Die Diaken en Meerdere Vergaderinge: Eerste Aflewering

Die Diaken en Meerdere Vergaderinge
Eerste Aflewering

Die vraag of die diaken ’n plek in die meerdere vergaderinge van die kerk het, en so ja, watter plek, kan alleen beantwoord word wanneer ons twee ander vrae eers vooraf onder die oë sien: (a) Wat is ’n diaken? en (b) Wat is ’n meerdere vergadering? Die antwoord op hierdie twee vrae beïnvloed ons gedagtegang oor die eerste vraag beslissend.

Beginnende by die vraag wat ’n diaken presies is, sal ons al dadelik moet sê dat daar twee opvattings oor die amp van die diaken in ons gereformeerde tradisie voorkom. Volgens die eerste is die diaken wel ’n ampsdraer, maar ’n ampsdraer wat tog wesenlik onderskei meet word van die ander twee ampsdraers, t.w. die predikant en die ouderling. Dié onderskeiding bestaan hoofsaaklik daarin, dit die diaken hom besig hou met die versorging van die armes, krankes en ellendiges op stoflike en selfs geestelike gebied, maar dat hy nie direk by die regering van die gemeente betrokke is nie. Slegs op enkele punte word hy bygeroep by die regeringsarbeid van die kerkraad. Origens hoort die diaken nie in die kerkraad nie, altans nie in die kerkraad in engere sin nie. Daarom spreek dit ook vanself dat hy nie tuishoort op die meerdere vergaderinge van die kerk nie. Volgens die ander opvatting wat eweneens in ons gereformeerde tradisie gegee is, is die ampte wesenlik één, is die diaken ten volle gelyk aan die ander twee ampte wat regeerbevoegdhede betref, behoort hy wesenlik by die kerkraad en bestaan daar geen beginselrede waarom hy nie aan alle regeerbevoegdhede van die kerk, óók in die meerdere vergaderinge, sou kan meewerk nie. Dié twee lyne kruis mekaar in ons geskiedenis en elemente van die één denkrigting kom deureengestrengel met elemente van die ander gedagte-rigting in die praktyk voor. Daarom sal dit nodig wees om dié twee lyne eers helder te onderskei, voordat ons ’n keuse kan doen in die vraag watter van dié twee lyne die Bybelse lyn is.

Die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Kerkorde

Dit is bekend dat die Nederlandse Geloofsbelydenis en die sg. Dordtse Kerkorde op hierdie punt verskillende weë gaan. In dit Nederlandse Geloofsbelydenis vind ons die tweede lyn wat hierbo genoem is. Daar lees ons immers in artikel 31 eenvoudig dat die kerk regeer moet word volgens die geestelike regeringswyse wat Christus ingestel het, “naamlik dat daar dienaars of herders moet wees om die Woord van God te preek en die sakramente te bedien; ook opsieners en diakens om saam met die herders as Raad van die Kerk te wees…” Hieruit is dit duidelik dat die werk van die diaken uit die staanspoor gereken word tot die regeringsarbeid van die kerk, want regeer Christus dan nie juis ook só, dat Hy barmhartig is en die hele lewe (ook die stoflike) betrek binne die nuwe gemeenskap waarvan Hy die hoof is en ons almal die lede nie? Verder is hieruit duidelik dat die diakens uit die staanspoor tot die kerkraad gereken word in die volle sin van die woord. As dit egter waar is, het hulle tesame met die ouderlinge en die bedienaars van die Woord ten volle deel in al die regeringswerksaamhede van die gemeente, insluitende die tug, die opsig oor die leer, ens.

Hierdie visie op die diakensamp gaan direk terug op die Franse Geloofsbelydenis wat by die eerste Franse Sinode van 1959 opgestel en goedgekeur is. Soos ons weet, het Calvyn self ’n baie sterk hand in die formulering van daardie geloofsbelydenis gehad. Die Franse Kerk het in dieselfde jaar ook ’n kerkorde opgestel en goedgekeur, moontlik ook met die medewerking van Calvyn, wat in elk geval vertroud sou gewees het met die beginsels wat in dié kerkorde behels is. In daardie kerkorde speel die diaken ’n eienaardige rol. Artikel 20 bepaal dat die diakens saam met die ouderlinge die kerkraad moet vorm, en aan die pligte van die diaken word helfte meer aandag bestee as aan dié van die ouderlinge. Daarin word onder andere bepaal dat die diakens huisbesoek moet doen, katkisasiewerk moet behartig, in die afwesigheid van die leraars die dienste moet lei (al mag hulle nie gepreek het nie) en dat hulle in bepaalde gevalle selfs na die meerdere vergaderinge afgevaardig mag word (vgl. artikel 3). Nou is dit waar dat die Sinode van Orleans weer die ekstra funksies van die diaken weggeneem het uit die kerkorde, maar sy posisie as mede-regeerder in die gemeente het hy in die Franse kerkorde bly behou. Die Nederlandse Geloofsbelydenis volg hierin die Franse Geloofsbelydenis en kerkorde eenvoudig na. Dit staan daar so tot vandag toe.

Anders By Dordtse Kerkorde

Anders is die saak egter gesteld met die Dordtse Kerkorde, waarin die diaken nie gereken word tot die kerkraad in eintlike sin nie. Tussen die kerkraad en die diakens word selfs ’n sterk onderskeid gemaak. Hoewel die diakens soms by die kerkraad kom vir die verrigting van gewigtige handelinge, bly hulle oor die algemeen van die regeerhandelinge van die kerkraad uitgesluit, veral van die tughandelinge. Vandaar dat daar geen sprake van kan wees om hulle by ’n meerdere vergadering enige plek te gee nie. In klein gemeentes waar die kerkraad maar ’n paar lede tel, is dit wel moontlik om die diakens as hulpouderlinge te laat deel in die regeerwerksaamhede van die kerkraad, maar origens word geredeneer dat die diaken hom meer besig hou met die praktyk van die bediening van die hulpbehoewendes, terwyl die kerkraad en die meerdere vergaderinge volgens die beginsels van Gods Woord moet regeer, en dus ook die beginsels vir die arbeid van die diakens moet neerlê.

In ons land stel die Gereformeerde Kerk hom veral op die standpunt van die Dordtse Kerkorde, óók wat die posisie van die diaken betref, terwyl die ander twee Afrikaanse Kerke veel meer beweeg in die rigting van die standpunt van die Nederlandse Geloofsbelydenis Die diakens word as volle lede van die kerkraad beskou, stem in alle sake eenvoudig op gelyke voet met die ouderlinge en verrig in baie gevalle – met uitsondering van die medewerking in die meerdere vergaderinge – die taak van die ouderling saam met hom. Die probleem is nou egter dat een van die bevestigingsformuliere vir die diakens wat deur ons gebruik word, hom nog steeds stel op die standpunt ran die Dordtse Kerkorde. Ons bevestig nog steeds ouderlinge en diakens met ’n formulier wat alleen die ouderlinge tot die kerkraad reken, al is dit waar dat daar in ons boek ook ’n gewysigde formulier voorkom, waarin die diakens mede tot die kerkraad gereken word.

Geniet Aandag

Hierdie teenstrydigheid tussen die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Kerkorde het gedurende die afgelope jare baie aandag geniet, veral in Nederland. Terwyl ouere kerkregtelikes hulle deurgaans op die standpunt van die Dordtse Kerkorde gestel het (soos bv. Rutgers, Bouwman en andere), het dit in die afgelope tyd weer meermale voorgekom dat eksegete en kerkregtelikes met mekaar ywer in die beklemtoning van die feit dat dit meer in ooreenstemming met Skrif en belydenis is om die diaken wel tot die kerkraad te reken. Manne soos prof. K. Dijk en prof. D. Nauta het veel gedoen vir die propagering van die gedagte dat die amp volgens die Nuwe Testament eintlik één is, dat daar wel tussen die verskillende ampte onderskei, maar nooit tussen hulle geskei kan word nie, en dat dit daarom die beste weg is om die spoor van die Nederlandse Geloofsbelydenis te volg, eerder as dié van die Dordtse Kerkorde. Hulle bly daarop wys dat die diaken nie maar ’n armeversorger is nie, maar dat by in ’n volle amp staan, dat sy taak wesenlik net so ’n deel van die regeertaak van die kerk is as dié van die ouderling, en dat dit daarom vreemd is om die diaken uit die kerkraad uit te sny en sy weg na die meerdere vergadering onherroeplik te versper.

Reeds in 1949 het die Sinode van die Gereformeerde Kerke in Nederland ’n stap gedoen in die rigting van die erkenning van die goeie reg dat diakens mag meespreek in die vergaderinge van die kerk, selfs ook in die meerdere vergaderinge, en dit uitgespreek dat daar in die algemeen geen prinsipiële besware bestaan teen die deelname van diakens aan die besprekings van diakonale sake in meerdere vergaderinge nie, hoewel daar nog steeds voortgegaan moet word met ’n besinning oor die hele aangeleentheid. In die hersiene kerkorde van die Gereformeerde Kerke word in artikel 42 bepaal: “Voor zaken, die de dienst der barmhartigheid betreffen alsmede voor de verkiezing diaken-afgevaardigden zullen naar de meerdere vergaderingen, naast dienaren des Woords en onderlingen, ook diakenen afgevaardigd worden.”

Hieruit is dit duidelik dat die Gereformeerde Kerke in die jongste tyd die keuse gedoen het in die rigting van die standpunt van die Nederlandse Geloofsbelydenis, teenoor die standpunt van die Dordtse Kerkorde.

Ook in die Hervormde Kerk in Nederland het dié saak ruim aandag geniet. Volgens die nuwe kerkorde van die Hervormde Kerk is die diakens saam met die ouderlinge deel van die kerkraad in die volle sin van die woord en kan daar ook diakens sitting neem in die meerdere vergaderinge. Trouens, volgens Ord. I, II, 4, (4) word daar per toerbeurt ook deur die kerkraad ’n ouderling of diaken na die classis afgevaardig, sodat ’n vierde deel van alle afgevaardigdes wat nie predikante is nie, diakens is. Die diakens word eweneens na die provinsiale kerkvergaderinge en die Generale sinode afgevaardig. Daaruit blyk dit weer eers dat ook die Hervormde Kerk die diaken in die volle sin van die woord as ’n ampsdraer naas die bedienaar van die Woord en die ouderling wil erken en ruimte wil gee om mee te doen in die volle regeringsarbeid van die kerk.

Wat Sê die Skrif?

Die laaste en beslissende vraag bly vir ons egter nie wat dié of daardie kerk doen, of wat die ou kerkordes of selfs die belydenisskrifte sê nie, maar wat die Skrif oor hierdie dinge sê. As ons in die Skrif ’n beeld van die diakensamp het wat ons in ’n bepaalde rigting lei, sal ons onvoorwaardelik daaraan gehoorsaam moet wees, watter ander oorwegings daar ook al mag wees.

Die probleem is nou egter dat die Skrif ons juis oor hierdie sake geen duidelik-uitgewerkte leer gee nie. Terwyl dit meer as duidelik is dat die Skrif ons leer dat die drie funksies van lering, regering en versorging van die behoeftiges altyd in die kerk onderhou moet word, verbind die Bybel nie in soveel woorde daardie funksies bepaaldelik aan die drie ampte wat ons ken nie. Veral is dit moeilik om die diakenarmeversorger van Calvyn regstreeks in die Nuwe Testament voorgeteken te vind. In haas alle gereformeerde kringe word deesdae probleme ondervind met ons tradisionele bevestigingsformulier vir diakens, waarin daar ’n Skrifuitleg oor die diakensamp voorkom, wat alte naïef reguit lyne trek vanaf ons diaken na die Nuwe Testamentiese diakonos. Omdat die ruimte ons nie toelaat om meer daaroor te sê nie, verwys ons ons graag na wat prof. K. Dijk hieroor geskrywe het in De Dienst der Kerk, p. 238 e.v. Sommige van die probleme wat ondervind word, is o.a. dat dit uiters moeilik is om in Hand. 6 die instelling te vind van ons huidige diaken. Afgesien van die feit dat die woord “diaken” nie in Handelinge 6 voorkom nie, hoor ons in Handelinge verder ook nie van diakens nie, maar lees ons inteendeel dat daar in elke gemeente ouderlinge aangestel is (vgl. Handelinge 11 : 30 en Handelinge 14 : 23), wat onder andere belas was met die kollekte vir die heiliges en alleen genoem word by die vergadering van Handelinge 15 sowel as die byeenkoms met die ampsdraers van Efese (vgl. Handelinge 20). Waar die naam diaken nog in die Nuwe Testament gebruik word, kan dit eenvoudig as dienaar vertaal word en gee dit ’n uitstekende sin (vgl. Filippense 1: 1; 1 Timoteus 3, Romeine 16: 1 ens.). Buitendien blyk dit dat die “sewe” waarvan Handelinge 6 praat, ook gepreek en sakramente bedien het (anders as ons diakens) en die opvatting word al meer verdedig dat hulle maar net ’n tydelike funksie beklee het, wat nie later in die kerk voortgesit is nie.

Slegs Ouderlingsamp

Hoewel daar nog Skrifverklaarders is wat van mening is dat ons diakensamp wel onder die naam van diaken in die Nuwe Testament teruggevind kan word, wil dit voorkom asof die grootste meerderheid betroubare Skrifverklaarders dié standpunt prysgegee het. Die opvatting wen al meer veld dat ons in die Nuwe Testament net met één amp te doen het, naamlik die ouderlingsamp, genoem ouderlinge of opsieners (biskoppe) of dienaars. Dié een amp het al die funksies verrig wat Christus in Sy één amp verrig het en wat Christus aan die één apostelamp oorgedra het, die funksies van profeet, priester en koning. Met die ontwikkeling van die kerk waaier die één amp uit in verskillende “ampte” waarin die verskillende funksies van die één amp meer gespesialiseerd voorkom, hoewel hulle onderlinge eenheid bewaar bly. Alle ampsdraers in die kerk is dus op die een of ander manier ’n soort ouderling – slegs met hierdie onder skeiding: party ouderlinge arbei in die Woord en die leer (vgl. 1 Timoteus 5: 17); ander arbei in die regering van die kerk, meer spesifiek, die opsig en tug (vgl. 1 Timoteus 5: 17; Romeine 12: 8) en ander arbei in die versorging van die armes (vgl. met name Jakobus 5: 14). Hierdie standpunt is veral baie sterk beklemtoon in Nederland deur prof. K. Dijk, F. H. von Meyenfeldt en andere.

Indien hierdie Skrifuitleg korrek is, spreek dit vanself dat dit ons lei in die rigting van die standpunt van ons Nederlandse Geloofsbelydenis, en weg van die standpunt van die Dordtse Kerkorde. Seker, daar sal nog veel meer nagevors moet word oor die Skrifuitleg, en die vraag is of ons maklik ’n laaste woord daaroor sal kan sê. Voorlopig wil dit egter vir ons voorkom asof dit die veiligste is om die prioriteit van die belydenis bó die kerkorde te handhaaf en ons te stel op die standpunt van ons belydenis wat die diakensamp erken as ’n regeeramp, gelyk aan die ander twee ampte.

WD Jonker
Die Kerkbode, xcv(22), 2 Junie 1965, 689 – 691.