Kerklike Gesag – ’n Verduideliking

Artikels oor Kerklike Gesag – ’n Verduideliking

Graag wil ek daarop wys dat my twee artikels oor Die Aard van die Kerklike Gesag (daar is oorspronklik drie artikels beplan) vanweë beknoptheid miskien misverstand kan wek. Ek sou dit betreur as daar oor ’n saak wat m.i. van soveel belang is, misverstand moet ontstaan. Daarom wil ek beklemtoon dat my artikels geskrywe is met die uitsluitende bedoeling om die struktuur of aard van die kerklike gesag te probeer omlyn as ’n gesag wat onlosmaaklik aan die gesag van die Woord van God gebonde moet bly. Die artikels is nie bedoel om te sê dat individuele lidmate of kerkvergaderinge hulle aan kerklike besluite mag onttrek, sonder dat hulle die ordelike weg gevolg het om teen on-Skriftuurlike of buite-Skriftuurlike bindinge wat hulle opgelê mag word, by die kerklike vergaderinge beswaar te maak nie. Dit het my by die skrywe van die artikels heeltemal nie gegaan om die kerkregtelike weg wat gevolg moet word deur lidmate of kerkvergaderinge nie, maar alleen om die basiese feit van ons gereformeerde kerkreg dat alle gesag aan Christus alleen toekom wat deur Sy Woord oor ons regeer en ons deur Sy Gees nooit sonder die Woord of teen die Woord in sal lei nie! En al is dit waar dat besluite wat in stryd is met Gods Woord, of besluite wat ’n binding oplê wat nie op Gods Woord gebaseer kan word nie, in hulleself geen gesag het nie (vanweë die struktuur van die kerklike gesag), eis die ordelikheid van die kerklike samelewing en die liefde sowel as die verantwoordelikheid van elke lidmaat, vir die gemeente as geheel, dat ook diegene wat sulke besluite in hul verkeerdheid deurskou, die ordelike weg met sulke besluite moet bewandel. Geen lidmaat of kerklike vergadering mag hom sonder meer aan kerklike besluite onttrek nie, óók nie aan gewone ordebepalinge nie (waar sake effens anders lê, soos ek verduidelik het). Dit alles is vir my so vanselfsprekend dat ek dit nie nodig geag het om dit spesiaal te skrywe nie. Nadere oorweging het my egter laat voel dat ek dit ter wille van die duidelikheid tog wil stel.

WD Jonker
Die Kerkbode, xcvi(1), 5 Januarie 1966, 23.