Hulpmiddels by die hou van huisgodsdiens
Deur dr. W. D. Jonker.
Die Voorligter, vol xxix(2), Februarie 1966, 14
Wanneer ons oor hulpmiddels by die hou van huisgodsdiens handel, moet steeds voorop staan dat die Woord van God die sentrale plek by die huisgodsdiens moet inneem. Dit mag deur niks verdring word nie. Daarom moet ons uiters versigtig wees met die gebruik van allerlei hulpmiddels, want net dié hulpmiddels wat werklik daartoe is om die Woord van God sy regte plek te laat inneem, mag vir ens in aanmerking kom.
Baie ouers lees by die huisgodsdiens uit die sogenaamde Kinderbybel voor. Hulle argument is dat die kinders die verhale van die Bybel soveel beter kan verstaan as dit in eenvoudige taal oorvertel word. Daarby bevat die Kinderbybel meestal prente waarna die kinders kan kyk, en dit bevorder die begrip en die geskiedenis dieper in die kinders se geheue in.
Wat moet ons standpunt in verband hiermee wees? Ons kan seker nie die bestaan van boeke waarin die Bybelse geskiedenisse korrek oorvertel word, sonder meer afkeur en veroordeel nie. Kinders kan ontsaglik daarby leer. Maar geen Kinderbybel mag ooit die plek van die Heilige Skrif inneem of dit uit sy sentrale posisie verdring nie. Ons moet onthou dat die sogenaamde Kinderbybels nie dieselfde is as die Heilige Skrif nie. Dit bevat slegs die geskiedenisse en laat uit die aard van die saak groot gedeeltes van die Bybel weg. Dit kan ’n goeie doel dien om ons die groot gang van die heilsgeskiedenis te laat verstaan, maar dit gee tog nie die juiste woorde van die Heilige Skrif nie. God spreek egter juis in daardie spesifieke Woord tot ons. Wie nie met die direkte woord van die Skrif te doen kry nie, maar net met ‘n oorvertel. van die geskiedenis van die Heilige Skrif, word berowe van dié Woord waardeur God ons direk aanspreek.
Daarom mag ons nooit die Heilige Skrif by die huisgodsdiens vervang met die Bybelvertelboeke en Kinderbybels wat sogenaamd verstaanbaarder sou wees nie. Presies dieselfde argument geld vir die klank-Kinderbybels en die vertellings op plate. Daar mag vir dergelike dinge plek wees, maar die plek is nie by die huisgodsdiens nie. By die huisgodsdiens waar die vader, moeder en kinders rondom die Woord van God saam is, moet ons by die Bybel bly en dit saam lees as die Woord van God wat vir ons bedoel is en tot ons spreek.
Indien hierdie uitgangspunt een maal vasstaan; spreek dit vanself dat ons onder hulpmiddels eintlik iets anders moet verstaan as meganiese hulpmiddels. Dit word dan meer ’n vraag watter metode ons moet aanwend om die Heilige Skrif met sy boodskap vir die vergaderde gesin sentraal te laat staan. Dan is dit duidelik dat die hulpmiddels waarvan ons gebruik kan maak, vanself beperk word deur ons uitgangspunt. Eintlik sou ons dan ook net die volgende met vrymoedigheid kan aanbeveel:
(a) Die lede van die gesin moet hulle Bybels na die huisgodsdiens bring en die betrokke gedeelte saam lees. As ons dan die Woord van God wil inprent, het ons hier die beste hulpmiddel om dit te doen, want dan lees en hoor almal die juiste Woorde van die Heilige Skrif. Hoewel die vader van die gesin meestal die gedeelte sal voorlees, of die moeder in sy afwesigheid, kan dit verbasend veel doen om. die belangstelling te prikkel, as die kinders soms die geleentheid kry om ook korter gedeeltes hardop voor te lees.
(b) Die gedeelte wat gelees is, behoort verduidelik te word vir die kinders. Soms is die gedeelte wat gelees word, vanself baie duidelik. Dan kan dit nut hê om met ’n enkele vraag deur die ouer vas te stel of die kinders met aandag gevolg het en gesnap het wat gelees is. Soms kan ’n kort gesprek volg waarin sowel die ouers as die kinders die gelese gedeelte kan “toepas”. Dit is verbasend hoe goed kinders soms daarin kan slaag om die ware betekenis van Gods Woord te vat en in hulle toepassings tot uitdrukking te bring. Groot gedeeltes van die Heilige Skrif is egter nie altyd sonder meer duidelik nie. Die ouer wat erns maak met die huisgodsdiens, behoort dan sulke gedeeltes vir die kinders te verduidelik. Die plig wat op hom rus om dit te doen, sal vir hom ’n aansporing wees om self sorg daarvoor te dra dat hy in die Bybel met verklarende aantekeninge of op ’n ander plek inligting inwin oor duistere plekke. Met ’n klein bietjie moeite kan die ouer dit maklik bybring. ’n Uurtjie op Sondag minder wêreldse sake bedink en meer naslaan oor die gedeelte wat hierdie week by huisgodsdiens gelees gaan word, sal al wondere doen. As die ouer werklik in die huisgodsdiens belang stel, sal hy vind dat die kinders dit ook doen.
(c) Die Bybel behoort sistematies gelees te word. Dit is die dood van ons persoonlike omgang met Gods Woord sowel as van die huisgodsdiens as daar hot en haar in die Bybel gelees word op ’n lukraak wyse. Daarteenoor bevorder die sistematiese bestudering van afsonderlike Bybelboeke die begrip van en belangstelling in die geheel. By die huisgodsdiens kan daarom met groot vrug gebruik gemaak word van gidse wat kort stukkies vir elke dag aangee en daarvoor sorg dra dat ons die hele Bybel in ’n bepaalde tyd deurlees. In hierdie verband is die dagstukkies wat in die Sondagskool rooster aangegee word, van besonder veel waarde. Dit bied terselfdertyd die geleentheid die kinders voor te berei vir die Sondagskoolles. Deur die herhaling van dieselfde gedeelte as wat gedurende die week gelees is, dien die Sondagskoolles om die waarhede wat in die huisgodsdiens gevind is, in te skerp.
(d) Dagstukkies kan in aansluiting by die Skrif gelees word. Die lees van dagstukkies by geleentheid van huisgodsdiens kan van .groot waarde wees. Die gevaar egter altyd daar dat net die dagstukkie gelees word en nie die betrokke gedeelte in die Skrif waaroor die dagstukkie handel nie. Dan is die Bybel verdring deur die dagstukkie. Dit behoort nooit te gebeur nie. Aan die ander kant is die beswaar teen baie van die dagstukkies dat hulle net ’n bepaalde teks of ’n gedeelte van ’n teks opneem daaroor allerlei “mooi” gedagtes uitspreek wat dikwels nie direkte verband het met die gedeeltes wat gelees is nie. Net soos ’n motto-preek, dien dit eerder om die gesag van die Skrif te ondermyn as om die boodskap daarvan te dien. Daarom moet ons baie versigtig wees met die keuse van dagstukkies. Baie boeke met dagstukkies is buitendien onbruikbaar, omdat hulle nie sistematies ’n Bybelboek behandel nie, maar tekse oor bepaalde onderwerpe saam groepeer. In hierdie verband kan ons die dagboekies Lig en Lewe en Uit die Beek van harte aanbeveel. Die voordeel van hierdie dagboekies is ook dat hulle kort stukkies bevat. Meestal is daar immers nie genoeg tyd om die Bybel te lees en dan nog ’n lang stuk uit ’n ander boek daarby nie.
(e) Die gebruik van geskikte geformuleerde gebede kan aanbeveel word. Oor die gebed by die huisgodsdiens handel ons nie hier nie. Ons noem dit net dat geformuleerde gebede as sodanig ’n nuttige hulpmiddel by die huisgodsdiens kan wees. Seker, ons spontane, vrye gebede moet beslis voorrang geniet. Tog is dit moontlik dat dieselfde sinne, sinsnedes en woorde langsamerhand so geyk kan raak in ons gebede, dat die gesin nie meer luister wat daar gebid word nie, laat staan nog saambid. Hulle weet al dat as ons by ’n sekere draai in die gebed kom, die Amen nie meer ver is nie. Daarom kan dit nut hê om ’n keer gebruik te maak van gebede wat Skriftuurlik-korrek geformuleer is en ons gedagtes saambind rondom die elemente wat daar in die gebed behoort te wees. ’n Mens dink maar aan die mooi more- en aandgebede in ons Psalm- en Gesangboek. Eintlik het ons in Protestantse kringe ’n groot skaarste aan mooi gebedeboeke. Dus sal daar ook by die keuse van so ’n gebedeboek groot versigtigheid aan die dag gelê moet word. Weer eens: die gebruik van sulke gebede mag nooit die. spontane gebed heeltemal vervang nie. Die besondere behoeftes van elke dag moet in ons gebede vrymoediglik voor God gelê word, al is hulle nog so gering. Geformuleerde gebede kan dus slegs ’n beskeie hulpmiddel wees.
(f) Die sing van gepaste Psalms en Gesange hoort by die huisgodsdiens. Daarom moet die kinders geleer word om met die Psalm- en Gesangboek die huisgodsdiens by te woon. Telkens kan nuwe Psalms en Gesange aangeleer word. Veral kinders is lief vir sing. Dit maak die huisgodsdiens vir hulle van soveel meer betekenis as daar ook gesing word. Daarom is dit egter van belang dat, indien moontlik, Psalms en Gesange wat by die gelese gedeelte pas, of wat daarmee in verband staan, gesing sal word. Ook dit bevestig die boodskap van die Woord van God, al is dit ook ’n daad van aanbidding, lofprysing of smeking op sigself.
Ten slotte moet opgemerk word dat geen enkele hulpmiddel in staat is om van die huisgodsdiens te maak wat dit moet wees, as die gesindheid waarmee alles geskied, nie reg is nie. As die huisgodsdiens vir die ouer blote sleur is en maar liewer agterweë gelaat word as die geringste aanleiding daarvoor opduik, sal die gesin dit gou merk en verder weinig waarde meer daaraan heg. As dit egter vir die ouer self ’n geleentheid van ontmoeting met die Lewende Here is, sal die huisgodsdiens, ook sonder hulpmiddele, vir die gesin ’n geleentheid van onskatbare betekenis wees.