Die bevestiging van huwelike en huweliksgebooie

DIE BEVESTIGING VAN HUWELIKE EN HUWELIKSGEBOOIE
Deur Dr. W. D. JONKER, Johannesburg
Die Kerkbode, xci(12), 20 Maart 1963, 390/1.

Aangesien daar in die afgelope tyd ’n hele paar huwelike wat deur predikante van die Ned. Geref. Kerk bevestig is, deur die staat ongeldig en nietig verklaar is, is dit noodsaaklik dat ons tog besonder versigtig sal wees, die nuwe huweliksregulasies baie goed sal bestudeer en noukeurig sorg sal dra dat ons as huweliksbevestigers ons stigtelik daaraan sal hou.  Al stort ’n voornemende troupaartjie ook hoeveel trane, en al veroorsaak dit ook hoeveel onaangename teleurstelling vir hulle as hulle nie daarvoor gesorg het dat al hulle stukke in orde is nie, behoort niks ’n leraar te beweeg om iets onwettigs te doen nie, want dit strek die kerk nie tot eer as die staat ons telkens op agtelosigheid moet wys nie.

In die besonder wil ons tog daarop wys dat die staat in verband met die afkondiging van huweliksgebooie uitgaan van die standpunt dat huweliksgebooie alleen geldig is as dit afgekondig word in die gemeente waaraan iemand behoort (Art. 12 van Wet No. 25 van 1961).  Volgens die regsadviseurs van die staat beteken “behoort” hier niks anders as formele lidmaatskap aan ’n gemeente in ooreenstemming met die bepalinge wat die kerk self vir lidmaatskap aan ’n gemeente gemaak het.  Die staat erken die goeie reg van die kerk om self uit te maak wanneer iemand formeel beskou moet word as lidmaat van ’n gemeente.  Maar as die kerk sekere bepalinge daaromtrent gemaak het, moet hy hom ook daar aan hou, anders is sy handelinge ongeldig.

Konkreet beteken dit bv. vir ons in Transvaal die volgende:

(1) Geen persoon se gebooie moet aangeneem word vir afkondiging tensy daardie persoon se lidmaatskap sertifikaat by die gemeente ingedien is nie.

(2) Al is ’n persoon se lidmaatskapsertifikaat nog in ’n bepaalde gemeente, terwyl hy reeds na elders vertrek het, is hy volgens ons bepalinge nie meer lidmaat van die gemeente waar sy sertifikaat is nie.  Sy gebooie kan dus nie meer daar gelees word nie.  Hy moet onverwyld sy sertifikaat indien by sy nuwe gemeente en sy gebooie daar laat lees.

(3) As slegs een party aan ons gemeente behoort, mag ons natuurlik die gebooie afkondig, maar die ander party moet sorg dat sy gebooie afgekondig word in die gemeente waaraan hy behoort volgens die reëls van die kerkverband waartoe by behoort.  Behoort hy aan geen kerk nie, kan hy sy voorneme om te trou laat publiseer of ’n spesiale lisensie verkry van die magistraat.

(4) Ook die gebooie van dooplidmate mag afgekondig word, mits daar ’n formele bewys aanwesig is dat so ’n persoon wel ’n dooplidmaat is, bv. deur die indiening van ’n doopseel.

Indien huweliksbevestigers gebooiebriewe uitreik wat nie aan hierdie vereistes voldoen nie, kan die Staat dit as ontoereikend beskou en van die hand wys.  Ons behoort dit te verwelkom dat die staat op hierdie wyse die selfstandigheid van die kerk eerbiedig, en ons behoort ons onverkort te hou aan ons eie bepalinge.  Die bepalinge wat in hierdie verband ter sprake kom, is vir die Suidstreek van Transvaal te vind in art. 45 van die Wette en Bepalinge in vergelyking met art. 41 (f) en 48, sowel as art. 3 van die Wette en Bepalinge van die Algemene Sinode van Transvaal (1957) en die besluit oor die herregistrasie van die doop, p. 248, punt (d).