Terwyl die Bruidegom talm om te kom … staan die kerk in die branding
Dat die kerk in hierdie bedeling voortdurend in die branding sal staan en móét staan, is met sy wese gegee. Die Nuwe Testament laat ons sien dat die kerk self ’n eskatologiese grootheid is, die volk van God van die laaste dae. Die kerk is die produk van Gods genadige handeling met hierdie wêreld in Christus Jesus, die teken van die deurbraak van die Koninkryk van God en die volheid van die heil in die volheid van die tye (vgl. Efesiërs 1:10, Galasiërs 4:4). Die kerk lewe in “die laaste uur” (1 Johannes 2:18) en is as sodanig die onderpand daarvan dat die groot dag van oorwinning van Christus wel haas sal aanbreek. Dit is begryplik dat na die kerk verwys kan word as “ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korintiërs 10:11), want die kerk is in hierdie laaste uur die voorlopige paaiement wat aan Christus betaal word vir die moeitevolle arbeid van Sy siel. Die bestaan van die kerk in die wêreld roep na die Koms van die Koninkryk en is alleen sinvol binne die gespanne verwagting van die vrymaking van die ganse skepping van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God (Romeine 8:21). Daarom is die kerk self niks anders as die eerstelinge vir God en die Lam nie: die oes het reeds begin en die heerlikheid is aanstaande wanneer God alles in almal sal wees (Openbaring14:4, 1 Korintiërs 15:28). Die kerk kan dan ook nie anders verstaan word as vanuit die eskatologie nie. Die kerk vind sy ontstaan, bestaan en sin nie uit die wêreld nie, maar alleen in Jesus Christus wat vanuit Sy Toekoms en toekomstige oorwinning deur die werking van Sy Gees en Woord sy uitverkorenes tot die ewige lewe vergader en hulle voorberei vir die dag van die bruilof van die Lam (Openbaring 19:7; 21:2). Daarom is die burgerskap van die gelowiges in die hemel vanwaar hulle ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag om hulle vernederde toestand te verander in gelykvormigheid aan Sy heerlikheid (Filippense 3:20-21). Daarom weet die kerk ook dat ons hier geen blywende stad het nie, maar dat ons vreemdelinge op die aarde is wat elke dag moet wandel in die verwagting van die dag van die Here (2 Petrus 3:10 e.v.).
Juis hierdie feit wat van soveel kante deur die Heilige Skrif beklemtoon word, naamlik dat die kerk na sy wese alleen reg verstaan kan word vanuit die eskatologie, bring nou egter vanself mee dat die kerk in hierdie bedeling dus ook voortdurend in die branding sal staan. Die laaste dae – die tyd tussen die eerste en tweede Koms van Christus – is by uitstek die tyd van die laaste, finale worsteling tussen Christus en die Satan. Daarom word hierdie tyd gekenmerk deur woeling, gisting, stryd en spanning. Dit is wel duisendmaal waar dat die groot beslissing reeds geval het met die eerste koms van Christus. Die Satan het soos ’n bliksem uit die hemel geval (Lukas 10:18) en Christus het die owerhede en magte “uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer” (Kolossense 2:15). Maar, tog bly daar oor hierdie hele periode tussen Sy eerste en tweede koms nog die waas van verborgenheid hang. Johannes kan skrywe: “Geliefdes, nou is ons kinders van God,” maar hy moet daaraan toevoeg: “Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie” (1 Johannes 3:2). Die kerk leef tans nog net in hoop en wag met geduld en volharding op wat nog nie gesien kan word nie, naamlik dat Christus werklik die Triomfator is (vgl. Romeine 8:24-25). Die oorwinning van Christus is tans nog slegs vir die geloof ’n feit om op te rus. Die ongeloof wat alleen aansien wat voor oë is en nie deur die uiterlike gelaat van dinge heen kan sien nie, weet van die komende heerlikheid niks. Daarom is die tyd tussen Hemelvaart en die Wederkoms vir die kerk ’n tyd vol angs, spanning, bedreiging en versoeking. Dit is ’n tyd wat in die teken staan van ’n reikhalsende verwagting wat hom uit in sugte, selfs onuitspreeklike sugtinge, dat die dag van heerlikheid tog eindelik mag aanbreek (Romeine 8:23-26). Tot hierdie versugtinge word die kerk gepars deur die uiterlike en innerlike druk waaraan hy in hierdie tyd onderworpe is. Die Satan mobiliseer al sy magte in hierdie laaste uur teen Christus en Sy liggaam, die kerk. Dat Satan reeds oorwin is en dus slegs nog vir ’n kort tydjie en binne bepaalde perke “speelruimte” het, kan op die oppervlakte nie gesien en langs die weg van die ervaring nie vasgestel word nie. Dáárvoor het die kerk alleen die Woord van God, niks anders nie. Op die uiterlike geoordeel, kom dit eerder voor asof Satan die oorwinnaar is en sal bly. Die sukses waarmee hy teen en in die kerk optree om die kerk in die branding te hou, skyn oorweldigend te bewys dat die saak van Christus in die wêreld die onderspit moet delf. Ook hierdie uiterlike skyn is een van die magtige middels waarmee die kerk in die noute gebring word. Daar is vir die kerk geen rus nie. Die kerk sou nie die kerk van Christus wees, as hy nie voortdurend onder die aanvalle van die Bose sou verkeer nie.
Immers, die kerk verkeer nie in die branding, omdat hy nou eenmaal deel is van ’n wêreld wat vol spanning en gisting is nie. Die kerk as teken van die deurbraak van die Ryk van God roep eenvoudig in die wêreld die verset, haat, gisting en bedreiging na vore en dwing die Bose daartoe. Christus het nie gekom om vrede op die aarde te bring nie, maar die swaard (Matteus 10:34-35). Die vlam van haat wat die Christus wou verteer, slaan uit na die liggaam van Christus. Dit het Christus herhaaldelik aan sy dissipels voorspel (Matteus 10:22: Johannes 15:18-21; 16:2-3). Die dienskneg is nie bo sy heer nie (Matteus 10:24). Die kerk moet deel in die lyding van Christus en aanvul wat aan die verdrukkinge van Christus kortkom (Kolossense 1:24). Christus word in hierdie wêreld gekruisig tot aan die einde van die tyd, deurdat Hy in Sy liggaam aangeveg, gehaat, vervolg en bedreig word. Niemand kan die Nuwe Testament lees, sonder om oorweldig te word deur die talle uitsprake wat dit duidelik maak dat dit deel van die bestaan van die kerk in die wêreld is, dat hy om Christus ontwil in alle vorme van nood, bedreiging, aanvegting, lyding en versoeking gebring sal word nie. Ons ruimte laat ons nie toe om selfs die tekste hier op te som nie. Genoeg as ons daarop wys dat selfs die beloftes wat Christus aan die kerk meegegee het, nie alleen niks bevat van ’n vooruitsig op ’n kommervrye, geërde en triomferende posisie vir die kerk in hierdie bedeling nie, maar uitdruklik daarop bereken is om die kerk te midde van druk te vertroos met die oog op die heerlikheid wat wag. Dit spreek duidelik uit die hele boek Openbaring, veral uit hoofstuk 12 en volgende, maar is reeds begrepe in die versekering dat die poorte van die doderyk (wat ’n reële bedreiging vorm!) die kerk nie sal oorweldig nie (Matteus 16:18). Dieselfde toon beluister ons in gedeeltes soos Matteus 10:26 e.v.; Lukas 21:16-18; Johannes 16:33; 2 Thessalonisense 1: 6-7 ens. Uit die sg. eskatologiese redes van Christus is dit meer as duidelik dat die kerk daarop moet reken dat hy gehaat sal word deur al die nasies (Matt 24:9 e.v.), dat die kerk die posisie van die versmade Israel sal inneem en sal moet reken met omstandighede wat sal uitloop op die groot verdrukking waarin – soos uit die briewe van Paulus en Johannes blyk – die Antichris ’n groot rol speel, met die duidelike bedoeling om die kerk uit te wis (vgl. Matteus 10:17, 21-22; Matteus 24:21-22; Mark. 13:9-13, 19-20; 1 Johannes 2:18 e.v.; 2 Thessalonisense 2:3 e.v.; Openbaring 11, 12, 13). Kennelik is dit só, dat die geskiedenis deur ons verstaan moet word as die toneel waarop die stryd tussen Christus en die Satan afgespeel word. Die geskiedenis van die kerk is die hart, en in ’n sekere sin selfs die sin, van die wêreldgeskiedenis. Die wêreldgeskiedenis speel af rondom die geskiedenis van die kerk. Die kerk dwing die geskiedenis, omdat Christus Sy plan volvoer, tot aksie en reaksie. Daarom verkeer die wêreld in branding, omdat die kerk in die branding móét kom vanweë die antitese wat die kerk uitlok.
Iets hiervan het die kerk altyd verstaan. Vandaar dat die kerk op aarde van oudsher aangedui word as die “strydende kerk”. Die pragtige beelde van die kudde en die Herder (Johannes 10) en die aanduiding van die kerk onder die beeld van die pelgrim wat haastig op pad is na sy verre vaderland, mag ons nooit laat vergeet dat dit vir geen oomblik beteken dat die kerk nie voortdurend in die stryd verkeer wat deur die draak – selfs in die woestyn – aangebind is teen die nakomelinge van die vrou (dit is: die kerk) nie (Openbaring 12:17). Te duidelik spreek die Skrif oor ons worstelstryd wat nie teen vlees en bloed is nie (Efesiërs 6:12), maar teen allerlei magte. Die oproep weerklink om die goeie stryd van die geloof te stry (1 Timoteüs 6:12) en die gelowige blyk nie alleen ’n krygsman van Jesus Christus te wees, omdat hy teen allerlei dinge moet stry wat sy persoonlike geloof wil aantal nie, maar ook omdat hy moet stryd voer om die waarheid van die geloof wat aan die gemeente oorgelewer is (vgl. 2 Timoteüs 2:3 en Judas vs. 3). Van alle kante word die gemeente voortdurend in stryd gehou, want die middele wat deur die Bose in sy aanvalle teen die kerk gebruik word, is veel en vindingryk.
Uit die aard van die saak word die stryd van die kant van die Bose gevoer met die grootste berekening, fynste lis en doeltreffendste metodes. Dat daar tye van bloedige vervolging vir die kerk sou kom, is op grond van die Skrif baie duidelik. Die “groot verdrukking”, die optrede van die Antichris en sy talle voorlopers en tipes is nie alleen in die Woord van God voorspel nie, maar word in die geskiedenis van die kerk van alle tye bevestig. Daarby gaan dit nie altyd om groot bewegings of algemene vervolgings nie, maar om die verguising, veragting, vermoording en verwerping van enkelinge, van roepers in die woestyn, van “profetiese gestaltes” wat in die loop van die geskiedenis na vore getree het. Talle wat by die mense al lank vergete is, wie se name in geen enkele boek opgeteken staan nie, het in die loop van die eeue om die waarheid ontwil en om Christus ontwil die hoogste prys betaal. Soms het bloed gevloei, maar soms is mense met ander middele gepynig, stilgemaak, doodgedruk. Soos ’n rooi draad loop die bloedlyn deur die geskiedenis van die kerk, sodat daar voor die troon van die Lam ’n groot skare staan, wat niemand kan tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale – diegene wat uit die groot verdrukking kom (Openbaring 7:9 e.v.) – terwyl daar onder die altaar ’n stem uitgaan van diegene wat gedood is ter wille van die Woord van God en die getuienis wat hulle gehad het (Openbaring 6:9 e.v.).
Maar die Bose gebruik nie net die metode van bloedige en onbloedige vervolging van die ware getuies van Christus nie. Dié metode is immers vanweë sy brutaliteit en grofheid te deursigtig om werklik die ware kerk te bedreig. Dit dien eerder daartoe om die kerk te louter en die kinders van God standvastiger te maak. Daarom gebruik die Satan die veel listiger metode om die kerk te bestry vanuit die kerk self. Laat die vervolginge ophou, laat die kerk toe om ’n heersende posisie in te neem, laat almal op een of ander manier by die kerk ingeskakel word. Wanneer die kerk dan in sy eie boesem die Trojaanse perd ingehaal het, is dit ’n eenvoudige saak om die heerskappy in die kerk oor te neem en die ware kerk te verdruk onder die skyn van vrede en rus, of selfs – godlasterlik – onder die skyn dat die kerk verdedig moet word teen die onrusstokers wat na die Woord van God terugroep. Nie alleen Paulus het gewaarsku teen die wolwe wat in die kudde van die Here sal inkom nie (Handelinge 20:28 e.v.), maar Christus self het gespreek oor die valse Christusse wat sou opstaan, oor die wolwe in skaapklere (Matteus 7:15 e.v.; 24:5). Die gevaarlikste bedreiging vir die kerk kom nie van die kant van bloedige vervolginge nie, hoewel dit altyd nader aan die kerk is as wat ’n mens mag dink, maar van die kant van die bedrieglike kerklikheid en skynvroomheid wat in die Naam van Christus kom, maar in werklikheid instrument van die Antichris is. Juis die skyn bedreig ons die meeste. Wanneer die kerk meen dat hy algemeen aanvaar en geëer word, dat ’n tydperk van rus en gestadige groei en bloei vir hom aangebreek het, het hy reeds geval of is hy baie naby aan sy val. Die aktiwiteit van die Bose magte is dan maksimaal op die hart van die kerk gerig. As die kerk daartoe verlei kan word om nie meer die boosheid van die vleeslike hart te ken nie, om bedrieg te kan word deur uiterlike godsdienstigheid waaruit die ware krag verdwyn het (2 Timoteüs 3:5), om homself belangrik te ag en met homself besig te wees in plaas van met God – dan het die Bose die kerk presies waar hy hom wil hê. Bedrieglik is die mens se hart bo alle dinge. Dit weet die Satan baie goed. Daarom sal hy in sy lis die mens se godsdienstigheid uitbuit om hom teen Christus en Sy ware kerk te laat stry. Hy maak die kerk in sy uiterlike gedaante groot en magtig en hy hits die mense in die kerk aan om groot en magtig te word. Daardeur word Christus van die troon gestoot en ’n poging aangewend om Hom uit Sy posisie as Here van die kerk te verdring. Wat maak dit saak as die kerk nog op allerlei maniere met die Naam van Christus “speel”? Solank Christus maar net nie werklik gesag in die kerk het nie …
So staan die kerk voortdurend in die branding, ook in die tye van die grootste skynbare rus. Presies dan blyk dit meermale dat die leuen sy groot kans kry en die dwaalleer geduld en gevoed word. Ook met die insypeling van dwalinge in die kerk gebruik die Bose talle weë en middele. Die valse profete van alle tye was sy willige instrumente. Van die “dier uit die aarde”, die valse profeet in optima forma (Openbaring 13:11 e.v.), wat in sy persoon die saambundeling is van die valse godsdiens en die valse wysbegeerte, weet ons dat hy instrument van die Antichris is. Uiterlik lyk hierdie dier na die Lam, maar innerlik dra hy in hom die draak. Sy krag is juis daarin geleë dat hy onskuldig en goed voorkom en daarom maklik verlei. Hy kan die dwaling voorstel asof dit die hoogste waarheid is. Goddelose stelsels, ateïstiese denkbeelde laat hy in die kerk en die wêreld indruppel. Die Woord van God word, alles met goeie bedoelinge, gekritiseer, versnipper, uitgehol en op oulaas verwerp. Dit doen teoloë in die naam van die waarheid. Daar is telkens weer ’n “moderne mens” wat dit noodsaaklik vind om Gods Woord “aanvaarbaar” te maak deur dit uit die wêreld te probeer uithelp. Maar daar is ook diegene wat met groot gebaar die gesag van die Woord van God uitspreek – met die uiterlike van die Lam – maar in werklikheid weier om te buig voor die gesag daarvan, omdat hulle hulle eie gedagtes en opvattinge bly handhaaf dwars teen die stem van die Skrif in. Die lis van die duiwel is te groot om al sy aanvalle onder die noemer van één “isme” te bring. Elke tyd en elke plek ondervind die uitgemete resep van die Sataniese bestryding van die kerk op ’n ander wyse. Die grootste wins boek die Bose as hy die kerk kan gebruik om die kerk te vervolg. Soos Josef eenmaal deur die Israel van die belofte verkoop is en Jesus deur die Sanhedrin vervolg en gedood is, so loop die bloedspoor deur die vroeë en die late eeue van die geskiedenis van die kerk en staan die skavotte en brandstapels met die kruisteken aan in die skaduwees van katedrale en kerke. Met priesterhulp en priestergesag is vele toegevoeg aan die martelare onder die troon …
By alles is één ding duidelik, en dit is dat die Satan baie sukses het. Die groot verdrukking, die vervolginge, die pogings om die kerk te laat insluimer, die opwekking van dwaalleer en die verskeuring van die kerk het uiteindelik soveel effek, dat die Woord van God ons leer van “die groot afval”. Die liefde van die meeste verkoel (Matteus 24:12). Binne in die kerk en daarbuite sal mense meer liefhebbers van hulleself wees as liefhebbers van God (2 Timoteüs 3:1-9). En wanneer die valse Christusse en die dier uit die aarde hulle rol gespeel het om hulle propaganda uit te kraai langs alle moontlike weë van kommunikasie en verlei het tot die aanbidding van die dier uit die see, die Antichris, dan lyk dit of Christus op hierdie aarde vergete is. Die ergste is nie, dat Christus en Sy volgelinge vervolg word nie, maar dat God vergeet word.
Die kulminasie van goddeloosheid is geleë in die toestand van die “vierde” of “vyfde mens” wat nie meer weet wat die woord God beteken nie, omdat geslagte al gelewe het met die gedagte dat God dood is. Wanneer dit gebeur, is die kerk volledig oninteressant, irrelevant, nie eers meer ’n skouer-ophaal werd nie. Die mees tragiese situasie sou wees as die kerk self met sy geslote venstertjies van dit alles salig onbewus is en nie merk hoe hy self innerlik aangevreet is deur die ongeloof en die sinloosheid nie. Of as ’n uiterlike struktuur van die kerk nog voortgaan om kerk te speel met groot gebaar, sonder Christus, sonder die brandende Heilige Gees, terwyl die ware kerk al soos die twee getuies van Openbaring 11 gedood is en op die straat bly lê …
Die kerk staan voortdurend in die branding.
Geweldige uitdagings kom van alle kante op die kerk af, maar ook geweldige versoekings en bedreiginge.
Hoe sal die kerk die situasie tegemoet kan gaan?
Seker nie met menslike “self–vertroue” nie.
Maar beslis tog met die beloftes van Christus dat die poorte van die doderyk uiteindelik die kerk nie sal oorweldig nie. Die beloftes oor “wie volhard tot die einde toe” is vir die ware kerk ingebed in die vastheid van Gods ewige verkiesing en die bewaring van die gelowiges deur Gods genadige Handelinge Niemand sal Sy skape uit Sy hand ruk nie.
Wat meer is, die kerk mag alle uitdagings tegemoet tree in die wete dat as Christus ’n geopende deur gee, niemand dit kan sluit nie (Openbaring 3:8). Christus sal nie toelaat dat die taak en roeping van die kerk afgesluit word, voordat dit volvoer is nie.
Juis die druk en moeite waarin die kerk verkeer, word deur Christus gebruik om Sy bruid te versier. Die kerk word gepars tot ’n getuienis (Lukas 20:13) en word in die verdrukking steeds meer en meer gelykvormig aan die beeld van die Here in wie se lyding die kerk moet deel.
Agter die druk en die branding wag die allesoortreffende heerlikheid wat voorberei is van voor die grondlegging van die wêreld af.
WD Jonker
[Artikel deur WD Jonker in die POLUMNIA, 1966, . 33 – 37]