Rooms of Gereformeerd? Enkele gedagtes oor die noodsaaklikheid van die kerkverband – II

ROOMS OF GEREFORMEERD? ENKELE GEDAGTES OOR DIE NOODSAAKLIKHEID VAN DIE KERKVERBAND – II
Deur Dr. W. D. JONKER, Johannesburg
Die Kerkbode, xci(14), 3 April 1963, 469-71

In die vorige artikel het ons kortliks aangetoon dat die gereformeerde kerkreg deurgaans spreek oor die noodsaaklikheid van ’n kerkverband tussen alle ware kerke of gemeentes van Jesus Christus, en dat dit die uitgesproke bedoeling is dat dié kerkverband hom sal uitstrek oor die lands-, volks-, taal. of rassegrense heen om die één liggaam van Jesus Christus sover moontlik sigbaar tot openbaring te laat kom. Dit – so het die gereformeerde kerkreg dit nog steeds verstaan – word geëis deur die innerlike eenheid van die liggaam van Christus sowel as die welwese van die kerk.

Die gevolgtrekking wat ons hier uit moet maak, is dat dit van alle grond ontbloot is om teen die opvatting dat dit Gods wil is dat daar ook sigbaar slegs één kerk van Christus op aarde moet wees, te polemiseer deur dit ongereformeerd te noem. As dié slag raak was, sou ons in die absurde posisie beland dat alle gereformeerde kerkregtelikes, Calvyn self en die Dordtse Sinode, ongereformeerd en met Roomse suurdesem besmet sou wees. En waar ons herhaaldelik gehoor het dat die gereformeerde kerkregtelikes hulle op die Skrif beroep, sou dit beteken dat hulle Skrifuitleg ook Rooms was.

Juis waar dit nou egter blyk dat wat deur en deur gereformeerd moet heet, as deur en deur Rooms bestempel word, is dit seker noodsaaklik dat ons die gronde waarop hierdie beskuldigings berus, nader moet beskou – vir sover daarvoor teologiese gronde in aanmerking kan kom. En dan wil ons kortliks die volgende stel:

(1) Op die Skrif kan hierdie Afwysing van die Één Sigbare Kerk hom nie Beroep nie

Dit is dan ook opmerklik dat ’n dergelike Skrifargument nog nêrens gelewer is nie. Al wat ’n mens uit -die Skrif sou kon aanvoer, is dat die Skrif die selfstandigheid en volledigheid van elke plaaslike gemeente as kerk leer en nie volledige gegewens bied oor ’n kerkverband wat al die gemeentes omvat en saamsluit nie. Maar wie aan hierdie argument bewyskrag wil verleen teenoor die redenasie waarop die gereformeerde kerkreg die noodsaaklikheid van die kerkverband baseer, beland noodwendig in independentistiese vaarwater en verwaarloos al die Skrifgegewens waarop ons gereformeerde vaders vroeg en laat teen die Independentiste gestry het. Dink maar aan die Form of Presbyterial Church Government, opgestel deur die Sinode van Westminster in 1645 en die radikale afwysing van die Independentisme deur Voetius. Marius Bouman het meer as oortuigend aangetoon dat Voetius die kerke wat in kerkverband met mekaar verenig is, saam kerk in institutêre sin noem en daarmee selfs die half-independentistiese interpretasie van Voetius wat rondom die Doleansie opgang gemaak het, vir goed as onjuis bewys (vgl. sy: Voetius over het Gezag der Synoden). En niemand kan tog uit die Skrif aantoon dat die apostels ooit afsonderlike kerkverbande ingestel het vir Jode, Grieke of ander volksgroepe nie. Dus: op die Skrif kan hierdie afwysing van die één sigbare kerk hom nie beroep nie. Daarom dat sommige in ons tyd ook al beweer dat die hele vraagstuk van afsonderlike kerke weggetrek moet word uit die teologie na die sg. “beskawingsfilosofie”. Dit sal egter eers kan gebeur as aangetoon kan word dat die gereformeerde kerkreg on-Bybels is in sy ruimte vir die openbaring van die katolieke karakter van die sigbare kerk. Dit nog afgesien van die vraag hoe die kerk hom ooit kan laat beheer deur ’n relatiewe “filosofie”. ‘n Mens ruik die negentiende eeu in dergelike redenasies.

(2) Die Degradering van die Één Sigbare Kerk Verwar die Egte Gereformeerde Visie op die Sigbare Eenheid met die Rooms-Katolieke Opvatting van die Eenheid

In die Roomse kerkbeskouing is daar geen ruimte vir die erkenning van die onsigbare kerk nie, want die Rooms-Katolieke teologie weier om te erken dat die kerk dáár is waar die genade is, en dat die kerk bestaan uit alle ware gelowiges, deur God versamel waar Sy Woord en sakramente suiwer bedien word. Vir Rome is die kerk dáár waar Petrus is. Die instituut van die Roomse Kerk onder die pous van Rome is dus ongenormeerd en sonder meer die kerk van Christus op aarde. Die eenheid van die Rooms Katolieke Kerk is dus van voor tot agter net institutêre eenheid. Die eenheid in die deelname aan Gods genade en die eenheid in die belydenis van die waarheid van Gods Woord is vir die Rooms-Katolieke Kerk nie van belang nie, solank die sigbare eenheid met die pous van Rome bewaar word. Die radikale verskil met die gereformeerde opvatting behoort duidelik te wees. Vir ons is die kerk die vergadering van ware gelowiges in Christus, en omdat niemand presies kan sê wie ‘’n ware gelowige is nie, is die kerk primêr onsigbaar. Maar die kerk kan nie onsigbaar bly nie, want God vergader Sy kerk rondom die bediening van Woord en sakrament.

Daarom word die “onsigbare” kerk openbaar in talle plaaslike gemeentes wat almal die naam en gesag van kerk dra, bloot vanuit hulle betrekking tot Christus alleen. Die eenheid wat hierdie plaaslike gemeentes met mekaar besit, is weer primêr die eenheid in Christus, die genormeerde eenheid van die één ware geloof. Maar ter wille van die diepere, geestelike eenheid en die welwese van die kerk moet ook hierdie onsigbare eenheid openbaar gemaak word in ’n sigbare, organisatoriese verband.

Die leser sal die verskil met toe oë kan sien. Die Roomse eenheid stel nòg die vraag na die genade nòg die vraag na die waarheid; vir die gereformeerde eenheid is albei van lewensbelang. Die Roomse eenheid ken dan ook nie so iets as die selfstandigheid van die plaaslike kerk en spreek in die geheel nie van kerkverband nie, want alles is gegooi oor die boeg van die eenheid .met die Roomse pous. Vir die gereformeerde opvatting van die eenheid is hierdie twee begrippe egter tekenend en kenmerkend, omdat nie die eenheid kerk tot kerk maak nie, maar die Woord van God alleen. Die Roomse eenheid nivelleer dan ook alles tot volstrekte eenvormigheid (één kerk­taal!), terwyl die gereformeerde eenheid die verskeidenheid eerbiedig (selfstandigheid van plaaslike gemeentes, eerbiediging van volks- en taalverskeidenheid binne die één kerkverband, ens.). Wie hier geen onderskeid kan ontdek nie, redeneer omtrent op dieselfde trant as iemand wat ’n posbus vir ’n Kommunis aansien: albei is immers rooi.

(3) Die Afwysing van die Één Sigbare Kerk Leef Dikwels nog uit die Reste van die Oorwonne Negentiende-eeuse Denke

Die negentiende eeu was, teologies gesien, nie ’n hoogtepunt nie. Die erfgoed van die Reformasie is nie meer verstaan nie. Kerkregtelik gesien, was die negentiende eeu ’n laagtepunt. Dat die negentiende eeu die eeu van die kollegialisme was, is tekenend van sy hele denke. Die kerk is beskou as ’n vereniging wat hom soos alle menslike vereniginge kan inrig soos hy wil, soos die meerderheid van sy lede dit wil. Gevolglik het die negen­tiende eeu ook die eeu van die vermenigvuldiging van kerke geword: elke groep kan hul eie kerk hê wat hulle pas en wat hulle kan inrig soos hulle wil. As die sigbare kerk dan ’n vereniging van eendersdenkendes is, laat elk­een dan vir hom ’n kerk kry na sy smaak. So was die negentiende eeu ook op kerklike terrein die eeu van die individualisme en die demokrasie. En om die onrus oor die feit dat ’n  mens só met die kerk van Christus omgaan, enig­sins te stil, moes die begrip “onsigbare kerk” ’n nuttige diens doen. Die onsigbare kerk is tog heilig, één en katoliek: daarom hoef die sigbare kerk dit nie te wees nie.

Op hierdie wyse is ’n begrip wat sedert die dae van Augustinus ‘n nuttige doel in die teologie gedien het, misbruik om die sigbare kerk te degradeer op ’n wyse wat aan die Skrif en die Reformatore ten eie male vreemd was. Die Reformatore het nie die sigbare en onsigbare kerk van mekaar losgemaak nie, maar dit gesien as twee sye van dieselfde werklikheid wat mekaar op hierdie son­dige aarde wel nooit volkome dek nie maar wat mekaar eintlik be­hoort te dek. Dit is vir die kerk steeds roeping en plig om daarna te strewe dat sy sigbare gestalte sover as moontlik aan sy innerlike werklikheid beantwoord. Die sg. eienskappe van die kerk is dan ook nie bedoel om net eienskappe van die onsigbare kerk te wees nie. Ons stem saam met die Rapport “0ccumeniciteit” en “Pluriformiteit” as daarin verklaar word dat ons belydenis van ons eis om alles te doen wat die eenheid, katolisiteit, apostolisiteit en heiligheid van Christus se kerk “ook in het georganiseerde leven der kerk bevorderen kan” (bl. 30). Die negentiende eeu het dit nie verstaan nie.

‘n Mens moet darem ook maar versigtig wees as jy jou vir die verwerping van die opvatting van die één Christelike kerk beroep op die groot sendingkonferensies van die vorige eeu en die begin van hierdie eeu. Soos ons weet was die gereformeerdes nie op die voorpunt van die sendingaksie nie. Nou is die vraag watter invloed die gereformeerde kerkreg op die genoemde konferensies gehad het. Watter teologie sit agter die besluite van die konferensies? Was dit nie dikwels eerder ’n pragmatistiese Angelsaksiese denke en ’n Duitse landskerkopvatting (“cuius regio, eius religio”) wat hierdie besluite gestempel het nie? ‘n Mens sou graag van die teendeel oortuig wil word.

En dan nog Kuyper. Ook vir Kuyper moet ’n mens oppas, want Kuyper was wel ’n groot man, maar Kuyper se teologie dra tog in sommige opsigte die spore van die negentiende-eeuse denke. Hoewel ek meen dat daar soms meer met Kuyper bewys word as wat met Kuyper bewys  kan word, en dat daar verbygegaan word aan sommige uitsprake van Kuyper, wil ek tog daarop wys dat die kritiek teen Kuyper se kerkopvatting vanuit gereformeerdes kringe, in ons tyd steeds skerper word. Dit wil my voorkom of die uitstekende werk van Lothar Coenen, Gemeinde und Synode (diss. 1952), by sommige van ons onbekend is. Daarin word onder meer aangetoon dat Kuyper sterk trekke van verwantskap met Schleiermacher vertoon, dat hy in sy kerkbegrip net soos die negentiende eeu te veel van die mens uitgegaan het en dat hy nie vry te spreek is van die individualisme wat sy eeu beheers het nie. Kuyper se klem op die wedergebore mens, sy siening op die amp van die gelowige en die “kerkformerende krag” wat in elke wedergeborene geleë is, ja, die skema van potentia en actus wat sy hele teologie beheers, vorm die blywende vingerwysings na Kuyper se diepe beïnvloeding deur die eeu waarin hy gelewe het.

W. H. Velema het in •sy dissertasie, (V. U., 1957) meer as duidelik gewys op die donker skaduwee wat daar oor die gereformeerde karakter van Kuyper se denke val – en dit raak onder andere ook sy kerkbegrip. Dit is dan ook ’n feit dat Kuyper se opvatting van die pluriformiteit van kerke in gereformeerde kringe in Nederland geen ernstige aandag meer geniet nie, want “ze heeft de Schrift niet aan haar kant. Ze is een noodoplossing … Ze legt zich bij een onbijbelse situatie neer” (Volten, a.w., 25). Polman het oortuigend aangetoon dat die Reformatore nooit geannekseer kan word as vaders of selfs peetvaders van die teorie van die pluriformiteit van kerke nie. As die Bybel van verskeidenheid praat, is dit ’n verskeidenheid binne die één kerk, en as ons die term “pluriformiteit” wil behou, moes ons spreek van pluriformiteit in die kerk. Selfs in die kringe van die Gereformeerde Kerke in Nederland hoor ons deesdae die erkenning dat sekere leidende figure in die Hervormde Kerk in die dae van die Doleansie (Gunning, Hoedemaker en later Kromsigt) sekere elemente van ,die waarheid aangaande die kerk raakgesien het wat deur Kuyper gemis is. Ons sal dus goed doen as ons agter Kuyper teruggryp op die Reformatore en die Skrif. Dit is in ons tyd miskien makliker as ooit tevore, want die leerstuk aangaande  die kerk staan reeds sedert die Eerste Wêreldoorlog in die brandpunt van die teologiese belangstelling van die ganse Christenheid in alle lande. En wie ook maar enigsins ’n bibliografie naslaan, sal merk hoeveel studies en monografieë daar geskrywe is en nog steeds geskrywe word oor wat die Skrif en die Reformatore oor die kerk leer. En wie sal dit – ná kennismaking met wat daar in hierdie opsig geskrywe is – wil ontken dat baie waarhede wat tevore bedek was, veral in die liberale negentiende eeu, vandag weer uit die Skrif en by die Reformatore herontdek is? Die onmiskenbare. vrugte daarvan kan reeds gemerk word in veel goeds wat daar gebeur het in die Nederlandse Hervormde Kerk, die Switserse en Skotse kerke, die Franse en Hongaarse Gereformeerde Kerke en die Duitse Evangeliese Kerk – om maar enkele voorbeelde te noem. Ook ons mag ons nie aan die denke oor die kerk onttrek nie, en hoef ons in elk geval nie aan die negentiende eeuse denke vas te klem asof die Gees van God nie ook in ons tyd insig in die Woord van God sou gee nie.

In alle opsigte moet die praktyk van die kerk beheers word deur die Bybelse, gereformeerde waarheid. Goddank dat daar in ons midde soveel tekens is van die opregte begeerte begeerte dat dit so sal wees.