Rooms of Gereformeerd? Enkele gedagtes oor die noodsaaklikheid van die kerkverband

ROOMS OF GEREFORMEERD?
ENKELE GEDAGTES OOR DIE NOODSAAKLIKHEID VAN DIE KERKVERBAND
Deur Dr. W. D. JONKER, Johannesburg
Die Kerkbode, xci(13), 27 Maart 1963,  435-8

Is dit werklik Rooms om te glo dat die Skrif ons leer dat die kerk van Christus op aarde, ook sigbaar één moet wees? Dit is in elk geval wat beweer word deur sommige teoloë uit die Ned. Geref. Kerk. Volgens hulle sou dit Rooms wees om te sê dat alle ware gemeentes of kerke van Jesus Christus wat met mekaar deel in dieselfde Skriftuurlike belydenis, die roeping en plig het om hul innerlike eenheid tot openbaring te bring deur met mekaar in kerkverband te tree. Dit sou Rooms wees om te beweer dat die sg. eienskappe van die kerk (eenheid, heiligheid, algemeenheid, Christelikheid of apostolisiteit) ook in die sigbare bestaan van die kerk op aarde tot openbaring moet kom, aangesien dit “eienskappe van die kerk in sy onsigbare gestalte as voorwerp van ons geloof” sou wees. Wie meen dat die innerlike, Godgegewe eenheid van die liggaam van Christus ook konkreet, sigbaar, organisatories, tot uitdrukking, behoort te kom, ly aan niks minder nie as ’n “holistiese kerkbeskouing” wat “’n ongelukkige geboorte uit die Romeinse staatsbeskouing sou wees, maar wat in Gereformeerde kerkbeskouing gegrond is.” (Aanhalings van prof. T. N. Hanekom.)

Wat moet ons van hierdie swaar beskuldiginge sê? As antwoord daarop moet ons op ’n paar kleinighede wys wat blykbaar nie in hul volle gewig deur die vervaardigers van die genoemde beskuldiginge verdiskonteer is nie.

(1) Die Gereformeerde Kerkreg Spreek Deurgaans van die Noodsaaklikheid van ’n Kerkverband vir alle Ware Kerke van Jesus Christus

Reeds Voetius het in sy Politica Ecclesiastica die noodsaaklikheid van die kerkverband teenoor die independentisme gegrond op die positiewe Goddelike reg wat in die Skrif geopenbaar is. F. L. Rutgers, ’n man wat self op sommige punte ’n klap van die independentisme weggehad het, het tog vir geen oomblik getwyfel aan die noodsaaklikheid van die kerkverband nie, maar spreek inteendeel daarvan dat ’n kerk “na die eis van Gods Woord” in verband moet staan met kerke van dieselfde belydenis en kerkregering (Kerkelijke Adviezen, II, 332).

Hy sê elders: “Naas die beginsel wat die selfstandigheid van die plaaslike kerke handhaaf. staan ook die beginsel dat die plaaslike kerke nie op hulleself moet staan nie, maar hulle in kerkverband moet verenig” (Verklaring van de Kerkenordening, IV, 156-157). Volgens Rutgers – en alle Gereformeerde kerkregtelikes – bestaan daar ’n parallel tussen die noodsaaklikheid vir die individuele gelowiges om hulle by die gemeente van Christus te voeg, en die noodsaaklikheid vir die afsonderlike gemeentes om hulle in één kerkverband te verenig, en Rutgers beweer dus: “Net so is ook die plaaslike kerke skuldig om met die suiwere kerke in kerkverband te tree” (a.w., 1.57). Johannes Jansen haal ’n woord van Rutgers aan wat ek onvertaald weergee: “Er bestaat een innerlijk verband tussen alle ware kerken van Christus, omdat zij eenzelfde geloof deelachtig zijn. Waar die innerlijke band is, daar is het uitwendig verband krachtens Gods Woord noodzakelijk en verplicht. De bijzondere kerk mag niet op zichzelve blijven staan, daar Gods Woord dat niet wil. En zolang dat Woord regel blijft, moet de uitwendige band ook bewaard blijven” (Korte Verklaring van de Kerkorde, 134).

Ook H. Bouwman druk hom herhaaldelik in dieselfde terme uit. Hy voer op die eerste bladsye van sy Gereformeerd Kerkrecht II die Skrifgronde aan vir die noodsaaklikheid van die kerkverband en wys daarop dat die verskillende gemeentes in die Nuwe Testament hul eenheid in Christus verstaan het, sowel as die roeping tot samebinding, en samewerking, “en zich geroepen wisten tot de eenheid in leer, tucht en cultus” (a.w., 11). Al moet die selfstandigheid en volledigheid van elke plaaslike kerk erken word, “dit neem nie weg dat alle plaaslike kerke geroep is om die eenheid en samewerking met ander kerke te soek nie, sodat in die kerkverband die kerke mekaar sou kon steun, wederkerig toesig oor mekaar sou kon oefen, en alles doen wat vir die regte inrigting van die kerke, die vryheid van die gemeente en die handhawing van die belydenis, orde en tug in die kerke nodig is” (a.w., 12). Daarbenewens wys hy daarop dat Voetius gesê het dat die kerkverband óók (naas op goddelike reg) berus op die vrywillige wedersydse toestemming van die kerke. Dit beteken egter nie dat die kerke dus die vryheid sou hê om buite kerkverband te bly as hulle dit sou verkies nie. Slegs “gewigtige oorsake” – waarmee kennelik bedoel is die verwerping van Gods Woord deur die. kerkverband – mag daartoe lei dat ’n kerk op homself bly staan. Bouwman bedoel dus dat die vryheid geen willekeur is nie, maar die vryheid om in gehoorsaamheid aan God te doen wat ons roeping is, of om dit in ongehoorsaamheid te weier. Daarom sê hy: “Die Gereformeerdes het die kerkverband nie afgelei uit die vryheid van die mens nie, maar het dit inteendeel beskou as noodsaaklik vanweë die eenheid in Christus” (a.w., 10).

(2) Bogenoemde Uitsprake Beteken nie dat die Kerkverband vir die Gereformeerde Kerkreg dus tot die Wese van die Kerk sou Behoort nie

Dit is nie die kerkverband wat die kerk tot kerk maak nie. ’n Plaaslike versameling van gelowiges rondom die bediening van Woord en sakrament is kerk en vorm dan ook ’n “selfstandige” gemeente, ook al het dit geen verband met ander gemeentes nie. ’n Dergelike gemeente moet egter ter wille van sy welwese én dié van die ander gemeentes met hulle in kerkverband tree. Dit is abnormaal as dit nie geskied nie (Bouwman. a.w., 9-10).

Sonder die kerkverband wat alle ware kerke van Christus saamsnoer. word daar êrens skade gely, en kan dit met die nie volkome wel wees nie. Hy mis iets. Die openbaring van wat die kerk innerlik is, word bemoeilik en dikwels onmoontlik gemaak.

Die wedersydse steun, kontrole en gemeenskap van die kerke en die kinders van God wat deur die Skrif duidelik geëis word, word gestrem. Die innerlike aard van die kerk van Christus eis nie alleen die éénheid van die individuele gelowiges in die plaaslike kerk nie, maar ook die eenheid van die plaaslike, kerke. Daarom sê Johannes Jansen:  “De diepere grond voor het gereformeerd kerkverband ligt in de geestelijke eenheid in Christus. Alle plaatselijke kerken vormen het ene lichaam van Christus” (a.w., 134).  Dit geld dus ook hier ten volle dat die oog nie vir die hand sê:  Ek het jou nie nodig nie: of ook die hoof vir die voete: Ek het julle nie nodig nie (1 Kor. 12 : 21). Die kerke het mekaar nodig, of hulle dit so aanvoel of wil aanvoel al dan nie: God het hulle innerlik saamgevoeg en hulle hoort dus bymekaar.

(3) Die Gereformeerde Kerkreg Sien in die Kerkverband Iets van die Katolisiteit (Algemeenheid) van die Kerk tot Uitdrukking Kom

Miskien sal niemand lus hê om van die bogenoemde twee punte te verskil nie, want glo ons dan nie almal aan die noodsaaklikheid van ’n kerkverband tussen al die Ned. Geref. gemeentes nie, en het ons dan nie nog onlangs onder tekens van diepe bewoënheid die vyf Ned. Geref. kerke in kerkverband herenig met één Algemene Sinode as die uitdrukking daarvan nie? Niemand het dit, of die drang daartoe, Rooms genoem nie. Hierdie hele redenasie word egter vir sommige mense “Rooms” sodra hulle hoor dat iemand uit die bostaande die gevolgtrekking maak dat daar dus ook ’n innerlike noodsaaklikheid bestaan dat die Ned. Geref. Moeder- en Dogterkerke in kerkverband saamgesnoer moet wees. Daarom is dit nodig, dat ons daarop moet wys dat die gereformeerde kerkreg nie die noodsaaklikheid van die kerkverband gekwalifiseer het deur te sê dat dit net geld sover die lands-, volks-, taal- kleur- of rassegrense strek nie, maar, inteendeel, dat dit bedoel is om alle ware kerke van Christus te omvat, en só iets van die katolisiteit (algemeenheid) van die kerk sigbaar te maak.

Bouwman verklaar dat die gereformeerde kerkreg altyd uitgaan van die algemene, Christelike kerk en op grond daarvan die noodsaaklikheid van die kerkverband verdedig (a.w. 10 – 11).

Dit is bekend dat Calvyn verklaar het dat die Skrif dikwels met die naam kerk “die ganse menigte van mense aandui wat oor die aarde versprei is en wat bely dat hulle een God en Christus dien”’, ens. Dit is die sigbare kerk, sê Calvyn (Inst. IV. 1. 7), waarop die aanduiding “algemeen” in die twaalf artikels “in ’n sekere opsig betrekking het”, sodat ons almal in broederlike eensgesindheid “met al Gods kinders” verenig moet hou (Inst. IV, I, 3). Die sigbare algemene kerk is vir hom die ganse menigte uit allerlei volkere wat saamstem in die één ware belydenis, en wat onderverdeel is in plaaslike kerke vanweë hul verspreidheid oor die aarde (Inst. IV, I, 9). Dat hierdie plaaslike kerke hulle onderlinge verbondenheid as “dele” van die één sigbare wêreldkerk tot open­baring moet bring, was vir Calvyn blykbaar vanselfsprekend as ons let op sy kennis van en aandeel in die, totstandkoming van die kerkverband, met name in Frankryk. As ons manne soos Polman, Berkouwer, Kunst e.a. mag glo, dan geld dit van Calvyn en alle kerkhervormers dat hulle geglo het dat die één Katolieke evangeliese kerk op grond van die Skrif in sy sigbare openbaring nie verskeur mag wees nie. “Met name Calvijn heeft zijn leven lang geworsteld om deze gebrokenheid in het zichtbare weg te nemen” (vgl. Rapport Oecumeniciteit en “Pluriformiteit”, p, 27 e.v.) En as die kerk nie verskeur mag wees nie, dan moet hy sy eenheid ook in die sigbare uitlewe en openbaar – en die Skriftuurlike kanaal daarvoor is die kerkverband. Daarom dat die bogenoemde teoloë op grond van ’n deeglike ontleding van die Nederlandse Geloofsbelydenis art. 27 -29, in samehang met die geskrifte van al die kerkhervormers, tot die gevolgtrekking kom: “De eenheid der kerk als het mystieke lichaam van Christus is een van God geschonken werkelijkheid. Daaraan moet de eenheid in het zichtbare, uitwendige organisatorische leven der kerk beantwoorden.  Dit wordt als een goddelijke eis en opdracht aanvaardt…” (a.w., 29). Selfs Kuyper erken dat Calvyn gestaan het op die standpunt van die één evangeliese kerk. (Vgl. hieroor: W. Nijenhuis, Calvinus Oecumenicus;  A. D. R. Polman, Onze Nedl. Geloofsbelijdenis, III, 354 e.v.; A. Kuyper, De Gemeene Gratie III. 228- 233; H. Volten, Rondom het Belijden der Kerk, 195 e.v.)

Daarom is dit net konsekwent dat die  gereformeerde kerkreg die idee van “n kerk wat homself beperk tot die nasionale grense, beslis van die hand wys as prinsipieel onjuis. Kuyper self noem ’n “nasionale kerk” ’n kontradiksie, aangesien daar in Christus geen Jood of Griek of barbaar is nie, want almal is in Hom een (Pro Rege II, 201). In die genoemde rapport oor “Oecumeniciteit en Pluriformiteit” word verklaar dat dit vir die Nuwe Testament volkome vanselfsprekend is dat daar slegs één kerk van Christus kan wees, watter verskeidenheid (van gawes, taal, ras, ens.) daar ook al mag bestaan tussen die gemeentes. “Wanneer er – uiteraard – van verscheidenheid sprake is, dan gaat het om verscheidenheid binnen de éne kerk en wordt er juist tegen gewaarschuwd, dat de verscheidenheid niet mag ontaarden in tegenstellingen, die een breuk betekenen … Het ‘in Christus’ nivelleert de verschillen niet noch miskent ze (man-vrouw), maar het verschil heeft de eenheid niet op” (21).

C. Smeenk gaan in sy Chr. Sociale, Beginselen 1 uitvoerig op hierdie sake in en wys daarop dat, hoewel dit voor die hand lê dat kerke uit dieselfde land en met dieselfde taal in die eerste plek met mekaar in verband sal tree, die Skriftuurlike gedagte van die één (sigbare) wêreldkerk vasgehou moet word Daarom kan geen gereformeerddenkende mens verskil van prof. W. J. Snyman as hy verklaar dat ons nie glo aan een Bantoekerk en daarnaas een blanke kerk nie, maar aan een Christelike kerk onder blankes en nie-blankes. Die kerkverband moet hom met dieselfde noodwendigheid uitstrek oor die lands- en volksgrense heen as wat dit binne die volks- en taalgrense moet geskied, „want dit is die een Christelike kerk wat in verskillende lande tot openbaring kom onder verskillende nasies” (Die Kerkblad, 1l April 1962, 6). Dit spreek daarby seker vanself dat die aard en die hegtheid van die kerkverband nie altyd dieselfde sal kan wees tussen gemeentes van verskillende taalgroepe as die tussen gemeentes uit dieselfde taalgroep, en tussen gemeentes in die binne- en buiteland, as tussen gemeentes in dieselfde land nie – dit lê aan die praktiese omstandighede wat Calvyn noem “eise van die menslike noodsaaklikheid”. Maar dat die één kerkverband bewaar moet bly, is ’n goddelike eis waaraan ons nie verby mag gaan nie.

(4) Ook die Oud-Gereformeerde Praktyk Gevestig die Bostaande Stellings

Dat daar volks- en taalverskille bestaan, is nie iets van gister of vandag af nie. Ons gereformeerde vaders het ook al daarmee te doen gehad. Dit het daartoe gelei hulle deurgaans die noodsaaklikheid besef het dat mense uit verskillende taalgroepe in afsonderlike gemeentes gegroepeer moet word. Maar hulle opvatting van die eenheid van die kerk was te sterk om toe te laat dat sulke gemeentes sonder verband met dié uit die ander taalgroepe sou bly.

Die vlugtelinggemeentes in Londen is onder Johannes a Lasco ingedeel volgens die taal wat hulle gepraat het, en elke “gemeente” het sy eie soort kerkraad gehad, maar in die “coetus” het die twee “kerkrade” saam vergader om die band van eenheid te bewaar. Die sg. Dordtse Kerkorde maak ook voorsiening vir die afsonderlike bestaan van gemeentes en kerkvergaderinge vir die verskillende taalgroepe, maar die één kerkverband word oor die volks- en taalgrense heen bewaar, met die een generale sinode en die één kerkorde as die uitdrukking daarvan. Ek het niemand dit nog ooit “Rooms” hoor noem nie. Dit is dan ook nie Rooms nie, maar eg gereformeerd om die eenheid van die kerk só te benader. Dit het nie uit prinsipiële oorweginge by ons vaders gebeur dat die één kerk van Christus uiteengegaan het in verskillende nasionale of volkskerke nie. Dit was meestal omstandighede buite hulle beheer, en latere geslagte het in die geestelike insinking wat op die Reformasie gevolg het, toegelaat dat dit so bly. Wie kan die skade daarvan vir die kerk van Christus bereken? Die Sinode van Dordrecht 1618-1619 was nog ’n laaste glans aan die Westerkim as herinnering daaraan dat egte gereformeerdheid ook katoliek is en roep om die sigbare openbaring van die een algemene kerk.

(Word vervolg)