Die Christen en aardse besittings

DIE CHRISTEN EN AARDSE BESITTINGS
Die Voorligter, Februarie 1964
Deur dr. W. D. Jonker

Dit is nie verkeerd om aardse besittings te hê nie. Die Bybel gaan deurgaans uit van die feit dat ’n mens sekere dinge mag besit. Die agtste gebod (“Jy mag nie steel nie”) beskerm die persoonlike eiendom. Ons mag die “goed van ons naaste nie vir onsself toeëien nie” (Heidelbergse Kategismus, vr. 110), maar moet dit respekteer en beskerm, soos ons ook mag verwag dat ons naaste dit met ons besittings sal doen. Rykdom word in die Bybel dikwels gesien as ’n bewys van Gods seën. Die aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob, was ryk en dit is hulle nie verbied om hulle besittings te vermeerder nie. Dieselfde geld van Job. Aan Salomo het God in die besonder rykdom gegee as teken van Sy guns.

Nêrens word dit in die Skrif verbied dat ’n mens besittings sal hê of dit sal vermeerder op ’n eerlike wyse nie. Ook Christus se gelykenisse spreek onbevange oor koop en verkoop, oor besit en verkry, oor ryk en arm. Elke mens het ‘n verwerwingsdrang wat met sy natuur gegee is soos die ander drange met die natuur gegee is. Die mens wil iets besit, wil iets sy eie kan noem. Die Bybel veroordeel dit nie as sodanig nie, so min as wat die Bybel bv. die seksdrang in die mens as sodanig veroordeel. Maar die Bybel swyg tog nou ook weer nie eenvoudig oor ons besittings en ons natuurlike verwerwingsdrang nie. Die Bybel het ook daaroor vir ons ’n boodskap en wil dat ons verhouding tot ons aardse besittings reg sal wees.

Wat is nou die regte verhouding tot ons besittings wat die Here van ons vra? Dit kan met ‘n enkele woord weergegee word: Die Here wil dat ons innerlik los sal wees van ons aardse besittings. En dit kan ons alleen wees, indien ons verstaan dat alle aardse besittings, hoe ryk ons ook al daarmee bedeeld mag wees, of hoe min ons ook al daarvan mag hê, nooit in ’n finale en laaste sin ons eie is nie. Dit is en bly geleende goed. Ons mag dit besit, maar dit is nooit werklik ons eiendom nie, omdat dit alles aan God behoort. Die Bybel het eintlik nie ’n woord vir eiendom nie. God is die absolute en finale eienaar van alles. Die mens het alleen sekere dinge in leen van God, hy het dit in sy besit om dit te mag gebruik en daarvan te mag geniet en veral om daarmee te doen wat God se wil daarvoor is. Die heerskappy van die mens oor sy aardse besittings is dus nooit ’n absolute heerskappy nie, want die aarde behoort aan die Here en die volheid daarvan” (Ps. 24:1).

Wie dit verstaan, sal begryp waarom ’n mens nie jou hart aan die aardse besittings mag verpand nie. Ons hart mag alleen aan God behoort. Wie die gawes wat God aan ons leen, meer liefhet as wat hy God liefhet, oortree die eerste gebod. Hy verafgod die gebruiksgoed wat die Here aan hom leen, en vergeet God in die proses. Hy kan dan ook nie meer dankbaar wees teenoor God vir wat hy mag besit nie, want ’n mens kan alleen dankbaar wees as jy weet dat jy uit vrye guns en onverdiend iets deelagtig geword het. Wie egter sy hart aan sy aardse besittings verpand het, kan dit nie meer aanvoel as ‘n genadegif van die Groot Gewer nie, want hy verloor die Gewer uit die oog en aanbid die gawe. Wat meer is, hy verpand sy hart so daaraan, dat hy die slaaf daarvan word, dat hy in wellus daarna gryp en dit as sy kosbaarste besitting omhels. Hy voel dit aan as sy eie. Dit vul sy hele hart en lewe.

As die Bybel teen die gevare van die rykdom waarsku, het dit altyd hierdie verkeerde verhouding teenoor ons besittings op die oog. Dit is nie sonde om ryk te wees nie, maar dit is sonde om jou hart aan jou aardse besittings te verpand. Dink maar aan die gelykenis van die ryk dwaas (Luk. 12:13 e.v.). Christus wil daar veral die hebsug afwys, die onbeteuelde sug na aardse goed, die brandende honger na meer en meer goed, asof ’n mens se lewe in die oorvloed van sy besittings sou bestaan. Want waar die hebsug heers, is vir God nie plek nie. Daarom waarsku Christus: “So gaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is in God nie.”

Rykdom het dus bepaalde gevare. Die vernaamste daarvan is dat ’n mens jou hart so sal vasmaak aan jou aardse rykdom, dat jy arm word in God, dat jy God vergeet, dat alles vir jou later draai om hierdie aardse dinge, asof dit die belangrikste werklikheid van ons lewe is. Nie elke ryk mens sal God vergeet en sy aardse besittings so lief kry, dat daar vir God nie meer plek in sy lewe is nie. Maar die gevaar is vir elkeen daar. “Dit is alleen sterk bene wat die weelde kan dra.” Menigeen wat godvresend was toe hy arm was, het in sy rykdom God vergeet, nie omdat rykdom as sodanig sonde is nie, maar omdat rykdom deur die duiwel gebruik kan word om ons weg te lei van God af. Die heerlikste gawes wat God ons gee, kan vir ons sondige harte tot ’n strik word. En die duiwel weet dit maar te goed.

Daarom is dit dat Christus gesê het: “Hoe beswaarlik sal hulle wat goed besit, in die koninkryk van God ingaan. Want dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan” (Luk. 18:24-25). Ons moet hierdie verse letterlik opneem. So onmoontlik as wat dit vir ’n kameel is om deur die oog van ’n naald te gaan, so onmoontlik is dit vir ‘n ryk man wat sy aardse goed liefhet en bokant God stel, soos die voorbeeld van die ryk jongman duidelik toon, om in die koninkryk van God in te gaan.

Hierdie uitspraak van Christus lê op dieselfde vlak as sy uitspraak in Luk. 14:26: “As iemand na My toe kom en hy haat nie sy vader en moeder en vrou en kinders en broers en susters nie, ja, selfs ook sy eie lewe nie, kan hy my dissipel nie wees nie.” Seker, vader en moeder, vrou en kind is Gods wonderlike gawes aan ons. Ons mag hulle liefhê. Christus bedoel dan ook nie met “haat” dat ons hulle met wrewel en passie moet haat in die gewone sin van die woord nie. Maar Hy bedoel dat ons liefde vir hulle nooit mag konkurreer met die liefde vir Hom nie, en as dit op ‘n keuse sou uitloop tussen ons liefde vir Hom en ons liefde vir hulle, moet dit duidelik word dat ons liefde vir Hom soveel groter is as ons liefde vir hulle, dat ons Hom sal kies en hulle sal prysgee. So moet dit wees met alles wat op aarde deur God aan ons geleen word. Ons goed mag nooit vir ons meer wees as God nie. Indien dit só is, is dit ’n teken dat ons God nog nooit ontmoet en leer ken het nie, want wie Hom leer ken het, kan nie meer enigiets van die aarde bó Hom stel nie.

Juis hieruit moet dit dan ook duidelik wees dat die waarskuwing van die Skrif teen geldgierigheid en rykdom nie net vir ryk mense bedoel is nie. Ook mense wat betreklik min aardse goedere besit, kan ‘n totaal verkeerde instelling daarteenoor hê. Hy wat min het, mag juis sy min besittings liewer hê en vaster daaraan verbonde wees, as hy wat veel het. Het dit u nie ook opgeval dat die dissipels, wat oor die algemeen arm vissers was, verslae was oor Christus se woord dat ‘n ryk man beswaarlik in die koninkryk van God sal ingaan en gevra het wie dan gered kan word nie (Matt. .19:25). ’n Mens kom nie vanself in die hemel omdat jy arm is nie. So mag die gelykenis van die ryk man en Lasarus ook nie misverstaan word nie (Luk. 16:19 e.v.). Of ons ryk is of arm, ons harte bly ewe boos, en dit is alleen deur die genade van God dat ‘n mens verlos word van hebsug en grypsug, van selfsug en aardsgebondenheid, en dat sy hart op God gerig word en op sy naaste.

Dit is genade as ’n mens innerlik los word van aardse besittings, as ’n mens leer wat dit is om vergenoegd te wees met wat God jou toebedeel het. Paulus verklaar dat die godsaligheid saam met die vergenoegdheid ‘n groot wins is (1 Tim. 6:6). Daarin vind ook die tiende gebod sy vervulling, dat die honger en die dors na meer en meer, na die goed van my naaste, in my moet plek maak vir die vrede van ’n mens wat geleer het om vergenoeg te wees, omdat hy in oorvloed en gebrek, by versadiging en honger ly, tot alles in staat is deur Christus wat hom krag gee (Fil. 4:10-13).

Wanneer ’n mens innerlik los geword het van aardse goed en geleer het om die Here in alles te dank, word ’n mens ook vry van die kwellende serge oor eet en drink, oor die donkere toekoms, oor die onsekere môre (vgl. Matt. 6:19-34). Die kwaliteit van die lewe van ’n Christen kan eintlik gemeet word aan sy bekommernis. As God werklik ons deel geword het, en ons met eerlikheid kan sê dat ons buiten Hom ook niks begeer op die aarde nie (Ps. 73:25), kom daar ’n vreugde en onbesorgdheid oor ons, omdat ons God vertrou. Al ons sorge, al ons gejaag en gewedywer, al ons begeertes, al ons diefstal en benadeling van mekaar, word gebore uit die gebrek aan vertroue op God. As ons Hom nie meer vertrou om vir ons te sorg nie, moet ons alles in werking stel om vir onsself te probeer sorg. En as elkeen vir homself sorg – en die duiwel vir ons almal (want die duiwel kom eers reg in sy element by ’n selfsugtige, bekommerde, grypende mens) – dan het ons nie meer plek vir God nie, ook nie vir dankbaarheid nie, ook nie vir die naaste nie.

Dit is eers as ek innerlik los geword het van my aardse besittings en as ek God gaan vertrou dat Hy vir my sal sorg, dat ek vry word om ook my naaste met my aardse besittings te dien. Dit is daarom ook nie vreemd dat die Bybel mededeelsaamheid in direkte verband bring met ons verhouding tot God nie. Die apostel Johannes verklaar: “Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?” (1 Joh. 3:17). Jakobus maak mededeelsaamheid die toets vir die egtheid van die geloof (Jak. 2:14-17). Ook in die profetiese rede van Christus oor die ewige oordeel blyk dit duidelik dat die egtheid van ons verhouding tot God getoets word aan ons mededeelsaamheid teenoor hongeriges, dorstiges, nakendes, vreemdelinge, ens. (Matt. 26:35-36). As ’n mens God werklik ken, as Hy vir jou bó alles is, gaan jou hart en jou beursie en jou huis oop. Toe Saggeus Christus ontmoet het, of liewer, toe Christus Hom gevind het, het hy gaan staan en gesê dat hy die helfte van sy goed vir die armes gee (Luk. 19:8). Sy selfsug was gebreek, sy hebsug is gekruisig.

Nee, dit is nie verkeerd om aardse besittings te hê en met vlyt ons daarop toe te lê om dit te verwerf of te vermeerder nie. Maar dit is sonde as my hart verkleef raak aan aardse dinge, as ek werk en ywer uit selfsugtige en hebsugtige motiewe, as ek vir my sorge en kommer maak oor dinge wat van minder belang is, as ek my aardse besittings vir myself wil hou terwyl my naaste gebrek ly, as ek dit tot ’n doel maak om vir my skatte op die aarde te versamel waar mot en roes verniel – terwyl ons tog maar een doel mag hê: die skatte in die hemel waar geen mot of roes verniel nie …

Dit is sonde as ek vergeet dat alles eintlik aan God behoort en dat ek dit maar in leen mag gebruik. Dit is sonde as ek God nie bó alles liefhet, en my naaste soos myself nie.