Advies aan Beyers Naudé

Advies aan Beyers Naudé1

23 Oktober 1963
Ds. C.F.B. Naudé
Hockylaan 20
NORTHCLIFFJohannesburg

Weleerwaarde Heer en Broeder,

INSAKE: APPEL TEEN BESLISSING VAN EKSAMENKOMMISSIE

In antwoord op u skrywe en navraag oor bogenoemde aangeleentheid, wil ek graag die volgende stel:

  1. Daar bestaan geen uitdruklike bepaling wat die weg reël vir ’n appèl teen die beslissing van die Eksamenkommissie in verband met die weiering van u aansoek om behoud van status wanneer u ‘n betrekking aanvaar waarvoor daar aansoek om behoud van status gedoen word nie. Dit is egter vanselfsprekend dat u u op die Sinode sal kan beroep, want die Eksamenkommissie is in alle opsigte aan die Sinode verantwoording verskuldig. Die Sinode sit egter eers oor byna 5 jaar, en u wil weet of u u intussen na die Sinodale Kommissie kan wend.
  2. Die vraag mag ontstaan of ’n mens jou teen die beslissing van een selfstandige kommissie kan beroep op ’n ander selfstandige kommissie. Immers, die Sinodale Kommissie ontvang nie normaal-weg enige verslag van die Eksamenkommissie nie — wat wel die geval is met sommige ander kommissies van die Sinode — sodat die vraag kan ontstaan of u u van die Eksamenkommissie af kan wend na die Sinodale Kommissie. Ek meen egter dat hierdie vraag bevestigend beantwoord moet word. Immers, die Sinodale Kommissie het van die Sinode ‘n algemene opdrag wat lui dat die Sinodale Kommissie na afloop van die Sinode tot taak het “die voorlopige hantering van spoedeisende sake wat tot die terrein van die Sinode behoort, waarby ook inbegrepe is sake rakende kerklike tug of geskille wat direk of by wyse van appèl voor die Sinode sou moet kom…” (besluit 63 (3) 2). Afgesien daarvan dat die kwessie van appèl en geskille hier uitdruklik genoem word, is dit uit die algemene opdrag myns insiens duidelik dat enige saak wat tot die terrein van die Sinode hoort, deur die Sinodale Kommissie voorlopig in behandeling geneem kan word. Juis daarom benoem die Sinode so ’n verteenwoordigende Kommissie. Daarom is ek van oordeel dat u u wel op die Sinodale Kommissie sal kan beroep in verband met die beslissing van die Eksamen­kommissie.
  3. In die voorgaande mening word ek versterk deur die volgende:

3.1     In die Wette en Bepalinge (uitgawe 1957) is daar in Reglement III art. 31 uitdruklik sprake van die reg van appèl wat daar bestaan vir ’n kandidaat wat by geleentheid van ’n colloquium doctum deur die Eksamenkommissie afgewys word, en wel na die Sinodale Kommissie wanneer die Sinode nie sit nie. Daar word die beginsel dus aanvaar dat daar ’n beroep vanaf die Eksamenkommissie na die Sinodale Kommissie moontlik is. In die nuwe besluite is hierdie bepaling nie oorgeneem nie, omdat dit duidelik is dat die voorwaardes vir toelating tot die bediening moet geskied op voorwaardes wat deur die Algemene Sinode opgestel sal moet word (vgl. besluit 6 (3) 2). Dié voorwaardes is egter nog nie opgestel nie, sodat daar voorlopig nog volgens die ou bepalinge gehandel moet word. Daar was egter nooit ’n bedoeling om die bevoegdhede van die Sinodale Kommissie te beperk deur die onderhawige bepaling uit die nuwe besluite weg te laat nie. Nou is dit wel waar dat daar ook by die Wette en Bepalinge geen direkte bepaling was insake verdere beroep by die weiering tot behoud van status nie. Ek meen egter dat ons na analogie van die genoemde bepaling kan redeneer dat die beginsel bestaan dat daar ’n beroep moontlik is vanaf die Eksamenkommissie na die Sinodale Kommissie in alle gevalle wat die werk van die Eksamenkommissie raak en waar persone hulle verontreg mag voel oor die beslissing van die Eksamenkommissie.

3.2     Eweneens word ek in die voorafgaande mening versterk deur die feit dat daar in die geval van die herstel van status sprake is daarvan dat die aansoek mag gaan na die Sinodale Kommissie gedurende die reses, en dat die Sinodale Kommissie oor die saak beslis of daar beswaar bestaan teen die herstel van status. Vind die Sinodale Kommissie geen beswaar nie, dan gee hy aan die aansoeker verlof om hom na die Kommissie van Eksaminatore te wend vir ’n colloquium doctum (besluit 21). Hieruit is dit myns insiens volkome duidelik dat daar aan die Sinodale Kommissie bepaalde bevoegdhede in verband met die kwessie van die behoud of verlies of herstel van status toegeken word wat méér is as wat aan die Eksamenkommissie toegeken word, omdat die Sinodale Kommissie in naam van die Sinode spoedeisende sake mag hanteer wat tot die terrein van die Sinode behoort – en onder dié spoedeisende sake word spesiaal die kwessie van status as evangeliedienaar ter sprake gebring.

  1. Daar is nou egter nog een aspek van die saak wat ek moet noem, en dit is die vraag of u u tot die Sinodale Kommissie van Suid-Transvaal moet wend, of tot albei die Sinodale Kommissies gesamentlik, waar die Eksamenkommissie in sy huidige samestelling immers lede bevat uit Noord- én Suid-Transvaal. Sy opdraggewer is dus die twee Sinodes saam. Die saak word inderdaad baie ingewikkeld. Tog is dit weereens vir my duidelik dat ons hier ’n riglyn kan vind in wat bepaal word in die geval van herstel van status (besluit 21). Daar vind ons dat iemand wat aansoek doen vir herstel van status hom wend na die Sinode of Sinodale Kommissie van die ressort waarin hy woon, en nie na albei Sinodes of Sinodale Kommissies nie. Dit is dus duidelik dat één Sinode gemagtig word om opdragte te gee wat deur die hele Eksamenkommissie uitgevoer moet word. By die Sinode van Suid-Transvaal (1963) is die vraag inderdaad geopper of gevalle van aansoek om herstel van status nie deur die samewerking van Noord- en Suid-Transvaal voortaan voor albei Sinodes moet dien nie, en of die Sinode van Suid-Transvaal bv. die bevoegdheid gehad het om alleen te oordeel oor die legitimasie van die sendelinge, sonder die medewerking van Noord—Transvaal. Die Sinode het daarop geantwoord dat die samewerking tussen Noord- en Suid-Transvaal met betrekking tot die opleiding van manne aan die Teologiese Fakulteit te Pretoria nie bedoel kan wees om die bevoegdheid van elke Sinode om afsonderlik oor die legitimasie van predikante binne sy ressort in té perk nie (Acta, p 534).

My konklusie uit die voorgaande is dus dat die huidige Eksamenkommissie wel twee lasgewers het, maar dat hy vir elkeen van die twee Sinodes bepaalde opdragte uitvoer sonder dat die ander Sinode daarin geken hoef te word. Wanneer dit gaan om die status van ’n bedienaar van die Woord uit die ressort van een van die twee Sinodes, dan handel daardie Eksamenkommissie (hoe hy ookal saamgestel mag wees — daar sit ook lede van die ander provinsies in die Eksamenkommissie — in opdrag van dié bepaalde Sinode uit wie se ressort die betrokke leraar is, en geld vir daardie spesifieke geval as ’n kommissie van daardie Sinode wat rekenskap verskuldig is aan daardie Sinode. ’n Ander Sinode kan immers nie oordeel oor ’n leraar wat nie binne sy jurisdiksie val nie. Daarom meen ek dat dit ook in hierdie geval só is dat iemand wat hom veronreg voel deur die handeling van die Eksamenkommissie hom by wyse van appèl sal kan wend na die Sinodale Kommissie van die Sinode binne wie se ressort hy val, en in geval die Sinodale Kommissie van daardie Sinode die appèl sou handhaaf, is die beslissing van die Eksamenkommissie tersyde gestel. Dit alles natuurlik, onder goedkeuring van die Sinode.

  1. Ek wil afsluit met ’n laaste punt en u daarop wys dat dit na my beste wete nêrens die bedoeling van die Kerk in sy bepalinge is om aan enige persoon die reg te gee om te voel of te beweer dat hy onbillik behandel is nie. Daarom dat die Kerk die weg geopen het dat iemand wat beswaard voel, hom deur verdere beroep weer na die kerk kan wend om wat hy as onreg voel, te verwyder. Daarom meen ek dat die kerk ook in hierdie geval seker nie daarby sal bly staan dat u u eers na die volgende Sinode moet wend nie, maar langs een of ander weg in elk geval sal probeer om u die geleentheid te gee om u saak te stel — selfs al sou my uiteensetting hierbo gegee, nie aanvaar word nie. Daarom meen ek in elk geval dat u u tot die Sinodale Kommissie moet wend wat tog die Sinode in die reses verteenwoordig, sodat dié Kommissie dan kan beslis wat die juiste weg is.

Met die meeste agting en opregte groete
geheel die uwe in Christus,

(get) WD Jonker

Actuarius

N.B. Ek het geen beswaar daarteen dat u ’n afskrif van my brief aan die Scriba van die Sinodale Kommissie stuur vir kennisname deur die Kommissie nie.

Voetnotas

Show 1 Footnote

  1. NG Kerk in SA Argief, SIN 1376.