Opmerkinge oor Sinodale Besluit
Op Maandag, 8 April 1963, het die Sinode van Suid-Transvaal by die behandeling van die verslag van die Kommissie vir Aktuele Vraagstukke ’n besluit insake die aanspreeklikheid van kerklike dienaars geneem waaroor ons graag enkele opmerkinge wil maak. Die besluit lui soos volg:
“Die Sinode besluit dat alle ampsdraers en lede van die Kerk gebonde is en gehoorsaamheid verskuldig is aan Sinodale besluite wat wettiglik geneem is, en sulke besluite steeds behoort te verdedig.
“Indien ’n ampsdraer of lidmaat in gemoede beswaard voel oor ’n Sinodale besluit wat in stryd met die Heilige Skrif sou wees of in stryd met die belange van Gods Koninkryk, staan dit hom vry om te bewys dat sodanige besluit in stryd met die Skrif of die belange van die Koninkryk is en aan te dring op sy herroeping of wysiging.
“Sodanige kritiek op Sinodale besluite moet egter altoos geskied met Christelike waardigheid en selfbeheersing en langs die koninklike weg van debat in die kerklike vergaderings en kerklike organe. Dit mag nooit die karakter van openbare agitasie of skeurmakery aanneem nie en aanleiding gee dat die wêreld die liggaam van Christus laster nie” (Agenda, p. 300, Afgerolde notule, p. 173).
Dit gaan hier oor die gehoorsaamheid aan die besluite van Sinodes en die vryheid van diegene wat van die besluite verskil, om hulle daaroor uit te spreek.
Teen die algemene beginsel dat Sinodale besluite wat nie in stryd met Gods Woord of die belange van Gods Koninkryk is nie, gehoorsaam moet word, het niemand van ons beswaar nie. Ons stem dan ook saam met die gedagte wat beliggaam is in die eerste twee paragrawe van die besluit, asook daarmee dat kritiek teen Sinodale besluite met waardigheid en selfbeheersing moet geskied, en nie die karakter van openbare agitasie of skeurmakery moet aanneem en die wêreld aanleiding tot lastering moet gee nie . Dit is egter duidelik dat hierdie besluit verder gaan as om net die algemene beginsel te beklemtoon, en ook bedoel om dit te doen, anders was dit nie nodig om so ’n besluit te neem nie. En dit bestaan dan daarin dat hierdie besluit ’n nuwe element bevat wat tevore totaal onbekend was in die Ned. Geref. Kerk sowel as in alle kerke van Gereformeerde belydenis, nl. dat dit ’n verbod plaas op diegene wat van bepaalde besluite verskil, om – terwyl hulle daardie besluite gehoorsaam – hulle verskil van gevoele te openbaar waar dit vir hulle verantwoord mag voorkom om dit te doen. Hulle mag dit alleen doen op twee plekke wat deur die Sinode voorgeskrywe word: in die debat in kerklike vergaderinge en in die debat in die kerklike organe. Dit is oor hierdie nuwe element, hierdie inperkende maatreël, dat ons besorg voel.
Dit was nog steeds so, dat predikante deur hulle ondertekeningsformulier gebonde was om hulle verskil van gevoele oor belydenissake nie in die openbaar voor te staan voordat ’n bevoegde kerklike vergadering dit kon beoordeel nie. Die onderhawige besluit het egter kennelik nie die belydenis op die oog nie, maar besluite van ’n meer algemene aard wat nie op gelyke vlak met die belydenis beskou mag word nie, omdat dit lê op die terrein van die bestuur, beleid, werkmetode en administrasie van die kerk, en die beginsels waarop hierdie dinge berus. Hoewel dit vanself spreek dat daar ook hierby deurgaans gevra moet word na die Skriftuurlike beginsels, is dit duidelik dat hierdie tipe besluit nooit direk uit die Skrif afgelees kan word nie – dan sou dit in die belydenis opgeneem moet word – maar dat dit eerder berus op afleidinge wat ons vanuit die Skrif maak, ook bloot op ons praktiese sin, ons gevoel vir orde en vir wat nuttig is. Daarom is dit dan ook dat daar met met reg veel verskil van gevoel kan voorkom, ’n verskil wat soms ook teruggevoer kan word op verskillende interpretasies van Skrifgegewens en die beginsels wat ons daaruit meen te moet aflei. Dit is daarby nie uitgeslote dat juis die minderheid die Skrif aan hulle kant kan hê nie, want hoewel ons glo dat die Heilige Gees ook kerklike vergaderinge in alle waarheid wil lei, is dit geen vanselfsprekendheid dat die meerderheid van ’n vergadering aan die Heilige Gees gehoorsaam sal wees nie. Daarom was daar nog steeds met betrekking tot hierdie tipe besluit ’n groot mate van vryheid en verdraagsaamheid onder ons, soos dit ook is in alle kerke van Gereformeerde belydenis en saamhang met die aard van dergelike bepalinge volgens die Gereformeerde beskouinge (vgl. Calvyn, Institusie, IV, X, 27-30, en bv. H. Bouwman, Gereformeerd Kerkrecht, II, Kampen, 1934, p. 51 e.v., Dr. Joh. Jansen: Korte Verklaring van de Kerkorde der Gereformeerde Kerken, Kampen, 1952, p. 144, 369 e.v.). Immers, besluite van hierdie aard kan tog nooit bedoel wees om mense se gewetens te bind nie (vgl. Calvyn, Institusie, IV, X, 5, 27, 28, 30; Nederlandse Geloofsbelydenis, art. 32). Mits ampsdraers en ander lede van die kerk hou by wat besluit is, is die reg om verskil van mening oor sulke sake te lug, in die verlede nie alleen aan niemand ontsê nie, maar ook vryelik gebruik, en dit tot nut van die kerk, op allerlei wyse en langs allerlei kanale. Die huidige besluit beperk nou egter die vryheid van diskussie op ’n drastiese wyse en behels in werklikheid ’n toevoeging tot die ondertekeningsformulier vir predikante, wat met geen enkele woord eis dat verskille wat nie die leer raak, alleen in kerklike organe of kerklike vergaderinge bespreek mag word nie.
Afgesien van die wesenlike vraag of hierdie besluit nie die vryheid van die pers affekteer vir sover dit lidmate van die Ned. Geref. Kerk aanbetref nie, beteken dit o.i. onder meer:
(i) Geen lidmaat of evangeliedienaar mag met ander lidmate besluite van die Sinode krities bespreek of daaroor diskussie in die openbare pers voer nie.
(ii) Geen konferensie van lidmate mag by ’n bespreking kritiek teenoor ’n Sinodale besluit uitspreek nie.
(iii) Geen teologiese student of evangeliedienaar mag die resultate van sy studie publiseer en/of laat herdruk in enige vorm behalwe in die kerklike organe nie, indien dit iets bevat wat kritiek op ’n Sinodale besluit inhou of as sodanig geïnterpreteer kan word. Die vryheid van die teologiese denke en diskussie word daarmee aan bande gelê, aangesien die kerklike organe wat aard, karakter en ontvang betref, onmoontlik nie in die behoeftes op hierdie terrein sal kan voorsien nie. Boekdele kan soms nodig wees vir ’n egte wetenskaplike behandeling van ’n enkele punt. Daarbenewens is ook kerklike vergaderinge, veral in hul huidige omvang, nie juis die geskikste plek vir ingewikkelde teologiese diskussies nie, maar eerder die plek waar die resultaat van voorafgaande teologiese diskussies beoordeel word.
(iv) Geen evangeliedienaar mag sy insigte op grond van die Skrif, wat implikasies bevat wat strydig is met Sinodale besluite, of wat as sodanig geïnterpreteer kan word, van die kansel af na vore bring nie. Die vryheid van eksegese en prediking word hierdeur geraak.
Indien ons interpretasie korrek is, beteken dit dat diegene wat van ’n Sinodale besluit verskil, of daardie besluit nou handel oor beleid, administrasie of wat ook al, gebind word aan ’n moeisame, tydrowende en miskien selfs ondoeltreffende weg vir die openbaarmaking van die gronde waarop hulle verskil, terwyl diegene wat met die besluit saamstem van alle moontlike kanale gebruik mag maak. Is die bedoeling dat die argumente van diegene wat van ’n besluit verskil, die minste moontlike geleentheid moet hê om algemeen gehoor te kan word? Die vraag is waar die kerk die vrymoedigheid vandaan haal om oor sake wat nie die belydenis raak nie, sulke streng “beveiligingsmaatreëls teen kritiek” te tref. Die studiestuk wat as agtergrond vir hierdie besluit dien, wys daarop dat die Sinode gehoorsaamheid aan sy besluite dissiplinêr kan eis (Agenda, p. 327/328). Dit beteken in die onderhawige geval dan dat lidmate wat Sinodale besluite gehoorsaam, maar hulle besware daarteen sou lug op ’n ander plek as wat deur die Sinode voorgeskryf word, onder tug geplaas kan word. Maar dan word die tug tog kennelik van sy Bybelse karakter berowe en niks anders nie as ’n middel tot self handhawing van ’n Sinodale meerderheid. Dan is die gevaar dat art. 32 van die Nederlandse Geloofsbelydenis verkrag word, nie meer ver nie, en die weg tot voortdurende reformasie van die kerk word welhaas afgesluit. As Luther in sy tyd aan ’n dergelike verbod gehoorsaam was, sou daar van sy reformasie weinig tereggekom het!
Alhoewel dit nie ons begeerte is om aan die genoemde besluit ongehoorsaam te wees nie, omdat ons ter wille van Christus graag aan die kerk gehoorsaam wil wees, moet ons dit hiermee uitspreek dat ons daaroor beswaard voel en treur dat ’n dergelike besluit nodig geag is.
Ons kan onsself nie vrymaak van die gedagte dat dit by hierdie besluit nie alleen gaan om ’n kerkregtelike mistasting waarteen ons beswaar maak nie, maar dat hierdie besluit gebore is uit die vrees dat ’n openlike bespreking van die standpunt en beleid van die kerk insake rasseverhoudinge verleentheid kan veroorsaak. Dieselfde vrees bestaan ook vir die vrye bespreking van ekumeniese aangeleenthede, want die toenemende afkeer van die ekumene in ons kringe groei uit die innige samehang tussen die ekumene en die rassevraagstuk, soos dit duidelik geblyk het uit die hele diskussie oor hierdie sake gedurende die afgelope paar jaar.
Ons besef dat die rassevraagstuk ’n uiters delikate saak vir die kerk is en dat dit dus daarop geregtig is om versigtig en met die meeste verantwoordelikheid bespreek te word. Die hoogste belange van kerk en volk kan egter alleen dán gedien word, wanneer die waarheid van Gods Woord en die praktiese implikasies daarvan vir elke terrein van ons lewe vreesloos bely, verkondig en uitgelewe word. Indien die kerk daarvan oortuig is dat hy die volle waarheid van die Skrif op hierdie terrein besit, hoef hy niks te vrees van ’n verdere diskussie in die lig van dieselfde Skrif nie. Maatreëls wat ’n diskussie bemoeilik, wek die indruk dat die kerk nie die Woord en Gees van God vertrou om ons in alle waarheid te lei nie. Maar indien die kerk op grond van die diskussie moontlik daarvan oortuig kan word dat ons op een of ander punt onsself moet reformeer in die lig van die Skrif, sal gehoorsaamheid aan dié lig tot die eer van God en tot heil van die kerk wees. Daarom mag die kerk geen maatreëls tref wat dit kan bemoeilik dat die Woord van God vryelik onder ons bestudeer en die boodskap daarvan vryelik bespreek sal word nie, juis waar dit gaan om sake van lewensbelang.
Daar moet bedink word dat dit op die oomblik die vrae rondom ras en ekumene is wat in die brandpunt van die diskussie staan, maar in die verlede was daar ander sake en in die toekoms sal daar weer nuwe sake wees waaroor ’n vrye bespreking uiters wenslik kan wees. Die kerk moet daarvoor waak dat hy hom nie self verstrik in bepalinge wat in toekomstige situasies belemmerend kan werk nie.
Indien ons interpretasie van hierdie besluit nie korrek is nie, staan ons oop vir oortuiging. Totdat ons egter oortuig word van die teendeel, sien ons in hierdie besluit ’n afbuiging van die Gereformeerde weg en sal ons bly bid vir die dag dat die kerk sal terugkeer van ’n pad wat skade vir kerk en Koninkryk moet beteken.
Onderteken deur: A. C. Barnard, T. Botha, A. P. Burger, W. J. C. Cilliers, J.P. Cronjé, A. B. du Toit, B. Engelbrecht, K. W. Gerritsma, C. J. A. Greyling, J. M. Hofmeyr, W. D. Jonker, C. J. de W. Lombaard, P. C. J. Loots, L. J. Loots, C. du P. le Roux, F. S. Malan, P. W. Marais, R. A. Meyer, C. F. B. Naudé, M. J. J. Prinsloo, S. O. Skeen, J. D. Smith, D. B. Steyn, J. H. P. van Rooyen, A. J. Venter, C. J. Vermaak.
[Artikel in die Die Kerkbode, xci(20), 15 Mei 1963, 677 – 678]