen, s.j. (1955). – (Red. N.G.T.T.).
WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker in die Ned. Geref. Teologiese Tydskrif, Deel iv(2), Maart 1963, 67 – 77]