DIE GAWE OM TE KAN UITDEEL
Deur dr. W. D. Jonker
Die Voorligter, Mei 1964
Dit is sonder die minste twyfel só dat die uitdeling of besteding van die gawes wat vir die diens van barmhartigheid bedoel is, die vernaamste taak van die diaken is.
Dit word vandag eintlik nie meer besef nie. Ons het al so gewoond daaraan geraak dat die diaken ’n kollektant is, dat hy byna voortdurend net besig is met die insameling van fondse – en dan nog daarby fondse wat meestal met die diens van barmhartigheid niks te make het nie – dat ons sy eintlike taak, dié van die besteding van die “goeie middele” wat vir die ondersteuning van die armes ingekom het, maklik geringskat of oor die hoof sien.
As ons in Hand. 6 die aanvang sien van die spesiale diens van die versorging van die behoeftiges in die Christelike kerk, dan is dit daar reeds duidelik dat dit om die uitdeling gegaan het éérder as om die insameling. Die gemeentelede het spontaan hulle besittings verkoop en die prys van wat verkoop is, aan die voete van die apostels neergelê (Hand. 4:24). Niemand het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie. Daar was dus geen gebrek aan die gawes wat nodig was om in die behoeftes te voorsien nie, maar die probleem het gekom by die uitdeling.
Aanvanklik het die apostels self “aan elkeen uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het” (Hand. 4:35), maar dit het ’n onmoontlike taak geword om die uitdeling te behartig saam met die prediking van die Woord, die gebede en die opsig. Daarom is uitgekyk na manne wat spesifiek die arbeid van die uitdeling kon verrig, sodat niemand in die daaglikse versorging oor die hoof gesien sou word nie (Hand. 6:1). Vir hierdie arbeid is daar ‘n spesiale genadegawe nodig. Daarvan hoor ons in Rom. 12:8, waar tussen die ander gawes ook sprake is van die gawe om uit te deel. Die uitdeling van die gawes vir die diens van barmhartigheid kry hierdeur ’n besondere aksent. Natuurlik is dit die voorreg en plig van elke gemeentelid om uit te deel. Wanneer die gemeente egter as gemeente gaan uitdeel op ‘n amptelike manier, soos wat dit geskied in die diens van barmhartigheid, is dit nodig dat mense daarvoor geroep word wat van die Heilige Gees besondere gawes in die verband ontvang het.
Hierdie swaar aksent wat by die diakensamp op die uitdeling val, is goed aangevoel deur die opstellers van ons formulier vir die bevestiging van die diakens. Die formulier staan daarby heelwat langer stil as by die insameling van goeie middele vir die armes en merk veral op dat daar besondere eienskappe nodig is vir iemand wat goed kan uitdeel, nl. oplettendheid, versigtigheid, blymoedigheid, opregtheid, ’n bewoë gemoed en die kennis van die Skrif, sodat die uitdeling gepaard kan gaan met die vertroosting vanuit die Skrif. Hierdie eienskappe is vanselfsprekend nie by alle mense in dieselfde mate teenwoordig nie. Daarom kan enige mens nie sommer ’n diaken wees nie. ’n Diaken is iemand wat van die Heilige Gees die gawe ontvang het om met liefde, wysheid, teerheid en blymoedigheid uit te deel, en wat deur die gemeente aangewys word om dit amptelik namens die gemeente te doen. ’n Goeie diaken is ’n diaken wat die besondere gawe wat die Heilige Gees aan hom geskenk het, ontwikkel en uitbou tot die fyn kuns om só uit te deel, dat die liefde en goedheid van Christus daarin gesien kan word en die gawes tot ’n boodskap kan word van die Groot Gawe wat God aan ons geskenk het.
Die diakensamp is en bly dus in eerste instansie gerig op die uitdeling. Ons sal netnou sien dat die begrip “uitdeling” baie wyer is as wat dit met die eerste oogopslag mag voorkom, omdat dit baie meer insluit as die oorhandiging van ’n aalmoes hier of daar. Hoe wyd ons die begrip ook al neem, dit maak geen verskil aan die feit dat die diakens-amp die amp van die uitdeling is nie.
Die insameling van fondse is teenoor die uitdeling beslis sekondêr. Dit is ’n middel tot die eintlike doel, nie ’n doel op homself nie. Waar die geestelike lewe in die kerk op ’n hoogwatermerk is, sal die insameling miskien nie eers baie nodig wees nie (soos blyk uit die voorbeeld van die eerste Christelike gemeente), omdat die lidmate dan die gawes vanself sal bring. Namate die geestelike lewe in die kerk sak, word die noodsaak vir die insameling van fondse al hoe groter, en kan dit selfs so ver gaan dat wat sekondêr moet wees, die primêre taak van die diaken word, veral as daar nie meer onderskei word tussen die gawes vir die armes en die gawes vir die instandhouding van die erediens nie, soos dit helaas vandag by ons is. Dan gaan die diaken se taak al meer gesien word as die kollekteer van geld wat nodig is vir die instandhouding van die diens van die Woord, en die diens van barmhartigheid kom hoe langer hoe meer op die agtergrond.
Dit kan selfs so ver kom dat die diaken nie eers meer weet dat die diens van barmhartigheid sy eintlike taak is nie, en dat dit oorgelaat word aan ’n kommissie van die kerkraad (die armesorgkommissie soos ons dit vroeër geken het) of selfs allerlei maatskaplike rade met hulle personeel. Daarom is dit so noodsaaklik dat ons dit weer sal beklemtoon met al die krag waaroor ons beskik: die eintlike taak van die diaken is die uitdeling van die gawes, in die wydste moontlike sin geneem.
BESTEDING
Wanneer ons praat oor die uitdeling van die gawes wat bestem is vir die diens van barmhartigheid, is dit duidelik dat dit nie ’n aangeleentheid is wat op homself staan nie: – dit hang saam met die besteding van die gawes deur die kerkraad in die algemeen. Die diakens kan alleen aan die behoeftiges uitdeel as die kerkraad hulle dit toelaat. In laaste instansie beskik die kerkraad oor die finansies, nie die diakonie nie. As die kerkraad nou die regte gesindheid teenoor die besteding van die finansies het, sal die regte gesindheid ook ten opsigte van die diens van barmhartigheid bestaan, en omgekeerd. In ’n sekere sin is dit selfs juis om te sê dat die besteding van die diakens die gesindheid van die gemeente teenoor die diens van barmhartigheid sal weerspieël. Dit is egter sonder die minste twyfel ’n weerspieëling van die instelling van die kerkraad.
Baie kerkrade het ’n uiters eienaardige instelling teenoor finansies. Hulle vergeet soms byna dat dit om die geld van die Here gaan. Alles lyk na ’n besigheidstransaksie. Dit kom nie alleen uit in die byna wêreldse manier waarop ons soms beraadslaag om die bydraes van die gemeente op te stoot nie, maar ook in die beslis wêreldse manier waarop daar geredeneer word by die besteding daarvan. Baie kerkrade is bepaald selfsugtig. Hulle gee nie om wat hulle bestee aan sierlike kerkgeboue, gerieflike sale, mooi pastorieë, duur orrels en allerlei luukse (en dikwels totaal onnodige) fasiliteite vir die eie gemeente nie, maar as dit by die besteding van geld vir die armes, of vir die werk van die Here in wyer verband kom, raak hulle skielik uiters noulettend. Dan is die minimum nog te veel vir hulle.
Almal van ons ken seker voorbeelde van ryk gemeentes met duisende rande in die bank en op beleggings, wat vir arme weduwees en behoeftige oues van dae maar uiters ’n twee rand per maand kan afknyp, ’n bedrag wat miskien nie eers vergelyk kan word met wat die lede van die kerkraad aan fooitjies by kafees en petrolpompe weggee nie. Hierdie verskynsel sal veral maklik voorkom in gemeentes waar daar nie ’n afsonderlike rekening vir die diens van barmhartigheid is nie. Dan kry die groot uitgawes van die kerkraad altyd die voorrang en teen die tyd dat die behoeftes van die armes oorweeg moet word, of die aansoeke van inrigtinge en dienste van barmhartigheid in wyer verband is daar nie meer geld oor om te gee nie, in elk geval nie meer genoeg om véél te gee nie.
Daarom is dit eenvoudig noodsaaklik dat elke kerkraad ’n aparte rekening vir die uitgawes van die diens van barmhartigheid daarop behoort na te hou. Hoe die fondse wat in dié rekening geplaas word, gestyf word, is ’n saak vir die kerkraad om oor te besluit. Miskien sou dit die beste wees om die eredienskollektes daarvoor af te sonder, of ten minste dan ’n deel van die eredienskollektes. Miskien wil die kerkraad ’n vaste persentasie van die inkomste op daardie rekening oorskryf. Maar hoe dit ook al gedoen word, daar moet ’n aparte rekening vir die armesorg wees, en die diakens behoort die vryheid te hê om maandeliks ’n sekere bedrag daarvan te bestee, sonder dat die kerkraad dit eers vooraf hoef goed te keur. Dit gee aan die diakens ‘n mate van vryheid en vrymoedigheid, en bring die vernaamste deel van die amp van die diaken meer tot sy reg. So ’n aparte diakonale kas sal vanself baie voordele met hom bring. Een van die vernaamstes sal wel wees dat dit die diakonie sal dwing om kennis te neem van die nood ook buite die gemeentegrense, veral in gemeentes waar daar plaaslik nie veel armes is nie.
WAAR EN HOE
Met die laaste opmerking is ons reeds binne-in die moeilike vrae van waar en hoe bestee moet word. Gebrek aan ruimte verbied ons om hier uitvoerig daarop in te gaan. In die algemeen geld dit egter dat die diakonale hulp verleen moet word aan almal wat in nood is en gebrek ly. Daar is uit die aard van die saak duisende skakeringe van nood en gebrek, en die diakonie mag nie één daarvan verbygaan sonder om daarvan kennis te neem nie.
In baie gemeentes is daar vandag weinig armes. Met ’n beroep op Gal. 6:10 waar gesê word dat ons aan almal goed moet doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof, meen sommige kerkrade van gemeentes waar die lidmate taamlik welaf is, dat hulle eintlik geen plig tot die besteding van middele vir die leniging van gebrek het nie. Dit is ‘n tipiese voorbeeld van ons neiging om altyd net die een helfte van die Skrifwaarheid wat vir ons die paslikste lyk, te laat geld. In werklikheid verplig die eerste helfte van die teks ons juis daartoe om, soos Fil. 4:5. duidelik verklaar, ons vriendelikheid teenoor alle mense bekend te laat word. Waar daar dus aan ’n gemeente weinig behoeftige lidmate behoort, word die geleentheid geopen om deur die uitdeling van die gawes ’n wonderlike diens na buite te lewer.
Geen gemeente mag vir homself lewe nie. Die kerk bestaan in die wêreld ter wille van die wêreld. Die diens van barmhartigheid is deel van die verkondiging van die liefde van Christus in die wêreld, en is daarom ’n vorm van die apostolaat (gestuur-wees) van die kerk. Veral in ons land is daar groot moontlikhede vir die diens van barmhartigheid om in samewerking met die sending talle harte te open vir die Woord van die lewe. Daar behoort voortdurend samewerking te wees tussen die moeder- en sendinggemeentes, sodat die moedergemeentes van hulle stoflike oorvloed kan oorgiet na die sendinggemeentes, wat dit op hulle beurt kan aanwend om te voorsien in die werklike gebrek wat deur huisgenote van die geloof, maar ook deur talle ander nie-blankes, daagliks ondervind word.
’n Kragtiger getuienis van die kant van die kerk as om ter wille van Christus in gebrek te voorsien, wáár dit ook al mag voorkom, kan moeilik bedink word. Daarom is dit noodsaaklik dat gemeentes wat weinig armes het, nie slegs binne die eie kerkverband en aan ons eie mense hulp sal verleen nie, maar dat ons ’n wyer perspektief kry. Dit is selfs noodsaaklik dat ons as kerk sal moet dink aan die verlening van hulp vér buite ons landsgrense, op plekke waar honger en ellende die toneel beheers. Ons mag onder geen omstandighede skouerophalend verbygaan aan die gebrek van wie ook maar mens is nie.
Die vraag na die vorm waarin hierdie besteding moet geskied, is daarby van die grootste belang. Vroeër is die aandag meer op die brood-armes toegespits (soos dit ook nog in die bevestigingsformulier vir die diakens uitkom). Die besteding het dan ook gevolglik meestal geskied in die vorm van geldelike steun. Hierdie vorm van besteding kan vandag nog met vrug aangewend word waar ons te doen het met eerlike mense wat weet hoe om geld te bestee. Wanneer ons egter te doen kry met mense wat broodsgebrek ly omdat hulle ten gevolge van dronkenskap, werkskuheid of ernstige vorme van maatskaplike wanaangepastheid die moontlikheid mis om hulle inkomste reg te bestee en op die ou end geen inkomste meer het nie, sal die hulp meer gekompliseerde vorme moet aanneem. Daar sal gesorg moet word dat sulke mense goeie voedsel ontvang, en hulp sal verleen moet word om hulle te help rehabiliteer deur versorging in inrigtings of deur sielkundige en ander behandeling.
Op hierdie terrein is dit waar die diaken moeilik die hulp van die Christelike maatskaplike werker (-ster) kan ontbeer. ’n Deel van die besteding van die meeste van ons diakonieë sal dan ook altyd wees die bydrae wat gelewer moet word vir die instandhouding van ons Ringsrade vir die diens van barmhartigheid met hulle kantore en personeel. ’n Ander deel sal noodwendig moet gaan vir die instandhouding en uitbouing van die inrigtingsorg van die kerk in wyer verband. Aan die hedendaagse maatskappy kan nie meer gedink word sonder die bestaan van tehuise vir alkoholiste, ongehude moeders, verwaarloosde kinders, ens. nie. En die kerk kan dit nie maar aan die staat of liefdadigheidsorganisasies oorlaat om vir dergelike inrigtings te sorg nie. Die kerk moet hier sy volle deel doen. Elke diakonie behoort ten volle op hoogte van sake te wees met die verskillende bestaande inrigtings van die kerk en met hulle behoeftes.
Wanneer ’n diakonie hom werklik met sy eintlike taak besig hou en in sy diakonale kas ’n bedrag het wat vir die diens van barmhartigheid bestee moet word, sal daar spoedig talle kanale oopgaan vir die besteding van die gawes. ’n Mens dink aan eenvoudige dinge soos die vervoer van oues van dae na en van eredienste, aan die vervoer van alleenlopende vroue en weduwees na en van hospitale vir gereelde mediese sorg, aan die verskaffing van goeie lektuur aan eensames en lydendes en talle ander dinge meer. Die liefde en die ywer maak vindingryk en fyngevoelig om te weet waar en wat gegee moet word. Net een ding is daarby uiters belangrik: as ons gee, moet ons nie suinig gee nie, maar voldoende vir die behoefte, sover dit altans in ons vermoë is. So goed as wat dit is om hulp te verleen, so sleg is dit om ’n afskeepgawe te gee wat dikwels eerder as ’n belediging ervaar word.
Veral op een manier van uitdeling wil ons hier nog wys. Dit is die uitdeling van persoonlike hulp. Van baie mense in die gemeente ontvang die diakonie geldelike middele om te bestee. Die gemeentelede moet egter geleer word dat hulle ook hulle persoonlike hulp vir uitbesteding kan aanbied. Op hierdie punt is dit noodsaaklik dat die diakonie en die Susters-hulpdiens in die gemeente innig sal saamwerk. Dikwels is daar siekes by wie gewaak moet word. Soms is daar ‘n onverwagse sterfgeval. Dan weer is ’n moeder tydelik uit die huis vanweë ’n operasie of iets dergeliks, en die kindertjies tuis moet versorg word. Daar is, veral in ons stede, duisende eensames wat nooit ’n besoek ontvang nie. In die stad sit talle ou moedertjies vasgekeer in ’n kamer of woonstelletjie, met niemand behalwe die bediende wat die kamer uitvee, om hulle inkopies vir hulle te doen nie. Sulke voorbeelde kan vermenigvuldig word. Kan ons diakens dan nie loskom van die voortdurende gekollekteer, dat hulle aandag kan gee aan die organisering van sulke vorms van persoonlike hulp aan mense wat dit werklik nodig het nie?
Die taak van ons diakens is om die gemeente voor te gaan daarin om te gee, onbaatsugtig te gee waar daar behoefte is. In watter vorm hulle ook al gee, één ding sal daarby steeds voorop moet staan, en dit is dat hulle gee om Christus ontwil. Daarom sal die gawes ook altyd bereken moet wees op die geestelike beswil van diegene wat dit ontvang. Dit beteken dat die hulp wat ons verleen, vol liefde sal wees, vol onselfsugtigheid, vol werklike belangstelling, vol egte menslikheid. Ons gee immers véél meer as die uiterlike gawes. Ons gee in ons gawes ’n flou afskaduwing van die liefde en barmhartigheid wat God aan ons bewys het.
Die formulier vir die bevestiging van diakens maak melding van die trooswoorde uit die Heilige Skrif waarmee die aalmoese gegee moet word. ’n Mens wonder waar dit vandag nog gedoen word. Daarsonder word alles eintlik hol, afgeplat tot “liefdadigheid” op ‘n bloot humanistiese vlak. Dit wil nie sê dat ons ons gawes altyd met ’n preek moet versier nie,. en veral nie dat ons aan diegene wat ons help, naarstiglik sal voorhou dat hulle (as ‘t ware in ruil vir die gawes) darem nou eindelik behoort kerk toe te kom nie! ’n Mens kan op dié manier meer kwaad as goed doen. Dit beteken egter wel dat ons met so ’n gesindheid sal gee, en dat diegene wat die hulp gaan bied, so spontaan van hulle geloof sal getuig, dat Christus agter dit alles ontdek sal word.
Hoe ontsaglik moeilik is dit tog! Maar juis daarom is dit ’n gawe om reg te kan gee. Ons mag ons beywer vir die gawe, en God wil ons dit gee!