Die Aard van die Kerklike Gesag: Tweede Aflewering

Die Aard van die Kerklike Gesag
Tweede Aflewering

Die resultant waartoe ons in die vorige artikel gekom het, kan die beste saamgevat word in die uitspraak van Calvyn, dat die mag waarmee die kerk regeer, eintlik nie iets is wat aan die mense gegee is nie, maar aan die diens waarin hulle aangestel is, of (om duideliker te spreek) aan die Woord waarvan die bediening aan hulle toevertrou is (vgl. Inst. IV, VIII, 2). Alle gesag in die kerk is dus Woordgesag.

Hierdie feit het vir die regering van die kerk geweldige implikasies. Dit beteken immers dat die ampsdraers by hul regeerwerksaamhede niks anders mag wees nie as mondstukke vir die Woord van God. Kerkregering word dan niks anders nie as ’n diens aan en van die Woord van God, as ’n getuienis en ’n verkondiging wat voor ’n beslissing met betrekking tot Christus stel. Die ampsdraers is gevolglik in alle opsigte gebonde en onderworpe aan die Woord van God. Die Woord van God is tegelyk die gesag waarop alle regeerhandelinge in die kerk gebaseer moet wees én die grens vir alle regeerhandelinge. Calvyn wys daarop dat die ampsdraers in die Naam van Christus met volmag mag optree en alles mag doen wat vir die regering van die kerk noodsaaklik is, maar hy voeg uitdruklik daaraan toe: “sed omnia in verbo Dei” maar alles deur die Woord van God (Inst. IV, VIII, 9). Net so verklaar ook die Lutherse Confessio Augustana dat die kerklike mag uitgeoefen moet word sine vi humana sed verbo (sonder menslike krag, maar deur die Woord). Die kerk besit geen eie regeermag op grond waarvan ampsdraers dinge kan leer en beveel buite die Woord van God om nie. As die kerk met gesag wil optree, moet hy steeds sy lidmate daarop kan wys dat wat geleer en beveel word, op grond van die Skrif geleer en beveel word, anders moet die kerk liewer swyg.

Woord van God as Enigste Maatstaf

Die Reformatore polemiseer deurgaans teen ’n ampsopvatting wat sou moet beteken dat die ampsdraers in alle omstandighede gehoorsaam moet word, asof hulle gesag het om te beveel wat hulle goed mag vind. ’n Mens moet ’n keer die Smalkaldiese artikels lees om daarvan deurdring te word hoe sterk die Reformatore hieroor gevoel het (veral die Traktaat oor die Mag en Primaat van die Pous). Deurgaans roep hulle die gemeente daartoe op om die Woord van God as die enigste maatstaf vir die regering van die kerk te beskou en alle handelinge en beslissinge van die ampsdraers aan Gods Woord te toets. As dit bevind word dat ’n handeling van die kerk of ’n beslissing in stryd is met die Woord van God, het dit geen gesag hoegenaamd nie. Calvyn verklaar dat die besluite van konsilies (sinodes) ondersoek moet word met die maatstaf van mense en engele, dit is die Woord van God. Alleen wanneer dié besluite met Gods Woord ooreenkom, kan hulle gesag hê (vgl. Inst. IV, IX, 9). Die uitspraak van Handelinge 4: 19, dat ons God meer gehoorsaam moet wees as die mense, keer by die Reformatore herhaaldelik terug, net soos ook die verwysing na die valse profete en die Joodse Raad wat die aanspraak op die gehoorsaamheid van die volk verloor het deur van Gods Woord af te wyk. Waar die Rooms-Katolieke opponente hulle telkens beroep het op tekste soos Hebreërs 13:17, wat lui dat ons gehoorsaam en onderdanig moet wees aan ons voorgangers, stel die Reformatore dat hierdie soort uitspraak geen onvoorwaardelike gebod bevat nie. In die Lutherse Apologie by die Confessio Augustana word verklaar dat daardie uitspraak beteken dat ons aan die evangelie gehoorsaam moet wees, want “dit gee aan die biskoppe nie ‘n eie heerskappy of heersersgesag buite die evangelie nie”. Ook Calvyn sê met verwysing na hierdie teks dat slegs die ampsdraers wat her- nog derwaarts van Gods wet afwyk, vir die gelowiges ware voorgangers kan wees (vgl. Inst. IV, IX, 12). Presies so sou hulle reageer op ’n algemene verwysing na die vyfde gebod of Romeine 13:1-2 as grond vir ’n oproep tot onvoorwaardelike gehoorsaamheid aan diegene wat “oor ons gestel is”.

Tereg verklaar Veenhof: “De Reformatoren ondernamen het naar den mensch gesproken ontzaglijke en, werelds geoordeeld, krankzinnige waagstuk om het in de regeering en heel het leven der kerk alleen met Gods Woord en de vrijwillige onderwerping daaraan te doen… Zij ondernamen het naar wereldsche maatstaven gemeten dwaze pogen om geen andere onderwerping te willen, dan die welke gehoorzaamheid aan Gods Woord was. Zij wilden niet zélf, zij wilden niet, dat de kerkelijke instanties als zoodanig, gehoorzaamd zouden worden. Zij weigerden eenige gehoorzaamheid, welk nie gehoorzaamheid aan een duidelijk uitgedrukt Godswoord was” (Om de Unica Catholica, 302). So verklaar ook Rieker – en Dooyeweerd haal hom hierin instemmend aan – dat elke lidmaat die reg het om te toets of die bepalinge van die ampsdraers volgens Gods Woord is en dat hy daaraan net gehoorsaamheid verskuldig is vir sover dit in ooreenstemming met Gods Woord is: “Want daar is vir die Christen geen ander gesag as die van Christus en Sy Woord nie: net daaraan is hy onderworpe” (Grundsätze Reformierten Kirchenrechts, 114; Dooyeweerd, De Wijsbegeerte der Wetsidee. III, 493).

Verskil van Owerheid en Ouer

Daarom is die gesag waarmee die ampsdraers in die kerk optree, ook prinsipieel verskillend van dié waarmee die owerheid of die ouer beklee is. Natuurlik is daar in ’n algemene sin verwantskap en ’n vergelykbaarheid tussen die gesag van die ampsdraers en dié van diegene wat op ander lewensterreine oor ons gestel is. As daar egter nader toegekyk word, is die verskil vanself duidelik. In die kerk is daar geen heersers en onderdane, vaders en kinders nie. Christus verbied dit uitdruklik dat mense in die kerk rabbi en vader genoem word, omdat dit ’n aantasting is van die enige posisie wat Christus en die hemelse Vader vir die kerk inneem (vgl. Matteus 23: 8­11). Eweneens verbied Hy die dissipels om in die kring van die gemeente die gesagspatroon van die vorste wat oor die nasies regeer, ingang te laat vind (Matteus 20: 25-­28). Christus regeer die nasies en die huisgesinne deur middel van die “amp” van die vors en die ouer. Maar Christus regeer nie die kerk deur middel van die kerklike ampsdraers nie. Hy regeer self in die kerk deur Sy Woord. Daarom mag die ampsdraers hulle dit nie toeëien om in die kerk “vorstelik” of “vaderlik” te gaan handel nie. Hulle mag alleen handel soos diensknegte wat die persoonlike regering van Christus in die kerk dien. Hulle mag nie met hulle eie woord na die lidmate gaan en onderworpenheid verwag nie. Dit is die geestelike regeerwyse wat Christus, volgens die Nederlandse Geloofsbelydenis artikel 30, vir die kerk ingestel het. Alle regeerwerksaamhede in die kerk moet diens aan die Woord bly. Al wat verder as dit gaan, misken die ware karakter van die kerklike gesag.

Dit beteken baie beslis dat die Woord van God die grens vir alle regeerwerksaamhede in die kerk is. Nooit mag kerklike ampsdraers in hul handelinge of beslissinge die grens van die Woord van God oorskry nie. Juis op hierdie punt wys Calvyn die Roomse Kerk af (vgl. Inst. IV, X, 17-18, 30). Die kerk het geen bevoegdheid om sy lidmate te bind aan menslike vindinge of besluite wat nie sonder reserwe op die Woord van God gegrond is nie. Die kerk moet hom vir al sy beslissinge kan beroep op die gesag van die Skrif. Die kerk mag nie maar allerlei besluite neem, en lidmate daaraan bind, as dit nie duidelik is dat die lidmate daardeur aan die Woord van God gebind word nie. Dit geld in die besonder van die kerklike tug. Die tug mag nooit verder as die Skrif gaan en lidmate tugtig oor allerlei aangeleenthede wat nie onmiskenbaar duidelik sonde teen God en die heiligheid van Sy verbond is nie (vgl. H. Bouwman, De Kerkelijke Tucht, 199). Die liberale kerkreg het hier meermale die bewys van sy innerlike ontsporing duidelik gelewer, deurdat allerlei bepalinge gemaak is wat nie op die Woord van God gegrond is nie, en lidmate dan getug is omdat hulle nie dergelike bepalinge formeel gehoorsaam het nie. Die grens van die Woord van God is dan oorskry. En die kerk het die gesag waarmee hy in die Naam van Christus mag optree, vernietig.

Reëlings wat Getref moet word

Uit die aard van die saak beteken dit alles nie dat die ampsdraers nie ter wille van die uiterlike orde bepalinge mag maak wat nie direk uit die Skrif afgelees kan word nie. Calvyn spreek selfs uitvoerig daaroor dat daar in die kerk reëlings getref moet word in verband met die seremonies en oor sulke sake soos die tye en plekke van die eredienste, die kategese en die wyse van toepassing van die kerklike tug. Net al, hierdie bepalinge dra in die kerk ’n totaal ander karakter en gesag as die Woord van God. Hulle handel nie oor die diens van God self nie, maar oor die bykomstige dinge wat noodsaaklik is om die ruimte te skep waarbinne die Woord sy vrye loop kan hê. Hulle moet dan ook altyd aan die buitekant bly en in die kerk op hul relatiewe waarde getakseer word. Die sin van dergelike bepalinge is nie dat die kerk deur die bepalinge of selfs in ooreenstemming met dié bepalinge regeer moet word nie, maar dat dié bepalinge moet meewerk om die regering van die kerk deur die Woord van God te dien. Hulle mag alleen gemaak word as uitvloeisel van die feit dat die ampsdraers ’n opdrag het om die Woord van God te verkondig en mag dus nie na willekeur gemaak word nie. Hulle nut vir die regering van die kerk deur die Woord moet vanself duidelik wees.

Hierdie soort bepaling kan dan ook nooit die gewete bind nie en dra nie die karakter van wette wat in geen omstandigheid oortree mag word nie. Die onderhouding daarvan dra in alle geval ‘n totaal ander karakter as die gehoorsaamheid aan Gods Woord. Dit geskied bloot ter wille van die liefde en die uiterlike orde as ’n soort inperking van die vryheid van die lidmaat uit eie beweging. Natuurlik behoort niemand ligtelik sulke bepalinge te verontagsaam of te verag nie, maar die verwaarlosing daarvan is tog ook weer nie sonde nie. In hierdie trant handel Calvyn uitvoerig oor hierdie soort “bande of wette” (vgl. Inst. IV, X, 27-32).

Twee Dwalings

Egte onderwerping kom in die kerk alleen aan die Woord van God toe, nie aan die ampsdraers as sodanig (die dwaling van Rome) of aan die menslike bepalinge van die meerderheid as sodanig nie (die dwaling van die liberale kerkreg). Die diepe verwording van albei dwalings kom daarin uit dat dit aan uiterlike ordebepalinge meer gewig toeken as wat hulle ooit kan besit en daarby die Woord van God verwaarloos. Waar die mens die regering van die kerk oorneem, moet dit altyd so gaan. Geen wonder dat die Nederlandse Geloofsbelydenis dit onder die kenmerke van die valse kerk opnoem nie, dat hy aan homself en sy verordeninge meer mag en gesag toeskryf as aan die Woord van God (artikel 29).

’n Reformatoriese kerk is ’n kerk wat verstaan dat daar in die kerk geen plek vir mense-heerskappy is nie, maar alleen vir die Woord van Hom wat die Here van die here en die Koning van die konings is.

WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker in Die Kerkbode, xcv(50), 15 Desember 1965,
1615 – 1616]