Die Aard van die Kerklike Gesag
Eerste Aflewering
Die vraag na die aard van die gesag waarmee die kerk mag optree, is van wesenlike belang vir die kerk. In ’n sekere sin was die Kerkhervorming ’n stryd om die vraag na die ware aard van kerklike gesag. Ook in die liberalistiese vervalsing van die kerkreg sedert die agttiende eeu het dit gegaan om die vraag na die aard en die bron van die kerklike gesag. Dié vraag bly vir die kerk altyd aktueel, want altyd is dit vir ’n Reformatoriese kerk noodsaaklik om die gevaarlike klippe van die Roomse én die liberalistiese gesagsopvattings te vermy en te bly by die Bybelse en Reformatoriese belydenis dat alle gesag in die kerk alleen aan Jesus Christus toekom, wat deur Sy Woord en Gees persoonlik en direk in die kerk moet regeer.
Die Skrif leer dat Christus die Hoof van Sy kerk is (vgl. Efesiërs 1: 20 -23) en dat Hy deur Sy Gees (vgl. Johannes 14: 16 – 20) al die dae by Sy Kerk teenwoordig is, tot aan die voleinding van die wêreld (Matteus 28: 20), sodat Hy persoonlik teenwoordig is waar twee of drie in Sy Naam vergader (Matteus 18: 20). Daarom bely die kerk dat Christus self Sy gemeente vergader, onderhou, beskerm en regeer (Sondagsafdeling 19 en 21, Heidelbergse Kategismus). Christus het dus geen plaasvervangers nodig om in die kerk te regeer nie. Hy kan en wil en sal dit self doen. Vir die kerkhervormers was dit eenvoudig ’n waarheid wat geen teenspraak duld nie, dat as Christus die Hoof van Sy kerk is en self oor die kerk regeer, geen mens in die kerk heerskappy mag voer nie.
Beswaar teen Rome
Dit was dan ook hul beswaar teen Rome, dat dáár aan die mens ’n plek in die regering van die kerk toegeken word wat aan Christus alleen toekom. Natuurlik bely die Rooms-Katolieke Kerk ook dat Christus die ware Hoof van die kerk is en dat Hy oor die kerk regeer. Dit beteken egter vir Rome nie dat die mens nie ook nog in die kerk kan regeer nie, want Rome vereenselwig Christus en die ampte in die kerk. Christus en die amp is één. Daardeur word die ampsdraer wat op die regte wyse tot die amp gewy is, beklee met die gesag van Christus. Hy tree namens en in die plek van Christus op. Wat hy doen, geld asof Christus dit doen. Met ’n beroep op tekste soos: “Wie julle ontvang, ontvang My” (Matteus 10: 40) en: “As julle die mense hulle sondes vergewe, dan is dit vergewe” (Johannes 20:23), sowel as op die feit dat Christus aan Petrus gesê het: “En Ek sal jou die sleutels van die koninkryk van die hemele gee” (Matteus 16: 19), redeneer Rome dat Christus eens en vir altyd en sonder meer Sy gesag aan die kerklike ampsdraers oorgedra het.
Die gesag van Christus is dus altyd in die ampsdraers aanwesig. Die leiding van die Heilige Gees is altyd hulle deel. Met die moontlikheid dat hulle aan Christus ongehoorsaam kan wees en kan dwaal, word nie rekening gehou nie. Elke lidmaat is eenvoudig onvoorwaardelike onderwerping aan hulle verskuldig want wie hulle woord verwerp, maak hom volgens Rome skuldig aan ‘n verwerping van Christus. Via die vereenselwiging van die mens (die ampsdraer) met Christus word dus aan die mens ’n onbeperkte gesag in die kerk toegeken op sodanige wyse dat Hy in die plek van Christus gaan staan en die regering die kerk deur Christus met die regering deur die mens vervang.
Liberale Kerkreg
Op heeltemal ’n ander wyse as by Rome, gebeur presies dieselfde in die liberale kerkreg wat sedert die agttiende eeu opgekom het. Deur die toepassing van die natuurregsteorie op die kerkreg, word die kerk verstaan as ’n religieuse vereniging wat tot stand kom deur die vrywillige samesluiting van ’n aantal individue met die oog op die bevordering van ’n gemeenskaplike doel. Hierdie individue besit elkeen ’n mag wat aan hulle eie is om te kan beskik oor die saak waarvoor hulle vrywillig saamgesluit het. Die kerklike regeermag berus dus in die individuele lidmate van die kerk wat deur hul vrye wilsbeskikking kan beslis hoe hulle die kerk regeer wil hê. Daarmee is die leer van die volksoewereiniteit wat in die Franse Revolusie so ’n geweldige rol gespeel het, op die terrein van die kerk oorgedra.
Binne hierdie raamwerk moet die ampte dan noodwendig verstaan word as die amptenare van die genootskap wat van die kerkgenootskap die opdrag en bevoegdheid tot die vervulling van hul regeerwerksaamhede in die kerk ontvang. Die band tussen Christus en die sigbare kerk is prinsipieel deurgesny. Die opvatting kan dan nog wel verdedig word dat die lede hulle mag van Christus ontvang het en dat die regering van die meerderheid dus in afgeleide sin tog as die regering van Christus beskou moet word, maar in werklikheid word hier nie meer gereken met die persoonlike regering van Christus self deur Sy Woord nie. ’n Reglement vir die regering van die kerk word opgestel. Die kerk konstitueer homself op grond van ’n statuut. Die stem van die meerderheid word wet. Op tipies liberale wyse word die mens die bron en maatstaf van alle dinge. Die kerk se mag word verstaan as verenigingsmag. En weer eens word van die lidmate onvoorwaardelike onderwerping aan die kerklike bestuur geëis. Wat die besture met meerderheidstem beslis, is wet. Wie nie daaraan kan konformeer nie, moet dan maar liewer ’n ander “genootskap” gaan soek waar hy meer tuis sal wees. Immers, eintlik gaan dit dan tog nie meer om die kerk nie … net maar om ’n genootskap, ’n toevallige openbaring van die “onsigbare kerk”. Omdat daar nie meer rekening gebou word met die regering van Christus self deur Sy Woord nie, word die kerkreg vanself hard, juridies en veral formeel. Waar die Reformatore dit as ’n grondreël erken het dat daar gebondenheid in die leer en vryheid in die kerkorde moet wees, word dit in die liberale kerkreg net andersom: oor die werklike belydenisinhoud van ’n saak word selde gehandel – alles word beslis op die formele vraag of daar aan die besluite van die meerderheid en die reglemente formele uitvoering gegee is. Dit word veral duidelik in die kerklike tug. Oral waar die liberale kerkreg ingang gevind het, verloop alle tugprosesse feitlik oor die formele kwessie van “gehoorsaamheid aan kerklike reglemente”. Die tug word gedegradeer tot verenigingstug en word nie meer verstaan as ’n hantering van die sleutels van die hemelryk nie. Weer eens het die mens die regering in die kerk oorgeneem. Die Woord van God word uit die sentrum van die kerklike regeer-werksaamhede verdring. Nie Christus nie, maar die meerderheid regeer.
Nie altyd kom hierdie twee uiterstes (die Roomse ampsopvatting en die liberale genootskaps-kerkreg) in ’n suiwer vorm na vore nie. Daar is kerke waar elemente van albei onderling vermeng word. Dan is dit moeiliker om die gevaar daarvan maklik te onderken. In watter verbasterde vorme dit egter ook mag voorkom, een ding is duidelik, en dit is dat elke Reformatoriese kerk op sy hoede moet wees teen die groot gevaar om die regering van Christus deur Sy Woord te vervang met die regering van die mens en sy opvattinge. Dáárteen het die stryd van die Reformatore gegaan. Juis daarom is dit nie vreemd dat wat hulle oor die regering van die kerk en die aard van die kerklike gesag te sê gehad het, nie alleen die Roomse dwaling nie, maar ook elke verkeerde siening op die gesag van die kerk dodelik moet tref nie.
By die Hervormers
Die kern van die opvattinge van die Hervormers is dat, as Christus in die kerk regeer, alle menseheerskappy uit die kerk geban moet word. Dit is vir hulle ’n eenvoudige, praktiese en konkrete waarheid waarby die kerk elke dag moet lewe. Alle gesag in die kerk kom alleen aan Christus toe. Omdat Christus deur Sy Woord regeer, kan dus ook gesê word dat alle gesag in die kerk enkel aan die Woord van God toekom. Geen enkele mens het gesag in die kerk nie. Christus het geen sigbare plaasvervangers nodig om Sy gesag op oor te dra nie, want Hy oefen dit self in die kerk uit. Veral Calvyn bly daarop hamer dat daar by die inrigting van die kerk vir Christus ruimte gelaat moet word. Al sy tetiese en antitetiese uitsprake oor die regering van die kerk staan in die teken van die één groot waarskuwing dat aan Christus niks ontneem moet word nie” (Institusie IV, IX, 1). Die dienaars moet vir Christus Sy gesag bewaar deur aan Hom te laat wat Hy van die Vader ontvang het, naamlik dat Hy die enigste Meester van die kerk moet wees (vgl. Inst. IV, VIII, 1).
Die kerklike gesag is dus in geen omstandigheid van Christus en Sy Woord los te maak nie. Die Reformatore kan heerlike uitsprake doen oor die plek wat die ampsdraers in die kerk inneem sowel as oor die volmag waarmee hulle mag optree. Hulle kan reg laat geskied aan alle Bybeluitsprake wat handel oor die gesag waarmee die ampsdraers in die Naam van Christus mag handel (vgl. maar net Inst. IV, I, 5 en IV, III, 1 sowel as Luther se preke oor Johannes 16: 5 e.v. en Johannes 20: 19 – 31). Maar – daar is by hulle geen sprake van ’n onvoorwaardelike vereenselwiging van Christus en die ampsdraers soos by Rome nie. Die ampsdraers word deur Christus gebruik, maar nooit só dat Hy Sy gesag aan hulle oordra nie. Calvyn wys daarop dat Christus nie Sy reg en eer op mense oordra nie, maar dat Hy alleen van hulle diens gebruik maak by Sy regering van die kerk, soos ’n handwerksman van gereedskap gebruik maak (vgl. bv. Inst. IV, III, 1). Die ampsdraers is dus nie daar om self in die kerk te regeer nie. Hulle het geen bevoegdheid om dit te doen nie. Die opvatting van Rome dat die ampsdraers deur die wyding tot die amp verhef word tot ’n hoër orde, waarby aan hulle ’n inklewende geestelike regeermag oorgedra word, is vir die Reformatore onaanvaarbaar. Die ampsdraers kan in die kerk net één posisie inneem, en dit is die van diensknegte wat die regering van Christus deur Sy Woord dien. Nie hulle nie, maar Christus regeer deur Sy Woord. Alle regeringsarbeid wat die mens dus in die kerk kan doen, is regstreekse of sydelingse bediening van die Woord waardeur Christus regeer (vgl. Bavinck, GerEfesiërs Dogmatiek IV, 389).
Net Christus, maar daarom ook: net die Woord van God, het gesag in die kerk. Wie dus die kerklike gesag óf in die ampsdraers laat setel (soos Rome) óf in die gemeente as sodanig (soos die liberale kerkreg), is die spoor byster. Sowel die ampsdraers as die gemeente het ’n diensfunksie by die regering van Christus deur Sy Woord, maar nie een van hierdie twee groothede het ’n eie inklewende gesag in die kerk nie. Dit is die “kort begrip” van die ware struktuur van die kerklike ampsgesag (Dooyeweerd).
WD Jonker
[Artikel van WD Jonker in Die Kerkbode, xcv(49), 8 Desember 1965,
1573 – 1575]