Die Christen en Geheime Bewegings
Na aanleiding van die brief van “Kaaplandse Leraar” oor bogenoemde onderwerp, wil ons graag die volgende opmerk.
Hoewel ons, in teenstelling tot u korrespondent, onder ons eie name skryf, vertrou ons nietemin dat ons argumente ook self beoordeel sal word. Ons is bly dat hierdie brief ’n ander atmosfeer adem as die gebruiklike hiper-sensitiwiteit wat openbaar word waar daar gevra word na die goeie reg van ’n geheime beweging. Mag ons skrywe ook in die gees gesien en beoordeel word.
U korrespondent maak daarvan gewag dat daar op verskillende vlakke oor geheime bewegings besin kan word. Ons wil dit duidelik stel dat ons aan die gesprek deelneem, nie op die politieke vlak of op die vlak van gemene verdagmakery of op die pragmatistiese vlak van wat alles met ’n geheime beweging bereik kan word nie, maar op die vlak waar ons wil vra wat die sentrale getuienis van die Woord van God en die teologiese beginsels is wat ons in die beoordeling van die geheime bewegings behoort te lei. Alleen op hierdie vlak is die gesprek vir die kerk sinvol en kan dit tot blywende voordeel van die kerk en volk strek.
Wat sê die Skrif? U korrespondent probeer aantoon dat die Skrif geheimhouding toelaat en regverdig, en dus ook nie teen geheime bewegings kan wees nie. Sy redenasie hou egter nie steek nie, omdat hy allerlei gegewens buite hulle heilshistoriese betekenis om gebruik as legitimasie vir ’n mensgemaakte geheime organisasie, wat nie in die Skriftuurlike heilshistoriese raam ingepas kan word nie. Daarom is dit volledig ontoelaatbaar om Christus se verbod om Hom as die Messias openbaar te maak, só te misbruik. Net so onhoudbaar is die beroep op die geheimhouding van Dawid en Jonatan, die nefie van Paulus en Josef se besluit om in die geheim van Maria te skei. Eersgenoemde twee is uitsonderlike, eenmalige geheimhoudinge wat tog sekerlik nie as normatief vir die georganiseerde, durende en voorafberekende geheimhouding van geheime bewegings kan geld nie. In die geval van Josef se besluit dien dit daarop gelet te word dat sy besluit om in die geheim van Maria te skei, juis deur God afgewys is. Dit is ook ontoelaatbaar om wat in abnormale omstandighede gebruiklik is, bv. in ’n oorlog of noodtoestand, permanent van toepassing te maak op die lewe van elke dag. Hoe sou die moraal dan daaruit sien?
Die sentrale en onmisverstaanbare boodskap van die Skrif is tog dat die hele aard van die Bybel openbaring, bekendmaking, lig is (vgl. Joh. 1: 14, 29, 36: 17 : 6: Rom. 16: 26; 1 Tim. 3: 16. ens.). Die evangelieboodskap is geen geheime leer nie, maar is oop vir almal wat wil luister. Net so is die kerk in sy leer, verkondiging, inrigting en alle handelinge vir almal kenbaar (vgl. Matt. 10: 26, 27; 2 Kor. 2: 14, 15; 1 Kor. 14: 25-31, Hand. 18 :28: Hand. 20 :20). Ook die lewenswandel van die gelowige moet oop en bloot wees. Wat in die hart geglo word. moet in die openbare lewe uitgedra word. Daarom heet die gelowiges ’n stad wat bo-op ’n berg lê, ’n lig wat skyn vir almal (Matt. 5: 14. 15: Luk. 8: 16, 17). Die Christene is ’n duidelike brief van Christus, geken en gelees deur alle mense (2 Kor. 3: 2. 3: vgl. 2 Kor. 11: 16; 1 Tim. 4: 15). Dit is dan ook nie korrek om, soos u korrespondent doen, te sê dat uitsprake wat handel oor ’n wandel in die lig (soos bv. in Joh. 3: 17-21), niks met geheime bewegings te make sou hê nie, omdat dit alleen sou sien op ’n wandel in die lig van die verlossing teenoor die duisternis van die sonde. Nee, die lig van die verlossing moet die lewe van die gelowige só deurstraal dat sy werke te alle tye die toets van die openbaarheid kan deurstaan, soos Joh. 3: 21 duidelik sê dat hy wat die waarheid doen, na die lig kom, sodat sy werke openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is. Juis omdat die Christene “kinders van die lig” is (Joh. 12: 36, vgl. vs. 36, 46; Joh. 8: 12: 1 Joh. 1:6: 2:8. 9, 11), moet al hulle werke die toets van die daglig kan deurstaan, want dan alleen kan dit beoordeel word of hulle werke in God gedoen is, en dan alleen kan ander hulle goeie werke sien en so tot die verheerliking van God kom. Dit is dan ook nie goeie Skrifgebruik om van ’n uitspraak soos Joh. 18: 20, waarin Christus duidelik die openbaarheid van Sy optrede uitspreek, te beweer dat dit vir die onderhawige saak nie veel sê nie, omdat Christus tog ook mense beveel het om sekere van Sy dade nie bekend te maak nie. Afgesien van die vraag of u korrespondent nie met so ’n opmerking die goeie trou van Jesus self in die gedrang bring nie, misken hy daarmee die heilshistoriese van Jesus se optrede en die feit dat Christus die lig van die wêreld was, wie se optrede van alle geheime byeenkomste, beplande geheimhouding om strategiese redes nie eens die minste blyk kon gee nie. Dit is ook onverklaarbaar dat u korrespondent in verband met Ef. 5: 10 e.v. slegs kan vermeld dat die gelowiges vermaan word om geen gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis te hê nie, en swyg oor die positiewe weg wat die gelowige moet bewandel wat die toets van die lig, die openbaarheid, kan verdra, “want alles wat openbaar word, is lig” (v. 13). Uit die Bybel blyk dit tog duidelik dat dit ’n wesenskenmerk van die verkeerde is dat hy die duisternis en die verborgenheid opsoek, en ’n kenmerk van die goeie dat hy die toets van die openbaarheid kan verdra. Wie as kind van God in hierdie wêreld wil wandel, mag geen behoefte daaraan hê om ’n deel van sy lewe aan die toets van die openbaarheid te onttrek nie.
Geheimhouding en geheime bewegings. Elke mens se lewe het ’n verborge sowel as ’n openbare sy. Verborge is dit wat in ons hart is. Wat in die verborgene van die hart omgaan, word egter openbaar in ons woord en daad en omgang met ander mense. Ook kan die privaatheid van elke mens, liggame of instellings nie op een lyn gestel word met die geheimhouding van die geheime beweging nie. Dit is van ’n ander aard, en met ’n ander motief en opset. So is by die geslotenheid van die kerklike vergadering (bv. in gevalle van tug) die lede van die vergadering bekend: die persone wat daarby belang het, is teenwoordig en het volle insae in wat gebeur; die besluite word in die reël openbaar gemaak; daar kan geappelleer word teen die besluit – alles dinge wat in die geheime beweging nie die geval is nie, sodat geen rekenskap gevorder kan word oor wat daar gebeur nie. Dieselfde geld in ’n groot mate van die Kabinet.
Nog meer onhoudbaar is die voorbeeld van die huwelikslewe. Die huweliksluiting is immers openbaar en twee mense lewe in die openbaarheid saam as man en vrou. Wat in die privaatheid tussen man en vrou gebeur, is ter wille van die kuisheid en die skaamte aan die oog van ander onttrek. maar is tog kragtens Gods skepping en Sy wil vir die huwelikslewe nie ’n willekeurige geheimhouding met bepaalde opset soos die van die geheime organisasie nie. Buitendien het elke ander getroude paar ’n soortgelyke geheim, en in bepaalde gevalle kan selfs die geheime lewe van die egliede aan die toets van die Woord onderwerp word deur die kerk.
Die probleem met die geheime beweging is juis dat dit wat tot die openbare lewe behoort, in die verborgene gaan doen, en dit sodoende nie tydelik nie, maar permanent onttrek aan die openbare beoordeling in die lig van Gods Woord. Daarby gaan dit dan nie om private aangeleenthede nie, maar oor sake van openbare belang, sake wat dikwels teologiese implikasies het en met die lewe van die kerk ten nouste gemoeid is. Bowendien word hieroor gehandel as ’n geselekteerde groep van persone wat op verskillende terreine van die lewe in sleutelposisies verkeer en dus in staat is om doeleindes wat nie deur openlike optrede bereik kan word nie, deur verrassing van die opponent te bereik. Geheime organisasies moet daarom verwag dat hulle altyd gewantrou sal word, ook al omdat hul optrede deur hierdie taktiek groot ooreenkoms vertoon met wat bv. bekend is van die optrede van die Kommuniste, waar ’n klein groepie mense in sleutelposisies deur die gebruikmaking van indoktrinasie, infiltrasie en goedgesinde frontorganisasies hul vooropgesette plan met die massa kan bereik.
Die kerk en geheime bewegings. U korrespondent pleit daarvoor dat nie die geheimhouding nie, maar die doelstellings en opvattings van ’n geheime organisasie deur die kerk beoordeel moet word, en hy is dankbaar dat die N.G. Kerk nog steeds die weg bewandel het. Is dit die waarheid? Waar die kerk tot nou toe hoofsaaklik twee geheime bewegings voor sy aandag gekry het, daar toon die geskiedenis dat die kerk hier met twee maatstawwe gemeet het. Die een beweging is bv. herhaaldelik ondersoek, die ander is slegs een keer ondersoek, en daarna word herhaaldelik verwys asof dit vir alle tye afdoende is. In die een geval is uitvoerige en deeglike bronne-studie gedoen, die ander is op grond van uiters karige (kwantitatief en kwalitatief) literatuur beoordeel. By die beoordeling van die een geheime beweging is van teologiese argumente gebruik gemaak, en ’n enkele nie-teologiese argument wat in verband daarmee opduik, is nie van beslissende betekenis nie, terwyl die ander beweging op volledig onteologiese gronde beoordeel en vrygespreek is. Die Heilige Skrif wat die enigste onfeilbare reël vir geloof en lewe is, is by die een wel hanteer, maar by die ander is dit nie ter sprake nie. By die een is geheimhouding as sodanig een van die gronde wat tot veroordeling lei. Die ander, waarvan die vertroulikheid ’n kardinale beginsel is, word vrygespreek (vgl. Kaapse Sinode, 1940), en Rapport van die Raad van die Kerke. 1951). Dit is dan ook opmerklik dat die lede van een geheime beweging nie tot kerkraadslede gekies mag word nie (vgl. Algemene Sinode, 1962), kennelik vanuit die gevaar wat lidmaatskap aan ’n geheime beweging vir die goeie funksionering van kerklike vergaderings inhou. Immers, indien hulle bv. op leerstellige gronde uit die kerkraad geweer moes word, handel die kerk hier inkonsekwent, want dan moet hulle tog deur die kerklike tug aangespreek word. Die kerk bly aan elke lidmaat ’n antwoord skuldig op die vraag hoe hy dan in die geval van ’n ander geheime beweging nie met dieselfde maat meet nie. Die kerk sal ten slotte ook moet antwoord op die vraag hoe hy een bepaalde geheime beweging kan veroordeel, mede op grond daarvan dat die beweging ’n eksklusiewe broederskap is wat ’n bedreiging vorm vir die gemeenskap van die huisgenote van die geloof (Sinode, Transvaal, 1957), terwyl hierdie punt eenvoudig verbygegaan word by die beoordeling van die ander geheime beweging. Ter wille van die geloofwaardigheid van die kerk en die bedreiging wat hierdie saak vir die verhoudinge binne die kerk inhou, is dit seker noodsaaklik dat die kerk hieraan aandag gee. Die plek van die Heilige Gees in die Christelike gemeenskap en broederskap moet noodwendig bedreig word wanneer hierdie gemeenskap deurkruis word deur ’n ander gemeenskap wat daarop ingestel is om deur middel van mag- en invloedsfere sy doelstellinge te verwesenlik.
’n Mens vra jouself af waarom hierdie inkonsekwensie moontlik is. En dan wil die gedagte maar nie wyk nie dat dit die geval is omdat ’n geheime beweging waaraan so baie Predikante en ouderlinge van die kerk behoort, noodwendig ’n ander behandeling ontvang, omdat dit tog uiteindelik daarop neerkom dat daardie lede van die geheime beweging saam help oordeel oor hul eie beweging en so regter in eie saak speel. Selfs van die bestaande rapport oor dié geheime beweging is daar herhaaldelik verklaar dat nie al die persone wat dit opgestel het, lede van die beweging was nie – ’n verklaring wat sinloos sou wees as selfs die meerderheid van diegene wat dit opgestel het, nie lede van die geheime beweging was nie. Juis waar dit miskien ’n beweging geld wat hom vir die bereiking van sy doelstellinge kan beroep op die volksgevoel en die nasionale aspirasies, is dit duidelik dat ’n aantal lede van so ’n beweging met argumente wat volledig buite die Skrif omgaan, ’n kerklike vergadering kan beweeg tot besluite waarby na die lig van die Skrif nie eens gevra is nie.
Is ondersoek oorbodig? Dit is natuurlik baie maklik om te meen dat ’n geheime organisasie wat hom ten doel stel die bevordering van die nasionale belange en die aankweking van liefde vir die Afrikaner se taal, godsdiens, tradisies, land en volk, vanself heilsaam en gesond moet wees. Wie vanuit die Afrikanerhart en sonder teologiese diepgang oordeel, moet tot so ’n konklusie kom. Wat teologies beoordeel moet word, is of so ’n geheime beweging nie ’n toewyding aan die volksbelange vra wat in stryd kom met die toewyding aan die belange van Gods Koninkryk nie. Die saak word bedenklik wanneer so ’n beweging bv. in een van sy omsendbriewe verklaar: “Wanneer ons dan so saam in ons organisasie geplaas is, simbool en kragbron van ons volk se strewe om voortbestaan, dan moet ons alles van ons afskud wat selfsugtig is, alles wat kleinlik is en alles wat selfsoekend is. Want ons het iets geword wat meer is as onsself .Ware geluk word slegs gesmaak deur jou onvoorwaardelik met alle kragte te wy aan ’n saak veel groter as jy self; so ’n saak is ons organisasie; so ’n saak is ons volkstryd om voortbestaan ter wille van die vervulling van ons Godgegewe volksroeping.”
In ’n gelade, religieuse taal word hier opgeroep tot ’n religieuse toewyding aan die Afrikanersaak. Kan ’n Christen aan ’n beweging behoort wat van hom onvoorwaardelike toewyding vra vir ’n saak wat nie Gods Koninkryk is nie? Kan ’n Christen aan ’n beweging behoort wat verklaar dat ware geluk alleen gesmaak kan word deur hierdie soort toewyding, o.a. aan ’n geheime beweging en die Afrikanersaak? Kan ’n Christen behoort aan ’n beweging wat die grond vir ’n moraal van onselfsugtige diens vind, nie in die bloed van Jesus Christus nie, maar in die grootsheid van die Afrikanersaak? Het ons nie hier te doen met ’n beweging wat neigings toon in die rigting van die nasionaal-sosialisme wat alle menslike verbande alleen ter wille van die volk laat bestaan, selfs ook die kerk nie? (Vgl. Stoker, Die Stryd om die Ordes.) Wanneer ’n dergelike beweging nou ook verklaar dat hy by die Afrikaner ’n liefde vir sy godsdiens wil inboesem, dan is daardie godsdiens vir hom kennelik maar een van die “volksbesittings”, en dit word nie eens eerste in die ry genoem nie! Teologies gesien, bevorder hierdie beweging nie die godsdiens omdat dit die waarheid in Christus is waarom dit gaan nie, maar omdat die Afrikaner se godsdiens, as deel van sy kultuurerfenis, om die Afrikaner se ontwil bevorder moet word – en daardie godsdiens is nou (toevallig) die Christelike godsdiens. Word die belydenis van Jesus Christus hier nie verlaag tot ’n stamaangeleentheid nie? En word die kerk daarmee nie vanself vereng tot die bolwerk van die Afrikaner, wat moet dien tot die handhawing van die Afrikanernasie, in plaas daarvan dat dit voluit gesien en bely word as die kerk van Christus nie? En wanneer dit uit omsendbriewe blyk dat ’n dergelike geheime organisasie “die toestand van die kerke” bespreek en dan besluit om ’n oproep te doen op kerkleiers om sekere liberalistiese en dislojale elemente in die kerke te beveg, omdat die aantasting van die Bybelse gronde vir apartheid “een van die gevaarlikste aanvalle op die Afrikanerdom is”, het ons dan nie te doen met ’n geheime beweging wat hom uitspreek oor die eksegese van die Skrif met as hermeneutiese beginsel die bevordering van die belange van die Afrikanerdom nie? En meng so ’n geheime beweging hom dan nie doeltreffend in met die kerke, as daar in die geheim sodanige beroep op kerkleiers (wat lede van die beweging is) gedoen word, en die kerkleiers dan, in antwoord op die beroep, binne die kerke artikels begin publiseer en besluite help deurloods wat tot in die bewoording toe ooreenkom met die besluite van die geheime beweging nie? Is dit nie alreeds bedenklik as selfs die terme liberaal en dislojaal deur die kerk van die geheime beweging oorgeneem word en in ’n volledig onteologiese sin gebruik word nie? – Werklik, die kerk kan nie sê dat hier niks is om te ondersoek nie.
Effektiewe metodes. Die smartlike van ons situasie op die oomblik is dat die geheime beweging homself met baie effektiewe middele aan enige ondersoek kan onttrek, omdat dit beskik oor die nodige invloedryke persone en kanale waardeur iemand wat na ’n ondersoek van die geheime beweging vra, tot ’n liberalis, Kommunis, gefrustreerde afwykende en vyand van die Afrikaner gebrandmerk kan word. Wie vra na die bestaansreg van die geheime beweging in die lig van die Skrif, pleeg daarmee as vanself reeds ’n misdaad. Hierdie hipersensitiwiteit en onredelike optrede – is dit nie reeds vir die Christen rede genoeg om te vra of alles pluis is nie?
Dit is waarskynlik so dat lede van ’n geheime beweging in die praktyk van die beweging sake nie so aanvoel nie. Die kerk kan hom egter nie hierdeur laat lei nie, want die kerk kan en mag alleen die teologiese implikasies en konsekwensies in ag neem. Dit is daarom dan ook ons eerlike oortuiging dat in die lig van die Skrif die georganiseerde geheime beweging vir die Christen iets is waaraan hy nie mag meedoen nie, selfs nie ter wille van die legitieme liefde vir sy volk nie.
Drr AC Barnard, WD Jonker en AJ Venter
[Artikel deur drr AC Barnard, WD Jonker en AJ Venter, Die Kerkbode, xciv(3), 15 Julie 1964, 86 – 88]