Oor Erdekruike en … Gesante van God

Oor Erdekruike en … Gesante van God
Die Kerkbode, xcvii(9), 2 Maart 1966, 262 – 264

Hoe kan ons die Heilige Gees ooit dankbaar genoeg wees daarvoor dat Paulus dit soms so moeilik gehad het met sy gemeentes, dat hy verplig was om sy werk as apostel te verdedig en daarom ook gedwing is om uitsprake oor die wese van die evangeliebediening te doen, wat ontsaglike dieptes voor ons laat oopgaan?

Een van die uitsprake vind ons in 2 Kor. 4: 7. waar Paulus sê: ,,Maar ons het hierdie skat in erdekruike. sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.” As ons dié woord in sy verband beskou, merk ons dat dit ’n resep of patroon vir die apostoliese bediening van die Woord bevat waarby ons nie verby mag lees nie.

Paulus verbind hier twee voorstellings aan mekaar: die van ‘n skat in ‘n erdekruik en die van ‘n allesoortreffende krag. Sowel met die skat as die krag het hy die evangelie op die oog. Ook Jesus het van die Koninkryk gepraat as die skat in die akker en die pêrel van groot waarde (Matt. 13: 44–46). Daarom is dit begryplik dat Paulus die evangelie wat die Koninkryk aankondig en meedeel, ook ‘n skat kan noem. Die uitdrukking hierdie skat toon dat hy veral die werking van die evangelie op die oog het, soos dit tot openbaring kom in die totale verandering van die lewens van mense. Immers, hy het so pas gespreek oor die verligting of skynsel van die evangelie wat diegene bestraal aan wie die Woord verkondig word.

Die strale waarom dit hier gaan, is egter die strale van die heerlikheid van Christus self wat dwarsdeur die gepredikte Woord heen die harte bestraal met ‘n lewewekkende lig. Ja, dit is selfs só dat Paulus die lig van die evangelie kan vergelyk met die lig wat op die skeppingsdag in die wêreld deurgebreek het op Gods Woord. Dieselfde Woord spreek deur die evangelie mense aan en roep skeppingmagtig in hulle lewe ‘n nuwe werklikheid op (vgl. 2 Kor. 4 : 4 – 6).

Daarom is dit volkome begryplik dat Paulus die evangelie ‘n krag kan noem, soos trouens ook in Rom. 1: 16 en I Kor. 1 : 18. In die evangelie self is daar ‘n dunamis, ’n dinamiese kragwerking aanwesig, omdat God self in die evangelie spreek en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle wel bestaan (Rom. 4: 17). As Paulus dus van hierdie skat en die allesoortreffende krag praat, bedoel hy die geweldige evangelie waarvan hy ‘n draer mag wees, die evangelie wat lewe uit die dood te voorskyn roep en die lewe van mense omkeer.

Paulus het die skat en hy bedien die krag.

Brose Houer

Maar hy het dit soos ‘n brose erdepot ‘n kosbare inhoud het. Niemand heg enige waarde aan die vaal, breekbare houer nie. Dit gaan immers om die skat! Enige mens sal ‘n waardevolle skat in ‘n duursame en waardevolle kluis of houer bewaar. Maar God doen dit anders. Hy soek ‘n waardelose houer, sodat die voortreflikheid van die inhoud des te beter aan die lig kan kom.

Met die beeld van die erdekruik het Paulus meer op die oog as net die liggaamlike swakheid van die draer van die evangelie. Hy dui daarmee die hele lewe van ‘n apostel aan. ‘n Apostel is ‘n mens met ‘n onbenydenswaardige lewenslot. Nooit en nêrens gaan dit met hom in hierdie wêreld voor die wind nie. Net soos sy ampsgenoot die profeet, is hy altyd in die moeilikheid. Sorge, kommer, verdrukking, vervolging is deel van sy daaglikse spyse. Die lewenswoord wat hy dra, is – ironies genoeg – in hierdie sterwende wêreld altyd ‘n gehate woord. En die haat teen die Woord bepaal dus ook die lot van die apostel.

As hy die beeld van die erdekruik gebruik, dink hy aan hierdie onsekerheid, hierdie bedreiging van sy bestaan. Uit die oog van die wêreld gesien, is hy niks dat ‘n mens hom sou begeer nie. Daarom, sê hy, is ons altyd en in alles verdruk, verleë, vervolg en neergewerp (2 Kor. 4: 8 – 9). Die kruik staan altyd onder aanslae, en wel van so ‘n aard, dat ‘n mens telkens sy ineenstorting moet verwag. Daar is wel ‘n onsigbare hand wat die kruik bewaar, sodat dit elke keer net-net aan verbrokkeling ontkom en die verdrukking en verleentheid darem nie terneergedruktheid of radeloosheid ten gevolg het nie. Ja, elke keer as hy vervolg word, gevoel hy tog dat hy nie verlate is nie. As hy op die grond neergewerp word, sukkel hy darem weer elke keer omhoog, sodat hy tot nog toe nie vernietig is nie. Maar hierdie bewaring van algehele vernietiging beteken nie dat die aanslae verminder nie. Nee, ‘n erdekruik-apostel is ‘n mens wat psigies en liggaamlik voortdurend op die rand van verbrokkeling gehou word deur die vyande van die evangelie.

Die Lyding van Christus

Daarom gaan dit immers. Hy deel eintlik met sy erdekruikbestaan in die lyding van Christus. Paulus sê: “Gedurig dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om …” (v. 10). Die verdrukking en lyding wat die apostel aangedoen word, is eintlik teen Jesus gemik. In hom word die aanslag teen Christus voortgesit. ‘n Apostel is ‘n mens wat deel in al die heerlikheid van Christus, maar ook in al die ellende wat saamhang, met die kruis. Hy vul in sy vlees die oorblyfsels van die verdrukking van Christus aan (vgl. Kol. 1: 24). Die wêreld kan hom net so min verdra as wat hy Christus self verdra het. Daarom word hy oorgelewer in die dood om Jesus wil en werk die dood in hom (v. 11 – 12). Watter vorme hierdie oorlewering in die dood aanneem, word deur Paulus nie nader verklaar nie. Dit is egter duidelik dat hy daarmee alles bedoel wat daarop bereken is om alle aardse glorie en luister in die draer van die evangelie uit te blus, om hom te verneder en hom voortdurend te ontmasker in sy ware gedaante: hy is maar net ‘n erdekruik! Vir Paulus was dit verdagmaking, beswaddering, vervolging, gevangenskap, géseling, en talle dinge meer. ‘n Mens moet ‘n keer weer 2 Kor. 6: 4 – 10 en 2 Kor. 11: 23 – 33 aandagtig lees om te besef wat dit alles konkreet vir Paulus beteken het.

Dit kon ook nie anders nie. Die dinge hang tog met mekaar saam. Die openbaring daarvan dat die voortreflikheid van die krag werklik van God is, gaan noodwendig gepaard met die openbaring van die broosheid van die apostel. God wil die draer van Sy boodskap klein hou, sodat niemand per abuis die krag aan hóm kan toeskrywe nie. Daarom sal sy natuurlike krag tot op die grond afgebreek en gesloop moet word. Volgens 2 Kor. 4: 10 is die doding immers die teenkant van die openbaring van die krag van Christus. Juis daarom sal God die apostel nie spaar nie. Nie net die eer van God is daarby op die spel nie, maar ook die seën van die gemeente. Tussen die lyding van die apostel en die opbou van die gemeente is daar ‘n innerlike samehang As die draer van die evangelie in homself meer is as ‘n erdekruik, staan hy die uitstraling van die heerlikheid van Christus teë en kan die krag van die evangelie nie in die gemeente deurbreek nie.

Instrument in Swakheid

Uitdruklik verklaar Paulus dat hy oorgelewer word in die dood, sodat ook die lewe van Jesus in sy sterflike vlees openbaar kan word, dit is: sodat hy in sy swakke bestaan ‘n instrument kan wees waardeur die lewe van Jesus die gemeente kan toevloei. Terwyl die dood só in hom werk, werk die lewe in die gemeente (vgl. 2 Kor. 4: 11 – 12). Hoe meer Paulus in die benoudheid gebring word en tot niks gemaak word, hoe meer vrugbaar word sy bediening in die wêreld, want dan werk die allesoortreffende krag van die Woord deur hom. Dit is natuurlik net mooi andersom as wat ons sou dink.

Volgens ons logika kan ‘n man net vrugbaar werk as hy geag en bemind is, as hy die regte klank­bodem vir sy boodskap kan skep, deurdat hy die agting en waardering, van almal kan afdwing. Maar volgens die wet van die apostelskap staan juis hierdie dinge in die weg van die deurwerking van Gods krag. Tereg merk Pop op: “De mens Paulus is de prijs, die betaald moet worden, om de apostel Paulus vruchtbaar te laten werken. Ook het omgekeerde is denkbaar: zodra de mens Paulus welvarend wordt en posities in de wereld gaat krijgen, sterft de apostel. Zij kunnen niet beiden tegelijk tot ontplooiing komen. Het is óf de man óf de apostel: óf Paulus óf Jezus: óf de dood in hem en het leven in de gemeente óf het leven in hem en de dood in die gemeente.”

Die Vraag aan Onsself

As ‘n mens dit alles by jou laat insink, kom daar verskillende vrae by jou op, vrae wat maar nie wil wyk nie.

Het ons in wat Paulus hier sê net maar ‘n beginsel van die apostoliese bediening, of geld dit as ‘n beginsel vir alle tye?

Gestel ons sou aanvaar dat dit hier om ‘n beginsel gaan wat vir alle tye betekenis het (omdat dit tog moeilik denkbaar is dat God in die na-apostoliese tyd die draer van die evangelie nie meer klein sal wil hê nie!), hoe ver moet ons dan ooreenkoms verwag in die middele wat God gebruik om die broosheid van die erdekruik sigbaar te laat word?

Is dit moontlik – so wil ons vra – dat die erdekruik in die veranderde situasie van die “gevestigde kerk” ná die tyd van die apostels die vorm kan aanneem van ‘n mens, ‘n pous wat met veel wêreldse swier en rykdom, aansien en mag op ‘n troon sit, miskien wel met die ernstige voorneme om innerlik, in die hart nederig en klein te wees? Of is dit moontlik dat hy die vorm kan aanneem van ‘n dominee wat met groot uiterlike waardigheid en uitstekende liggaamlike en stoflike versorging ’n hoë weg gaan te midde van al die agting en bewondering wat sy tydgenote vir hom as kerklike en kulturele leier van besondere aansien moet by bring – natuurlik (wie sal dit wil betwyfel) met die intensie om innerlik, onsigbaar, te sterwe. sodat Jesus deur hom kan lewe?

Kan die uiterlike en die innerlike so uitmekaar gehaal word in die veranderde situasie van ‘n “gekerstende wêreld?” Is innerlike, persoonlike nederigheid gelykstaande aan die lyding, vervolging en ander benouende dinge wat die erdekruik in die dag van die apostels gekenmerk het? Presies wanneer het die wêreld dan so van karakter verander, dat hy nie meer haat teen die Woord van God koester nie, net diepe respek vir die Woord en sy draers? Sou dit wel Gods bedoeling wees dat die kerk moes verburgerlik tot ‘n magtige en invloedryke organisasie waarvan die ampsdraers geëerde figure is wat nie meer die stigmata van die Here Jesus hoef te dra, soos wat die geval by die apostels was nie? Of – vreeslike vraag – sou die verdwyning van die verdrukking moontlik kon saamhang met ‘n omgaan van die kerk met die evangelie op ‘n manier wat die krag en die aanstoot daaruit laat verwasem het?

Hierdie vrae is moeilik. Dit is meer as uitlegkundige vrae. Ook wie ten volle reg wil laat geskied aan die uitsonderingsposisie van die apostels en die eienaardigheid van die apostoliese tyd as tyd van die aanvanklike sending, kan nie so maklik tevrede word dat alles met ons heeltemal pluis is nie.

Een ding is egter duidelik. Dit is dat ‘n ampsdraer so maklik met die beste bedoelings en al die delikate grens kan oorskry in die keuse tussen die man óf die gesant, die predikant óf Jesus, die dood in hom en die lewe in die gemeente óf die lewe in hom en die dood in die gemeente…

Klaarblyklik is dit in elk geval nie iets wat tot die apostoliese tydperk beperk was nie.