Ontwrigting van Stedelike Bantoe

Ontwrigting van Stedelike Bantoe

 

 Die sendingkongres van Transvaal wat van 7 tot 9 Oktober 1964 in Johannesburg gehou is, was meer as ’n gewone kongres: dit was ’n gebeurtenis, ’n roerende gebeurtenis.

Seker elke persoon wat dit bygewoon het, moes onder die indruk daarvan kom dat ons deur alles wat daar gesê en bespreek is, gedwing is om ons te verantwoord ten opsigte van die geweldige uitdaging van ons tyd en die opdrag van Christus om as Sy gesante midde in die nood van die wêreld te gaan staan met ‘n boodskap en dáád as verkondiging van Sy verlossing en barmhartigheid.

Die nood
Al die referate was van ’n uitnemend puik gehalte. Die eerste en vernaamste indruk wat egter op die kongres afgekom het, was dat ons in die sendingwerk van vandag te staan gekom het voor ’n besondere nood, nl. die nood van die ontwrigting deur die verstedeliking van die nie-blanke teen ’n geweldige tempo, en alles wat daarmee saamhang. Ons sendelinge (’n mens dink hier veral aan di. W. J. C. Cilliers, J. M. Hofmeyr en F. S. Milan) het, ons ’n kykie gegee in die hart van die nie-blanke en sy ontsettende probleme waar hy, as kind van die vlaktes en die rustige stamlewe, in die groot-stad met sy industrialisering en massifikasie die kluts kwytraak en tot die groot eensaamheid versink, waaruit hy alleen kan wegvlug in die roes van drank, onsedelikheid, verdowingsmiddels, ens.

Ons het diep onder die indruk daarvan gekom dat ons dikwels dink dat ons die Bantoe ken en verstaan, maar dat dit in werklikheid nie die geval is nie. Hoeveel van ons ken sy verborge leed, sy pyn, sy eensaamheid? Die ontwrigting van hulle gesinslewe en huwelikslewe, die ontaarding van hulle kinders en jongmense, die worsteling met finansiële nood – al hierdie dinge het vir die eerste keer lewensgroot te staan gekom voor meer as een kongresganger wat soos met ’n skok besef het: hulle is ook mense, mense met ’n nood en behoefte wat talle fasette het en in al sy besonderheid ráák gesien moet word as ons die Bantoe in sy nood moet help. Keer op keer het dit deurgeslaan in die verskillende referate dat hierdie mense magteloos staan teenoor magte wat vir hulle te sterk is, met name die verwildering van die jeug en die verbrokkeling van hulle gemeenskapslewe, en dat hulle nie opgewasse is vir die stryd om hulle as individue en volk aan te pas aan die nuwe situasie wat ontstaan het nie. Die noodkreet van die Amerikaanse negerdigter Hughes het ‘n traan in die oog van die kongresgangers gebring: toe meteens besef is dat dit ook die Macedoniese roepstem is wat opstyg uit die harte van tienduisende om ons:

,,Because my mouth
is wide with laughter,
you do not hear
my inner cry;
because my feet
are gay with dancing
you do not know
I die.”

Wat kan ’n volk en ’n enkeling doen in so ’n nood en ontwrigting? Ons weet dat daar baie is wat meen dat hulle ’n antwoord het. Maar Gods Woord ken net een antwoord. Slegs Gods Woord, slegs Christus kan in die diepste nood help. Maar God wil Sy kerk gebruik om Sy barmhartigheid kenbaar en sigbaar te maak vir die wat in nood is. Gevolglik moet die kerk met innerlike ontferming omsien na diegene om ons wat worstel in hulle geestelike en materiële nood, in hulle ontwrigting en vertwyfeling, in hulle verwarring en vyandskap teen God en Sy Woord.

Nuwe aanpak
Daarom het die kongres ook diep onder die indruk daarvan gekom dat ons in ons sendingwerk voor ’n nuwe en omvattende aanpak staan. Te veel het ons vroeër gekonsentreer op ’n eensydige “wen van siele”, sonder dat ons die Bantoe benader het in die geheel van sy lewensnood. Te veel het ons gemeen dat alles wel sal regkom as ons maar net geld gee vir ’n sendeling, as ons die goeie sendingsaak soms in die gebed gedenk en as ons vroom, maar op ’n afstand, ons seën aan die kerk se sendingwerk wil gee. Meteens het ons besef dat dit alles nie genoeg is nie. Ons sal as kerk moet ingaan in die nood hierdie mense. Ons sal (en dit is met voorhamer-houe in ons ingeslaan deur die biduurtoespraak van ds. A. Boshoff en die referaat van ds. C. W. H. Boshoff) moet verstaan dat ons die voorwerp van ons sendingwerk moet liefhê, dat ons bereid moet wees om te dien, en onsself moet gee in ’n gesindheid van barmhartigheid wat tot die dáád oorgaan.

Ons sal die nood van die Bantoe globaal moet aanpak. Die hele mens is voorwerp van ons boodskap en van ons diens. Daarom is dit so noodsaaklik om die nood van die nie-blanke as mens te leer ken. Die kongres het besluit dat dit noodsaaklik is dat daar ’n diepgaande en omvattende studie gemaak moet word van die gevolge wat die verstedeliking van die nie-blanke vir sy hele lewe het. Aandag sal gegee moet word aan die aard van die sg. “nuwe geslag”, die Bantoes wat in die stad gebore is en grootgeword het, en eintlik ’n hele nuwe kultuur het, sodat ons hulle nie meer kan benader met ons ou kennis van die Bantoe in sy stamlewe nie. Ons sal die gekerstende Bantoe moet help om sy geloof in Christus in verband te bring met sy gewone daaglikse lewe, sy arbeid, sy ontspanning, sy kultuur, sy politick. Ons sal hom moet help in die vorming van verantwoordelike leierskap op al hierdie terreine, omdat Christus oor die hele lewe wil regeer. Dit alles is dringend nodig, omdat die kerk nie langer ’n toeskouer mag bly met betrekking tot die maatskaplike nood van die Bantoe nie. Soos Christus in die wêreld ingegaan en die krankhede van die wêreld op Hom geneem het, so moet die kerk deur die werking van die Heilige Gees daartoe kom om ook in te gaan in die nood van die mens aan wie die evangelie verkondig moet word.

Alle rasse
Dit is egter nie slegs teenoor die Bantoe dat ons skuldenaars is nie (daarop het die treffende biduurtoespraak van ds. A. M. Burger duidelik die lig laat val), dit is teenoor alle mense. Die kongres het dan ook deur die referate van ds. J. A. Olivier en ds. C. du P. le Roux oor die sendingwerk onder die Kleurlinge en die Indiërs diep onder die indruk gekom van die groot probleme waarvoor die werk onder die bevolkingsgroepe staan. Ook hier word ons geroep tot ‘n liefdevolle diens en getuienis. Elke bevolkingsgroep het sy eie behoeftes en moet op ’n besondere manier aangepak word. Die kongres het onder die besef verkeer van die bedroewende feit dat die oorgrote meerderheid van Kleurlinglidmate wat in die Kaap aan die Ned. Transvaal (en veral aan die Rand) eenvoudig vir die kerk verlore raak. Die Kleurlinge se posisie het in die afgelope aantal jare geweldig verbeter op ekonomiese en maatskaplike gebied, maar die taak ten opsigte van die geestelike lewe van die Kleurling is te veel deur die kerk in Transvaal verwaarloos en aan enkelinge (dink aan die moedige en geliefde Oom Essie!) oorgelaat.

Wat die Indiërs betref, besef ons te min dat dit ’n hoogs-gespesialiseerde werk is onder mense met dieselfde (en some ’n hoër) beskawingspeil as ons, met ’n godsdiens wat dinamies, lewend en aantreklik is en selfs duisende in ons eie geledere aanspreek. Hulle godsdiens lyk so redelik, so helder, so vroom, so omvattend. Daar moet veel gebid word vir ons sendelinge onder die Indiërs, en veral ook vir die bekeerlinge, omdat hulle weggeroep word uit ’n godsdiens wat met die pretensie kom om ’n “hoër stadium van ontwikkeling” te verteenwoordig as die Christendom, en buitendien aan hulle ’n warm “gemeenskap van die gelowiges” bied, terwyl ons as Christene dikwels die bekeerders onder hulle in die koue laat bly staan.

Hele gemeente
Een klank is óór-en-óór by die kongres gehoor, vanaf die boeiende referaat van prof. E. P. Groenewald oor die sendingbewussyn van die Nuwe-Testamentiese gemeente, oor die referate van prof. H. D. A. du Toit en ds. P. E. S. Smith tot in die afsluitende referaat van ds. C. W. H. Boshoff en die toewydingsrede van dr. C. H. Badenhorst.

Die klank was dat die sending taak die taak van die hele kerk is, van elke lidmaat afsonderlik en almal gesamentlik. Die tyd is verby dat sendingwerk oorgelaat kan word aan ’n paar belangstellendes of sendingvriende wat ’n vereniging stig om te bid en fondse in te samel. Goddank vir wat deur hierdie verenigings van indiwiduele sendingvriende (meestal die vroue) gedoen is – hoeveel minder sou sonder hulle hulp en diens tot stand gekom het – maar hulle mag nie langer alleen staan nie. Weë sal gevind moet word om die lidmate anders te mobiliseer vir hierdie wesenstaak van die kerk as wat tot nog toe die geval was. Die kongres het dan ook versoek dat daar ’n studie oor hierdie aangeleentheid gemaak sal moet word, met rapport aan die volgende Sinode.

Is dit vreemd dat daar telkens – midde in die gesprek oor die sending – stemme opgegaan het wat geroep het om kerkvernuwing? Die sending vat altyd aan die hart van die kerk. Die sending konfronteer die kerk altyd met sy eie koudheid en doodsheid en ontaarding. Die sending is ’n appèl aan die adres van die kerk om weer waarlik kerk van Jesus Christus te wees!

Magteloos in onsself
Die kongres was in meer as een opsig skokkend. Miskien het ons gedink dat ons reeds baie op die sendingakker doen, veel daarvoor gee en dikwels daarvoor bid. Maar die verskillende toesprake, die skyfievertoning van mnr. Willem Naudé, die referate van die twee Bantoeleraars (di. J. L. R. Rammala en S. P. E. Buti) en die uiteensetting van ds. B. H. Groenewald oor die oop deure op die Platteland het ons laat besef dat ons nog lank nie doen wat gedoen moet word nie. Die nood aan arbeidskragte is die grootste enkele behoefte waarom die werk nie vlot soos dit moet nie, is gesê. Maar langsamerhand het ’n ander besef by die kongres ryp geword: die gebrek aan die Heilige Gees is die grootste enkele behoefte van ons werk. Die Gees is dáár in Sy volheid en krag. Maar ons is ongehoorsaam. Ons is suinig vir God, selfsugtig, onbereid tot oorgawe en diens, en daarom: kragteloos.

Die kongres het op hierdie noot afgesluit. Waar sal ons die liefde vandaar haal wat so nodig is vir ons taak? Waar sal ons die oog vind wat die nood van ander mense ook kan raaksien, nie net ons eie nie? Waar sal ons die bereidheid vandaar haal om die stryd om die siel van Afrika, wat vandag in al sy felheid gestry word, oorwinnend te kan stry?

Sonder My kan julle niks doen nie .Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee! Alle dinge is moontlik vir die wat glo!

Die stryd wat ons te stry het, is nie in eerste instansie ’n stryd teen die oorweldigende magte of die grootheid van ons taak nie, maar teen ons eie ongeloof en kleingeloof, ons eie gebrek aan oorgawe, ons eie weiering om God op Sy Woord te neem.

Almal moet deel
Dit was ’n geseënde kongres. Elkeen wat daar was, sal altyd daarvoor dankbaar bly. Maar die boodskap van die kongres mag nie net beperk bly tot die aantal afgevaardigdes nie. Hoe kan dit werklik uitgedra word tot ons gemeentes en tot elke lidmaat, sodat almal in die geseënde gebeurtenis kan deel?

Sal ons kerkrade nie sendingnaweke of sendingweke reël, en van die sprekers wat by die kongres opgetree het, uitnooi om die gemeentes te kom toespreek nie? Is dit nie moontlik dat daar ringsgewyse bidure of ander saamtrekke met die oog op inligting oor en gebed vir die sending gehou kan word nie?

En sal ons nie een en almal veel meer bid vir hierdie saak nie? Wie vir die sending bid, bid vir die Koms van Gods Koninkryk, bid ook vir die vernuwing, van die kerk, vir die ontplooiing van die krag van die Heilige Gees in ons lewens, en vir die spoedige wederkoms van Christus.

 

WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker, Die Voorligter, Desember 1964]