Die Heidelbergse Kategismus
Van waar dit kom en wat dit leer
Die benaming “Heidelbergse Kategismus” verbind ons geliefde belydenisskrif en leerboek aan Heidelberg, vermaarde universiteitstad, geleë op die oewers van die pragtige Neckarrivier in Duitsland. Dáár is hierdie leerboek immers vanjaar presies 400 jaar gelede amptelik gepubliseer en in diens geneem.
Dit is méér as ’n toevalligheid dat ’n leerboek wat sy gang om die wêreld gemaak het, in alle Europese en verskillende tale sowel as in Hebreeus vertaal is en deur gereformeerde kerke op al die kontinente as ’n kosbare kleinood hooggeskat word, afkomstig is uit – Duitsland! ’n Mens sou dit anders verwag het, want die tipiese gereformeerde denke en lewe het in Duitsland nie by benadering so sterk tot openbaring gekom as bv. in Frankryk, Skotland, Switserland, maar veral in Nederland nie. In Duitsland was die denke van Luther baie meer deurslaggewend as die van Calvyn. En tog kom hierdie mees-geliefde gereformeerde belydenisskrif uit Duitsland, uit die boesem van die Pfalz waar dit maar op die nippertjie af gegaan het met die gereformeerdheid en waar dit alleen kon standhou deur die sorg van die keurvors Frederik die Vrome (III). Dit kom uit ’n kerk waar die gereformeerde kerkorde nooit eers volledig ingevoer kon word nie, omdat die Lutherse elemente te sterk en die egte gereformeerde lewe te swak was. En tog het dit ’n geweldige invloed uitgeoefen oor die hele wêreld het dit ’n leerboek en belydenisskrif geword vir kerke waar die gereformeerde kerkorde en algemene lewenstyl veel meer suiwer deurgevoer kon word. Dit het oorspronklik deel gevorm van ’n kerkorde, die sg. kerkorde van die Pfalz, waarvan ons nog baie reste bewaar het in ons formuliere vir die Nagmaal en Doop, in sekere liturgiese gebede, ens. Dit alles is die skat wat God aan die kerk gegee het deur die diens van Heidelberg, ’n skat wat ’n rykdom vir die gereformeerde kerke oor die wêreld en deur die afgelope eeue beteken het, waarvan die waarde moeilik bereken kan word.
Ons sê, dit is meer as ’n toevalligheid, want dit moet seker gesien word as ’n besondere beskikking van God. Immers, die feit dat dit in Duitsland gebore is, die land van Luther en in die Pfalz, die trefpunt van die Lutherse en gereformeerde diskussies, het daaraan ’n stempel gegee wat anders is as wanneer dit bv. in Nederland gebore sou gewees het onder totaal ander omstandighede. As ’n mens die kategismus bestudeer, dan staan jy voor méér as Calvyn. Luther is ook daar. En Bucer en Melanchton is daar. Al die drade van die Hervorming vloei daar saam. Die kategismus is gereformeerd, ja, maar ekumenies-gereformeerd omdat dit doelbewus ’n weergawe wil wees van die punte waaroor daar eenstemmigheid was in al die destyds-bestaande gereformeerde belydenisskrifte en sover moontlik ook in die Lutherse belydenisskrifte. Die beste van alles is egter dat dit nie maar Calvyn en Luther en die ander Hervormers is wat ons in die kategismus ontmoet nie, maar die Skrif self, waarvan die gesag sonder enige voorbehoud aanvaar word en waarvan die boodskap deurgegee word met die meeste getrouheid en nougesetheid.
Die feit dat die kategismus nie sonder invloed van die teologie van Luther is nie, kom die mooiste van alles uit in sy opset. Die leser van die kategismus sal onmiddellik merk dat die kategismus nie ’n objektiewe uiteensetting bevat van die hoof-vrae van ons geloof nie. Nee, die kategismus het ’n bepaalde opset en word beheers deur die een groot vraag: Hoe kan ek voor God geregverdig word, hoe word ek Gods kind en wat beteken dit om ’n kind van God te wees? Dit is die een groot vraag waarmee Luther ook geworstel het: Waar vind ek ’n genadige God? Daarom is die kategismus méér as ’n verstandelike skoling. Dit is ’n preek. En boonop ’n bekeringspreek. Dit is kinderlik vroom en wil die mens help om tot ’n lewensbeslissing te kom, om Christus te omhels met al sy weldade en om as kind van God te lewe.
Werklik, as daar ’n leerboek is wat die Ned. Geref. Kerk met sy kenmerkende verlange na ’n egte Bybelse vroomheid behoort te ken en opreg te waardeer, dan is dit hierdie Heidelbergse troosboek met sy persoonlike toon: deurgaans spreek dit oor ons persoonlike verhouding tot God in Christus deur die Heilige Gees. “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? – Dat ek in lewe en sterwe aan my getroue Saligmaker behoort …” Deur hierdie taal word die hele kategismus beheers. Al die leerstukke word benader vanuit hulle konkrete nut vir ons, vanuit die troos wat ons daaruit in lewe en in sterwe kan put. Dit is ’n boekie vir ’n mens wat die lig soek van die vriendelike aangesig van ’n genadige God. So het Luther altyd gespreek. Rondom hierdie vrae het die kerkhervorming losgebreek. Dit was nie akademiese vrae nie. Dit was lewensvrae, lááste vrae van die siel wat God moet ontmoet en dit vanweë sy sonde alleen kan doen as hy bedek is met die bloed van Jesus. Natuurlik kon ook Calvyn en al die Hervormers so spreek. Maar Luther het eerste so gespreek, omdat hy in Paulus se brief aan die Romeine ontdek het dat daar ’n geregtigheid is wat God uit louter genade en sonder die werke van die wet verniet aan ons skenk. En Ursinus, een van die opstellers, student uit Wittenberg, dra dan hierdie spreke in die kategismus in en paar dit daar aan al die goeie van Calvyn se onderrig wat deur Olevianus, die ander opsteller, in Genève ontvang is.
Geen wonder dat die kategismus so ’n duidelike taal spreek in die tyd waarin dit ontstaan het nie. Dit was ’n belydenis in die aangesig van die dwalinge van die Rooms-Katolieke Kerk. Onbevrees en helder getuig dit teenoor die verwording van die boodskap van die evangelie, en op haas alle punte wat denkbaar is, tref dit die Roomse dwalinge in die hart. Ons noem maar ’n paar daarvan.
’n Mens dink aan die groot dwaling van Rome: die leer aangaande die mens. Vir Rome is die mens wel ’n sondaar, maar nie totaal en radikaal verdorwe nie. Daarom kan die mens op eie krag, en in elke geval met die “hulp” van die genade, soveel vermag. Hy kan ’n natuurlike godskennis opdoen, hy kan die genade “verdien” hy kan “meewerk” met God, hy kan sy eie verlossing met Gods hulp uitwerk, hy kan God deur sy goeie werke werklik behaag, hy kan as verloste die wet van God hou, hy kan selfs meer goeie werke doen as wat hy vir sy eie saligheid nodig het, sodat daar sprake kan wees van die “oortollige goeie werke” van die heiliges. Selfs die hele leer van Maria in die Roomse Kerk hang saam met sy optimistiese kyk op die mens. Dit alles sny die kategismus radikaal af: die mens is boos en verkeerd van natuur, heeltemal onbekwaam tot enige goed en geneig tot alle kwaad – tensy hy deur die Gees van God wederbaar word. Selfs die bekeerde mens is egter nog nie in staat om na al Gods gebooie te wandel nie, en sy beste werke is nog maar soos ’n wegwerplike kleed. Die kategismus sien die sonde totaal en skerp, en die beeld van God in die mens as verdraai in sy teendeel. Ons goeie werke kan voor God niks verdien nie, ons maak ons skuld daagliks meer. Ons kan voor God alleen maar kom as sondaars en bedelaars, totaal aangewese op Sy guns alléén.
’n Mens dink ook aan die boodskap aangaande Jesu Christus as die enigste Middelaar tussen God en die mense Sonder kompromie word geleer dat Christus alléén ons Middelaar is. Nóg Maria, nóg enige heilige kan langs Hom staan as “mede-middelaars”. Hy alleen is, deur God aan die gemeente gegee tot wysheid, regverdigheid, heiligmaking en tot ’n volkome verlossing.
’n Mens dink aan die vraag hoe ons die verlossing deelagtig word. Onomwonde word hier bely dat dit geskied enkel uit genade, deur die geloof alleen. Geen verdienste van ons kant geen medewerking met God in Sy daad van genade aan ons geen aanvulling deur ons by wat Christus eens en vir altyd vir ons gedoen het nie. Net maar ontvang. Net maar rus in die genade. Dit is die taal van die Skrif.
’n Mens dink aan die leer aangaande die goeie werke. Rome het die beskuldiging aan die adres van die Hervormers gerig dat hulle goddelose en sorgelose mense kweek met die leer dat ’n mens nie jou saligheid hoef te verdien nie. Maar die kategismus beantwoord daardie beskuldiging deur te sê dat dit onmoontlik is dat iemand wat in Christus deur ’n ware geloof in geplant is, geen vrugte van dankbaarheid sou voortbring nie. En in die derde deel van die kategismus word duidelik aangetoon dat ’n mens wel nie deur jou goeie werke gered word nie, maar beslis ook nie sonder goeie werke nie!
So sou ’n mens kon voortgaan en aantoon dat die Roomse leer aangaande die sakramente, die kerk, die verering en afbeelding van die heiliges en Christus, ens., op die ry af doeltreffend en Bybels bestry word. Deurgaans geskied dit egter nie op ’n bitter of haatlike toon, en word die Roomse nie maar bestry omdat hulle ’n “ander kerk” is aan wie daar geen bestaan gegun word nie, maar in die eerlike erns van mense wat weet dat dit om die waarheid gaan. Die evangelie is aangetas en daarmee saam ook die troos en sekerheid van die gelowiges. Nie ’n toon van bitsigheid en polemiek oorheers die kategismus nie, maar die rus van die vrede wat daar in Christus is, die sekerheid dat daar vir ons verlossing is en vandaar uit word getuig teenoor elke vorm van vervalsing van die boodskap van Gods genade.
Die kategismus is vanjaar 400 jaar oud. Die troos en sekerheid wat dit verkondig, is nog dieselfde. Die kategismus is nog vir ons daar as getuienis aangaande die boodskap van die Skrif. Die vraag is egter of ons mense dit nog ken en waardeer. Hoe min doen die moeite om hulle eie geloof te ken? Hoe min is daar wat ’n kategismuspreek nog kan waardeer, omdat hulle lewe uit die egte vroomheid wat daarin verkondig word? Die kategismus is by ons in ere, ja – maar meestal net op papier. Dit moet ook in ons hart so word. Eerste van alles by ons leraars. Daar was ‘n tyd (en in sommige gevalle is die tyd nog nie verby nie) dat die leraars weggeskram het van die kategismus in hulle prediking. As dit waar is, hoef ons nie ver te soek na die oorsake van baie van die onkunde en selfs geestelike verval by ons lidmate nie, want dan beteken dit dat die verkondiging van die gereformeerde waarheid nie meer aantreklik genoeg was vir ons mense nie. ’n Tyd gelede het ’n Rooms-Katolieke blad spottend daarna verwys dat ons in Suid-Afrika soveel raas oor “die Roomse gevaar” maar dat daar in Die Kerkbode deur ’n sekere Ring berig is dat daar maar net één gemeente was waar daar gedurende die loop van ’n jaar twaalf keer oor die kategismus gepreek is … die ander gemeentes kon dit nie rapporteer nie. Bestry nou ’n gevaar sonder wapens! Die toegewing dat ons slegs twaalf keer per jaar aan die hand van die kategismus moet preek, was foutief. Die skade wat dit berokken het, sal nooit bereken kan word nie. Maar as dit dan nie eers gedoen word nie, dan beteken dit dat ons mense nooit sistematies ’n geheel-blik van die inhoud van ons geloof kry nie, dat hulle getrakteer word op “mooi tekste” en “mooi gedagtes” – en dat hulle na jare van kerkgang nog nie weerbaar in die geloof is nie.
Miskien kan ons vanjaar ’n nuwe begin maak. Die boodskap van die kategismus en die boodskap van die Hervorming is so aktueel soos in die sestiende eeu. Laat ons daarby lewe!
WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker, Die Voorligter, vol xxi(11), Desember 1963,
27, 29]