Jesus leer ons bid vir God se saak

Afskeidspreek

Psalm 48: 1, 4
Gesang 3: 1, 3
Gesang 92
Skriflesing: Matteus 6: 6 – 13; 1 Pet. 1: 22 – 25.
Teks: Matteus 6 vers 10(a)
Heidelbergse Kategismus: Sondag 48

Jesus leer ons bid vir God se saak – sy Naam, nou sy Koninkryk.

  1. Wat beteken dit as ons bid dat Gods koninkryk mag kom? Dit beteken dat ons bid om die deurbraak van die heerskappy van God in die wêreld. – Die woord koninkryk wek nie altyd die juiste indruk van wat in die Bybel bedoel word nie – die Bybel bedoel met dié woord in die eerste instansie Gods heerskappy, die toestand waarin Gods heerskappy aanvaar word, die onderworpenheid aan die Koningsheerskappy van God. As gebid word om die koms van Gods Koninkryk, word gebid dat die heerskappy van God só sal deurbreek in die wêreld dat dit vir die mense se harte en lewens gestalte sal kry, omdat hulle hulself gewillig aan Gods wil onderwerp. Gods koninkryk is dáár waar mense buig voor God en sy heerskappy. Daarom is Jesus Christus die Vleesgeworde Koninkryk van God – want Hy was in alles aan God onderworpe. Ons kan die heerskappy van God egter met die Kategismus nog nader omskrywe, as ’n heerskappy deur die Woord en die Gees van God. God oefen sy heerskappy oor die mense uit deur Sy Woord wat lewendig gemaak en toegepas word deur sy Heilige Gees. Geen mense kan meen dat hy aan God gehoorsaam is, as hy nie aan die Woord gehoorsaam is nie. Geen mens kan egter aan die Woord gehoorsaam wees, as die Heilige Gees nie sy hart verlig om die Woord te hoor en hom bereid maak om die Woord van harte te doen nie. Samevattend kan ons sê: die Koninkryk van God is dáár waar mense deur die Gees van God gelei word tot ’n hartlike onderworpenheid aan die Woord van God alleen en dáárvoor bid ons in hierdie tweede bede van die Onse Vader, dat dít in hierdie wêreld moet gebeur, ja méér en méér moet gebeur totdat die volheid kom (dus nog nie).
  2. Maar daarom het hierdie bede terselfdertyd ook ’n negatiewe kant: dit is ’n gebed dat alles wat Gods heerskappy deur sy Woord en Gees teenstaan, verbreek en verwyder mag word – ook dit het die Kategismus baie goed raakgesien. Daarom word daar uitdruklik gespreek van: vernietig die werke van die duiwel en alle mag wat hom teen U verhef. Immers, dit is juis wat die Ryk van God teenstaan. Die duiwel het ’n greep na die wêreld gedoen. Hy het besit geneem van die harte en denke van die mense. Die gevolg is dat sy werke ons oral teenkom – in die wêreld in groot en in klein. Naas die mag van God staan die mag van die bose. Die satan het veral één doel: om die heerskappy van God deur sy Woord en Gees uit te wis. En daarmee het hy geweldig veel sukses. Soveel sukses het daarmee gehad in die loop van die eeue, dat hy die Ryk van God, wat in die Paradys ook op aarde bestaan het, versteur het, sodat dit terug gedwing is in die hemel. Hy doen dit deur die Gees van die afgrond te saai in mense se harte – die gees van twyfel aan God, ongeloof in God, ongehoorsaamheid aan God, rebellie teen God, die Gees van ingeboënheid in onsself, sodat nie God nie maar onsself die doel van ons lewe word, die gees van die leun, die gees van die skyn: met al hierdie dinge bestry hy die Gees van God, sodat Sy heerskappy in ons lewens verhinder kan word. Deurgaans is dit daarby so, dat hy die WOORD van GOD waardeur die Gees regeer, beveg en bestry met sy bose planne wat teen die Woord van God bedink word. Dié is baie. Almal bereken op die verduistering van die helder sin van die Woord van God – Skrifvervalsing – verbrand van die Bybel; die wek van twyfel aan die Bybel; Skrifkritiek wat uit ongeloof gebore is; die verblinding dat die Skrif nie meer begryp word nie; die suggestie dat die Bybel tog onprakties is en nie die regte leiding aan ons kan gee tot elke vertakking van ons praktiese lewe nie. Oneerlike Skrifuitleg.

As u bid om die koms van die Gods ryk, bid u terselfdertyd vir die verbreking van hierdie magte.

  1. Wonderlik is nou dat die Kategismus dit so duidelik maak dat ons in hierdie bede dus vir die KERK bid. – Die Kerk en die Koninkryk is nie dieselfde nie. Die Koninkryk is wyer as die Kerk. Maar daar is ’n baie duidelike verband tussen die Kerk en die Koninkryk van God. Die Kerk is die voorpos van die Koninkryk in die wêreld. – die Kerk is ook ’n teken – dié grootse teken van die deurbraak van die Koninkryk in die wêreld – die Kerk is ook die magtige middel vir die voortgang van Gods Koninkryk in die wêreld – die Kerk is die gestalte van die Koninkryk in die wêreld. – As ons dus bid vir die Koms van die koninkryk, bid ons dadelik vir ONS. So begin die Kategismus: “Regeer ons …”. Baie dink die tweede bede raak net die Sending en die goddeloses buite: die Kategismus sê, nee ons word daardeur eerste geraak, ons wat die Kerk is – vandaar die bede: Regeer ons en bewaar en vermeerder U Kerk. Immers, die Kerk leef nog steeds in hierdie wêreld en staan dus voortdurend onder die bedreiging en die daadwerklike aanslae van die magte wat hulle teen God verhef. ’n Mens is nie by jou bekering eens en vir altyd klaar met die bedreiginge van die satan nie. So is die kerk ook nie gelyk te stel met die Koninkryk, sodat nie meer vir hom gebid moet word dat die Koninkryk ook in hom telkens en telkens weer moet deurbreek nie. So maklik kan juis die Kerk hom van die Koninkryk losmaak en selfs teenoor die Koninkryk gaan staan. Dit gebeur as die Kerk nie meer aan Christus onderworpe is nie, omdat die satan deur sy mag daarin slaag om die Woord en Gees van Christus in die Kerk te bedreig. Daarop bereken die satan al sy aanvalle: om in die Kerk ’n slegte gesindheid te bewerk; om die lidmate van die Kerk se geloofslewe duur te maak, twyfel te wek aan God en sy Woord, om hulle te laat stik in hulle selfsug, om hulle te deurdrenk van wêreldse gesindhede, begeertes en gedagtes. Hy bereken dit daarop om die Woord van sy sentrale plek in die Kerk te verdring – uit die huisgesin, van die kansel, uit die raadsale van die Kerk. Nooit klink daar ’n meer duiwelse lag uit die hel op as wanner die Kerk nog meen dat hy met die Woord omgaan, maar die Woord is afgebind, sy boodskap is stilgemaak en sonder ’n klaende gewete gaan die Kerk aan Gods Woord ongehoorsaam word. Die Kerk is net Kerk solank die Woord van God daarin regeer; ’n kerklike vergadering het slegs gesag solank die Woord van God daar regeer. Anders nie. Dit weet die duiwel en daarom sal hy alles probeer beweeg om die Kerk af te trek van die Woord van God alleen, om die Kerk te laat beheers deur allerlei ideologieë en mensgemaakte skemas. Daarom moet dit die Kerk gebid word: Laat U Koninkryk kom, dit is, regeer ons, u en my hoe langer hoe meer deur U Gees, sodat ons ons aan God volledig kan onderwerp. Bewaar u Kerk van al dié dinge, want net as die Koninkryk werklik in die Kerk kom en die Kerk daarby bewaar word, kan die Ryk uitgebrei word deur die arbeid van die Kerk: Daarom beteken hierdie gebed ook: Vermeerder U Kerk. Die Kerk kan nie tot seën wees as hy los is van die Koninkryk nie. As die Kerk nie in en deur die Koninkryk gedra word nie, verloor hy sy invloed in die wêreld.

Maar nou moet niemand van ons sê: Maar die Kerk – dit is iets buite my nie. U is die Kerk – ons is die Kerk. Hierdie gebed is vanaand ’n gebed vir ons, gewone mense: Here regeer oor MY. Here gebruik MY.

As God dié gebed wil verhoor, is u gewillig – ook vir die transformasie wat dit kan beteken?

 

WD Jonker

[Afskeidspreek van WD Jonker in die NG Gemeente Johannesburg, 16.05.1965]