Die Liberale Kerkreg en die Veelheid van Kerke

Die Liberale Kerkreg en die Veelheid van Kerke

Solank die Skrifgebonde reformatoriese siening van die kerk die gereformeerde kerkreg beheers het, was daar nie plek vir die opvatting van meer as een kerk wat legitiem langs mekaar kan bestaan nie. Daar was slegs twee kerke: die ware en die valse, en hierdie twee kerke kon in die sigbare “met sekerheid geken” en onderskei word op grond van Gods Woord (N.G.B., artikel 29). Die kerkregtelike denke van die reformasie, soos dit ook nog in die Dordtse Kerkorde gestalte vind, hou nie eers rekening met die bestaan van ‘n ander kerk wat ook as kerk kan geld náás die gereformeerde kerk nie. Die gereformeerde kerk is die kerk van Christus. Wie uit die gereformeerde kerk tree of daarvan afgesny word deur die ban, se verband met die kerk van Christus, is verbreek.

Wel weet ons dat die gereformeerde vaders nie ontken het dat die kerk van Christus ook tot openbaring kom waar die waarheid bv. op ‘n Lutherse of Zwingliaanse wyse bely word of waar daar selfs groot verskille in kerkregering voorkom ondanks die gemeenskaplike aanvaarding van die waarheid nie. Dit was egter vir hulle ‘n feit waarmee hulle voortdurend moeite gehad het, want dit het ‘n verdeeldheid en verskeurdheid van die kerk beteken, wat nie moes wees nie. Hulle het daarmee in die maag gesit en geworstel om die verskille uit die weg te ruim, sodat die kerk sy innerlike eenheid ook na buite kon openbaar. Hulle het egter nie daaraan gedink om ‘n teorie te ontwerp waardeur die verskeurdheid goedgepraat kon word nie, nog minder het hulle die gereformeerde kerkreg verander om plek te maak vir die gedagte dat die gereformeerde kerk maar één van die legitieme moontlikhede kerk-wees naas sovele andere is, waarmee daar op vriendskaplike voet en sonder moeite “susterlik” of “broederlik” saamgeleef kan word, sonder die gedagte dat die breuk geheel moet word.

Ons weet ook verder dat die gereformeerde vaders, toe hulle voor die werklikheid te staan gekom het van mense met verskillende tale wat vanweë die kerugmatiese behoeftes liefs afsonderlik tot selfstandige gemeentes rondom die verkondiging van die Woord en die bediening van die sakrament gekonstitueer moes word, nooit daaraan gedink het om die eenheid van die een ware kerk prys te gee en aparte kerke of kerkverbande te laat ontstaan wat nie met mekaar op verskillende vlakke kontak bewaar en in die eenheid van die één kerkverband uitdrukking gee aan die feit dat Christus één is en Sy liggaam ook één wil hê nie. Om hiervan maar ten oorvloede nog ‘n voorbeeld te noem naas ander wat reeds genoem is: Die Duitse gereformeerde gemeentes was by die Sinode van Emden verteenwoordig, en uit die acta van dié Sinode blyk dit duidelik dat dit die bedoeling was dat die Nederlandse en die Duitse gemeentes in een kerkverband verenig sou wees. Die Duitse gemeentes word immers, net soos die Nederlandse, in klassisse ingedeel, en al die Duitse gemeentes sou saam in één partikuliere Sinode verenig wees, wat op sy beurt weer afgevaardigdes sou stuur na die één Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerke. Dit was politieke omstandighede wat dit verhinder het, hoewel dit selfs by die bekende Dordtse Sinode van 1918-19 nog geblyk het dat die begeerte tot hierdie eenheid steeds lewend was. Eers in ons eeu het iets hiervan in werklikheid geword toe die Altreformierte Kirchen Deutschlands met die Gereformeerde Kerke in Nederland in kerkverband getree het.

Wanneer het hierdie standpunt verander? Toe die liberalisme van die Aufklärung in die kerk en teologie begin deurwerk het. Toe is die kerk geheel en al anders gesien. Toe het dit moontlik geword om ‘n uitweg te vind uit die probleme wat die verdeeldheid en verskeurdheid van die kerk na vore laat kom het, want toe is die kerk, soos hy hier en nou sigbaar en konkreet bestaan, nie meer vereenselwig met die kerk van Jesus Christus nie. Dit is verlaag tot ‘n sigbare vereniging van mense wat uit eie vrye wil saamkom om bepaalde godsdienstige handelinge te verrig en in hulle heerlike ruimhartigheid nooit daaraan dink om ander mense die goeie reg te ontsê om op hulle eie wyse en plek hulle eie vereniging te stig as ‘n volkome legitieme ander moontlikheid van “kerk”-wees nie. En op hierdie liberale opvatting van wat die kerk is, is ‘n liberale kerkreg gebou wat tot in ons tyd nog sy invloed laat deurwerk, selfs by diegene wat opreg meen dat hulle goed gereformeerd is. Hierdie liberale kerkreg is die kollegialistiese kerkreg. Om aan te toon dat dit spesifiek die kollegialistiese denke is wat die opvatting van ‘n legitieme veelheid van kerke moontlik gemaak het, wil ons hier kortliks die aandag vestig op een van die bekendste voorbeelde van die kollegiale kerkreg: die Hedendaagsch Kerkrecht bij de Hervormden in Nederland, van die hand van die bekende Utrechtse hoogleraar, H. J. Rooijaards.

Die eerste deel van Rooijaards se kerkreg het in 1834 verskyn. Die werk was bedoel as ‘n verdediging en verduideliking van die kerkreg wat die basis gevorm het van “Het Algemeen Reglement op het Bestuur der Hervormde Kerk in het Koninkrijk der Nederlanden” wat op las van koning Willem I in 1816 ingevoer is.

Hierdie reglement is gebore uit die gees van die liberalisme. Dit kan dien as ‘n redelike goeie voorbeeld van die kollegiale kerkreg geklee in die gewaad en gedeeltelik vermeng met die reste van die gereformeerde kerkreg wat sedert die sestiende eeu in Nederland gegeld het. Die grondstruktuur daarvan is egter onmiskenbaar die kerkreg van die Verligting. Die kollegiale kerkreg is gebore in die tyd van die Aufklärung en het ‘n gunstige aansluiting gevind by die gees van die Franse Rewolusie wat die hele Wes-Europa teen die einde van die agtiende eeu oorspoel het. Diegene wat hulle vir die invoering van die nuwe reglement in die Nederlandse Hervormde Kerk beywer het, was dan ook voor die voet “verligte manne”, liberaliste van verskillende graad. Onder hulle was die heer Janssen, wat as amptenaar by die staatsdepartement vir die erediens ‘n beslissende rol by die opstel en invoering van die reglement gespeel het, een van die vernaamstes. En in kerkregtelike sake was Rooijaards en Janssen geesgenote. Janssen was Rooijaards wel voor in sy kollegialistiese denkbeelde, maar die ooreenstemming tussen hulle was tog so groot dat hy die bogenoemde werk van Rooijaards gunstig ontvang en beoordeel het, en die opvattinge daarin verdedig, getipeer het as “over het algemeen juist”. Duidelik is in elk geval dat Rooijaards sonder die minste twyfel gesien moet word as ‘n goeie verteenwoordiger van die liberale kerkregtelike opvattinge wat aan die begin van die negentiende een in Nederland posgevat het. Sy werk oor die kerkreg kan dus ook beskou word as ‘n sprekende voorbeeld van ‘n kerkreg wat geïnspireer is deur ongereformeerde voorveronderstellinge. Dit blyk baie duidelik reeds uit die liberale onderbou van sy kerkreg soos hy dit uiteensit in die inleiding op sy werk. En nou is dit merkwaardig dat Rooijaards daarin van die onderskeiding sigbare en onsigbare kerk op ‘n wyse gebruik maak wat geweldig resent aandoen. Enkele aanhalinge uit sy werk sal die waarheid van hierdie stellings bevestig.

Rooijaards neem sy uitgangspunt uit Joh. 18: 36: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.” Volgens hom teken Christus met hierdie woorde die aard en bestemming van die Christendom. Dit is nie ‘n ryk wat “met uiterlike gelaat” kom nie, omdat dit binne-in die mens aanwesig is (Luk. 17: 20 – 21), en dus ‘n innerlike aard het. Onder die mense tree dit wel op in ‘n uitwendige vorm, en dit word die kerk, of liewer, die sigbare kerk genoem. “In de geestelijke vereeniging bestaat dus het wezen der Kerk; in die genootschappelijke inrigting kenmerkt zich de vorm der Kerk” (Deel I, bl. 3). Daarom is Rooijaards van mening dat die denkbeeld van die sigbare en onsigbare kerk “veel goeds” behels, aangesien dit in die gees van die Christendom indring. Met instemming haal hy Bretschneider aan wat sê: “Die Kirche, als Idee, ist die unsichtbare; als Ercheinung, die sichtbare” (bl. 3, nota 1). Daarmee het hy die betekenis van die reformatoriese onderskeiding tussen sigbare en onsigbare kerk prysgegee, en dié terme gevul met inhoud vanuit die idealistiese wysbegeerte.

Die onsigbare kerk nou, gelyk aan die innerlike, onsigbare ryk van God of ook die “geestelike vereniging” van die onderdane van Christus “zonder den vorm van een Genootschap”, is die kerk waarvan artikel 27 van die Nederl. Geloofsbelydenis en Sondag 21 van die Heidelbergse Kategismus praat (bl. 32). Die sigbare kerk kan nie met daardie kerk gelykgestel word nie. “Deze Kerk toch – niet ten onregte de onzigtbare Kerk geheeten – is niet zoozeer bij uitsluiting in één of ander Kerkgenootschap te zoeken. Want op geen Kerkgenootschap zijn de bovenvermelde eigenschappen (d.w.s. dié genoem in die betrokke artikels) toe te passen; – geen Kerkgenootschap is van den beginne der wereld af aanwezig geweest; noch ook zal altijd blijven bestaan; noch is ook verstrooid over de geheele aarde” (bl. 33). Die onsigbare kerk as geestelike vereniging van ware gelowiges is dus die ware kerk, die kerk na sy wese. Daarteenoor is die sigbare kerk of kerkgenootskap maar net die (toevallige) vorm waarin die onsigbare idee van die kerk op aarde na vore tree, en hierdie sigbare verskyningsvorm van die kerk of kerkgenootskap staan met die onsigbare ryk van God slegs in ‘n verwyderde verband.

Rooijaards verklaar dan ook dat die sigbare aardse kerkgenootskappe (let op die meervoud! ) gevorm word uit die lede van die ware, innerlike kerk, vermeng met die naambelyers, en tot die vorming van sulke kerkgenootskappe kom dit oral oor die hele aarde waar die Christendom geplant is (bl. 33/34). Hierdie uitwendige vorm wat die kerk onder die mense aanneem, was by die oorsprong van die kerk nog onbekend (bl. 2) en is in elk geval ‘n menslike instelling. “Het Christendom en de ware Kerk is van goddelijken oorsprong; het Genootschap en deszelfs inrigting ontleent dien oorsprong van menchen. Immers Jezus zich eene Gemeente op aarde verzamelende, schreef geene bepaalde kerkinrigting voor, noch eenig maatschappelijke vormen voor de aanstaande Genootschappen (let weer eens op die meervoud!) zijner belijders, maar liet dit over aan de menschen in verschillende tijden en plaatsen” (bl. 36). Omdat die uiterlike vorm van die kerk van menslike oorsprong is, is dit aan voortdurende verandering onderhewig (bl. 38). Met instemming haal Rooijaards die “Antwoord van den Commissaris-Generaal op een Adres der Classe van Amsterdam 1816” aan, waarin dit heet: “Het eerste beginsel van het Protestantisme bestaat juist in het zorgvuldig onderscheiden van zaken en vormen, van Christendom en Kerkbestuur, welke in tegenoverstelling bij de Roomsch-Katholieken onafscheidelijk vereenigd zijn” (bl. 39, nota 1). Die inrigting van die sigbare kerk is dus ‘n betreklik onverskillige saak, sodat Rooijaards met instemming kan verwys na wat Mosheim, een van die vaders van die kollegiale kerkreg, verklaar het: “Alles Kirchenrecht …. bezieht zich aus schliesslich auf die sichtbare Kirche; die unsichtbare geht uns also hier gar nichts an” (bl. 3, nota 1, en bl. 6). Weliswaar verklaar Rooijaards dat die sigbare inrigting van die kerk in ooreenstemming moet wees met die wese van die kerk en selfs met die Heilige Skrif (vgl. bl. 17/18, 37 en 40), maar dit funksioneer verder in geen enkele opsig in sy uiteensettinge nie. Daarenteen doen hy alle moeite om duidelik te maak dat die sigbare kerk homself nie kan verstaan as die ware kerk van Christus nie, maar homself moet sien as ‘n vrywillige vereniging van mense wat “volgens hunne overtuiging wenschen te streven naar de kenmerken der ware Kerk” (bl. 33). Rooijaards voel dan ook dat artikel 29 van die Nederl. Geloofsbelydenis “het onderscheid der ware Kerk en van het Kerkgenootschap” nie duidelik genoeg uitdruk nie (ald., nota 2).

Uit die bostaande vloei nou vanself die konklusie dat daar dus ‘n legitieme veelheid van genootskappe naas mekaar kan bestaan. Omdat die uitwendige vorm van die kerk as menslike genootskap verskillend is in verskillende tye, volke, lande en by verskillende mense, kan daar “wat het wezen der Kerk betreft, wel ééne Kerk bestaan, maar wat den vorm betreft, bestaat er op aarde niet ééne Kerk, maar onderscheidene Kerkgenootschappen …“Ek kan dus maar ééne onzichtbare Kerk zijn; maar vele vormen der zichtbare Kerk of Genootschappen. De eerste is volkomen; het is ééne kudde onder één Herder. De laatste is onvolkomen, veranderlijk, tijdelijk; in dezelve ontstaan Sekten, Partijen, Hervormers.” “De eene ware Kerk moge dan in den geest van dit Christendom over de geheele aarde te zoeken zijn, in den uitwendigen vorm heeft zij van de Apostolische tijden af nimmer bestaan.” (bl. 4).

Juis omdat die inrigting van die sigbare kerk van menslike oorsprong is, kan daar ‘n veelheid van kerkgenootskappe náás mekaar bestaan “behoudens de eenheid der leer” (bl. 36, vgl. 46). Dus, ook waar daar eenheid in leer bestaan, kan verskillende genootskappe naas mekaar in die lewe geroep word op grond van allerlei toevallige en uiterlike faktore. En hierin sien Rooijaards een van die wesenlike verskille tussen Protestante en Katolieke, want vir die Protestant is die verbinding van gemeentes tot één genootskap “willekeurig en van menschelijke oorsprong”, terwyl die Roomse Kerk ook die sigbare kerk as van Goddelike oorsprong sien en daarom slegs van één ware kerk wil weet (bl. 36). Met ander woorde, vir Rooijaards is die kerkverband ‘n willekeurige saak. ‘n Gemeente sou dus kon weier om in kerkverband te tree met ‘n ander gemeente wat dieselfde belydenis en kerkregering daarop nahou, bloot op toevallige en ondergeskikte gronde. So ontstaan daar dan meerdere kerkverbande naas mekaar as volkome legitieme kerkgenootskappe. En wie dit anders wil sien, is net eenvoudig Rooms. “Ook hierin plaatst zich het Protestantisme en de Hervormde Kerk tegenover de Roomsch-Katholieke, daar zij het ontstaan van meerdere genootschappen naast elkander toelaat” (bl. 39). Die inrigting van die kerk “moet zich schikken naar tijden en landen, alzoo in denzelven het wezen des Christendoms geenzins gelegen is. Verschillend waren daarom ook in onderscheiden eeuwen en landen de vormen, waarin de Genootschappen der Christenen of de uitwendige Kerk zich vertoonde” (bl. 45).

Dit is seker nie nodig om in besonderhede aan te toon waarom hierdie denkbeelde uit ‘n liberale oord vir ons onaanvaarbaar is nie. Grondfout is immers die liberale ontkenning daarvan dat Christus Sy kerk ook geplant het as ‘n sigbare ekklesia waarvan die inrigting beslis nie iets toevalligs is nie. Dit hang ten nouste daarmee saam dat die ware kerk dan gesien word as ‘n onsigbare, innerlike ryk, ‘n platoniese idee. ‘n Onbybelse wese-vorm-skema word daarvan verbind en as resultaat word gevind dat die sigbare verskyningsvorm van die kerk onbelangrik word en kan wissel na gelang van tye, plekke, volkere en mense. Daarom kan daar goedskiks ‘n hele aantal genootskappe naas mekaar bestaan, sonder dat dit die idee van die kerk enigsins sou aantas. Wie so redeneer, kan nie anders as om artikel 27-29 van die Nederlandse Geloofsbelydenis, direk teen die klaarblyklike sin daarvan in, te verstaan van die onsigbare kerk, en die belydenisskrifte te kritiseer omdat hulle nie duidelik genoeg onderskei tussen die ware kerk en die genootskappe nie! Latere voorstanders van die opvatting van die pluriformiteit van kerke het dieselfde moeilikheid met die belydenisskrifte en die reformatore ondervind, omdat hulle uitsprake net nie ingepas wil raak in die eenvoudige skema innerlik-uiterlik, onsigbaar-sigbaar waarmee die liberale kerkreg werk nie.

Een ding is in elk geval duidelik, en dit is dat die kerkgenootskap van Rooijaards en sy geesgenote (selfs al word die woord kerkgenootskap later dikwels vervang met kerk) niks meer gemeenskaplik het met die kerk waaroor die Bybel en die reformatore praat nie. Dit is ‘n menslike maaksel, beperk, toevallig, ‘n produk van plek en tyd, beslote in homself, ‘n gewone menslike vereniging of organisasie wat bestuur word met ‘n reglement soos elke ander menslike organisasie. Dit is ‘n onderonsie, ‘n groepsbeweging wat deur die mens gestig, besit, gebruik, beskerm en uitgebou word, en waarnaas ander ewe goed vir hulleself ‘n dergelike organisasie kan oprig as hulle wil. So ‘n genootskap wil homself nie verstaan as die liggaam van Christus nie, en daarom besit dit in homself niks wat verpligtend is nie: dit is maar een moontlikheid naas ander. Dit is dus nie meer die kerk waarvan die artikels van ons algemene, ontwyfelbare Christelike geloof spreek nie. Dit is ook nie meer die kerk waarvan artikel 28 van die Nederl. Geloofsbelydenis verklaar dat iedereen skuldig is om hom daarby te voeg nie.

Wie só oor die kerk dink, het natuurlik geen moeite met die veelheid van kerke en kerkies nie.

Maar wie só dink, dink nóg Bybels, nóg reformatories.

WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker, Ned. Geref. Teologiese Tydskrif, Januarie 1964, Deel V no 1, 3 – 9]