Die beroepbaarheid van sendelinge

DIE BEROEPBAARHEID VAN SENDELINGE
Dr. W. D. Jonker, Johannesburg
Die Kerkbode, xci(10), 6 Maart 1963, 335/6.

In sy skrywe in u blad van 6 Februarie betwis ds. N. van Loggerenberg die interpretasie wat deur my gegee is aan die Kaapse besluit om sendelinge beroepbaar te verklaar vir die moederkerk.  My standpunt is dat sendelinge wat onder die jurisdiksie van die Kaapse Sinode val, juridies gesien, nou ook beroepbaar is in die moeder gemeentes van Transvaal (al het ek om verskeie redes tot versigtigheid in verband daarmee gemaan).  Sy standpunt is dat dit nie die geval is nie, en hy baseer sy argument daarop dat daar tussen die verskillende Kerke ’n ooreenkoms sou bestaan om mekaar se legitimasie te erken, slegs solank as wat daar aan bepaalde opleidingsvereistes voldoen word.  Word iemand deur een van die Sinodes gelegitimeer sonder dat by aan al die opleidingsvereistes voldoen, is sy legitimasie vanself nie geldig in die ander provinsies en met name in Transvaal nie.

Ek meen dat ds. Van L. die saak daarmee nie heeltemal korrek sien nie, ten minste dan wat Transvaal betref.  Die feit dat Transvaal die Kaapse legitimasie erken, is daarop gebaseer dat Transvaal eers die Kaapse standaard van opleiding help vasstel het, of dat Transvaal sou vereis dat niemand se legitimasie erken mag word as sy opleiding nie in ooreenstemming is met wat Transvaal vir homself in sy eie reglement neergelê het nie.  Nee, dit is daarop gebaseer dat Transvaal in kerklike gemeenskap staan met die Kaap en die Kaapse Sinode vertrou met die legitimasie van bedienaars van die Woord.  Transvaal erken die Kaapse Sinode as ’n verantwoordelike liggaam wat baie beslis daarvoor sorg sal dra dat niemand tot die openbare bediening toegelaat word as by nie daarvoor geskik is nie.  Die feit dat Transvaal die opleidingsvoorwaardes van die Kaapse Sinode ken en weet dat dit in normale omstandighede gehandhaaf, word, versterk sy vertroue in die Kaapse Sinode se oordeel.  Juis daarom erken Transvaal Transvaal ook die Kaapse Sinode se legitimasie wanneer iemand in ’n buitengewone geval toegelaat word tot die bediening sonder dat daar letterlik voldoen is aan die opleidingsvereistes wat die Kaapse Sinode normaalweg handhaaf.  In die verlede is daar herhaaldelik individuele sendelinge gelegitimeer vir die moederkerk, en die Kerke het dit oor en weer aanvaar.  Dit is ’n ou Gereformeerde beginsel dat iemand met “singuliere gawes” tot die bediening toegelaat sou kan word selfs sonder veel opleiding, en dan word sodanige legitimasie tog oor en weer erken.  Daarom staan daar in die Transvaalse reglement ook geen enkele woord van voorskrif aan die ander Sinodes oor watter opleidingsvereistes hulle moet handhaaf as hul legitimasie in Transvaal erken moet word nie, maar letterlik en sonder beperking net: “Proponente en Predikante wat deur een van die Gefedereerde Kerke gelegitimeer is, sal in die Ned. Geref. Kerk van Transvaal beroepbaar wees.”  Dit mag voorkom dat Transvaal oor ’n bepaalde geval kan oordeel dat die Kaapse Sinode ’n besliste fout gemaak het met die legitimasie, en dan sou dit Transvaal vrystaan om beswaar daarteen te maak en te besluit dat hy daardie spesifieke legitimasie nie erken nie.  Maar voor en aleer dit gebeur, is Transvaal gebonde aan sy eie bepaling om die legitimasie van die Kaapse Sinode te erken.

Dit is op grond van hierdie redenasie, wat ek deel met die actuarius van die Kaap, die Vrystaat en die vorige actuarius van die Transvaalse Algemene Sinode, dat ek van oordeel is dat sendelinge wat deur die Kaapse Kerk beroepbaar verklaar is in moedergemeentes, nou ook in die Transvaalse moedergemeentes beroepbaar is.  Die Vrystaat het dit ook uitgespreek dat dit juridies gesproke, die geval is, maar daarna het die Sinodale Kommissie gedoen wat m.i. binne die reg van die Vrystaatse Kerk val, naamlik om te verklaar dat hulle daardie legitimasie voorlopig nie erken nie, maar die saak uit die Algemene Sinode verwys.  In my artikel waarna ds. Van L. verwys, het ek dan ook tot versigtigheid gemaan by die beroeping van die Kaapse sendelinge na ons moedergemeentes, omdat dit ’n gekompliseerde saak kan word as Transvaal by sy eerste Sinodes sou besluit om nie hierdie stap van die Kaapse Sinode mee te maak nie.  Maar tot tyd en wyl die Transvaalse Sinodes sodanige besluit sou neem en pertinent sou verklaar dal hulle nie die Kaapse legitimasie van die sendelinge vir die moederkerk erken nie, is Transvaal gebonde aan sy eie bepaling om die Kaapse legitimasie te erken.  Die Transvaalse besluit dat sendelinge eers ’n colloquium doctum moet aflê voordat hulle in moedergemeentes beroepbaar sal wees, kan nie geld as ’n voorskrif vir die Kaap nie.  Transvaal vertrou die Kaap om te weet wat hy doen.  Dit staan Transvaal vry om sy eie sendelinge eers ’n colloquium doctum te laat aflê voordat hy hulle legitimeer, maar as die Kaapse Sinode eenmaal ’n man beroepbaar verklaar het, eis die kerklike gemeenskap van ons, om dit te erken, tensy ons om gegronde redes anders sou besluit, en dit amptelik uitspreek.

Ons moet nie te sleg daaroor voel dat dit blykbaar Transvaal se “outonomie” (lelike woord!,) begrens nie, want kerklike gemeenskap is soos ’n huwelik: dit verg vertroue en begrensing van die partye se outonomie.  Ons kan dit betreur dat die Kaap miskien effens oorhaastig gehandel het en ons dus voor ’n voldonge feit gestel het.  Ons kan die Kaapse Sinode daaroor berispe as ons wil en selfs besluit om nie hierdie daad van legitimasie van hom te erken nie.  Maar tot tyd en wyl ons dit gedoen het, staan die ooreenkoms dat ons mekaar se legitimasie erken, soos ’n paal bo water.  Dit is my eerlike oortuiging, selfs  nadat ek ds. Van L. se uiters bekwame betoog gehoor het.  In elk geval meen ek dat geen individuele leraar die reg het om teen die uitdruklike bepaling van ’n Sinode in te handel as hy in sy bepalinge neerlê dat by die legitimasie van ’n ander Sinode erken nie.  Daarom het ek ook geen ander keuse as om die sendelinge van die Kaapse Kerk as beroepbaar te beskou in die moedergemeentes van Transvaal nie.