Rooms, Kollegialisties of Gereformeerd?
(1) Ek is bly dat prof. Hanekom een van sy groot argumente waarom ek Rooms sou wees (dat ek die kerkverband tot die wese van die kerk sou teken), in sy jongste skrywe in Die Kerkbode (29 Mei) prysgegee het, en nou ook heelwat sagter praat oor my “Roomsheid”. Twee nuwe argumente is gesoek om dit tog vol te hou, maar die een het so min om die lyf as die ander. Immers, (a) as ek sê dat die sigbare en onsigbare kerk mekaar eintlik behoort te dek, is dit natuurlik nie Rooms nie, maar ‘n basiese veronderstelling van die gereformeerde kerkbegrip (Nedl. Geloofsbel. art. 27-29: vgl. H. Heppe, Dogmatik der ev.-ref. Kirche, 1861, 481, met met aanhalings uit ou geref. dogmatici) en van die kerklike tug (1 Kor. 5: Calvyn, Inst. IV, X11, 5: Joh. Jansen, De Kerkelijke Tucht, 134 e.v., en my “En as jou broeder sondig…” 43 e.v.). En (b) as ek sê dat ‘n kerk geïnstitueer word deurdat die ampte vir die gereelde bediening gekies word”, mag dit minder gelukkig uitgedruk wees, maar tog nie Rooms bedoel nie, soos elke billike leser uit die verband sal merk. Dit gaan daar (Sendingbepalinge, 39) oor die vraag wanneer ‘n kerk in die sendingsituasie selfstandig word, en my opmerking is bedoel in die sin waarin Voetius leer dat ‘n kerk nie ‘n komplete geïnstitueerde kerk is sonder die ampte nie (vgl. Desperate Causa Papatus, 481, 483, en Politica Ecclesiastica, vol. 1, 14). Ook Bouwman sê “Eerst wanneer de ambten zijn ingesteld en de kerkeraad is geformeerd, krijgt een vergadering van geloovigen haar openbaring en gestalte” (Geref. Kerkrecht, II, 101). Vgl. ook J. M. Cronje, Die Selfstandigwording van die Bantoekerk, 96: “.. waar ‘n gemeente gestig en die drie ampte ingestel is, daar is dit beskou as ‘n volwaardige, selfstandige kerk.” Wie my dus oor die genoemde uitdrukking Rooms wil verklaar, lees met die opset om ‘n mens “op ‘n woord te probeer vang”.
In hierdie verband merk ek ook net op dat prof. Hanekom se suggestie dat ek op Roomse wyse een wêreldinstituut met één regering vir die hele sigbare kerk voorstaan, misleidend is en seker nie in erns bedoel kan wees nie, omdat dit onmoontlik is om (a) die ryk geskakeerde eenheid wat in die gereformeerde kerkverband tot uitdrukking kom, te verwar met die uniformiteit van die één Roomse instituut en (b) die betekenis van ‘n gereformeerde algemene sinode (vir die kerk in een land) en ekumeniese sinode (vir die kerk in meerdere lande) te verwar met die één regering van die Roomse pous. Daarvoor staan die geref. kerkreg te sterk op die regering van die Woord van God alleen en die daaruit voortvloeiende selfstandigheid van die plaaslike kerke. Die geref. kerkverband bedoel juis nie om soos Rome een sentrale regering van bo af oor die plaaslike kerke op te rig nie. Ek was van mening dat ek daaroor duidelik genoeg geskrywe het in my Sendingbepalinge, 29 e.v., 35 e.v., Die Kerkbode, 3 April, 470. ‘n Mens kan dit buitendien ook in elke werk oor geref. kerkreg lees.
(2) Ek vind dit belangrik dat prof. Hanekom met my saamstem dat dit volgens die gereformeerde kerkreg ‘n eis van die Skrif is (en dus nie Rooms genoem kan word nie) dat daar ʼn kerkverband tussen kerke van dieselfde belydenis moet bestaan. Indien hy dit werklik aanvaar, het dit geen sin dat by verder die gedagte dat één kerk sy eenheid ook in één kerkverband behoort te openbaar, as Rooms bestry nie, want as ‘n aantal plaaslike kerke geestelik so één is dat hulle hulself as één kerk beskou, en dieselfde belydenis en kerkregering daarop nahou, is dit tog ook volgens die beginsels wat prof. Hanekom bely te aanvaar, ‘n eis van die Skrif en die geref. kerkreg dat hulle dan met mekaar in kerkverband moet tree. Die hele verskil tussen ons kan dan ook opgelos word as prof. Hanekom eerlik wil antwoord op die volgende eenvoudige vraag: As die kerkverband dan noodsaaklik is tussen kerke van dieselfde belydenis, eis die “akademiese eerlikheid” dan nie van ons om te erken dat dit Skriftuurlik en gereformeerd is dat daar ‘nkerkverband moet bestaan tussen die Ned. Geref. moeder- en dogterkerke nie? Hierdie vraag word des te klemmender, waar ek aangetoon het dat die gereformeerdes die kerkverband sien as iets wat oor die volks- en taalgrense heenstrek, om sodoende die innerlike eenheid en algemeenheid van die kerk enigsins sigbaar te laat word – ‘n stelling wat nie deur prof. Hanekom weerlê kon word nie. Waarom sal ons nou met mekaar geleerd redeneer oor allerlei bykomstighede (of ‘n woord nie ook effens anders vertaal kan word nie, ens.), terwyl ons tog weet dat dit om hierdie een vraag gaan? Dit gaan tog nie, soos, prof. Hanekom beweer, om die gesag van Sinodes nie. Eintlik ook nie om Rutgers of Kuyper nie. Ook nie om die vraag of die grondslag van ware eenheid eenstemmigheid in belydenis of instituêre (sic – GJD) vorme is nie. Wie my brosjure en Kerkbode artikels gelees het, weet dat ek geen eenheid soek wat nie op die waarheid gefundeer is nie. Dit gaan om die vraag or twee kerke by wie die Bybelse vereistes die ware eenheid aanwesig is, sonder verband met mekaar moet en mag bly net omdat hul lidmate van verskillende tail of kleur is. As prof. Hanekom aanvaar dat die Skrif en die kerkreg ons dwing om te spreek van die noodsaaklikheid van die kerkverband, moet hy hierdie vraag saam met my ontkennend beantwoord en ophou om my Rooms te noem. Anders wek by die indruk dat hy ‘n beginsel net aanvaar sover dit om blankes gaan, maar as dit die verhouding tussen die moeder en dogterkerke raak, word dit verwerp as Rooms.
(3) Omdat dit om hierdie één vraag gaan, is dit vreemd dat prof. Hanekom hom nou al herhaaldelik op Kuyper se referaat van 1890 (afgedruk in Historisch Document) beroep het, en my selfs van onkunde en akademiese oneerlikheid verdink net omdat ek nie daarna verwys nie. Feit is egter dat Kuyper in daardie referaat aan die onderhawige saak feitlik geen aandag gee nie. Wat deur prof. Hanekom aangehaal word, beklemtoon wel dat die natuurlike verskeidenheid van die volkere eerbiedig moet word en dat die kerk inheems moet word, maar dit het ek ook nog altyd bepleit (vgl. Sendingbepalinge 30-32, 34-35). Dit bewys egter nie dat die verskeidenheid en inheemsheid eis dat daar geen verband tussen die moeder-en dogterkerke moet wees nie. Wat prof. Hanekom nie aanhaal nie, is dat Kuyper in selling XVII dit een van die doelstellings van die sending noem om “deze openbaring van de Kerk van Christus (die dogterkerk) in verband te brengen met de Moederkerk”. Ongelukkig werk Kuyper dit nie verder uit nie. Ek wys ook net daarop dat dit onwetenskaplik is, om, soos prof. Hanekom doen, aan te haal uit die toeligting op die stellings in die referaat. Slegs die stellings bevat die “ipsissima verba” van Kuyper. Dit blyk ook dat prof. Hanekom baie eensydig aanhaal uit die besluite van die Sinode van 1896, want die lesers verneem nie dat daardie Sinode ook besluit het: “Daar er in Christus is noch Jood noch Griek, en dus ook noch Javaan noch Nederlander, moeten de geloovigen op Java, van wat ras of natie ook, in ééne kerk saamleven, en mag alleen verschil in belijdenis, kerkregering en taal hen scheiden” (p. 37). Dat die verskil in taal geen absolute skeiding mag meebring nie, blyk wel deeglik uit die volgende aanhalings wat ook verswyg word: “De Gereformeerde belijdenis handhaaft ook bij afzonderlijke groepering van kerken nochtans de eenheid van het lichaam van Christus, en dus voor geïnstitueerde kerken den plicht tot correspondentie met buitenlandche kerken van gelijke belijdenis.” Verband moet ook gehou word met die kerke in Indië: “Met deze kerken kan niet anders worden aangegaan dan correspondentie of kerkverband…” (albei aanhalings op p. 38). Ek weet nie of dit veilig is dat iemand met prof. Hanekom se standpunt hom op hierdie referaat en die besluite van 1896 so onvoorwaardelik verlaat nie.
(4) Omdat dit net om die één vraag gaan, gaan ek volledig teen my sin in op die bykomstighede waaroor prof. Hanekom skrywe. Dit sal immers sy gesindheid teenoor sy “jonge broeder” nie verbeter nie, omdat dit my dwing om – hoe ongraag ek dit ook al doen, vanweë my opregte agting vir sy persoon en amp – daarop te wys dat prof. Hanekom uit voeling is met wat daar in die afgelope tyd oor die kerkreg veral in Nederland gedink en geskrywe is.
Indien dit nie die geval was nie, kon prof. Hanekom onmoontlik beweer dat ek my teenstanders uit die weg probeer ruin deur eensydige voorstellings en verdagmaking, en as voorbeeld daarvan aanvoer dat ek independentistiese trekke by Rutgers vind. Sedert H. H. Kuyper – (vgl. De Heraut no. 2834 en later) word daar reeds in Nederland gespreek van independentistiese trekke by Rutgers. Vpl. serfs wat H. Bouwman sê: Geref. Kerkrecht, II, 89. Verder M. Bouwman, Tweerlei Kerkrecht, 44-54, en Voetius over het Gezag der Synoden, 7-8 en dikwels. Dieselfde geld van die beskuldiging dat ek Kuyper onreg aandoen, want die werke oor Kuyper wat ek genoem het, word deur prof. Hanekom tot dusver nog geïgnoreer. Buitendien is dit ‘n oorvereenvoudiging om enkele uitsprake van Rutgers en Kuyper aan te haal waarin hulle bv. die independentisme of individualisms afwys, asof dit voldoende sou bewys dat wetenskaplike studie nie later kon ontdek dat hulle nogtans heimlik die invloed van die rigtinge wat hulle afwys, ondergaan het nie. Wat meer is, as ek sê dat hulle bepaalde invloede ondergaan het noem ek hulle mos nie volslae independentiste of individualiste nie, en gee ek nie te kenne dat hulle glad nie die Bybel besit het nie. Daarom is wat prof. Hanekom in hierdie verband skrywe, seker nie ter sake nie (vgl. die laaste paragraaf van sy brief). Omdat prof. Hanekom uit voeling is met nuwe kerkregtelike werke, noem hy my ook ‘n kollegialis. Die leser sal nou egter merk dat hy dit doen op grond van die beweerde verkeerde vertaling van ’n enkele woord by Calvyn. Ek nooi die lesers egter om self daardie gedeelte te gaan lees. Al vertaal ‘n mens ook daardie woord soos prof. Hanekom wil, dan bly die sin van Inst. IV, 11 9, gelees in verband met alles sedert IV, I, 7, nog onveranderd: die sigbare kerk is oor die ganse aarde versprei en sluit alle ware gelowiges is; (sic – GJD) menslike noodsaaklikheid bring egter mee dat hulle vanweë plaaslike afstand verdeel (of versprei) is in die verskillende stede en dorpe as afsonderlike plaaslike kerke. Wat is daardie plaaslike kerke dan anders as dele van die één groot geheel? Ek het Calvyn nie verkeerd weergegee nie, maar goed, op my beweerde verkeerde weergawe baseer prof. Hanekom dan sy betoog dat ek met naakte kollegialisme voor die dag kom as ek die plaaslike kerke dele van die een groot geheel noem. Interessant is dit nou dat Voetius in daardie “dikke foliante” waarna prof. Hanekom verwys, meermale presies só spreek. Ek noem die eerste die beste voorbeeld. In P.E., vol. 1, II noem hy die kerk ‘n totum waarvan die plaaslike kerke dele is (eujus partes similares sunt omnes particulares ecclesiae). Let reeds op die term partikuliere kerk! Volgens Voetius is die plaaslike kerk nie slegs ‘n deel van die algemene, katolieke, heilige kerk op aarde nie, maar “evenzeer een compartiment of afdeling van een grootere kerkengroep” (M. Bouwman, Voetius over het Gezag der S.. 72, vgl. 74). Selfs die kerk in ‘n bepaalde land is vir Voetius nog maar ‘n deel van die algemene kerk (vgl. P.E., vol. IV, 493, Desperate Causa Papatus, 218, ens.). Dit is egter nie net Voetius wat so praat nie. Ruimte ontbreek om al die voorbeelde te noem. Toevallig werk ek juis aan ‘n studie oor die gereformeerde kerkreg in die 16de en 17de eeu, en het daarby talle voorbeelde gevind van dieselfde gedagte, juis in die werke wat prof. Hanekom in die laaste paragraaf van sy brief noem. ‘n Mens moet maar ingaan op die Skotse kerkreg (wat tog niks met kollegialisme te doen het nie), op die geskrifte van die ou geref. dogmatici en selfs op die artikels van Wesel om oortuig te word dat wat deur nuwere studies aangetoon is, volkome korrek is, nl. dat Rutgers en Kuyper (en nou ook prof. Hanekom in navolging van hulle) sekere dinge kollegialisties noem wat oorspronklik goed gereformeerd was.
Maar hoekom sal ons so ver gaan soek? Prof. Hanekom beweer dat ek Bouwman verkeerd “aanhaal” as ek sê dat hy verklaar dat die gereformeerdes altyd uitgegaan het van die één, algemene, Christelike kerk en op grond daarvan die noodsaaklikheid van die kerkverband verdedig. Die leser kan self hierdie weergawe (dis geen sitaat nie!) van Bouwman se Geref. Kerkrecht II, 10-11, gaan toets. Die paragraaf begin met die woorde: “De Gereformeerden hebben … de noodzakelijkheid van het kerkverband verdedigd op de volgende gronden: (a) De innerlijke eenheid der Kerk van Christus.” Om dit te verduidelik, sê B. dan dat by die beskrywing van die wese van die kerk uitgegaan is van die één, algemene, Christelike kerk en so afgedaal is na die plaaslike kerke wat almal openbaringe is van die één mistieke liggaam van Christus. En dan vervolg hy: “Ruardus Acronius zegt …: De deelen van de onzienlijke gemeente zijn particuliere onzienlijke kerken, maar de deelen van de zienlijke kerk zijn particuliere zienlijke gemeenten.” Hieruit kan tog niks anders afgelei word nie as dat, net soos die gereformeerdes by die beskrywing van die wese van die kerk uitgegaan het van die één, algemene kerk, hulle ook by die fundering van die noodsaaklikheid van die kerkverband daarvan uitgegaan het dat die kerk van Christus op aarde één en algemeen is, en dat die partikuliere kerke maar net dele daarvan is, sodat hulle met mekaar in verband moet staan. Ek het Bouwman dus ook nie verkeerd weergegee nie. Maar nou, deur die plaaslike kerke dele van die groot geheel te noem, het Bouwman saam met Acronius en net soos Voetius saam met my gekwalifiseer as “naakte kollegialiste”. Bouwman haal egter in dieselfde paragraaf vir Bavinck aan waar hy sê dat elke plaaslike kerk tegelykertyd ‘n selfstandige openbaring van die liggaam van Christus en ‘n deel van die groot geheel is. En Jansen sê presies dieselfde (Korte Verklaring van de Kerkorde, 134). Volgens prof. Hanekom moet dus al hierdie gereformeerdes kollegialiste wees, net soos ek tevore aangetoon het dat hy eintlik die hele gereformeerde wêreld saam met my Booms verklaar het! Tot sulke onmoontlike resultate moet dit kom as ‘n mens se kriterium jou derde van vergelyking, verkeerd is. Grondfout van die kollegialisme is tog dat dit die sigbare kerk verlaag tot ‘n menslike vereniging (collegium) wat volgens menslike goeddunke geregeer word, en dit nie sien as die liggaam van Christus wat alleen deur die Wood van God geregeer moet word nie, sodat dit haas altyd die selfstandigheid van die plaaslike kerk verdring. Prof. Hanekom kan my egter nooit van daardie soort beskouing beskuldig nie!
Nee wat, so sal dit nie gaan nie. As die diskussie gevoer kan word oor die sentrale vraag, wil ek graag meedoen. Ek sien egter nie my weg oop om voort te gaan as dit moet gaan oor allerlei (en telkens nuwe) kleinigheidjies en dat ons mekaar verdag maak en verketter oor sogenaamde dwalinge wat nie bestaan nie. Niemand geniet dit nie en ons bring die kerk in verwarring oor sake wat op grond van die Skrif, ons belydenis en die gereformeerde kerkreg volledig duidelik behoort te wees.
WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker in Die Kerkbode, xcii(3), 17 Julie 1963, 97 – 99]