Die eenvoud van Jesus

Die eenvoud van Jesus
deur dr. W. D. Jonker
Die Voorligter, vol xxix(2), Januarie 1966, 24, 29.

Dit tref ’n mens hoe volkome Jesus ons sonde kom versoen het.  Daar is geen aspek van ons ellende wat Jesus nie gedra en genees het nie.  Hy het in Sy versoeningswerk nie alleen vir ons aan die kruis gely en so die straf van ons sonde ten volle op Hom geneem nie; Hy het ook deur Sy hele lewe ons ellende reggemaak deur te wees en te doen wat ons moes gewees en gedoen het, maar vanweë ons sonde nie kon wees en doen nie.  Hy bedek met Sy lewe van volkome gehoorsaamheid ons arme, ongehoorsame lewe.  So maak Hy voor God reg wat ons verkeerd gedoen het.

Nêrens blyk hierdie waarheid so duidelik, as wanneer ons let op die totale eenvoud en nederigheid van Jesus nie.  As Jesus ons werklik wou verlos, moes Hy afdaal tot die diepste skag van ons ellende.  Wie sal betwyfel dat dit ons hoogmoed, ons selfdiens en selfbehaging is, ons sug is om “soos God te wees?” (Gen. 3:5).  Dit is die wortel van alle sonde, dat ons in onsself verstrik geraak het.  Dit is werklik die egte sonde uit die hel waarmee die Verleier ons menslike lewe kom vermink en vertroebel het.  Aan die wortel van al ons ellende lê hierdie verborge kwaal.  Andrew Murray noem dit “die allervreeslikste van alle sondes en alle vloeke: die vergif van Satan se eie hoogmoed.”  En dan gaan hy voort om sê: “Al die ellende waarvan hierdie wêreld die toneel was – al die oorloë en bloed vergieting onder die volkere, al die selfsug en lyding, al die eersug en afguns, al die gebroke harte en verbitterde lewens, met al die daaglikse onheile – het hul oorsprong gehad in wat hierdie vervloekte, helse hoogmoed – hetsy ons eie, of die van ander – vir ons besorg het.”  As ’n mens jouself enigsins leer ken in die lig van Gods Woord, as ’n mens tyd maak daarvoor dat die Gees van God jou moet lei tot die besef van sonde, dan kan dit nie anders nie, of dit kom telkens weer hierby uit: ek is dodelik siek aan hoogmoed en self verheffing, aan trots en eiewaan; ek staan teenoor God en my medemens en ek wil nie breek voor God, sodat ek klein kan word voor Hom en my medemense nie.  As ons onsself deursoek, vind ons hoe langer hoe meer uit hoe diep ons veranker is aan allerlei aardse en wêreldse stutte waarmee ons ons gewaande grootheid en ons eer onder die mense probeer ophou, of waarmee ons ons lewe bó en behalwe God wil verryk.  Vloei alle gebrek aan liefde, vriendelikheid, sagmoedigheid, goedheid, lank-moedigheid (en watter ander vorm van die vrug van die Gees ook al), alle kleinserigheid en liggeraaktheid, alle bitterheid en jaloersheid en afguns (en watter ander vorm van die vrug van die vlees ook al) nie uiteindelik tog maar weer uit dieselfde bitter bron van ons hoogmoed en selfdiens nie?  Wie homself ken, kan nie anders as om hier met diepe erns Ja te antwoord nie.

Daarom, as Jesus ons werklik wou verlos, moes Hy afdaal tot hierdie diepste skag van ons verwording en dit bedek met Sy volkome eenvoud en nederigheid.  Dit het Hy ook gedoen.  Die Evangelie getuig aan alle kante van hierdie diepe eenvoud van Jesus.  In Hom was niks wat ook maar in die minste ’n sweem vertoon het van selfverheffing, van hoogmoed, van eie-waan, van selfverheerliking of die steun op allerlei wêreldse grootheid nie.  As Christus verklaar dat Hy “sagmoedig en nederig van hart” is (Matt. 11:29), dan spreek Hy daarmee uit dat Hy die een ding is wat ons nie is nie en uit onsself nooit kan word nie – werklik klein en eenvoudig, werklik vry van alle “begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe” (1 Joh. 2:16).  Vanuit Sy volmaakte verhouding tot die Vader het Christus niks nodig gehad van al die dinge waaraan ons vasklem en wat ons najaag om onsself by die hare aan op te trek nie.  Hy alleen kon eerlik sê “Ek soek nie my eer nie” (Joh. 8:50).  Daarom kon Hy die Versoeker afwys wat Hom juis tot driemaal toe op hierdie punt kom aanval het.  As Christus aan enigeen van die versoekings van die duiwel sou toegegee het, sou Hy Sy eer gesoek het en daarmee uitgeval het uit Sy volmaakte verhouding tot die Vader en uit Sy amp as Middelaar wat met Sy nederigheid ons hoogmoed moes kom bedek (vgl. Matt. 4:1-11).

Rondom Kersfees sien ons telkens weer die heerlikheid van Jesus se eenvoud.  Hy, die Koning van die konings en die Here van die here, word gebore in ’n stal.  Hy word in doeke toegedraai en lê in ’n krip.  Hy groei op in Nasaret wat nie gereken word nie.  Hy swerf rond as iemand wat geen plek het om Sy hoof op neer te lê nie.  Hy ry selfs met Sy “triomftog” Jerusalem binne op die vul van ’n esel.  Aan die kruishout is dit ’n kleinigheid om sy boedel te beredder: daar is maar twee kledingstukke.  In hierdie uiterlike eenvoud word Sy volmaakte innerlike eenvoud uitgedruk.  Hy het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word – en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja die dood van die kruis (Fil. 2:5-8).

Niks wat nodig was om gedoen te word ten einde ons van die vloek van selfverheffing en eiewaan te verlos, is deur Jesus ongedaan gelaat nie.  Maar juis daarom is dit ook duidelik dat daar geen egte verlossing in Christus kan wees, wat nie ten minste in beginsel ook die verbreking van eiewaan en selfverheffing inhou nie. ’n Mens kan nie verlos wees as jy ongebroke trots en hoogmoedig en vol van jouself is nie.  ’n Verloste kind van God is iemand wat in beginsel gebreek het in homself.  Natuurlik: ook die mens wat verlos is in Christus, kan nog lewe asof hy nie verlos is nie, kan nog vashou aan die ou dinge wat eintlik al lankal verby moet gewees het.  So ’n verloste mens is dan egter kragteloos, hopeloos onvrugbaar en eerder ’n struikelblok vir andere as ’n wegwyser na Jesus.  So ’n Christen maak die Naam van Christus tot skande in die wêreld en doen oneer aan die werk van die Middelaar.  As daar iets van die verlossing in Christus aan ons sigbaar word, is dit dat ons bereid word om klein te word.  Voor dit nie gebeur nie, is dit ’n baie ernstige vraag of ons werklik aan Christus verbind is.

Is dit nie die oorsaak van soveel van die swakheid in ons persoonlike lewe en in dié van die kerk oor die hele wêreld, dat ons Jesus wil hê, maar dan as ’n ekstra ornament om ons nog verder mee te tooi, sonder egter dat ons die egte eenvoud en nederigheid van Jesus wil aanneem nie?

Hier kyk ’n mens in ’n
afgrond in.
Jesus, leer ons om nederig te
wees soos U.
Jesus, verlos ons, breek ons,
maak ons vry.