Die Diaken en Meerdere Vergaderinge
Tweede Aflewering
Die vraag of diakens in meerdere vergaderinge sitting moet neem, word in eerste instansie bepaal deur die antwoord op die vraag of ons die diakenamp as ’n volwaardige regeer-amp in die kerk erken naas die van ouderlinge en die bedienaars van die Woord. Maar dit word ook deur ’n tweede vraag bepaal, naamlik hoe ons ’n meerdere vergadering verstaan.
Ook hier is daar twee moontlike opvattings. Ons kan die meerdere vergadering verstaan (a) as ’n byeenkoms van afgevaardigdes van plaaslike kerke wat net enkele beperkte regeerbevoegdhede besit en nie op een lyn te stel is met ’n kerkraadsvergadering met sy sterk amptelike karakter nie, of (b) as ’n breër kerkraad waar ons, net soos in die kerkraad, ’n samestroming van die ampte het op ’n breër basis – waarby die gedagte van die afvaardiging eintlik minder belangrik is as in geval (a).
In die geval onder (a) genoem, word die meerdere vergadering sterk onderskei van die kerkraad en word graag gesê dat die kerkraad nie alleen die basiese vergadering van die kerk is nie, maar ook die enigste permanente bestuursliggaam in die kerk, terwyl die meerdere vergaderinge maar net tydelike byeenkomste is van afgevaardigdes van kerkrade wat ophou om te bestaan as die vergadering verby is. Kenmerkend van hierdie opvatting is die stelling dat die kerkraad die hoogste vergadering in die kerk is en die meeste gesag dra, terwyl die meerdere vergaderinge eintlik laer vergaderinge is. Hulle het alleen afgeleide gesag, terwyl die kerkraad sy gesag direk van Christus ontvang het. Die meerdere vergaderinge het dan ook alleen die bevoegdheid om oor ’n beperkte aantal sake te handel, soos duidelik in die kerkorde omskrywe. Omdat hierdie bevoegdhede van so ’n aard is dat dit meer regeringsaangeleenthede as diakonale sake raak, spreek dit vanself dat die diaken nie ’n plek in die meerdere vergadering kan hê nie. Trouens, hy het dit volgens die voorstanders van hierdie siening ook al in die kerkraad nie.
Kuyper en Rutgers
Hierdie standpunt is veral sterk ingeneem deur Kuyper, Rutgers en ander doleansie-kerkregtelikes. Hulle standpunt kom met betrekking tot die vraag wat ’n meerdere vergadering is, baie naby aan die van die independentiste. Self was hulle nie daarvan bewus nie, maar het gemeen dat hulle goed gereformeerd was en selfs in ooreenstemming met die opvattings van Voetius, die groot eksponent van die gereformeerde kerkreg in die sewentiende eeu. Vir ’n lang tyd het hierdie opvattings die botoon gevoer in die Gereformeerde Kerke in Nederland, en vandag word dit, in ’n verskerpte vorm, voorgestaan deur die Vrygemaakte Gereformeerde Kerke. Vanuit Nederland het hierdie opvattings deur die geskrifte van kerkregtelikes van die ouer skool gereformeerdes ook hulle ingang gevind by ander kerke wat met die Geref. Kerke in noue kontak was.
Dit is eers sedert die dertigerjare van ons eeu dat daar in hierdie opsig in die Geref. Kerke in Nederland ’n kentering gekom het. Toe is daar teruggegryp op die opvattings oor die eenheid van die kerk, en die karakter van die meerdere vergaderinge wat bestaan het in die Christelike Gereformeerde Kerk, die kerk van die Afskeiding van 1834. In meer as een opsig het die Christelike Gereformeerde Kerk oor die meerdere vergaderinge in oud-gereformeerde terme gedink, eerder as die Doleansie-manne. Nadere studie van die oud-gereformeerde kerkreg en ook van Voetius het aan die lig gebring dat die ou gereformeerde kerkreg nie die opvatting van ’n meerdere vergadering ken wat deur die Doleansie voorgestaan is nie. Waar Voetius nog uitsprake doen wat in die rigting skyn te wys, hang dit saam met sy stryd teen die Independentisme en sy bereidheid om hulle in sommige opsigte ter wille te wees. Oor die algemeen is die beeld wat die ou gereformeerde kerkreg vertoon, egter sodanig, dat daaruit afgelei moet word dat die meerdere vergaderinge eerder verstaan is in die sin van die opvatting onder (b) hierbo genoem.
Die Ou Kerkordes
Die eerste voorbeeld van “meerdere vergaderinge” in ons gereformeerde tradisie is die sg. coetus wat deur a Lasco in Londen ingestel is as ’n breë kerkraad waarin die twee kerkrade van die Nederlandse en die Waalse gemeentes saamgekom het vir behandeling van sake van gemeenskaplike belang. Von Hoffmann het op oortuigende wyse aangetoon dat hierdie coetus gesien moet word as die voorloper van die latere gereformeerde instelling van die classis. Dit is dan ook wesenlik vir die gereformeerde meerdere vergadering, dat dit niks anders wil wees nie as die gesamentlike vergadering van meer as een gemeente deur sy verteenwoordigers, omdat die gereformeerde leef by die wete dat die kerk een is, dat die plaaslike gemeentes nie los van mekaar kan en mag staan nie, maar mekaar nodig het en dus ook saam moet vergader. Die kerk van Christus is groter as die plaaslike kerk.
Omdat dit die geval is, het die kerk soos dit plaaslik bestaan, maar ook soos dit in ’n bepaalde streek bestaan, in ’n bepaalde land bestaan, en selfs soos dit in die wêreld bestaan, organe nodig waardeur die verband bewaar kan word. Dit is soos die Nederlandse Geloofsbelydenis ook spreek. Nadat hy in artikel 27 die kerk in sy wêreldwydheid bely het, stel hy dat die kerk regeer word deur ampsdraers (artikel 30) wat onder mekaar ’n sekere orde moet instel en bevestig tot instandhouding van die liggaam van die kerk (artikel 32).
Kennelik het ons gereformeerde vaders uitgegaan van die algemene kerk en so afgedaal na die plaaslike kerk. Die ampsdraers behoort aan die algemene kerk, al arbei hulle in die plaaslike kerk. Daarom het hulle ook van Christusweë die roeping en gesag om die kerk in wyer verband te dien. Ons gereformeerderde (sic) tradisie ken op grond van die Skrif ’n diepe ontsag vir die selfstandigheid van die plaaslike kerk en die gesag van sy ampsdraers, maar ontken daarby tog nie die feit dat die kerk na sy wese wyer is as die plaaslike kerk nie. Hierdie feit vind sy uitdrukking in die bestaan van meerdere vergaderinge waarby sake behandel word wat vir die kerk in sy geheel van betekenis is.
Geen Prinsipiële Verskil
Die meerdere vergaderinge verteenwoordig die kerk in ’n bepaalde streek, so goed as wat die kerkraad die kerk in die plaaslike gemeente verteenwoordig. Tussen die inherente gesag van ’n kerkraad en ’n meerdere vergadering is daar geen prinsipiële verskil nie. Albei staan onder dieselfde Woord van God aan wie alle gesag alleen in diepste sin behoort. Maar omdat die meerdere vergadering ’n breër openbaring van die kerk verteenwoordig, het dit seggenskap oor die kerkraad (vgl. artikel 36) (sic) van die Dordtse Kerkorde). Die hele Skotse kerkreg is een lewende getuienis van hierdie siening op die meerdere vergaderinge, maar talle bewyse daarvan kan ook aangevoer word uit die Nederlandse kerkordes.
’n Objektiewe bestudering van die Ou kerkordes moet ons laat besluit dat hulle eenvoudig die meerdere vergaderinge as breër kerkrade verstaan, as vergaderinge van ampsdraers wat die kerk in ’n telkens wyer gebied verteenwoordig. Daarom is daar nooit gemeentelede na sulke meerdere vergaderinge afgevaardig nie, maar altyd ampsdraers. En wat meer is, daarom was die ou kerkordes nie paniekerig oor die korrektheid van die afvaardiging soos bv. dat daar presies eweveel afgevaardigdes van elke gemeente moet wees, ens. nie.
Die ou Franse kerkorde het selfs bepaal dat een of meer kerkraadslede die predikant na die Sinode moet vergesel. Praktiese omstandighede het die afvaardiging later beperk. ’n Sinode is geen demokratiese parlement nie. Dit is ’n samestroming van die ampte om onder die leiding van die Woord van God namens die kerk in ’n bepaalde streek of land besluite te neem. Die gesag van hulle handelinge rus nie op die afvaardiging nie, maar op die Woord van God en die eenheid van die kerk. In die meerdere vergadering is die amptelike gesag meer intensief aanwesig as in die plaaslike kerkraad, maar dit is nog dieselfde gesag wat Christus ook aan die plaaslike kerk verleen. In die nuwe kerkorde van die N.G. Kerk is hierdie beginsel baie mooi beliggaam (vgl. artikel 18 – 20).
Waarom die Diakens dan Uitsluit?
Indien dit alles waar is, is die vraag waarom die amp van die diaken dan in die meerdere vergadering nie verteenwoordig is nie. As hy ’n volle ampsdraer is, as sy amp op dieselfde wortel as die amp van die leraar en die ouderling stoel, as hy volgens ons belydenisskrif deel het aan die regering van die kerk – waarom word hy tot die plaaslike gemeente beperk?
Prof. K. Dijk noem verskillende redes waarom die diaken na sy mening in die gereformeerde tradisie aan sulke streng beperkinge gebind is. Hy meen dat dit daarvandaan kom, dat die latere kerkordes van die gereformeerdes sterk beïnvloed is deur die kerkorde van Genève wat, vanweë die eienaardige stryd wat daar gestry moes word vir die inrigting van die kerk, aan die diakens geen plek in die kerkraad kon gee nie. Buitendien is die kerklike karakter van die diens van barmhartigheid in die reformatoriese kerke nie voldoende gehandhaaf nie. Dit het ’n verbinding van kerklike en burgerlike armeversorging ten gevolg gehad wat die diakensamp in sy ontplooiing gestuit het.
Hoe dit ook sy, in die jongste tyd is die kerke van die Reformasie besig om in hierdie opsig ’n groot verandering te bring. In die Hervormde Kerk van Nederland bestaan daar oor hierdie sake eintlik geen wesenlike verskil meer nie. Hulle beskou die meerdere vergaderinge as breër kerkrade en meen dus dat die diakens daar sitting moet neem. Die Gereformeerde Kerke het sedert die dertigerjare van ons eeu hulle siening op die meerdere vergaderinge langsamerhand gewysig en verstaan vandag ook die meerdere vergadering as ’n breër kerkraad, sodat ook hulle, soos ons gesien het, aan die diaken daar sittingsreg verleen. Dit is eintlik net die Vrygemaakte Gerformeerdes met hulle byna reaksionêre siening op die meerdere vergadering wat na ons mening geen moontlikheid het om ooit die diakens daar toe te laat nie.
Deegliker Ondersoek Nodig
Die Ned. Geref. Kerk het nooit ekstremistiese tendense in sy kerkreg belewe nie. Ja, dit is waar, die wind van die kollegialisme het in die vorige eeu oor ons gewaai en wie sal ontken dat dit duidelike tekens laat agterbly het? Die littekens sit nog daar. Maar ons behoud was die Skotte. Natuurlik nie wat betref hulle siening op die diakensamp nie (die is maar skraal in die Skotse kerkreg), maar soveel te meer wat betref hulle siening op die karakter van ’n meerdere vergadering. Met hulle ongeskokte kerkreg wat vanuit die sestiende eeu tot op vandag eintlik baie min gewysig het, het hulle selfs baie kollegialistiese begrippe by ons met ’n gereformeerde inhoud gevul. Hulle het vir ons veel gereformeerde kerkreg behou. Dit sal nog deegliker ondersoek moet word. Miskien sal die geskiedenis ons leer dat ons ’n baie groot stuk dankbaarheid – ook in kerkregtelike opsig – aan die Skotte verskuldig is, watter ander foute hulle ook mag gehad het. Hoe dit ook sy, ons het vanuit ons tradisionele siening op wat ’n meerdere vergadering is, so min as uit ons tradisionele siening op die plek van die diaken in die kerkraad, enige prinsipiële rede om hom by voorbaat uit die meerdere vergaderinge uit te sluit.
Die Wyse van Verteenwoordiging
Oor die wyse waarop die diaken in die meerdere vergadering verteenwoordig moet word, wil ek my baie versigtig uitlaat, omdat ek daaroor geen heldere lig het nie. Dit is moontlik dat die diakens in die meerdere vergadering toegelaat kan word net wanneer diakonale sake behandel word of afgevaardigdes na die volgende meerdere vergadering gekies word (soos die geval is in die Geref. Kerke in Nederland). Dit is ook moontlik dat ’n klein gedeelte diakens volle sitting op die meerdere vergadering kan ontvang en kan meewerk in alle sake wat daar behandel word (soos blykbaar die geval is in die Nederlandse Hervormde Kerk). In elk geval is daar by albei moontlikhede die vraag hoeveel diakens afgevaardig moet word.
Dit wil my voorkom of dit moeilik sal gaan om diakens na ons Sinodes af te vaardig solank as ons alle predikante en net soveel ouderlinge as predikante na die Sinodes laat gaan. Immers, dan sal die vergaderinge te lomp word. Ek, kan egter geen beswaar daarteen sien om vir elke gemeente een diaken na die Ring te laat gaan, ten einde volle sitting daar te neem wanneer diakonale sake behandel word nie. Wanneer ons eendag sover kom om ook ons Sinodes te verklein (soos ons tog reeds ’n verkleinde Algemene Sinode het), sal ons kan bepaal dat elke Ring ’n sekere persentasie van sy afvaardiging na die Sinode moet kies uit die diakens wat op die Ring sitting gehad het. Hulle sal dan ook by die Sinode slegs sitting neem by die behandeling van diakonale sake en by die kiesing van die diakens-afgevaardigdes na die Algemene Sinode.
Waar ons die beginsel het dat die Algemene Sinode saamgestel word uit ’n aantal gekose verteenwoordigers van elke Sinode, behoort daar geen probleem te wees om neer te lê dat elke Sinode ook ’n aantal diakens na die Algemene Sinode afvaardig om sitting te neem wanneer diakonale sake behandel word nie.
Wanneer ek hier spesifiek ’n beperking maak in die sin dat die diakens alleen sitting het wanneer diakonale sake bespreek word, is dit ’n toegewing aan die “swakke broeders”. Persoonlik meen ek dat as ons die diakens toelaat om in die kerkraad volle sitting te hê, hulle dit ook behoort te hê in die meerdere vergaderinge. Maar … miskien spreek ek, soos Paulus sê, in uitsinnigheid. Die kerk moet maar die saak weeg en toets. Haastig is die kerk gelukkig in sulke sake nooit. Wat verstandig is. Ons mag ons egter ten opsigte van hierdie vraag, ewe min as in enige ander vraag, eenvoudig deur die tradisie laat lei. As die Skrifbeginsel duidelik is, sal die kerk daarvolgens moet handel.
WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker in Die Kerkbode, xcv(23), 9 Junie 1965, 723 – 725]